Marlies Taljard. Krog en hersirkulasie (1)

Van tyd tot tyd kom daar in Antjie Krog se werk sydelingse verwysings na haar eie werk voor, soos wanneer sy in Lady Anne skryf: “twee jaar aankomende maand / sedert Jerusalemgangers” (Krog, 1989:13). Alhoewel daar in Kleur kom nooit alleen nie geen eksplisiete verwysings na haar ander tekste of boektitels voorkom nie, is dit opmerklik hoe dikwels die digteres in dié bundel gebruik maak van tematiese materiaal wat ook in haar ander nie-poëtiese werke voorkom, spesifiek Country of my skull (2003) en ‘n Ander tongval (2005) wat in dieselfde tyd ontstaan het as Kleur kom nooit alleen nie.

Antjie Krog

Antjie Krog

Die doel van hierdie reeks besprekings is om die wyse aan te toon waarop Krog tematiese materiaal uit haar eie, nie-poëtiese tekste transponeer na die poëtiese medium en om te besin oor redes waarom ‘n skrywer materiaal uit sy/haar eie of ander tekste hergebruik wanneer nuwe tekste geskep word. Die redes vir hierdie praktyk word grootliks gevind in die postmoderne denksisteem en die aard van postmoderne tekste. In hierdie uitgawe bespreek ek kortliks die verskillende teorieë wat gebruik kan word om dergelike tekste te ontleed, terwyl ek beplan om in die volgende uitgawes by die teksontleding self uit te kom. ‘n Deel van die inhoud van hierdie aflewering is reeds op LitNet Akademies gepubliseer in ‘n artikel Kleurvol Hibried (18-08-2010). Waar ek in die genoemde artikel egter intertekstuele verwysings uit die werk van ander kunstenaars bespreek het, wil ek graag in hierdie reeks besprekings fokus op verwysings uit Krog se eie ouevre.

 

Umberto Eco (1984:20) se stelling in Postscript to the name of the rose: “I discovered what writers have always known (and have told us again and again): books always speak of other books, and every story tells a story that has already been told”, lê aan die basis van die postmoderne teorie van intertekstualiteit en die aanname dat dit onmoontlik is om aan die labirint van woorde te ontsnap. Binne ‘n postmoderne leesraamwerk word dus nie slegs die skryfhandeling nie, maar ook die lees van tekste geproblematiseer. Lees en skryf is, binne die postmoderne teorie, geen onskuldige handelinge nie en ‘n ondersoek na invloede binne ‘n postmodernistiese literêre werk moet derhalwe rekening hou met sowel die postmodernistiese praktyk van appropriasie van reeds bestaande materiaal as van meervoudige betekenisproduksie deur die verskillende lesers van die teks. Die klem verskuif dus van ‘n speurtog na blote invloede op ‘n skrywer na ‘n kritiese teksanalise. In die postmoderne teks is dit nie meer belangrik by watter vorige werk die skrywer “geleen” of “afgeskryf” het nie, maar op welke wyse die “geleende” stof sowel die latere as die vorige werk beïnvloed.

Julia Kristeva

Julia Kristeva

Julia Kristeva gebruik die eerste keer die term “intertekstualiteit” in haar bespreking van die werk van die Russiese post-Formalis Mikhail Bakhtin om tekste se sosiaal-kulturele verbondenheid met ander tekste aan te dui (Malan, 1992:187). In “The Bounded Text” verskaf Kristeva (1980:36-63)  ‘n model vir die totstandkoming van ‘n teks deur die gebruik van reeds bestaande diskoerse.  Haar teorie is dat betekenis nie deur ‘n skrywer gegenereer word nie, maar wel deur taaluitinge binne intertekstuele verband te plaas en te interpreteer aan die hand van wat voorheen reeds gesê of geskryf is. Deur oënskynlik eindelose reekse intertekstuele verwysings word enkelvoudige interpretasie ondermyn (sien ook Morgan, 1989:24). Volgens haar teorie skep skrywers dus nie hulle tekste deur middel van hulle eie kreatiewe vermoëns nie, maar hulle stel dit saam uit reeds bestaande tekste sodat die teks uiteindelik “a permutation of texts, an intertextuality in the space of a given text” word (Kristeva, 1980:36) – ‘n mosaïek van aanhalings (Kristeva, 1980:6) waarin ‘n onbeperkte aantal tekste opgeneem en verwerk is en waarin elke deel van ‘n teks repliek lewer op ‘n ander teks (Malan, 1992:187).

