Carina van der Walt. Toonleer-oefeninge op die tema Swart (1)

Skin
Skin

Ras as tema duik reëlmatig op in die Nederlandse samelewing. Dit is asof die eksotiese sfeer wat saamhang met swartwees hier in ‘n byna deurskynende, wit samelewing opnuut ontdek word. Die volgende twee aanbiedinge op kultuurgebied einde 2008 en begin 2009 het my aandag getrek. Dit was die film Skin van Anthony Fabian en die tentoonstelling Black is Beautiful in die Nieuwe Kerk in Amsterdam. Daarop het ek spontaan reageer.

Met die première van Skin (2009) in Amsterdam, was ek gevra om as tolk op te tree tussen joernaliste van verskillende Nederlandse dagblaaie en die Afrikaanstalige Sandra Laing, die vrou wie se lewensverhaal in Skin verfilm is. Sy was besonder ingetoë. Veral was sy bly en dankbaar dat haar lewensstryd met velkleur en rasse indeling onder apartheid soveel aandag kry. Juis haar ongemak met die pers het my nuuskierig gemaak oor die film. Ek het die feite van haar lewe uit die onderhoude geken, maar nie hoe dit verfilm is nie.

Regisseur Anthony Fabian het die potensiaal van haar dramatiese lewensverhaal, ingebed in ‘n politieke sisteem, goed raakgesien. Uit ‘n blanke egpaar, gespeel deur Alice Krige en Sam Neill, word ‘n dogtertjie met ‘n donker velkleur en kroeserige haartjies gebore. Sy ken liefde en geluk, totdat sy moet skool toe gaan. Die apartheidsmonster slaan toe op klein Sandra, gespeel deur Ella Ramangwane. Sy word met agterdog bejeën. Haar pa se stryd om haar as blank geklassifiseer te kry, begin. Intussen word op skool teen Sandra gediskrimineer – blatant en subtiel. Haar ma troos haar waar sy kan: “your skin is perfect”. Adam Small fluister in my oor terwyl ek na die mooi, onskuldige gesiggie sit en kyk:

 

Bushy head

so they call you

to insult you

bushy head

but bushy head

birds can nest in you

daily fly from you

and return to you

carrying home to you

in their wings for you

heaven;

have their young in you

hold their young in you

 

Hierdie trooswoorde kom uit die gedig O kroeskop!. As Sandra tydens haar jongmeisiejare (gespeel deur Sophie Okonedo) verlief raak op ‘n swartman, is die hel los in haar familie. Dis eintlik ‘n spontane reaksie op haar onderdrukkende omgewing. Al haar pa se moeite om haar as blank te laat opgroei, was verniet. So voel haar ouers. Hulle verwerp haar. Die apartheidsisteem kry die oorhand oor hulle gewone, ouerlike liefde. En weer tart Small se stem uit die gedig What abou’ de lô:

 

Diana was ‘n wit nôi

Martin was ‘n bryn boy

 

dey fell in love

dey fell in love

dey fell in love

 

sê Diana se mense

what abou’ de lô

sê Martin se mense

what abou’ de lô

sê almal se mense

what abou’ de lô

 

Skin het in 2009 minstens twaalf internasionale pryse gewen, onder andere in Dallas, Santa Barbara, Los Angeles, Bari (Italië) en Bordeaux (Frankryk). 

Tentoonstelling

Tentoonstelling in De Nieuwe Kerk, Amsterdam

In die somer van 2008 was die tentoonstelling Black is Beautiful in De Nieuwe Kerk in Amsterdam. Dit krap aan my dat iets soos velkleur ook hiér nie en stééds nie ‘n natuurlike plek gegun word nie. Al staan dit los van die onderdrukkende apartheidsbestel. Nee, velkleur hoort in ‘n tentoonstelling! In die afdeling Bijbelse verhalen leer ek dat Pieter Paul Rubens in sy skildery Aanbidding van die Koningskind (1618), die swart koning in die sentrum plaas as verteenwoordiger van Afrika. Ander skilders gebruik soms ‘n swart figuur om ‘n skadu in te vul. Die liefde tussen koning Salomo en die donkere koningin van Skeba word ook op skilderye in hierdie afdeling uitgebeeld. Hooglied verwys blykbaar na hulle liefdesverhaal. Volgens sommige verhale is daar nege maande na koningin Skeba se besoek aan koning Salomo ‘n seun gebore. Hy is Menelik I, die eerste koning van Ethiopië.

