Andries Bezuidenhout. ‘n Vertaalde gedig oor ‘n digter met ‘n geel oortrektrui

POËSIEVOORLESING
(rowwe eerste vertaling van ʼn gedig deur Margaret Atwood)

Hou die digter dop – die befaamde digter –
die gestroop van sy binneste, die blootl
ê
van sy pakkamer vol moorddadige gedagtes
en skaamgesig drange,
sy muwwe hatighede, sy flou, maar rou ambisies,
jy weet nie of jy dankbaar moet wees of spot nie:
die biegwerk doen hy namens ons almal.

Hy’s in ʼn sagte oortrektrui gehul,
aspris nie swart nie, maar ʼn blekerige geel
soos ʼn roomsorbet, die kleur
wat jy vir kleuters koop as jy nie seksisties wil oorkom nie,
en sy gesig met bekommerde voorkop
dobber teen die verhoog se donker agtergrond,
gelaatstrekke effe obskuur
soos die son deur mis

en dan begryp jy hoe hierdie gesig was, eens,
toe hy ʼn vervaarde klein seuntjie was
wat op sy tone die spieël in staar
en vra: Hoekom kan ek nie soet wees nie?
en later: Is hierdie my regte ouers?
selfs later: Hoekom maak die liefde so seer?
g later: Wie veroorsaak oorloë?

Jy wil hom in jou arms vashou
en vir hom lieg.
Gewone mense vra nie oor hierdie dinge nie,
sou jy kon s
ê. Kom ons het eerder seks.
Jy weet vroue wat meer onnosel as jy is
het hierdie kuur vir al daai kwale
van siel en gees voorgeskryf. Jy’t gesweer jy sal dit nooit doen nie,
so jy maak ʼn groot uitsondering hier.

Hy sal maar net antwoord:
Ek het jou vertel van my rowe en drange,
my morsige tormentasies, my gebrek aan menswaardigheid –
ek sal jou net vuilmaak.
Hoekom moeite maak met my?

Dan sal jy teëwerp:
Niemand het jou gedwing om dit te doen nie,
hierdie geneuk met lettergrepe en leed,
hierdie naakte rondrol in netels
en jou tong in spykers steek.
Jy kon ʼn messelaar gewees het.
Jy sou ʼn tandarts kon wees.
Dikvellig. Afgestomp.

Maar dis nutteloos. Vele messelaar
het al sy brein met bokhael weggeblaas
weens verskraalde smart. Die koers vir tandartse is selfs ho
ër.

Miskien is dit in plaas van, hierdie poësie.
Miskien is die snoer woorde
wat nou soos ʼn afgeskilde aar by hom uitkom
al wat hom vashou
aan hierdie paar vierkante voet aarde.

So jy hou aan dophou, soos hy homself gesel
in ekstatiese selfverwyt;
nou nog net sy onderbroek oor,
die hempige hare, die kettings –
N.B., hierdie is metafore –
en jy bespeur dat na alles
daar ʼn koue vakmanskap daaraan is, soos met kraalwerk
of die oopvlek van ʼn snoek.
Daar’s tegnieke, truuks.

Maar net as jy gekul voel
bly hy skielik stil. Daar’s ʼn knikkie,
ʼn glimlag, ʼn verposing,
en jy voel die intrek van jou asem
soos lug wat jou ʼn vuishou gee,
en jy klap saam hande.

Uit: Margaret Atwood, The Door (2007, Virago).

Bookmark and Share

23 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. ‘n Vertaalde gedig oor ‘n digter met ‘n geel oortrektrui”

  1. Desmond Painter :

    Al my duime is in die lug!

  2. Joan Hambidge :

    Dalk vele messelaars?

  3. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Joan. Die oorspronklike: “Lots of bricklayers/ have blown their heads off with shotguns/ out of blank despair…” Ek het reeds liberties gevat met die “bokhael” en die enkelvoud het vir my meer Afrikaans geklink. Meer getrou aan die oorspronklike sou seker wees: Vele messelaars/ het al hul koppe met haelgewere weggeblaas/ uit…” en met “blank” het ek nie raad gehad nie – slegs geykte Afrikaanse uitdrukkings (bv. “rou smart”). Dis hoekom ek toe maar “verskraalde smart” gekies het. Dis nader aan wat sy met “blank” bedoel, dink ek.

