D.J.Opperman se “Shaka” uit Heilige beeste. J.L.Marais.

D.J. Opperman se “Shaka” uit Heilige beeste

binne die historiese konteks van sy ontstaan

 

 Johann Lodewyk Marais

 

1

 

D.J. Opperman

DJ Opperman

D.J. Opperman se “Shaka” uit sy debuutbundel Heilige beeste (1945) is die enigste van sy lang gedigte waarvan daar jare lank nie ‘n uitvoerige bespreking bestaan het nie. In teenstelling met die oorvloedige aandag wat gedigte of gedigreekse soos “Brandaan”, “Gebed om die gebeente”, Joernaal van Jorik, “Staking op die suikerplantasie,” “Kroniek van Kristien”, “Blom van die baaierd”, “Dennebol”, “Kantelkompas”, “Vreters van die bossie”, “Glaukus klim uit die water” en selfs korter gedigte soos “Vakansiebrief”, “Digter” en “Sprokie van die spikkelkoei” ontvang het, is daar opvallend min aandag aan hierdie gedig bestee. Dit is enigsins vreemd aangesien daar al om verskillende redes opvallend baie studies rondom Opperman en sy poësie verskyn het, veral ook omdat “Shaka” naas Joernaal van Jorik Opperman se langste gedig is.

            Dit is moeilik om vas te stel presies wanneer die gedig geskryf is, aangesien nóg die oorspronklike manuskrip van Heilige beeste, nóg enige ongepubliseerde weergawe van “Shaka” oënskynlik bewaar gebly het. Die bundel het nietemin tydens die digter se Natalse periode ontstaan en sekere gedigte, soos die eerste gedig, “Heilige beeste”, asook “Bloedrivier, 1938” en “Shaka”, weërspieël dan ook hierdie wêreld. Op grond van die Raka-invloed wat in Shaka merkbaar is en die feit dat die gedig vermoedelik opgeneem is in ‘n manuskrip met die titel Grensgeveg, wat Opperman op 9 Februarie 1943 aan die Nasionale Pers voorgelê het (Kannemeyer, 1986: 92), lyk dit asof “Shaka” tussen 1940 en vroeg in 1943 geskryf is. (Die eerste deel van Raka is in Bosman et al. se Tussen die engtes (1940) gepubliseer.) In teenstelling met die werkwyse ten opsigte van ander vroeë gedigte het Opperman hierdie gedig nie elders gepubliseer voordat dit opgeneem is in Heilige beeste, wat op 17 Mei 1945 aan hom oorhandig is nie (Kannemeyer, 1986: 98).

           

Omslag

Omslag

Heilige beeste is oorwegend hoog aangeslaan deur die kritici en dan ook in 1947 met die Hertzogprys bekroon. Terwyl “Shaka” vandag as ‘n mindere gedig van Opperman beskou word, is dit destyds positief ontvang. Verskeie kritici het hierdie gedig in besprekings van die bundel ter sprake gebring. Naas kommentaar op verstegniese aspekte van die gedig is heelwat klem, ofskoon oppervlakkig, gelê op Opperman se uitbeelding van Shaka[1] en die Zoeloeleefwyse, soos uit die uitsprake van Ernst van Heerden en G. Dekker blyk. Van Heerden skryf onder meer: “Die intieme kennis van die naturelle-mentaliteit en -gewoontes, die innige verband tussen stof en landskap, die beelde wat volkome inpas in die stemming is ‘n paar kenmerke van hierdie merkwaardige gedig” (Die Burger, 9.6.1945, opgeneem in Van Heerden, 1963: 99). Dekker noem die gedig “‘n welkome aanwins vir ons skraal skat epiese poësie. In rymlose verse, sober en saaklik van segging en in die veelvuldige enjambering vry en natuurlik van stuwing, met telkens trekkies plastiek wat uit die werklikheidsfeer opflits, gee Opperman hier geslaagde epiek, hoewel ons hier nie die dinamiese, die hewig dramatiese, die dieper geestelike agter- en ondergrond, die elementêre magiese woordkrag van Raka kry nie” (Die Huisgenoot, 27.7.1945, opgeneem in Grové, 1974: 5). Daar is in etlike ander besprekings veral gewag gemaak van die feit dat Opperman in sy gedig intieme kennis van verskeie fasette van die Zoeloe se persoonlikheid, leefwyse en geskiedenis sou openbaar. Volgens J.J. Kruger het Opperman in die gedig “sy deurleefde kennis van die Zoeloe-siel weergegee” (Die Volksblad, 20.6.1945). F.E.J. Malherbe praat van die blik op “worstelende geweld” in “Shaka” (Ons Eie Boek, Sept. 1945, opgeneem in Grové, 1974: 9) en W.J. du P. Erlank beweer dat die tema ‘n “hurricane of destructive energy” suggereer (New Era, 13.9.1945). Gerhard J. Beukes meen dat Opperman in “Shaka” die “vitaliteit van hierdie genadelose oermens (laat) spreek” en “die donker drifte (laat) leef” (Eendrag, 5.10.1945 in Trans-Afrika, Nov. 1945). M.P. Olivier Burgers skryf: “Die gedig munt uit deur karakterdeurpeiling, die aanvoeling van magiese magte, naakte krag en die weergawe van die psigiese lewe van die inboorling in sy heldetydperk.” Hy is van mening dat Opperman in “Shaka” aangegryp is “deur die historiese verskynsel in die lewe, die gebeurtenis in die realiteit” (Die Brandwag, 14.12.1945).