 Wat terminologie betref, tref Roland Barthes ‘n onderskeid tussen die terme “werk” en “teks”.  “Werk” is volgens hom die konkrete objek wat ‘n fisiese ruimte kan vul – dus die boek met sy versameling woorde, sinne, paragrawe ensovoorts, terwyl “teks” vir hom ‘n metodologiese veld is, iets metafisies wat in taal bestaan (Barthes 1981:39).  Volgens hom is ‘n teks geweef uit veelvuldige diskoerse wat reeds bestaan en betekenis het (Allen 2000: 67).  Om hierdie stelling te illustreer, haal hy (Barthes, 1977:160) die woorde van die besetene van Gadara uit Markus 5:9 aan: “My naam is Legio, … want ons is baie”.

 Bogenoemde interpretasies van “teks” wys heen op die belangrikheid van die leser binne ‘n postmodernistiese teksteorie wat in sy ekstreme vorm behels dat die teks betekenisloos is totdat die leser betekenis daaraan toeken. Dit ondermyn ook die siening van die teks as ‘n afgeslote, outonome eenheid met eenduidige betekenis. Klemlegging op die performatiewe aard van die teks en die aktiewe rol wat die leser in teksproduksie speel, beklemtoon die tydgebonde, onstandvastige, onpermanente en vlugtige aard van postmodernistiese tekste (sien Viljoen, 1995:400).

Dit lyk dus asof ‘n beduidende groep teoretici die term “intertekstualiteit” gebruik as verwysend na die algemene kenmerk van postmodernistiese tekste om aan te sluit by en gebruik te maak van die kulturele kode wat saamgestel is uit verskillende diskoerse, stereotiperings, clichés, idiomatiese taalgebruik, ensovoorts, en nie na die wyse waarop ‘n literêre werk na spesifieke tekste verwys nie. Dit is egter ‘n eng benadering om ‘n teks slegs te definieer ten opsigte van ooreenkomste en verskille met ander tekste. So ‘n benadering kan wel die bestaanswyse van tekste beskryf, maar het nie ten doel om as analitiese instrument te dien nie. Uit Hambidge se beskrywing van postmodernisme blyk egter nog ‘n ander faset van intertekstualiteit:

Dit kan gesien word as een van die beste definisies van die postmodernisme: ‘n teks wat ‘n storie óórvertel; die bekende weer aanbied. Die reeds gesêde weer sê.  Met ‘n klemverskil: dat dit terselfdertyd ‘n kritiese of intellektuele kommentaar ook word (Hambidge 1995:41).

 Hierdie vorm van tekstuele saambestaan noem Genette hipertekstualiteit (Genette 1997:5-8).  Dit is daardie verhouding tussen twee tekste wat die klem vestig op die palimpses of gelaagdheid van die teks, en wat doelbewus inter-tekstueel wil wees.  Genette se hiperteks is ‘n self-bewuste teks waarin een kunswerk (die hipoteks) as basis vir ‘n ander kunswerk (die hiperteks) gebruik word, soos wanneer Antjie Krog in Kleur kom nooit alleen nie skilderye as intertekste of hipotekste vir sommige gedigte in die afdeling “Sgraffito” gebruik.  Genette se hiperteks is daarom nie gemoeid met ‘n algemene faset van taal nie, maar met ‘n spesifieke praktyk binne die literêre sisteem.  Alhoewel begrip van sulke tekste tot ‘n belangrike mate afhanklik is van die leser se kennis van die getransformeerde hipoteks, voer Genette aan dat die “nuwe” teks, die hiperteks, egter ook onafhanklik van sy hipoteks betekenis kan genereer en dat tekste ‘n dubbele bestaan kan voer, beide as outonome tekste en inter-tekste (Genette 1997:397).