  4. Desmond Painter :

    Ek het gevoel “verskraalde” werk dalk nie heeltemal nie (my thumbs up ten spyt): wat van “yl”? Of so iets. Nee dit werk ook nie heeltemal nie. Blank despair is beslis moeilik te vertaal!

  5. Andries Bezuidenhout :

    En “smart” vir “despair” is ook maar iffy. Dalk eerder “wanhoop”.

  6. Desmond :

    Jy kan “blank” as “wit” vertaal, dan het jy “wit wanhoop” 🙂 OK dit gaan nie werk nie.

  7. Desmond :

    Of wat van “leë” eerder as “verskraalde”?

    PS. Wit Wanhoop kan wel werk as ‘n albumtitel; dit gebeur voor Bleek Berus neem ek aan… 🙂

  8. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, jy gee goeie raad vanoggend, maar deel ook lae houe uit! 🙂

  9. Desmond :

    Dis maar hoe ek is, Andries, ‘n geniepsige blogetter! Terloops, jou Bleek Berus is nie meer verkrygbaar in Stellenbosch nie, nie eens in Protea Boekwinkel of Classix on CD nie. En daar’s ‘n mark.

  10. Rene Bohnen :

    Menige messelaar? En dalk twee woorde omruil, maar betekenis (dalk) behou, iets soos:
    Maar dis nutteloos. Menige messelaar
    het al sy brein met bokhael weggeblaas
    weens verslae leegheid. Die koers vir tandartse is selfs hoër.
    My eiertjie vir die dag;-)

  11. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Rene, dit werk heelwat beter! Desmond, laat die underground nooit kla oor ‘n gebrek aan verkope nie. Ek sal die platebaas laat weet. Daar’s ‘n dude met studs en tattoos wat die CD’s na al die plekke in die land toe moet neem. Hy doen baie van die hip-hop mense se CD’s ook, wat Stellenbosch seker nie op die N1 plaas nie.

  12. Johann de Lange :

    Andries, ek sou voorstel ‘uitsiglose wanhoop’

  13. Andries Bezuidenhout :

    Johann, ek het nogal gewonder of “blank despair” speel op “blank stare”. In welke geval “uitsiglose” ‘n uitstekende vertaling sou wees. Ek kan my die arme messelaar verbeel.

  14. Andries Bezuidenhout :

    POËSIEVOORLESING
    (rowwe tweede vertaling van ʼn gedig deur Margaret Atwood)

    Hou die digter dop – die befaamde digter –
    die gestroop van sy binneste, die blootlê
    van sy ganse boedel moorddadige gedagtes
    en skaamgesig drange,
    sy muwwe wrokke, sy flou, maar rou ambisie,
    jy weet nie of jy moet spot of dankbaar wees nie:
    hy bieg immers namens ons almal.

    Hy’s in ʼn sagte oortrektrui gehul,
    aspris nie swart nie, maar bleekgeel
    soos ʼn roomsorbet, die kleur
    wat jy vir kleuters koop as jy nie seksisties wil oorkom nie,
    sy gesig met bekommerde voorkop
    dobber teen die verhoog se donker agtergrond,
    gelaatstrekke effe obskuur
    soos die son deur mis

    en dan begryp jy hoe hierdie gesig was, eens,
    toe hy ʼn vervaarde klein seuntjie was
    wat die spieël in staar op puntige tone
    en vra: Hoekom kan ek nie soet wees nie?
    en later: Is hierdie my regte ouers?
    selfs later: Hoekom maak die liefde so seer?
    nóg later: Wie veroorsaak oorloë?

    Jy wil hom in jou arms vashou
    en vir hom lieg.
    Gewone mense vra nie oor hierdie dinge nie,
    sou jy kon sê. Kom ons het eerder seks.
    Jy weet vroue meer onnosel as jy
    het hierdie kuur vir al daai siels- en geesteskwale
    voorgeskryf. Jy’t gesweer jy sal dit nooit doen nie,
    so jy maak ʼn groot uitsondering hier.

    Maar hy sal net antwoord:
    Ek het jou vertel van my rowe en drange,
    my morsige tormentasies, my gebrek aan menswaardigheid –
    ek sal jou net vuilmaak.
    Hoekom jou met my ophou?

