Charl-Pierre Naudé.Bespreking van ’n Gilbert Gibson-gedig

(uit oogensiklopedie)

 

Heel aan die begin toe ek my blog op Versindaba begin lewer het, het ek belowe om elke nou en dan ‘n gedig wat my aangryp te bespreek.

     Ek het al Danie Marais se “Geskiedenisles” bespreek, ’n gedig uit sy tweede bundel waarin hy van die beste eienskappe in die eerste bundel verder ontwikkel.     

     Ek het ook ’n gedig, “i am having sex while everyone is dying” van die plaaslike Engelse digteres Nadine Botha bespreek. Botha op haar beste skryf van die mees gewaagde eliptiese verse te lande. Nie verniet nie het sy al aansienlike internasionale blootstelling gehad.

    Die eliptiese gedig kan baie lonend wees om te lees. Vir sommige mag dit egter duister oorkom.

     Vir diegene wat hou van gewaagde digterlike spronge, sal die gedig  “nuttig”, uit oogensiklopedie, die derde bundel van Gilbert Gibson, interessant wees as ‘n voorbeeld van ‘n eliptiese gedig. Dit lui:

 

nuttig

 

ek boor ’n gat in die muur, die staanleer onverskillig,

uit my skrillige black & decker ’n negemillimeter-konkrietpunt

gestel op hameraksie, en gewig uit die palm van my hand

tot teen die laag pleister wat die baksteen daaronder beveilig.

my vrou loop verby. kom jy reg?, vra sy. ek trek

die boor uit. die gat loer onheilspellend en swaar,

soos ’n helikopter wat sjoepsjoepsjoep in die donker

land. die geheime van die muur vervloei,

’n heilige rivier: coleridge, ander plek.

ja, ek kom

 

sê ek

 

     Dié gedig is verreweg my gunsteling uit hierdie bundel en een van my gunstelinge uit die werk van hierdie digter.

     Dis asof Gibson skryf met “gate” tussen-in die woorde; die semantiese skakels “spring” telkens oor versweë, of onsigbare, middelterme. Daarom noem mens sulke skakels eliptiese betekenisskakels. Hierdie skakels in Gibson se gedig hierbo is geweldig vindingryk, en is voorbeelde van elipsis op sy beste.

     Met eerste oogopslag is dit ‘n gedig oor ’n man wat ‘n praktiese handewerkie in of om die huis verrig. Hy is besig om met ’n elektriese boor ’n gat in ’n muur te boor – miskien om ’n skildery of iets dergeliks op te hang, of iets te installeer. Sy vrou kom verby en vra hom of hy “regkom”, menende of hy suksesvol is met die nutstakie, en miskien of hy darem na aan klaar is.

   Die wonderlikste van eliptiese skakels is hoe veelvlakkig dit kan wees, en gelyktydig kompak. Die kompaktheid is nie noodwendig minimalisties (min woorde) nie, of  noodwendig sintakties kompak van aard nie, hoewel dit ook dit kan wees. Dis veral kompak en resonerend op die betekenisvlak.

     Hoe wyer die gaping tussen twee punte van verwysing wat deur ‘n eliptiese skakel verbind word, hoe meer gewaag is die beeld, en hoe makliker kan dit verlore of difuus raak. Indien suksesvol, is sulke skakels, wat wyd uiteenlopende konnotasies verbind, egter van die mees skouspelagtige in die digkuns, veral omdat dit ook so moeilik is om reg te kry.

     Oor hierdie gedig wil mens nie te veel sê nie, ingeval dit die misterie daarvan vir die eerstekeerleser kan skaad.

    Op tweede vlak lyk dit of die nutsmantakie van die verteller deurgetrek word na die seksdaad tussen man en vrou, en verder ook na die skeppingsdaad van die digter/skrywer.

    Op die derde vlak  word die sfeer van oorlog, waarskynlik die Suid-Afrikaanse bosoorlog van die sewentiger- en tagtigerjare waarvan die digter ervaring het as die konteks van sy bundels in ag geneem word, betrek.   

     Daar is verskeie woorde en frases wat metafories kan wees van eersgenoemde vlak van konnotasie en hoewel die noem daarvan buite konteks nie reg laat geskied aan die fynbesnaarde aard van hierdie verbandleggings binne die gedig nie, noem ek ‘n paar:  “hameraksie”; “kom jy reg”; “die gat”; “die boor”; en die mooie “die heilige rivier”. Daar is sprake van ‘n openbaring of onthulling wat die seksdaad vergesel, en wat vlugtig van aard is en wat miskien verlore gaan nadat dit verby (of onderbreek) is.

     Metaforiese heenwysings na die kortstondige aard van die openbaring wat die skeppingsdaad vergesel (soos met die  seksdaad) is: “die muur” (wat deurboor word); “geheime”, “ander plek”, en insgelyks weer die sinsnede “die heilige rivier”.

     Maar veral: “Coleridge” (die naam van die groot Engelse digter en tydgenoot van Wordworth. Hy is veral beroemd vir sy onsterflike gedig “Kubla Khan”.

     Die “sjoepsjoepsjoep” (geluid) van die “helikoper wat in die nag land”, en “die gat wat loer” is werklik onthutsende beelde, want dit verbind ‘n baie sensitiewe konteks (liefde tussen bemindes) met die geweld van ‘n wrede oorlog waarvan die nagevolge tot vandag toe toegesmeer en nie oor gepraat word nie. Die “gat wat loer” laat mens aan ’n koeëlwond dink.

         Soos gesien kan word uit my bespreking hierbo, is dit die elipsis van die gedig wat bybly. Ek wil die volgende instansies uitlig as voorbeelde daarvan: “Coleridge”, “die heilige rivier”;  “ander plek” en “soos ’n helikopter wat sjoepsjoepsjoep in die donker land”.

      Die enigmatiese storie wat “Kubla Khan” van Coleridge vergesel is dat die digter onderbreek was tydens die skryf van sy gedig deur ’n persoon wat aan sy deur geklop het, die sogenaamde “Person from Purlock”, ’n kolporteur van ’n aard. Coleridge het glo daarna gesê toe hy na sy werk terugkeer, was die res van die reeds gekonseptualiseerde gedig vir ewig verlore. Die openbaring het hom as’t ware ontgaan na die toevallige onderbreking. Dis hierdie konnotasie,. van onthulling en onverwagse verlies, wat Gibson oproep met een enkele woord, “Coleridge” – en dit dan vindingryk verder verbind met die ander twee verhaalvlakke in die gedig.   

      Die heilige rivier is onder meer ‘n rivier wat oorgesteek moes word na die mitiese stad in die gedig (as ek reg onthou …). Daar is vele heilige riviere in die mitologieë van die wêreld, nie die minste nie in die Bybel. Aan die ander kant daarvan lê gewoonlik die een of ander belofte of onthulling, iets kosbaars, wat ewe maklik verower kan word as wat dit verlore kan gaan.

      Dit behoort nou maklik te wees om in te sien hoe die ander frases, soos  “ander plek” en “sjoepsjoepsjoep” met mekaar bind om ’n veelvlakkige en goed saamgesnoerde – en veral, baie enigmatiese – gedig tot stand te bring. Werklik mooi.

     Sorrie, ek het reeds te veel daaroor gepraat.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Charl-Pierre Naudé.Bespreking van ’n Gilbert Gibson-gedig”

  1. Gerhard :

    Ek stem saam: werklik ‘n besonderse gedig. So ook jou bespreking daarvan, Charl-Pierre. Dankie daarvoor.