Andries Bezuidenhout. Gedigte in die lug

Sitkamerstelle. Dat ek vandag aan sitkamerstelle moet dink. Hoe voorstedelik! Dalk gaan dit oor vertraagde reaksie en trauma wat ek nie netnou onmiddellik kon verwerk nie.

Vroeër vandag Eastgate-winkelsentrum toe. Verkeersknope van inkopietrollies in die gange tussen winkels. Winkelsentrum het kerk voorwaar vervang as middelpunt van die dorp. Sondae ook. ʼn Mens sou sweer die globale resessie is verby. Ons trek volgende naweek en kyk rond vir goeters soos skottelgoedwassers, leeslampe, dalk ʼn nuwe bank vir die sitkamer. O, so voorstedelik!

So van sit gepraat. Ek lees op die oomblik om die beurt Ari Sitas se digbundel Slave Trades en weer die versamelde werke van Philip Larkin op die toilet. Sitas se bundel is moeilik en obskuur. Ek skat ʼn mens benodig meer agtergrond om die diepte van waarmee hy besig is te verstaan; oor Rimbaud se besoeke aan Siprus en Ethiopië, die slawehandel. Of dalk ʼn meer gekonsentreerde studie as bloot sit-sit-so. Larkin seker ook.

ʼn Paar jaar gelede het ons ʼn pragtige sitkamerstelletjie gesien in Le Corbusier-styl – LC2, dink ek. Lieflike hoekige lyne met chroom en wit leer. Hoekom het ons nie destyds maar ons maandelikse uitgawes op sjampanje gesny en die ding gekoop nie?

Uit Larkin se versamelde werke:

Shine out, my sudden angel,
Break fear with breast and brow,
I take you now and for always,
For always is always now.

Deesdae is al die sitkamerstelle lelik; sulke ronde lyne, bonkige, opgestopte, pofferige, poeferige, powwerige gestoeltes, soos die pensvelle van speenvarkies, met handvatsels en knoppies om die goed te stel sodat die “sitter” kan skuinslê, dwarslê, op die maag lê, rondlê, of soos ʼn vampier onderstebo plaasneem – alles behalwe sit.

Hoekom, o hoekom? Wat het geword van die revival in modernistiese ontwerp van ʼn paar jaar gelede? Nou’s ons weer terug by die gomma gomma, die bomma bomma, die lazy ronde skommel van die tagtigs, toe stoele soos Margaret Thatcher se haredos gelyk het.

Lees later vandag ʼn onderhoud met Keith Richards in ʼn Engelse Sondagkoerant. Die onderhoudvoerder wil weet of hy weer heroïen sal doen. Richards se antwoord:

“Oh yes. Yes. There’s a lot of experience in there. You meet a lot of weird people, different takes on life that you’re not going to find if you don’t go there. I loved a good high. And if you stay up, you get the songs that everyone else misses because they’re asleep… There’s songs zooming around everywhere. There’s songs zooming through here right now, in the air… You’ve just got to put your hand out and catch them.”

Ek blaai ook deur bladsye en bladsye advertensies van winkelsentrums wat saam met die Sondagkoerant kom. Ek kyk na sitkamerstelle. Ewe skielik besef ek hoekom die ontwerp daarvan so verander het. Dit gaan oor die flat screen TV-skerm. Op die foto’s is al die sitkamerstelle gerangskik soos in filmteaters. As mense daarop sou sit, kyk hulle nie na mekaar nie, maar na ʼn flat screen TV-skerm.

Volgens die artikel in die Engelse Sondagkoerant het Keith Richards in die werkersklaswoonbuurt Dartford grootgeword. Sy ouers was boheemse malkoppe. Die enigste goeie ding wat hy by hulle geleer het, is respek vir musiek en vir die biblioteek.

Ook uit Larkin, toe hy ouer was:

But superstition, like belief, must die,
And what remains when disbelief has gone?
Grass, weedy pavement, brambles, buttress, sky,

And shape less recognisable each week,
A purpose more obscure…

(Uit “Church Going”.)

Dis seker dan ook die tipe besluit wat ʼn mens moet neem as jy by ʼn nuwe ruimte jou intrek neem: Of jy ʼn TV gaan aanskaf. Ek wonder. Dalk eerder nie. Daar’s ook gedigte wat in die lug ronddryf. Dalk mis ek te veel van hulle as ek in ʼn opgestopte sitkamerstoel sit en na ʼn skerm kyk.

Zoom gedigte deur die voorstede ook?

LC2

Aanhalings uit:

Philip Larkin. Collected Poems (2003, Marvell).

Ari Sitas. Slave Trades and an Artist’s Notebook (2000, Deep South).

Caitlin Morgan se onderhoud met Keith Richards: “I don’t want to see my old friend Lucifer just yet.” Sunday Times Lifestyle Magazine (24 Oktober 2010, pp 34-36).

Bookmark and Share

Comments are closed.