            ‘n Later bespreking van “Shaka” vind ons in Lina Spies se D.J. Opperman-gedenklesing van 13 Mei 1987 aan die Universiteit van Stellenbosch. Spies sien die gedig as bewys van Opperman se “Afrika-gerigtheid” en “oopgesteldheid teenoor die volledige Suid-Afrikaanse geskiedenis en die volle Suid-Afrikaanse werklikheid.” Sy beweer: “Sy (d.w.s. Shaka se – J.L.M.) obsessionele drang om sy moeder se vernedering en sy eie vernederende jeug te wreek, was die impuls vir al sy wreedhede, die hele gang van sy lewe” (Spies, 1987: 7, 8). Vir die twaalfde D.J. Opperman-gedenklesing van 26 Augustus 2009 vergelyk Antjie Krog “Shaka” met Thomas Mofolo se Chaka (1925). Volgens haar beskou Opperman Shaka “as ‘n gekwelde individu, ‘n uitgesoekte enkeling […] wat, soos in die poësie van die Dertigers, ten alle koste getrou moet wees aan sy geniale insigte; wat hierdie ‛hoogste waardes’ deur die massas moet dra wat nie werklik sy taak verstaan nie” (Krog, 2010: 16).

            Uit voorafgaande sienings blyk dit dat die lesers van Opperman se gedig ‘n bepaalde siening an Shaka gehad het. Hierdie sienings sluit in ‘n hoë mate aan by die gestereotipeerde siening van Shaka soos dit uit veral die reisiger- en sendelingliteratuur van die negentiende en vroeë twintigste eeu blyk. Vervolgens sal daar gekyk word na die historiese en literêre beskouings oor Shaka soos dit sedert die eerste helfte van die negentiende eeu in literatuur en letterkundes in verskillende tale weerspieël word.

 

2

Shaka is volgens mondelinge oorlewering in 1787 uit die buite-egtelike verhouding van die Zoeloehoofman Senzangakhona met Nandi, die dogter van ‘n Langenistamhoof, gebore. Die verhouding tussen Senzangakhona en Nandi was nie blywend nie en Shaka het gevolglik moeilike kinderjare beleef. Dit het waarskynlik tot ‘n abnormale verknogtheid aan sy moeder gelei. Hy vind uiteindelik ‘n heenkome by die Mthethwastam van Dingiswayo, waar hy hom mettertyd as buitengwoon begaafde krygsman onderskei. Ná die dood van Senzangakhona (c. 1816) en later Dingiswayo (c. 1818) slaag Shaka daarin om ‘n klomp stamme te verslaan en sy magsposisie as hoofman oor ‘n militêr magtige volk uit te brei. Teen 1824, wanneer die eerste blanke handelaars in Port Natal aankom, strek Shaka se grondgebied oor die oostelike kusstrook vanaf die Pongolarivier in die noorde tot verby die Tugelarivier in die suide. Sy optrede by die dood van Nandi, wat grootskaalse geweldpleging en moord tot gevolg gehad het, het regstreeks aanleiding gegee tot die smee van ‘n komplot teen en die moord op hom deur sy halfbroers Dingane en Mhlangena en sy lyfbediende Mbopha op 22 September 1828. As militêre despoot het Shaka ingrypende invloed op sowel militêre as politieke gebied in Suidelike Afrika gehad (kyk bv. Krüger, 1972: 672-674; en Wylie, 2006).