 Wanneer ‘n literêre werk in ‘n intertekstuele verhouding tot ‘n genre tree, kan sekere genrekodes van die hipoteks deel word van die boodskap van die sekondêre teks. Hierdie proses word deur Genette transtekstualiteit genoem.  Die proses van transtekstualiteit wat soms deel uitmaak van hipertekstualiteit, is nooit neutraal nie en behels ‘n hersignifikasieproses van formele strukture vir doeleindes anders as in die oorspronklike genre wat hier as hipoteks funksioneer.  Hierdie teorie stem ooreen met Kristeva se teorie dat intertekstualiteit behels dat elemente van ‘n bestaande sisteem na nuwe betekenisverhoudings getransponeer word (sien ook Allen 2000:113). Morgan (1989:20) onderskei nog ‘n verdere vorm van intertekstualiteit, naamlik intertekstuele verwysings uit die outeur se eie oeuvre, wat sy intratekstualiteit noem.

 Foster (2001:17-18) wys op die verskillende wyses waarop intertekstualiteit in die praktyk in postmodernistiese tekste funksioneer. In die modernistiese teks dien intertekstualiteit dikwels die doel om ‘n teks te verryk en die estetiese vlak van die kunswerk te verhoog, los van die werklikheid “daar buite”. In die postmodernistiese tradisie sluit ‘n studie van die intertekstualiteit in ‘n kunswerk egter ook ‘n ondersoek in na “anonieme diskursiewe praktyke, kodes waarvan die oorspronge verlore is maar wat die signifiërende praktyke van latere tekste moontlik maak” (Foster, 2001:18), juis omdat postmoderne literêre kritiek die teks sien as ‘n weefsel van aanhalings. Maar die postmodernistiese teks self verskil ook van die modernistiese teks. In teenstelling met afgerondheid en sluiting, wat wesenseienskappe van modernistiese tekste is, stel die postmodernistiese teks hom doelbewus oop vir die wêreld en die grens tussen buitewêreld en fiksie word voortdurend geproblematiseer (sien ook Hutcheon, 1988:124). Hieruit volg dan dat ‘n ondersoek na intertekstualiteit in ‘n postmodernistiese werk meer behels as die blote naspeur van bronne waaruit die tekstuur van die teks saamgestel is, en dat die kode (langue), die verskillende hipotekste sowel as transtekstualiteit aangetoon en krities ontleed moet word. Daar is reeds geargumenteer dat ‘n groot mate van literêre kennis nodig is ten einde intertekstualiteit raak te sien en te beoordeel. Die analise van die intertekstuele gesprek binne ‘n literêre werk behels in ‘n belangrike mate ook die herkenning en gesprek met die konvensies en norme wat geld in bepaalde tekste wat deur die literêre werk opgeroep word.

 Linda Hutcheon (1988:124) beklemtoon die belangrike invloed van inbedding en inkorporering van verskillende soorte intertekstuele verledes in literêre tekste. Deur hierdie praktyk word die leser “bewus gemaak van die ‘teenwoordigheid’ van die verlede, maar ‘n verlede wat slegs kenbaar is deur tekste, dit wil sê deur die historiese en literêre spore daarvan” (Foster, 2001:19). Hoewel die onvermydelike skeiding en afstand tussen verlede en hede deur so ‘n tegniek uitgelig word, word tog ook die verbinding met die verlede tekstueel en hermeneuties bevestig (Hutcheon, 1988:125; Foster, 2001:19) en word die skeiding tussen kunswerk en wêreld ondermyn.

