Carina van der Walt. Toonleer-oefeninge op die tema Swart (2)

In aflewering een het ek daarop gewys dat ras as tema reëlmatig opduik in die Nederlandse samelewing. Twee verdere kulturele aanbiedinge ná die bespreekte film en tentoonstelling het my eie gewaarwordinge nogmaals verskerp. Dit was die bekendstelling van Antjie Krog se boek, Begging to be Black, en twee onlangse toneelstukke tydens die Afrovibes Festival: Nanny’s Only van Erik-Ward Geerlings en A Face like Mine van Asanda Phewa.

Regisseuse Asanda Phewa (I Face like Mine) Foto: Ju-Mari van der Walt

Regisseuse Asanda Phewa (I Face like Mine) Foto: Ju-Mari van der Walt

 

 

Met die bekendstelling van Begging to be Black (Nov. 2009) was Antjie Krog dadelik in die kollig vanweë haar simpatieke uitsprake oor die ANC Jeugligaleier, Julius Malema. Dis ou nuus. Wat wel duideliker word uit die oeuvre van Krog (en versterk word deur sulke openbare optredes soos hierbo genoem) is die worsteling met haarself. Baie Nederlanders volg hierdie worsteling in die vertaling Niets liever dan zwart. Dit is die laaste aflewering in haar trilogie: De kleur van je hart, Een andere tongval en Niets liever dan zwart. Is sy verdwaalde, ontwortelde Europeaan aan die suidpunt van Afrika? Of is sy gewortelde Afrikaan, deel van Afrika na soveel geslagte op die kontinent? (Of albei?) Watter stryd voer wit en swart in haar hart? Skaamte vir haar bleekneus Afrikaner voorvaders en hulle verowerings- en kersteningsdrang? Of simpatie en bewondering vir die warmte en oorlewingskrag van swart Afrikane, eeue lank uitgebuit en verneder?  (Of albei?)

Politieke ontleder Eusebius McKaiser skryf onlangs in ZAM Magazine dat dit tragies sal wees as wit Suid-Afrikaners hulle eie identiteit wil inlewer om soos “die ander” te word. Hy vergelyk dit met swartes wat tydens apartheid probeer het om hulle hare met “straightner” reguit te maak. Antjie Krog en haar verlange om vir swart gereken te word, beskou hy as tragies. Sterk woord. Tragies. En tog. Krog se versugtinge vind weerklank in die gedig hieronder van die Poolse digteres en Nobelpryswenner, Wisława Szymborska.

 

Ella in de hemel

 

Ze bad tot God,

ze bad heel vurig,

of hij niet van haar

een blank, gelukkig meisje kon maken.

En mocht het te laat zijn voor zulke veranderingen,

kijk dan toch, o God, hoeveel ik weeg

en haal er op zijn minst de helft vanaf.

Maar de genadige God zei nee.

Hij legde alleen een hand op haar hart,

keek in haar keel, aaide over haar bol.

‘En is straks alles achter de rug,’voegde hij eraan toe,

‘doe me een plezier en kom dan bij mij,

mijn zwarte troost, mij zingende homp.’

 

Op Afrovibes Festival (22 September – 24 Oktober 2010) het twee toneelstukke my sterk geraak. Afrovibes is ‘n dans- en teaterfees wat jong talent uit Suid-Afrika kans gee om internasionaal op te tree.

Die kamer uit A face like Mine. Foto: Ju-Marie van der Walt

Die kamer uit A face like Mine. Foto: Ju-Mari van der Walt

Oor Nanny’s Only het ek al eerder op LitNet geskryf. Ek het nie die voorreg gehad om deur ‘n nanny grootgemaak te word nie. Selfs daarvoor was my ma te konserwatief! Die gevoel dat ek iets gemis het, word versterk deur die roman wat ek tans lees: Agaat van Marlene van Niekerk. Milla Redelinghuys-de Wet en haar huishoudster/hulp/nanny van haar seun Jakkie, Agaat, is twee ystersterke vroue. Hulle meet mekaar tot in die dal van doodskaduwee.  Maar die wit verheerliking van nanny’s kry tog ‘n flinke knou as die jong, bruin digteres Ronelda Kamfer op Facebook aan die beurt kom. Sy dig na aanleiding van Koos Kombuis se woorde:

“Katie, Katie, jy was nie net ‘n meid nie, jy was ‘n ma vir my”.

 

Katie het kinders gehad

 

My untie Katie was sestien toe sy in service

begin werk het, sy het net tot standerd vyf

skool gegan, my ouma. Untie Katie se ma

was ook ‘n huishulp

 

my untie katie was ‘n baie glamourous vrou,

haar hare het blonde streaks in gehad, sy het

net goue jewlry gedra en het nerens sonder

haar musky perfume en rouge lipstiffie

gegan nie

 

behalwe

 

werk toe, ‘n mens moet altyd jou werk met

pride doen het my ouma altyd vi haar gesê

maar sy kannie het sy geantwoord

 

sy wil lyk soos sy voel het sy gesê,

soos die meid

 

Daarop speel ek heerlik uitdagend in as ek my eie dogter my meid noem. In Nederlands is dit geen skelwoord nie. Dit beteken “”jong meisje, jonge vrouw”.

Sangoma: A Face like Mine. Foto: Ju-Mari van der Walt.

Sangoma: A Face like Mine. Foto: Ju-Mari van der Walt.

Die mees artistieke toneelstuk op Afrovibes was egter A Face like Mine van regisseuse en hoofrolspeler Asanda Phewa. Die stuk begin met ‘n soort ode aan die skoonheid van die swart vrou, charcoal in die waaie van haar bene en arms, onder haar armholtes… Maar gou-gou kom haar hartsbegeerte na vore. “Today I am going to be a white girl! But what did white girls do we they get up? … I Know! They play with their long, blond hair.” Dan klim sy in die sinkbad. Verskeie kere dompel haar wit vriend haar kop onderwater, asof hy haar tot besinning wil verdrink. Sy snak na asem. Hulle stoei. Sy begin Xhosa praat. So ook die stil vrouefiguur eenkant – waarskynlik ‘n soort sangoma. Dan breek die weerstand en sy’s weer haar eie tevrede swart selfgenoegsaamheid. Asanda Phewa laat my met haar sensuele vertoning dink aan die gedig Afrikaliefde van Wilma Stockenström:

 

Soos Inhaca kyk na die kus, is ek gekeer

na jou, met my sagte mond, my borste.

Soos sy nestel ek in ‘n baai van vriendelikheid,

groei ek, koraalgewys maar seker

nader aan jou, my vasteland.

 

Miskien is dit dít wat sy in Xhosa sê? Ek weet nie, maar dit klink goed en o, so vertroud. Die woordelose kitaarspel van haar vriend klink soos:

 

Hoe lank nog eer ek my met jou breë

kasjoeneutbosse verenig, eer ons inmekaarpas,

jou rietbegroeide arm om my,

jou bruin liggaam my liggaam?

 

Dan verbaas ek my dat iets so mooi soos die liefde, ook tussen wit en swart soos dit in A Face like Mine uitgebeeld word, gehore op Aardklop 2010 nog steeds laat uitstap.

*** 

Note

Ella in die hemel kom uit die Nederlandse bundel HIER (2009), uit Pools vertaal deur Karol Lesman

Katie het kinders gehad is van die webwerf Facebook afgelaai [27-10-2010]

Afrikaliefde kom uit die bundel Vir die bysiende leser (1970), Nederlandse vertaling (2000)

Bookmark and Share

Comments are closed.