Shaka

Shaka

Oor Shaka bestaan daar uiteenlopende sienings. ‘n Enorme hoeveelheid navorsing oor hom is in sowel Suid-Afrika as die buiteland onderneem en gepubliseer; in so ‘n mate dat ‘n mens met reg van hom as ‘n legendariese figuur kan praat, iemand wat al met onder andere Agamemnon, Julius Caesar, Beowulf, Attila, Napoleon en Hitler vergelyk is. Verskeie mites is met verloop van tyd rondom Shaka geweef (kyk Wylie, 2006). Die vroeë Europese belangstelling in hom kan waarskynlik aan die gefassineerdheid met donker Afrika, sy “barbare” en vreemde leefwyses en etiese kodes toegeskryf word. Shaka is dan ook in die Europese literatuur as slu, wispelturig, sadisties, wreed en barbaars voorgestel. Daarenteen het Shaka in later jare vir die Pan-Afrikanistiese rewolusionêr ‘n simbool van nasionalisme geword (Worger, 1979: 144).

            Die eerste bronne oor Shaka is verslae van reisigers en handelaars wat persoonlik met hom kennis gemaak het. Dit sluit persone soos luitenante James Farewell en James King in, asook Nathaniel Isaacs en Henry Fynn, wat lang reisbeskrywings nagelaat het. In die tweede plek is daar geskrifte van mense wat hom nie persoonlik geken het nie en gevolglik op sekondêre bronne, byvoorbeeld mondelinge oorlewering, staatgemaak het. ‘n Voorbeeld van laasgenoemde is literatuur deur die Rooms-Katolieke sendeling A.T. Bryant, wat veral vir sy Zulu-English Dictionary (1905) en Olden times in Zululand and Natal (1929) bekend is. Voorts is daar ook die sogenaamde izibongo of Zoeloeprysliedere oor Shaka, waarvan ‘n versameling deur Trevor Cope in 1968 verskyn het.

            Twee belangrike aspekte kom ter sprake wanneer daar na die literatuur oor Shaka gekyk word. Die eerste aspek behels die betroubaarheid van die basiese bronne en ander literatuur oor Shaka. Oorgelewerde inligting is nie altyd betroubaar nie en is bowendien affektief gekleur na gelang van die stam waartoe die informant behoort, hetsy die Qwabe-, Langeni- of Zoeloestam, wat botsende sienings oor Shaka huldig. Dit het veroorsaak dat daar meningsverskil ten opsigte van kernaspekte van Shaka se lewe voorkom, soos of hy inderdaad ‘n buite-egtelike kind was en of hy werklik so wreed was soos dikwels te kenne gegee word. ‘n Indringende studie van die verskillende bronne maak ‘n mens daarop bedag dat daar met groot omsigtigheid met hierdie materiaal omgegaan moet word (kyk Worger, 1979: 144-158).

            Die tweede aspek wat van belang is, is die benaderings wat historici gevolg het en wat tans in die bestudering van Shaka gevolg word. Rofweg kan vier verskillende benaderings onderskei word, naamlik die sendelingbenadering, die Afrika-nasionalistiese, die neo-Freudiaanse en die moderne historiese benadering. In die sendelingliteratuur word in fyn besonderhede oor Shaka geskryf, dikwels deur die ondersteuning van die sendingtaak gekleur. Veral Nathaniel Isaacs se Travels and adventures in Eastern Africa (1836) het ‘n rigtinggewende rol gespeel ten opsigte van die vestiging van ‘n bepaalde beeld van Shaka (Gray, 1975: 67). In die neo-Freudiaanse benadering word daar veral aandag aan seksuele determinante en die moontlike invloed van jeugervarings op sy latere optrede gegee. In die Afrika-nasionalistiese benadering word Shaka op so ‘n wyse voorgestel dat hy ter sake is in die hedendaagse soeke na die wortels van ‘n nasionalistiese Afrika-identiteit en -trots. So gebruik die digter en eertydse staatshoof Léopold Sédar Senghor Shaka in sy gedig “Chaka” in die bundel Éthiopiques (1956) as metafoor vir die moderne leier wat probeer om ‘n volkstaat tot stand te bring.

