Diorama

Diorama. Deur Johann Lodewyk Marais. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-356-2. Prys: R140. 87 bladsye. Sagteband.

 

Diorama

Diorama

 

Met Diorama lewer Marais ‘n waardige voortbouing op sy vorige digwerk.

Temas en vormlike en stilistiese fasette bekend uit veral die vorige drie bundels van Marais, oorheers. Veral sy reputasie as voorste natuur- en omgewingsbesorgde digter in Afrikaans word versterk.

Soos ook in die uitgewersbrief aangedui, brei Marais met die fauna- en floraverse in hierdie sewende bundel van hom veral uit op sy “voëlboek” uit 2002, Aves – hoewel sulke gedigte ook in sy ander bundels ‘n belangrike rol gespeel het. ‘n Soort versmuseum van spesies word algaande opgebou. Of, lewendiger gesien, en soos dit in deel III van die openingsgedig lui:

 

 

 

Ek wil in my gedig ‘n wildtuin skep

en jou uitnooi om besoek te kom bring

aan sy goed ingerigte boskampe

en wildernisgebiede langs waters

en by koeltebome waar daar rus is.

Gedigte oor soogdiere is in afdeling II van die bundel versamel, voëlgedigte in afdeling III en gedigte oor inheemse plante in afdeling IV. 

Maar dit gaan nie net oor die diere en plante self nie. Dis ook, en miskien veral, die mens se verhouding en bedreigende omgaan met hierdie dinge wat dioramies belig word. (Luidens die HAT is ‘n diorama “‘n visuele voorstelling waardeur ‘n skildering deur deurvallende lig lewendig na vore kom”.)

Die genoemde sentrale bundelafdelings II-IV word byvoorbeeld voorafgegaan deur ‘n soort natuurbewaringskundige én digterlike oriëntering in afdeling I. ‘n Mens kan jou verbeel dat dit dié twee, die digter en die natuurbewaringskundige, is wat in “Die spore van Laetoli” saam die res van die bundel in stap:

Ons twee, die aasmense, is die eerstes

wat in die skaduwee van Sadiman

se aswolk tussen die fluitdorings deur

na die opkomende son toe kan stap

met ons twee rye spore weggesak

op die pad na dié wat voor ons wegkoes:

haas, tarentaal, olifant en giraf.

Soms word die (lots-)verbondenheid tussen die mens en die ander skeppingsdinge sterk aangevoel. Één voorbeeld:

Rooijakkals

Canis mesomelas

 

‘n Wilde, ongetemde roep

sny skerp deur die klowe

en sterf weg in die nag.

Iets tintel teen my rug

asof daar hare op my groei

en regop sou moes staan.

          Na Alda Orton

Ook sê sulke verse dikwels meer van die mens as van die natuurdinge wat uitgebeeld word. Dringend word die verhulde aanklag deur die vormgewing in die volgende gedig:

Wildehond

Lycaon pictus

 

Die wildehond gee nie sy woord nie.

 

Die wildehond toon nie berou nie.

 

Die wildehond het nie skaamte nie.

 

Die wildehond kan nie verstaan nie.

 

Die wildehond ken nie sy plek nie.

 

Die wildehond sal jou nie groet nie.

 

Die wildehond is nie ‘n vriend nie.

Ander kere staan die mens as (beskaamde) vyand van dier en plant geteken:

Ratel

Mellivora capensis

 

Ná al sy gromgeluide en draaie

was die doodmaak van die rateltaaie

regtig nie te moeilik nie – ek skaam my

daarvoor tussen hierdie boek se blaaie.

Soos tevore in Marais se oeuvre, neem hy sorg om sy uitbeeldings met wetenskaplike kennis te laat klop. Onderaan die volksname vir die fauna en flora in die gedigtitels, verskyn telkens ook die wetenskaplike name. Die digter wil ‘n optekenaar en bewaarder wees soos die natuurkundige.

Of is hy soms ook maar net ‘n soort trofeejagter?

Rooiduiker

Cephalophus natalensis

 

Nóg ‘n dier moet vrekgemaak word

en in my vers in die stof byt,

met wyd oopgesperde kake

die laaste asem uitroggel,

dalk jammerlik ‘n bietjie bloed

by sy neusgate laat uitloop

en met dowwe oё bly lê.

Kyk, dié keer het ‘n sku ooitjie

in die waai van die Lebombo

mooitjies in my vangstrik getrap!

