Leon Retief. Die man wat lief was vir sy kat

Wanneer iemand aangestel word as bevelvoerder van Canadian Air Force Base Trent (CAFBT) dan word algemeen aanvaar dat hy bestem is vir groter dinge – maak ‘n sukses van daardie kommandement en oor ‘n paar jaar word jy ‘n generaal en wie weet, later bevelvoerder van die Kanadese lugmag.

Kolonel Russell Williams het in Julie 2009 die bevel van CAFBT oorgeneem. Hy is beskou as een van die briljantste jong soldate in die Kanadese weermag en benewens sy talente as bevelvoerder is sy vermoëns as loods is so hoog geag dat hy gekies is om nie net die Kanadese eerste minister rond te vlieg nie maar ook besoekende staatshoofde en ook die koningin van Engeland tydens haar Kanadese besoek ‘n paar jaar gelede.

 

Kol. Russel Williams

Kol. Russel Williams

Maande na Williams se aanstelling het ‘n aantal inbrake in sy woonbuurt plaasgevind. Honderde items vroue-onderklere is gesteel. Kort nadat die inbrake begin het is twee vroue vasgebind en verkrag. Die verkragter het ‘n masker gedra, die vroue geblinddoek en foto’s van hulle naakte liggame geneem, sowel as video’s van die verkragtings. Vroeg in Januarie 2010 is twee vroue (Marie-France Comeau en Jessica Lloyd, beide verbonde aan CAFBT)) wat naby Williams gewoon het binne ‘n kwessie van weke vermoor. Comeau is versmoor deur kleefband oor haar mond en neus te plak, Lloyd is verwurg nadat ‘n hou teen haar kop haar bewusteloos gelaat het. Comeau se lyk is in haar huis gevind, Lloyd is as vermiste persoon aangemeld.

In Februarie vanjaar, kort nadat Jessica vermis geraak het, is Williams gearresteer – amper per toeval, toe ‘n oplettende polisieman tydens ‘n padblokkade gesien het dat die patroon van die bande op sy Nissan Pathfinder ooreenstem met spore wat in die sneeu naby Jessica Lloyd se huis gevind is. Had Williams soos gewoonlik in sy BMW gery was hy heel moontlik vandag nog op vrye voet. Hy is versoek om by die polisiestasie aan te meld vir ondervraging en dieselfde dag in hegtenis geneem.

Tot sover dan die kille feite van hierdie gebeure, walglik tot oorlopens toe maar waarskynlik nie baie anders as die dade wat meeste sadistiese seksmoordenaars pleeg nie. Vir my sou dit waarskynlik dan ook by die koerantberigte geëindig het as ek nie bloot toevallig afgekom het op ‘n televisie-uitsending van Williams se ondervraging nie. Ek moet erken dat ek so half teen my sin daarna begin kyk het maar dat dit later so fassinerend geword het dat ek bly kyk het, al het dit my laat voel soos ‘n voyeur – nie oor wat dit ontbloot het oor Williams se psige nie maar oor wat hy vertel het oor hoe Comeau en Lloyd hul dood ontmoet het. Nadat hy hulle vasgebind het, het hy sy videokamera so opgestel dat hy hul verkragtings kon opneem, Comeau se versmoring is eweneens op video vasgelê en hy het talle foto’s van hul naakte lyke geneem. “I only hit her once” het hy oor een van hulle gesê.

Net een keer – darem nie te gewelddadig nie! Hy het selfs Comeau se laaste woorde vertel: “If I die, will you make sure my mom knows that I love her?”

Die ondervraging deur sersant Jim Smyth het tien uur geduur. Uit die aard van die saak is net ‘n geredigeerde weergawe van die hele sessie uitgesaai maar die wyse waarop als ontknoop het, van Williams se aanvanklike ongeërgde houding tot sy uiteindelike erkenning, die blootlegging van sy perverse persoonlikheid, was so boeiend dat ek voor die televisie vasgenael bly sit het.

Williams het die vertrek waarin die ondervraging plaasgevind het opgewek binnegekom en toe Smyth aan hom noem dat dit waarskynlik die eerste keer is dat hy hom in so ‘n situasie bevind met ‘n breë glimlag geantwoord ja, dis beslis vir hom ‘n nuwe ondervinding. Vandaar het sake egter vinnig vir hom begin skeefloop en hy het nooit weer geglimlag nie.

Smyth het die ondervraging meesterlik hanteer, soos die ervare polisiebeampte wat hy is. Eers het hy vertel wat die polisie reeds weet oor Comeau en Lloyd se dood en aan hom die band-afdrukke getoon wat naby Lloyd se huis gevind is en gedemonstreer dat dit identies is met die bande op sy Pathfinder. Daarna het hy gevra of hy afdrukke kan maak van Williams se skoensole – hy het duidelik geweet dat dit dieselfde skoene is wat Williams gedra het die dag toe Lloyd vermoor is. Minute later het hy die afdrukke voor Williams neergesit.

“Your vehicle drove up to Jessica’s house. Your boots walked up to the back of Jessica’s house,” het hy doodluiters aan Williams gesê, asof hy ‘n opmerking oor die weer maak.