            Die moderne historiese benadering probeer om meer krities na die Shaka-geskiedenis te kyk en sosio-politieke en ekonomise redes vir die era te soek (Worger, 1979: 153-156).

            Talle historiese studies konsentreer op die omstrede persoon van Shaka en slaag nie daarin om meer insig te gee in die kragte wat die Zoeloestaat van destyds gevorm het nie. Vrae wat grootliks onbeantwoord bly, is byvoorbeeld die volgende: Watter sosio-politieke en ekonomiese faktore het destyds ‘n rol gespeel? En: In watter mate is Shaka se optrede daardeur bepaal? Dikwels word ‘n studie van die man buite konteks van die bestudering van die staat en die groter gemeenskap aangepak.

            Shaka se roem is bykans ‘n honderd jaar lank hoofsaaklik deur middel van mondelinge literatuur, in die vorm van prysgedigte, voortgedra (Gray, 1975: 66). Daar bestaan meer prysgedigte oor Shaka as oor enige ander swart heerser en volgens Daniel P. Kunene het Shaka selfs daartoe bygedra om die aard van die prysgedig te verander van ‘n toespitsing op die liriese tot ‘n gedig wat veel meer oor die heroïese en die opstanding van ‘n volk te sê het.

Chaka deur Thomas Mofolo

Chaka deur Thomas Mofolo

 In 1925 verskyn daar egter ‘n roman wat ‘n belangrike rol sou speel om Shaka se roem wêreldwyd te vestig, naamlik Thomas Mofolo se Chaka, wat in 1974 uitgegee is in ‘n Afrikaanse vertaling deur Chris Swanepoel. Die roman is later in Frans (en ook in Ibo) vertaal en het ‘n beduidende invloed in Franssprekende Wes-Afrika uitgeoefen. Dit het onder meer direk tot die skryf van Senghor se “Chaka” gelei. Mofolo se Chaka is al beskou as ‘n roman waarin daar ‘n botsing is tussen begrip vir wat Shaka as heroïese figuur vermag het en ‘n afkeer van sy optrede op grond van Christelike norme.

            Later volg talle ander werke deur skrywers van verskillende nasionaliteite in verskillende tale, onder meer Stephen Gray en Cecil Skotness se The assassination of Shaka (1974). In John Ross: The true story (1987) lewer Stephen Gray self ‘n boeiende herwaardering van sy siening van Shaka. In sy uitgebreide studie oor Shaka verwys Dan Wylie (2000) na nog ander tekste, hoofsaaklik in Engels, wat oor Shaka geskryf is. (Opperman se “Shaka” is deur C.J.D. Harvey in Engels vertaal, maar die vertaling is nooit gepubliseer nie.[2])

            In die Afrikaanse letterkunde vind ons naas Opperman se gedig ook Pieter Fourie se drama Tsjaka (1976), en by P.J. Schoeman onder meer die roman Pampata: Die beminde van koning Tsjaka (1978).

 

3

Die vraag kan nou gestel word hoe Opperman se gedig daar uitsien, in hoe ‘n mate die gedig by die literatuur oor Shaka aansluit en watter bronne hy by die skryf van sy gedig gebruik het. Ek sal ook aandui watter konsekwensies die gebruik van die bepaalde bronne het.

            In antwoord op ‘n brief van H.W. Truter (1967) van 25 Oktober 1967 waarin hy navraag doen oor “watter ‘bron’ […] as daar so ‘n boek of boeke was” Opperman gebruik het, antwoord laasgenoemde (1967) soos volg:

 

            Beste Hennie

 

Ek het indertyd die roman Chaka geken. Verder het ek gelees alles wat ek in die hande kon kry, maar veral

A.T. Bryant se Olden Times in Zululand & Natal

& Nathaniel Isaacs se Travels & Adventures, I + II

 

My belangrikste bronne was egter:

 

  • 1. Zoeloes v/d Butelezi-stam (sic) op die plaas Steadham – die inligting is oor ‘n lang tydperk versamel, ook deur middel v/’n oom van my.
  • 2. Ene Ndlovu, ‘n Zoeloeprokureursklerk wat destyds by Guy & Turton op Vryheid gewerk het en baie goed met sy mense se geskiedenis en wette bekend was.

 

Hoop dis van hulp.

 

Hartlik,

 

Dirk.