In afdeling V word gefokus op “[g]rondsake” – om die titel van een van die gedigte daarin te leen – met ‘n oog vir veral die sosio-politieke spoke van grondbesit. (In meer as een gedig hier kom dwalende geeste voor.) Plaasaanvalle is ‘n verdere manifestasie van dié kwessie waaroor gedig word. Let op hoe suggesties in hierdie verband met die minimum aan middele opgeroep word in:

Afrikaanse haikoes

 

I

Toe die duif opvlieg,

was dit vir hom ‘n teken

om die deur te sluit.

 

II

Dis nag en die maan

se perdehoef trap ligweg

op die vensterbank.

 

III

Ná hulle weg is,

het die bloed op die kosyn

‘n bruin swam geword.

Afdelings VI behels potretterings, wat meestal ook huldigings word, van figure wat deur hulle natuurstudie en -optekenings uitgemunt het (François le Vaillant, Phillip V. Tobias, Thomas Baines, Richard E. Leaky, en derglike); of wat dit as hulle “taak” sien of gesien het “om ‘n vinger te verroer / om soos Atlas die aarde te kan dra” (“Friedrich Dürrenmatt”).  Ten slotte volg ‘n afdeling met drie gedigte waarin die digter se verhouding met die natuur en met “hierdie stof” waartoe hy sal “terugkeer” (“RIV”, die bundelslotgedig), uitgedruk word.

In die verband van dié bundel en van sy raakpunte met Marais se voriges, verkry die indiwiduele gedigte bykomende waarde, vorm hulle onderling-na-mekaar-toe kaatsende onderdele van ‘n groter geheel – skyn daar ook op hierdie vlak ‘n soort lig deur hulle ter verlewendiging van enkelverse wat andersins weinigseggend sou kon wees.

Vergelyk hoe die volgende enkele, haas metonimiese duiding van Jane Goodall se reddingswerk met sjimpansees sterker resoneer teen die agtergrond van die talle “groen” gedigte in Marais se oeuvre – d.w.s. bý die versterkende werking van die verwysing na die bekende Michelangelo-skildery in die eerste strofe van die gedig:

Jane Goodall

 

In die begin het God

met sy wysvinger

Adam s’n

liggies aangeraak.

 

Lank daarna het ‘n vrou

ook só deur tralies

‘n sjimpansee se vinger

liggies aangeraak.

Daar is ‘n gevaar dat sommige gedigte van Marais op sigself yl kan aandoen, in kwalik meer as mededeling of beskrywing kan vassteek; dat hulle naderhand té min bevat om poëties/esteties te boei – júís ook vanweë Marais se kenmerkend onderbeklemtonende, weinig demonstratiewe styl. Dit is inderdaad asof hy in hierdie bundel (veral in die afdelings met die diere- en plant-”portrette”) nog vollediger gehoor gee as voorheen aan die “sy” se raad in “Ex unguine leonem”, naamlik om as subjek te “leer terugtree uit die lig”.

Kortom, ek vrees dat die voortgesette aanpak van dieselfde soort onderwerp met dieselfde gestrooptheid op die duur eenselwigheid in die hand werk.

Gelukkig bring die digter op verskeie wyses variasie in hierdie gedigte teweeg, byvoorbeeld deurdat sommige gedigte beskrywend of sketsagtig geaard is, ander bespiegelend of besinnend; of deurdat in sommige die in die titel aangekondigde onderwerp die hele gedig oorheers, terwyl die benoemde dier of plant in ander eintlik net sydelings ter sprake is.

Ook: soms word spesies kennelik bewonder; ander kere gaan dit om menslike aantastings van dié spesies (se leefwêreld), of om die verhouding tussen mens en natuurding, soos aangetoon. En gedigte soos “Okapi” (‘n eenwoordgedig: “Aha!”) en “Rietduiker” bring welkome stilistiese en tipografiese afwisseling.

         

Rietduiker

Phalacrocorax africanus

 

Hy het uit die kabbelende water

geglip

en op ‘n seepgladde klip

langs die rivier tussen die mopanies

gewip

e n  h o m  m e t  u i t g e s p r e i d e  v l e r k e

in die wit son

droog gedrup en gedrup.

 

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Diorama”

  1. Joan Hambidge :

    Ek vind dit ‘n baie knap bundel waarin die volgehoue gesprek met Van Wyk Louw (sedert die debuut) imponeer. Ook die ekologiese verse verdien vermelding. In die diergedigte kry die digter iets besonders reg: hy skryf ‘n vers wat terselfdertyd oor ‘n dier as oor die digkuns handel.

Los kommentaar