Philip de Vos. Aandagsgebreksindroom of pleinweg ADD

Die ding met inskrywings vir ‘n gereelde blog is dat jy later glad nie meer weet waaroor presies jy behoort te skryf en hoe gereeld jy dit moet doen nie. Skryf jy een elke dag of drie is daar die moontlikheid dat die juweeltjies waaraan jy vir ure gesit en worstel het die kuberruim in verdwyn sonder dat ‘n enkele woord ooit deur iemand gelees is. Lees ander mense jou gevleuelde woorde of is dit op die ou end net ‘n egoïstiese monoloog?
     
Maar, nou ja …
     
 Ek het eintlik ‘n baie oppervlakkige kennis en dit het glad niks met beskeidenheid te doen nie. Dit het miskien meer te doen met ADD; Engels vir Attention Deficit Disorder of in hoghe Afrikaans: Aandagsgebreksindroom. Ek het nooit eens geweet dat ek dit het nie tot die ander dag terwyl ek klere gestryk het en terselfdertyd na Cape Talk geluister het. Iemand bel toe in en sê dat een van die simptome (en die woord simptome klink ‘n bietjie te veel na iets waaraan jy dalk kan doodgaan), is dat jy gedurig aan die uitstel is.
     
En kan ek uitstel? Ja, beslis.
     
Jare gelede toe ek nog in Bloemfontein was, het ek vir Nico Smit ontmoet. Ons was albei nog op skool en dit was in een van die skoolgange van Hoërskool Sentraal in Bloemfontein dat ek met hom begin praat het. Dit was in 1953 en hierdie vriendskap het gebly tot hy vroeër vanjaar op ouderdom 71 oorlede is.
     
Toe Nico sy B.A.-graad behaal by die destydse UOVS het, hy vir my as vriend gevra om ‘n paar foto’s van hom te neem. Die foto’s is toe wel in Bloemfontein geneem en ek het vir Nico later self afdrukke van hierdie foto’s in my tuisgemaakte donkerkamer gemaak. Die enigste probleem was dat dit in my donkerkamer in Kaapstad was en die ander een was dat dit ongeveer 25 jaar later was. En het Nico dit waardeer? Ja, verskriklik! Het ek vir hom die foto’s die volgende dag laat kry, was dit glad nie so besonders nie, maar ‘n kwarteeu later het hierdie foto’s ekstra, ekstra spesiaal gemaak.
     
En van Nico gepraat. Nico was seker die eerste persoon wat geweet het toe ek en my vriend Peter vegetaries geword het. En hierdie vegetaries-wordery van my was omdat ek in ‘n Ster Kinekor-teater gesit het en die rolprent Babe oor die pratende varkie gesien het. En toe daardie varkie sy mond oopmaak en vir sy ma vra of varke se enigste rede vir bestaan was om geëet te word, het ek daarna my mond nooit weer aan vleis gesit het nie, en dit is die reine waarheid.
     
Een aand, so 17 jaar gelede kry ek ‘n skielike oproep van Nico. “Wil nie vanaand by ons kom eet nie? Johannes het nou net ‘n heerlke beessert-sop gemaak.” En my woorde aan Nico was min of meer die volgende: “Nico, ek en Peter is nou vegetaries.” En ek hoor toe hoe Nico na die kombuis toe skree: “Johannes, hulle is nou vegetaries!” En ek hoor baie, baie duidelik hoe Johannes terugskree: “Wel, wat se kak is dit nou met hulle?”
     
Tog moet ek byvoeg dat Johannes in die jare daarna tog die heerlikste vegetariese disse vir ons voorberei het en sy Lebanese komkommersop van destyds is seker die lekkerste sop wat ek nog ooit geeet het.
 
Dis die lekkerte van ADD, jy spring sommer binne twee sekondes van die een onderwerp na die ander. Nooit óóit raak jy verveeld nie. Die enigste nadeel is dat dit party mense vreeslik vervies as ek sommer tussen-in oor ‘n hele ander onderwerp begin praat. Maar nou ja, dit is hulle probleem en nie myne nie.
 