 In die bespreking van die intertekstuele verhoudinge in Kleur kom nooit alleen nie wat in verdere besprekings op hierdie forum volg, sal ek die klem laat val op doelbewuste intertekstualiteit – Genette se “hipertekstualiteit” en “transtekstualiteit” en Morgan se “intratekstualiteit”. Ofskoon daar wel verwys sal word na onderliggende sosiale en kulturele kodes wat die lees van die teks beïnvloed, is dit onprakties om dié aspek van die Krog-teks in besonderhede te beredeneer, aangesien ‘n studie van semiotiese intertekstualiteit (aansluiting by die sosiaal-kulturele kode) ‘n diepgaande studie van die hele literêre kanon behels. Ek sal wel probeer aantoon in welke mate transposisie na nuwe betekenisverhoudinge tot stand kom deur die oorskryding van tekstuele en genregrense wanneer Krog in Kleur kom nooit alleen nie in intertekstuele gesprek tree met haar eie oeuvre.

 BRONVERWYSINGS

ALLEN, Graham.  2000.  Intertextuality.  London: Routledge.

BARTHES, Roland. 1977. Image – Music – Text. Stephen Heath (trans.)  London: Fontana

BARTHES, Roland. 1981. Theory of the text. In: Young, Robert (Ed.) Untying the text: a post-structuralist reader.  London: Routledge and Kegan Paul.

ECO, Umberto. 1989 Postscript to The Name of the Rose. New York:Harcourt Brace

Jovanovich.

FOSTER, P.H. 2001.  Postmodernistiese intertekstualiteit as teiken. ‘n Bespreking van die jagter-interteks in “Die eland” en “Die heengaanrefrein” van Wilma Stockenström. Stilet.XIII:3. September 2001.

GENETTE, Gérard.  1997.  Paratexts: thresholds of interpretation.  Jane E.  Lewin (trans.)  Cambridge: Cambridge University Press.

HAMBIDGE, Joan.  1995.  Postmodernisme.  Pretoria: J.P. van der Walt.

HUTCHEON, Linda. 1988. A Poetics of Postmodernism: History, theory, fiction.  New York: Routledge.

KRISTEVA, Julia.  1980.  Desire in Language: a semiotic approach to literature and art. Thomas Gora, Alice Jardin & Leon S.  Roudiez (trans.)  New York: Columbia University Press.

KROG, Antjie. 1989. Lady Anne. Bramley: Taurus.

KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

KROG, Antjie. 2003 (Tweede bygewerkte uitgawe). (Eerste druk: 1998). Country of my Skull. Johannesburg: Random house.

KROG, Antjie. 2005. ‘n Ander Tongval. Kaapstad: Tafelberg.

MALAN, Regina. 1992. Intertekstualiteit. In: Cloete. T.T. (Red.) Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

MORGAN, Thaïs E. 1989. Is there an intertext in this text? Literary and interdisciplinary approaches to intertextuality. In: Style 23 (2). Summer 1989.

VILJOEN, Hein (Red.). 1995.  Metodologie en representasie.  Pretoria: RGN

 

 

Bookmark and Share

24 Kommentare op “Marlies Taljard. Krog en hersirkulasie (1)”

  1. Gerhard :

    Allemagtig, Marlies! Wat ‘n skitterende uiteensetting van ‘n problematiese gegewe … Daar bestaan eintlik soveel mistastings rondom die kwessie van “interteks” dat dit eintlik lagwekkend is. Jou uiteensetting is egter kristalhelder. Dankie daarvoor. Die volgende stelling van jou sit myns insiens na aan die wortel van die kwaad tov kritiese teksanalise: “Die klem verskuif dus van ‘n speurtog na blote invloede op ‘n skrywer na ‘n kritiese teksanalise. In die postmoderne teks is dit nie meer belangrik by watter vorige werk die skrywer “geleen” of “afgeskryf” het nie, maar op welke wyse die “geleende” stof sowel die latere as die vorige werk beïnvloed.”