    Dan sal jy teëwerp:
    Niemand het jou gedwing om dit te doen nie,
    hierdie geneuk met lettergrepe en leed,
    hierdie naakte rondrol in netels
    en jou tong in spykers steek.
    Jy kon ʼn messelaar gewees het.
    Jy sou ʼn tandarts kon wees.
    Dikvellig. Afgestomp.

    Maar dis nutteloos. Menige messelaar
    het al sy brein met bokhael weggeblaas
    weens uitsiglose wanhoop. Die koers vir tandartse is selfs hoër.

    Miskien is dit in plaas van, hierdie poësie.
    Miskien is die snoer woorde
    wat nou soos ʼn afgeskilde aar by hom uitkom
    al wat hom vashou
    aan hierdie paar vierkante voet aarde.

    So jy hou aan dophou, hoe hy homself
    in ekstatiese selfverwyt gesel;
    nou nog net sy onderbroek oor,
    die martelhemp, die kettings –
    N.B., hierdie is metafore –
    en jy bespeur dat na alles
    daar ʼn koue vakmanskap daaraan is, soos met kraalwerk
    of die oopvlek van ʼn snoek.
    Daar’s tegnieke, of truuks.

    Maar net as jy gekul voel
    bly hy skielik stil. Daar’s ʼn knikkie,
    ʼn glimlag, ʼn verposing,
    en jy voel hoe jy jou asem intrek
    soos lug wat jou ʼn vuishou gee,
    en jy klap saam hande.

    (NS. Groot was die versoeking om “Let’s have sex instead” te vertaal as: “Ag, kom ons naai eerder”. Ek het gelukkig die versoeking weerstaan.)

  15. Pieter Odendaal :

    Andries, daar lê jy nou jou vinger op die ding wat my die meeste gepla het in die vertaling. Wie sê nou rerig “Kom ons het eerder seks”? Dit is die sin wat vir my soos ‘n seer vertaalde duim uitgestaan het. Die Engelse “Let’s have sex instead” is soveel ligter, soveel meer terloops.

    Miskien is die probleem met die Afrikaanse woorde vir kopulasie dat daar nie ruimte vir nuanseverskille is nie. “seks” klink so biologies, “naai” klink hoererig, en weet nie of “saam slaap” dalk kan werk nie?

    “Kom ons slaap eerder saam.” ?

  16. Andries Bezuidenhout :

    Pieter, dat ons moedertong nou so lomp sleep as dit by sulke aangeleenthede kom. Sy’s lig en terloops, maar ook saaklik. Dis nie “Let’s rather make love” nie. Moeilike een, hierdie.
    Ek het ook met die “hair shirt” gesukkel. Ek dink nie ons het ‘n Afrikaanse woord daarvoor nie. Dis nou “martelhemp”, dit kan seker “folterjas” ook wees. Maar nou voel ek soos ‘n taalkommissaris in ‘n safaripak wat nuwe woorde moet uitdink wat niemand weer daarna gebruik nie. Miskien het die Afrikaanse S&M-kultuur reeds ‘n woord, waarmee ek helaas nie bekend is nie.

  17. Desmond Painter :

    Ja Afrikaans het dit tot onlangs (dit moet seker al aan die verander wees) nogal moeilik gemaak om oor seks te praat maniere wat nie of formeel of bloot kru is nie… Maar snaaks genoeg, toe ek by Rhodes gewerk het, het ek agtergekom Engelssprekers (studente, in elk geval) het baie graag Afrikaanse woorde gebruik wanneer hulle speels of kasueel (?!) oor seks praat; veral die woord ‘pomp’ is graag gebruik. Soos in: They had a pomp; They pomped; I wanted to pomp her. Ek stel dus voor jy gebruik “pomp” eerder as “seks” of “naai”. Daar’s ‘n soort off-hand, speelse kwaliteit aan die woord.

  18. Andries Bezuidenhout :

    Wat van “Kom ons spring eerder in die bed”?

  19. Desmond :

    Of: “Kom ons gaan eerder bed toe.”

  20. Andries Bezuidenhout :

    Sjoe, Desmond, ek weet nie of ons verhouding al op daai punt is nie. 🙂

  21. Leon Retief :

    Wat van “Hoe lyk dit met ‘n knippie?”

  22. Pieter Odendaal :

    Dalk eerder “Hoe lyk dit met ‘n knypie”?

  23. Leon Retief :

    Soos die kat in die donker? 🙂