D.J. Opperman. Drie vroeë gedigte

Drie vroeë gedigte van D.J. Opperman

Amanda Botha

 

D.J. Opperman as student

D.J. Opperman as student

Drie vroeë gedigte van D.J. Opperman wat nie weer in sy gebundelde werk opgeneem is nie, en hyself nie vir publikasie beskikbaar gestel het nie, het ek gevind in die Natal University College Magazine, ʼn kwartaalblad wat deur die universiteit gepubliseer is. Die gedigte, wat onderskeidelik in 1935 en 1936 gepubliseer is, se outeurskap word bloot aangedui deur die letters, D.J.O.  Hy was ʼn student aan die universiteit.

Hierdie verse is ʼn dekade voor die verskyning van Opperman se debuutbundel, Heilige beeste, gepubliseer. In die samestelling van Opperman se Versamelde Poësie, wat in 1987 gesamentlik deur Human & Rousseau en Tafelberg gepubliseer is, is net die werk opgeneem wat in sy nege bundels verskyn het. Dit dek die periode vanaf 1945 tot 1979 en sluit die volgende bundels in: Heilige beeste (1945), Negester oor Ninevé 1947), Joernaal van Jorik (1949), Engel uit die klip (1950), Blom en baaierd (1956), Dolosse (1963), Kuns-mis (1964), Edms. Bpk. (1970) en Komas uit ʼn bamboesstok (1979).

 

A.P. Grové, wat as redakteur van Versamelde Poësie opgetree het, skryf in sy verantwoording dat daar wel vroeë gedigte is wat die digter nie vir publikasie vrygestel het nie. Dit is ook nie as nagelate gedigte oorweeg om in sy versamelde werk opgeneem te word nie. Met verwysing na Opperman se keur uit eie werk wat in Astrak (1960) gebundel is, wys Grové daarop dat Opperman in die herdruk van Heilige beeste (1947) en met Negester oor Ninevé (1947) “heel bewus afskeid geneem het van ‘swak’ uitgange wat hy as ʼn dertiger-res in sy poësie beskou het.”

Hierdie vroeë werk as student kan dalk as slypstene gesien word van sy latere digterskap.

 

Daeraad

 

Die bosveld lê in more sluimernis,

  Nog voor die fynste teken voel die vroeë tarentaal

Die rooidag wat aan nader is.

  Daar op die bergtop skiet ʼn straal

Sy lig en worstel teen die duisternis.

 

Die berge en die bome staan in fyn relief;

  Die vleie en raveine snoes in swartfluweel

Wat soos die masker van ʼn dief

  Die ware vorm van wese steel,

Maar op die bergtop lê die nag deurklief.

 

Ek wens toe op die krag om te aanvaar

  Die aantog deur tradisie, bygeloof, verbloemenis,

My leiend tot die bergtop waar

  Die vorm van alles duidelik is,

Omdat die Hoër Lig die nou verklaar.

                                              D.J.O.

(Oktober 1935).

 

 

Die Vallei

 

Die mis dwaal deur die holtes van die nag

  Na duine waar die skugter aandblom geur

Om in verstrooiing heimelig te wag

  Op maanlig wat die donker hangsel skeur.

In die vallei, groen maanlig in die nag,

  Musiek van fantasie jy laat ons treur

Na daardie vlam van lig wat ver en sag,

  Maar koud, deur die sterre-gaatjies na ons speur.

Die dal vol vonkelende morewyn

  Laat ou verlangens van die nag verdwyn,

Die nugter oog se pligsbesef verkry…..

  In wrede skoonheid, tot die verre blou,

In eeu-ou plooie, sien ek: Die Vallei

  Van Duisend Heuwels vou en vou en vou.

                                         D.J.O.

(Junie 1936)

 

 

Stadsaand

 

ʼn Sagte Skuifel oor die vloer,

  ʼn Dowwe skynsel in die saal,

ʼn Klop op die tamboer

  En rûe halfpad kaal…..

 

Droef waai die wind die misreën oor

  Die rye dakke, skuins en blink,

Tot alles lig verloor

  En in die nag wegsink.

 

Die klanke van die kerkklok kring

  ʼn Somber tyding deur die nag

En stoot ʼn huiwering

  Deur my, hier waar ek wag.

                             D.J.O.

(Junie 1936)

 

 

  • Die volledige uitgawe van die Natal University College Magazine word in die Argief van die Universiteit van KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg gehuisves.
  • Die taalgebruik in hierdie gedigte is presies soos dit in die oorspronklike teks verskyn het.

 

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “D.J. Opperman. Drie vroeë gedigte”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    Samuel Johannes le Grange se MA-verhandeling, D.J. Opperman se Natalse periode (Universiteit van Natal, Pietermaritzburg, 1980), handel oor die gedigte wat Opperman tydens sy Natalse periode geskryf het. ‘n Hand vol van die gedigte het in tydskrifte verskyn.

  2. Marko van der Colff :

    “deur die sterre-gaatjies”…
    Roep dit nie’n reel uit ‘Nagwag’ op nie?

    Knap Amanda!

  3. Joan Hambidge :

    Hierdie gedigte is ‘n verleentheid vir die latere Opperman. Dit moes nie aan die vergetelheid ontruk word nie. Interessante speurwerk ja. Beslis nie Opperman waardig nie.
    Droef?

    Droef waai die wind die misreën oor

    Die rye dakke, skuins en blink,

    Tot alles lig verloor

    En in die nag wegsink.