In die afdeling Hofcultuur en pages word onder ander gefokus op Zwarte kinderen aan het hof. Op baie skilderye is die tienjarige swart slafies van ryk Nederlandse families in die agtergrond op familieportrette (bv. van die familie Friesheim) uitgebeeld. Agter hulle meester of meesteres (bv. Margaretha van Raephorst) is hulle altyd dienend. Asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is! Die boek De zwarte met het witte huid van Arthur Japin kry natuurlik ook ‘n spesiale plekkie in die tentoonstelling. Dit vertel die geskiedenis van die twee Afrikaanse prinsies, Kwame en Kwasi, wat in 1837 aan Koning Willem I geskenk is. Die begin met:

 

“De eerste tien jaar van mijn leven was ik niet zwart.

Ik was op veel manieren anders dan de mensen om mij

heen, maar donker was ik niet. Dat weet ik. …” 

 

Dit was omdat die “ek” die eerste tien jaar van sy lewe in Afrika tussen sy eie mense was. Hy het geen kleuronderskeid gesien nie. Dieselfde, maar dan omgekeerd, geld vir Bram Vermeulen. Hy was die vorige verslaggewer van die NRC-Handelblad in Suid-Afrika. In  sy boek Help, ik ben blank geworden vertel hy hoe hy die eerste keer bewus word van sy wit velkleur deur die steeds sluimerende newe-effekte van apartheid.

Tussen al hierdie vanselfsprekendhede oor ras en klas in Black is Beautiful, verkneukel ek my tog in die woorde van SV Petersen as hy alles omkeer. Hy ontmasker die luiheid en wantrou en hekel die posisie van die hoër, sosiale klasse in Suid-Afrika in sy gedig Kamee:

 

Sy kom haar dagtaak toegetree

van vooraf skugter en verleë,

en vryf die vloere blink van dié

wat nie wil weet van arbeid nie.

 

Teenoor die werkgewer voer die skoonmaakster in die gedig ‘n harde, maar eerlike bestaan. Petersen eindig met:

 

‘n Deur wat oopklap soos ‘n hek,

en aan ‘n muur ‘n ereplek

sit prinses Margaret, – opgewek!

 

Skielik wonder ek maar net in die gees van Petersen, sal daar nie dalk in die verre toekoms ‘n tentoonstelling in Johannesburg – White is Beautiful – gereël word nie? 

 

Sien hier ‘n resensie & video oor Skin.

Kyk ook na die webblad van die tentoonstelling, Black is Beautiful,  hieronder:  

Filmpjes & Kijktest  Wilt u meer weten? Hier vindt u filmpjes met achtergronden, persoonlijke verhalen, bijzonder archief en meer kunstwerken. Bovendien kunt u testen hoe goed u kijkt…

O kroeskop! en What abou’ de lô kom uit die bundel Kitaar my Kruis (1962).

Kamee kom uit die bundel Die kinders van Kian (1960).

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Carina van der Walt. Toonleer-oefeninge op die tema Swart (1)”

  1. sebra :

    Wit sal nie in jou en my leeftyd so ‘n uitstalling belewe nie, my kind. Wit is verewig beklad. Ongelukkig is al wat ek uit geskiedenis geleer het dat niemand nog iets uit geskiedenis geleer het nie. Vertraptes vertrap altyd weer op hul beurt, net harder en dieper.