Een ding omtrent ADD is dat jy nooit ‘n hele boek kan deurlees nie. Op bladsy drie reeds raak ek verveeld, en dan blaai ek na die eerste bladsy van ‘n volgende een. Dit is seker daarom dat ek soveel titels en skrywers se name ken, maar glad g’n idee het wat eintlik in die boek se binneste gebeur nie. Deon Meyer en Karen Brynard moet maar vergeet dat ek ooit een van hulle boeke gaan lees, want die goed is glad te dik om van Karel Schoeman nie eens te praat nie. En my boodskap aan Karin Brynard: Jou titel Plaasmoord maak my glad te bang ek sal seker nie eens so ver as bladsy drie kan kom nie. Ek lees veel liewer tot bladsy drie van Ena Murray se Die Oujongnooi van Polkadraai.
   

Ja, dit is die lekkerte van ADD. Jy hoef jou nie te lank by een onderwerp te bepaal nie.

Die volgende:

Ek ontmoet tog so met my omwandelinge ander mense, al is dit somtyds net vir ‘n minuut of tien.

Dinsdagoggend het ek foto’s van Zandra Bezuidenhout geneem. En die GPS in my Uno het my al die pad tot reg by haar voordeur geneem met ’n vrouestem wat sê: Destination on the left!

Daarna was dit Winand Grundling die hoogs begaafde jong orrelis met wie ek saam middagete in Stellenbosch se straatkafees gehad het. En om die waarheid te sê ek ken ook nie juis die orrel as instrument nie. Dit laat my te veel dink aan die ure wat ek as kind in die kerk gesit het en die dominee gepraat en gepraat en gepraat het en die orrel gespeel en gespeel en gespeel het. En vir iemand met ADD voel ‘n uur in die kerk soos ‘n honderd jaar. Die ander dag vra ‘n vriend egter: “Maar hoe kry jy dan reg om vir drie uur lank na Avatar te sit en kyk?”

En tot my skaamte moet ek erken, toe Winand dié middag my novelle Tot siens, Tommasino uithaal om geteken te word en ek voorin ietsie moois vir hom skryf, kon ek vir ‘n oomblik glad nie sy naam onthou nie. My gedagtes was seker al klaar by die volgende onderwerp: oor wat ek presies vir die volgende paar uur sou doen

O ja, ek het netnou vergeet om te sê ek lees darem so nou en dan ‘n boek deur. ‘n Paar dae gelede was dit die laaste bladsy van Damon Galgut se In a Strange Room. Die lekkerte van dié boek is dat die boek se reëls in dubbelspasie gedruk is en dat Galgut se sinne kort is. En vir my met my ADD was dit een van die roerendste en allenigste boeke wat ek al ooit gelees het. Eenvoud en diepte in kort gelaaide sinne. Intellektueel was ek nog nooit nie en ek wil dit ook nooit voorgee nie en wil daarom ook nooit gedigte of boeke probeer ontleed nie, want ontleding vat te lank en die volgende boek se eerste drie bladsye wag. Maar – vir dié wat slimmer as ek is (en ook die ander) – lees asseblief dié boek.

Dinsdagmiddag in Stellenbosch, het ek toe van 13:00 tot 17:00 tyd gehad om te wag om weer vir Piet Grobler te sien. Hy was vir ‘n baie vlugtige besoekie aan die land vir die bekendstelling van Marita van der Vyver se Die Mooiste Sprokies van Grimm saam met met Piet se soos gewoonlik, wonderlike illustrasies. En toe ek vir Piet, wat nou in Engeland woon, vra hoe dit voel om terug in die land te wees, sê hy. “Dis vreemd. Ek voel ek behoort nie daar ander kant nie, en ek behoort ook nie meer nie hier nie” En toe vertel hy my hoe hy verby sy ou huis in Paradyskloof gery het. En die wonderlike hoë heining wat die huis met die groen dak half en half weggesteek het, is nou kort gesnoei. Ja, ‘n jaar is verby en dinge het verander.

En in die wagtyd tussen 13:00 en 17:00 het ek in Protea Boekwinkel in ‘n leunstoel gesit en boeke van bladsy 1 tot 3 begin lees. Veral die fotoboeke met foto’s soos dié van David Goldblatt. Maar toe maak ek ‘n ontdekking: tussen al die boeke ingedruk is Jurie Els se Ver van Vrede. En ongelukkig moet ek nou bieg, ek is ook maar nes baie ander Suid-Afrikaners. Ek hou van skinder en is geseën met ‘n tikkie Schadenfreude en ja, ek lees ook maar Die Huisgenoot wat my buurvrou-viendin Vicky Taljaardt vir my aandra en wat ek so gewillig lees.