 

Volgens J.C. Kannemeyer is die bronne vir “Shaka” ook by geleentheid op die regterkant van die oefeningboek geskryf waarin Opperman die eerste aarselende aantekeninge vir die skryf van Joernaal van Jorik gemaak het (Kannemeyer, 1979: 11). In die tweede band van sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur voeg Kannemeyer die volgende inligting by: “Afgesien van sy vertroudheid met die Shaka-figuur en die Zoeloewêreld van Natal berus Opperman se gedig op gegewens wat hy uit Nathaniel Isaacs’ Travels and adventures, Kuka-R.R.R. Dhlomo se Ushaka, S. Goro se Shaka en G.A. Gollock se Lives of eminent Africans verkry het” (1983: 103-104).

Wat opvallend is, is dat “Shaka” Opperman se eerste lang gedig is. Die gedig kan as ‘n epiese gedig beskou word en bestaan uit 296 versreëls wat in vyf afdelings ingedeel is, elkeen met ‘n titel. Die gedig is enigmaties in dié opsig dat dit die enigste lang gedig is waarin Opperman nie van tradisionele bindmiddels gebruik gemaak het nie.

Uit die eerste afdeling, “Langeni”, blyk dat Opperman aansluit by die opvatting dat Shaka ‘n buite-egtelike kind was wie se vernederende jeugjare hom wreed en wraaksugtig gemaak het (kyk I: 48-52). In die tweede afdeling, “Dingiswayo”, word Shaka se knapheid as kryger en andersins uitgebeeld, steeds met verwysing na sy genadeloosheid. In die derde afdeling, “Bulawayo”, word laasgenoemde aspek pertinent met Shaka se ongelukkigheid as kind in verband gebring. In die vierde afdeling, “Unkulunkulu”, word Shaka se vrees verwoord vir die verlies van sy mag, wat bygedra het tot verdere moordoptredes, en in die slotafdeling, “Dukuza”, word die moord na aanleiding van Nandi se dood en die sluipmoord op Shaka deur Mhlangaan en Mbopa gedramatiseer.

Opperman onderskryf dus die stereotiepe siening van Shaka soos dit in die bronne van Bryant en Isaacs voorkom. Opperman se siening van Shaka is dan ook nie heroïes soos dié van Mazisi Kunene in sy 433 bladsy lange Zoeloe-epos Emperor Shaka the Great (1979) of ander Afrika-nasionalisties geïnspireerde tekste nie. Opperman beeld Shaka feitlik slegs positief uit in die beskrywing van sy aantreklike voorkoms en sy woord- en dansvaardighede (kyk II).

Opperman het hoofsaaklik gebruik gemaak van die sendeling A.T. Bryant se Olden times in Zululand and Natal (1929), waarskynlik omdat dit destyds die volledigste bron oor Shaka was. Sy siening van Shaka as onderliggend ‘n wrede heerser tot op die punt van barbaarsheid is grotendeels onkrities uit Bryant oorgeneem. Opperman het selfs in ‘n brief van 3 November 1946 aan Gerrit Achterberg die volgende stelling ten opsigte van Shaka gemaak: “Shaka is hulle (d.w.s. die Zoeloes se – J.L.M.) ekwivalent in die geskiedenis vir Hitler (plus minus 1820)” (Kannemeyer, 1989: 142). Dit is nie die doel van hierdie artikel om uitvoerig op die ooreenkomste tussen Opperman se gedig en Bryant se werk in te gaan nie, ofskoon dit interessante gegewens aan die lig sal bring.

Ten opsigte van die Zoeloe-informante wat Opperman geraadpleeg het, kan die afleiding gemaak word dat hulle óf van die Zoeloes was wat self negatief jeens Shaka was, óf dat Opperman slegs aspekte soos kultuurgebruike en dies meer by hulle gekontroleer het sonder om ‘n positiewe siening van Shaka by hulle oor te neem. In hierdie opsig weerspieël Opperman se gedig die algemene Afrikaner-opvatting van daardie tyd omtrent die Zoeloegeskiedenis. Dit is veelseggend dat iemand soos Lina Spies in haar lesing (1987) van Opperman se “Shaka” slegs op die inhoudelike aspekte van die gedig kommentaar lewer sonder om krities teenoor die geloofwaardigheid en ideologiese kode op Opperman se gedig te staan. Binne die konteks van die omvangryke literatuur oor Shaka is dit noodsaaklik om ook hedendaagse opvattings omtrent Shaka as historiese figuur in berekening te bring by die beoordeling van Opperman se uitbeelding van hom (kyk Krog, 2010).