Williams het die afdrukke van die stewels en bande gegryp en minute lank aandagtig daarna gestaar. Ek dink dat hy op daardie oomblik besef het dat als verby is, dat hy geen uitkomkans meer het nie, maar sy gesig het totaal uitdrukkingloos gebly – al manier waarop mens sy waarskynlik groeiende maar onderdrukte paniek kon waarneem was die lang, lang, lang stiltes tussen sy antwoorde op Smyth se vrae. Sy gesig het maskeragtig en bewegingloos gebly, net so nou en dan het sy lippe saamgepers en weer ontspan.

“You and I both know you were at Jessica’s house and I need to know why,” het Smyth bedaard gesê.

“Call me Russ,” het Williams uit die bloute gesê, asof dit ‘n onmisbare brokkie inligting was wat hy aan Smyth verskaf.

Kyk Russ, het Smyth rustig voortgegaan, die polisie het reeds beslag gelê op jou rekenaar en hulle gaan alles vind wat daarop is. Williams het inderdaad al sy inkriminerende foto’s en videos op sy rekenaar gehad en selfs al sou hy dalk een of nader verskoning kon uitdink oor die band- en skoenspore sou die getuienis wat op sy rekenaar was hom verdoem het.

Wat meer is, het Smyth gesê, ons het monsters van liggaamsvloeistowwe van Comeau se liggaam gekry en dit gaan ooreenstem met jou DNS profiel. Williams het vorentoe geleun, sy arms om sy middellyf geklem, en vir ‘n lang tyd geswyg.

Smyth het sy ondervraging medoeënloos voortgesit.

“Your credibility is gone. You have no more cards to play.”

‘n Lang stilte van Williams, sy gesig reeds uitdrukkingloos.

“Can you tell us where Jessica’s body is?”

Weereens ‘n lang, lang stilte.

“What is the issue you are struggling with?” het Smyth twee keer gevra. Weereens geen antwoord nie.

“It’s hard to believe this has happened,” het Williams uiteindelik gesê.

“You can start telling the truth.”

Weer ‘n lang stilte.

“So where is she?”

Nog ‘n lang stilte.

“Get a map,” het Williams uiteindelik gesê.

Lloyd se lyk is gevind waar Williams op die kaart aangedui het. Die enigste teken van menslike gevoel wat hy tydens sy hele ondervraging getoon het was toe hy aan Smyth gesê het “I can only imagine what my wife must be going through.” Hy het nooit enige aanduiding van berou getoon nie.

Williams het skuldig gepleit, is van sy rang gestroop en gevonnis tot lewenslange tronkstraf. Oor 25 jaar sal hy kwalifiseer vir parool maar ek twyfel of daardie aansoek suksesvol sal wees – selfs in ‘n land soos Kanada, waar misdadigers tot ‘n groter mate as in Suid-Afrika kan aanspraak maak op meer “menseregte” as slagoffers van misdaad sal hy waarskynlik nooit weer ‘n tree buite ‘n tronk gee nie.

Wat my van die hele ondervraging gefassineer het is die feit dat Williams nooit enige sigbare teken van berou getoon het nie – hy het nooit iets gesê wat geklink het asof hy berou het nie en geen tekens van meegevoel met sy slagoffers het tydens die ondervraging tevoorskyn gekom nie Na sy vonnisoplegging het hy die vereiste brief van verskoning aan die naasbestaandes van sy slagoffers voorgelees maar dit is betekenisloos, die Kanadese regstelsel vereis so iets en in meeste gevalle word dit ongetwyfeld deur die aangeklaagde se prokureur geskryf.

In ‘n brief uit die tronk het Williams sy vrou versoek om sy kat mooi te versorg.

 

Shattered Head

 

A life hauls itself uphill
through hoar-mist steaming
the sun’s tongue licking
leaf upon leaf into stricken liquid
When? When? cry the soothseekers
but time is a bloodshot eye
seeing its last of beauty its own
foreclosure
a bloodshot mind
finding itself unspeakable
What is the last thought?
Now I will let you know?
or, Now I know?
(porridge of skull-splinters, brain tissue
mouth and throat membrane, cranial fluid)

Shattered head on the breast
of a wooded hill
Laid down there endlessly so
tendrils soaked into matted compose
became a root
torqued over the faint springhead
groin whence illegible
matter leaches: worm-borings, spurts of silt
volumes of sporic changes
hair long blown into far follicles
blasted into a chosen place

Revenge on the head (genitals, breast, untouched)
revenge on the mouth
packed with its inarticulate confessions
revenge on the eyes
green-gray and restless
revenge on the big and searching lips
the tender tongue
revenge on the sensual, on the nose the
carrier of history
revenge on the life devoured
in another incineration

You can walk by such a place, the earth is
made of them
where the stretched tissue of a field or woods
is humid
with beloved matter
the soothseekers have withdrawn
you feel no ghost, only a sporic chorus
when that place utters its worn sigh
let us have peace

And the shattered head answers back

And I believed I was loved, I believed I loved
Who did this to us?

 

– Adrienne Rich

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.