Ja, van Jurie Els gepraat. Nog voor al die Klay-stories begin het, was ek bewus van die man wie se gesig so gereeld op Huisgenoot se voorblaaie verskyn het. En ek kon nog nooit vat kry aan iemand wat die heeltyd glimlag nie, want ‘n smaail irriteer my verskriklik, om die waarheid te sê, vir party mense s’n, gril ek my half dood.

En daar sien ek toe Ver van Vrede op die rak, en ek wil nie hê Louis Esterhuizen moet weet wat ek so skelm-skelm in die Protea-boekwinkel sit en lees nie. Toe haal ek maar ‘n dik fotoboek van die rak af met Jurie Els se Ver van Vrede onder dié groot boek versteek. En elke keer as Louis verbystap, sug ek diep. Hy dink toe dis oor Paul Alberts se roerende foto’s wat ek sug, maar min het hy geweet dit was eintlike oor Jurie Els se manewales.

Later dié middag het ek ‘n uur of wat by Louis en Marlise aan’t huis deurgebring. Ons het buite in die tuin gesit en wag op die voëltjie wat so gereeld kom kuier het. Ons het sit en wyn drink. Daar was klaviermusiek met die wondelike andante-gedeelte van Shostakovich se tweede klavierkonsert uit die sitkamer agter ons. En die voëltjie het laatmiddag steeds nie opgedaag nie.

Toe het dit skemer begin word en moes ek met my heerlike nuwe GPS-speelding in my Uno na Oude Libertas toe ry vir Piet se boekbekendstelling.

En daar het ek met Wilma Janse van Vuuren en Hilton Paul begin gesels. En Hilton het vir my gesê ons moet eendag by Giovanni’s in Groenpunt gaan koffie drink. Ek was nog nooit daar nie, net omdat ek seker ‘n bietjie te skaam is om alleen daar in te stap. En ja, dit is tog lekker om nuwe mense te ontmoet

Vir iemand met ADD is die lewe nooit werklik vervelig nie.

Later dié naweek gaan praat ek dalk weer met my nuwe vriend Rob Kirsner oor ou MGM Musicals …

Die ander dag juis sê een van my oudste pêlle: Ja jy dink net die hele tyd aan jouself! En dit herinner my skielik aan ‘n miss Piggy cartoon.

Dit was min of meer die volgende: “I have talked much too much about myself already. Let us rather talk about you. Tell me, what do you think of me …

Amen

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Philip de Vos. Aandagsgebreksindroom of pleinweg ADD”

  1. mariesa :

    Ek het die ADD skrywe BAIE geniet!!
    Liefde

  2. Wonderlik!!!

  3. James Hayes :

    Het ook die ADD behalwe in my geval dat dit tot nuttelose aksies lei

  4. Dit is hoekom party brakke hulle sterte jaag!

  5. Marina :

    Soos ek jou vertel het, het ek ook die aandagspan van ‘n muskiet. Ek kan heeltemal identifiseer, want almal is ook gedurig kwaad vir my omdat ek nie genoeg aandag gee nie en van onderwerp na onderwerp spring. En ek onderbreek mos gedurig mense (en hulle raak so kwaad), maar ek moet eintlik net dadelik reageer, want 20 sekondes later het ek dit weer vergeet. O ja, Amanda noem my die “Queen of Procrastination”, ‘n kroon wat ek tot my spyt baie goed dra! Ook ek word dikwels daarvan beskuldig dat ek net aan myself dink. Eish…ek probeer regtig hard! Heerlike blog! Sit in afwagting vir die volgende aflewering! x

  6. karin brynard :

    Dit was nou ‘n heerlike, kort, aandagtelike wandeling deur jou dag op Stellenbosch. En ek sou graag wou weet of jy toe genoeg uit Jurie Els gekry het?

  7. Eduard G :

    My Slaapkamer se vloer is vol van boeke wat ek nie eers by die derde bladsy gekom het nie…

  8. Pragtig! Heerlike blog.