             

4

Opperman se jeug, agtergrond en sowel sy “kennis van die Zoeloe” as dié van die geskiedenis van Natal en die lotgevalle van sy voorgeslagte moet, soos reeds aagedui is, in aanmerking geneem word by ‘n waardering van die gedig. Heilige beeste handel onder meer oor die ondergang van mag, veral die Zoeloemag, en dit is opvallend dat die digter eers later die heropstanding van die swart man beskryf en onrustig aanvoel, byvoorbeeld in ‘n gedig soos “Staking op die suikerplantasie” in Blom en baaierd (1956). Opperman se sieninge en beperkinge ten opsigte van die skryf van “Shaka” moet in ag geneem word wanneer die betekenis van die gedig in sy tyd van ontstaan en sy betekenis vir die huidige tyd beoordeel word.

 

Bibliografie

 

Antonissen, Rob. 1973. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Kaapstad:

Nasou.

Argyle, John & Preston-Whyte, Eleanor. 1978. Social system and tradition in

Southern Africa. Cape Town: Oxford University Press.

Bosman, D.P.; Louw, N.P. van Wyk; Louw, W.E.G. (reds.). 1940. Tussen die engtes.

Kaapstad: HAUM.

Bryant, A.T. 1905. Zulu-English Dictionary. Pietermaritzburg: P. Davis & Sons.

Bryant, A.T. 1929. Olden times in Zululand and Natal. London: Longman.

Burness, Donald. 1973. Shaka king of the Zulus in African literatures. Washington:

Three Continents Press.

Cohen, Daniel. 1973. Shaka: King of the Zulus. New York: Doubleday.

Cope, Trevor (ed.). 1968. Izibongo: Zulu praise poems. Oxford: Oxford University

Press.

Cronjé, G. (red.). 1970. Die epos. Pretoria: J.L. van Schaik.

Dekker, G. 1970. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Dhlomo, R.R.R. 1970 (1937). Shaka. Pietermaritzburg: Shuter and Shooter.

Dube, John. 1951. Jeqe the bodyservant of king Tshaka. Lovedale: The Lovedale

Press.

Fourie, Pieter. 1976. Tsjaka. Johannesburg: Perskor.

Gérard, Albert S. 1971. Four African literatures: Xhosa, Sotho, Zulu, Amharic.

Berkeley: University of California Press.

Gérard, Albert. 1986. Rereading Chaka. English in Africa 13(1): 1-12.

Gibson, J.Y. 1903. The story of the Zulus. Pietermaritzburg: P. Davis & Sons.

Gon, Philip; Mulholland, Rosemary. 1985. Die eerste Zulukonings: Shaka en

Dingane. (Vert. Carmen Welz.) Craighall: Ad. Donker.

Gray, Stephen; Skotness, Cecil. 1974. The assassination of Shaka. Johannesburg:

McGraw-Hill.

Gray, Stephen. 1987. John Ross: The true story. Middlesex: Penguin.

Grové, A.P. (s.a.). D.J. Opperman: Monografieë uit die Afrikaanse letterkunde.

Nommer 9. Kaapstad: Nasou.

Grové, A.P. (samest.). 1974. D.J. Opperman: Dolosgooier van die woord. Kaapstad:

Tafelberg.

Grové, A.P. 1988. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Pretoria: Nasou.

Harvey, C.J.D. s.a. Jorik’s Journal and other poems by D.J. Opperman. Unpublished

manuscript. Stellenbosch: Document Centre, J.S. Gericke Library, University

of  Stellenbosch.

Isaacs, Nathaniel. 1936 (1836). Travels and adventures in Eastern Africa. 2 volumes.

(Ed. by L. Hermann.) Cape Town: Van Riebeeck Society.

Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band II. Pretoria,

Kaapstad en Johannesburg: Academica.

Kannemeyer, J.C. 1986. D.J. Opperman: ‘n Biografie. Kaapstad en Pretoria:

Academica.

Kannemeyer, J.C. 1989. Die bevestigende vlam: Opstelle en lesings oor die

Nederlandse letterkunde. Kaapstad en Pretoria: Academica.

Kennedy, Philip A. 1981. Mpande and the Zulu kingship. Journal of Natal and Zulu

History IV: 1981.

Krog, Antjie. Die verkleurmannetjie(s) op Shaka: ‘n Vergelyking tussen D.J.

Opperman en Thomas Mofolo. Tydskrif vir Letterkunde 47(2), Winter: 5-18.

Krüger, D.W. (red.). 1972. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Deel II. Pretoria:

RGN.

Kunene, Mazisi. 1979. Emperor Shaka the Great: A Zulu epic. London: Heineman.

Lazarus, Neil. 1986. The logic of equivocation in Thomas Mofolo’s Chaka. English in

Africa 13(1), May: 41-60.

Lindes, Elize. 1956. Veelheid en binding. Amsterdam: N.V. Noord-Hollandse

Uitgevers Maatschappij.

Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau en

Tafelberg.

Malaba, Mbongeni. 1986. The legacy of Thomas Mofolo’s Chaka. English in Africa

13(1), May: 61-71.

McDowell, Robert E. 1968. The brief search for an African hero: The Chaka-

Mzilikazi story in South African novels. Discourse XI.

Mofolo, Thomas. 1974. Tjhaka. (Vert. Chris Swanepoel.) Kaapstad: Tafelberg.

Nienaber, C.J.M. (red.). 1977. Tuinprovinsie Natal. Kaapstad: Tafelberg.

Opperman, D.J. 1947 (1945). Heilige beeste. (Tweede druk.) Kaapstad: Nasionale

Pers.

Opperman, D.J. 1967. Brief aan H.W. Truter. Dokument 118.K.Tr.3(12).

Stellenbosch: Dokumentesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van

Stellenbosch.

Opperman, D.J. 1979. Die galeie van Jorik. (Geredigeer en ingelei deur J.C.

Kannemeyer.) Kaapstad: Tafelberg.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg en Human &

Rousseau.

Phillips, Mary. (s.a.) (1979?). Valley of the virgin warrior. Durban: Knox Printing &

Publishing Co.

Rademeyer, J.J. (s.a.). Shaka. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Ritter, E.A. 1986 (1955). Shaka Zulu. Middlesex: Penguin.

Roberts, Brian. 1974. The Zulu kings. London: Hamish Hamilton.

Schoeman, P.J. 1978. Pampata: Die beminde van koning Tsjaka. Johannesburg:

Perskor.

Senghor, Léopold Sédar. 1956. Éthiopiques. Paris: Éditions du Seuil.

Spies, Lina. 1987. Besieling en behoud: Die boodskap van D.J. Opperman vir ons tyd.

(Eerste D.J. Opperman-gedenklesing.) Stellenbosch: Universiteit van

Stellenbosch.

Swanepoel, C.F. 1975. Oor die interpretasie van Tjaka (Thomas Mofolo). Limi 3(2):

64-80.

Swanepoel, C.F. 1976. Die wêreld van Tjhaka (deur Thomas Mofolo): ‘n Strukturele

en stilistiese ondersoek. (Ongepubliseerde D.Litt. et Phil.-proefskrif.)

Johannesburg: RAU.

Swanepoel, C.F. 1979. Reflections on the art of Thomas Mofolo. Limi 7(1 & 2): 63-

76.

Swanepoel, Chris. 1988. History in Mofolo’s Chaka: A comparison of text and

possible sources. South African Journal of African Languages 8(1): 23-27.

Truter, H.W. 1967. Brief aan D.J. Opperman. Dokument 118.K.Tr.3(11).

Stellenbosch: Dokumentesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van

Stellenbosch.

Van Heerden, Ernst. 1963. Rekenskap. Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg:

Nasionale Boekhandel.

Worger, William. 1979. Clothing the bones: The myth of Shaka. Journal of African

Studies 6(3), Autumn: 144-158.

Wylie, Dan. 2000. Savage delight: White myths of Shaka. Pietermaritzburg:

University of Natal Press.

Wylie, Dan. 2006. Myth of iron: Shaka in history. Pietermaritzburg: University of

Natal Press.

 

 


 

Note

 

[1] Zoeloename word deur verskillende skrywers verskillend gespel. Die spelling van “Shaka” is in navolging van Opperman.

[2] Die vertaling verskyn in ‘n manuskrip getitel Jorik′s Journal and other poems by D.J. Opperman. Die manuskrip van Harvey (s.a.) se vertaling van Opperman se gedigte word in die Dokumentesentrum van die J.S. Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch bewaar.

Bookmark and Share

Comments are closed.