  2. Dankie vir jou mooi woorde, Gerhard – dis moeilike begrippe om te verstaan, maar ek is bly jy sê dit klink vir jou logies. Ja, die ding van blote versiering deur die leen van vreemde stof klink baie krismisbomerig … daar moet tog ‘n bepaalde agenda agter sit wanneer mens van ‘n ander se werk leen, want anders wil ek amper sê dan “steel” jy … Dis baie soos modulasies na ander toonaarde, ideologiese raamwerke en selfs na ander denkraamwerke. Soos skakels na ander ruimtes. As dit nie verantwoordelik gebeur nie, kan mens jou gedig groot skade aandoen, raak hy later buite jou beheer … maar doen jy dit op ‘n verantwoordbare wyse, is die moontlikhede legio!

  3. Gerhard :

    Beslis. Dit irriteer my juis so dat resensente dikwels net intertekstualiteit in ‘n resensie uitwys sonder om dit behoorlik te kontekstualiseer. Natuurlik is ruimte ‘n probleem tov resensies … Daarom dat die internet die ideale voertuig is vir sulke diepgaande besprekings. Selfs ons leke honger daarna. 🙂

  4. Nou raak jy aan die doel van Die Resensie: is dit om ‘n beskrywing van ‘n teks te gee, of ‘n interpretasie? (Waarvan ‘n waarde-oordeel vanselfsprekend deel is …) 🙂

  5. Gerhard :

    Aaaa … Mynveld! Ek skat dit gaan afhang van die aard van die publikasie waarin die resensie verskyn. Tov poësie-resensies is dit myns insiens egter meestal “kundiges” wat wel in staat is om ‘n waarde-oordeel in te werk by hul teksbeskrywing. Probleem is net dat hulle dan nie oor genoeg ruimte beskik om op hul standpunte uit te brei nie en gevolglik raak die dikwels meer krtiese opmerkings kant nog wal.

  6. Hmmm … nou beweeg ons op gevaarlike terrein 🙂 Ek dink nie dit vat noodwendig soveel plek in ‘n resensie nie. Die resensent kan bloot sê dat intertekstuele verwysings uit Skrywer A se werk dié of daai waarde toevoeg / dimensie aktiveer … Maar (en ek beweeg nou op dun ys) soms is resensente (ekself ook soms skuldig) so ingenome met hulleself dat hulle die verwysings herken het, dat dit by blote rapportering bly … Dankie vir jou insigte Gerhard – ek dink dit voeg waarde toe aan my skryfsel!

  7. Chris Coolsma :

    Marlies, ek is dankbaar vir jou glasheldere uiteensetting van die glibberige begrip ‘intertekstualiteit’. Glo ek begin ‘n glimmer begrip te kry. Daar is egter één saak die ek nie kan begryp nie. Waarom spreek jy alleen oor intertekstualiteit van postmoaderne tekste? Is intertekstualiteit nie ‘n kenmerk van alle verhalende kuns nie? Van die oudheid af? Waarom alleen van postmoderne tekste? Of begryp ek jou nie goed nie? Verder glo ek die teorie van intertesktualiteit kan getransponeer word op alle kunste. In musiek is interteksutaliteit dalk nog duideliker dan in taal en ook in die beeldende kunste is inter-hoe-sal-ek-dit-noem (interimaginaliteit?) alom aanwesig.

  8. Chris, baie dankie vir jou kommentaar! Die rede waarom ek hier slegs van postmoderne tekste praat, is omdat ek beplan om in latere afleweringe teksanalises van ‘n postmoderne teks, nl. “Kleur kom nooit alleen nie” van Antjie Krog, te onderneem. Jy is egter heeltemal reg wanneer jy beweer dat intertekstualiteit nog altyd in alle kunsvorme voorgekom het. Dit is inderdaad so dat in tye voordat intellektuele eiendom in monetêre terme gemeet is, dit vir ‘n kunstenaar ‘n eer was wanneer ‘n meerdere kunstenaar dele van sy werk approprieer. Ja, selfs in die beeldende kunste is intertekstualiteit ‘n gegewe: dink maar aan die baie transposisies van die Mona Liza, aan Picasso wat die hele tyd werke van Velasquez, Goya en talle ander skilders in sy eie werk gebruik. Ook Marlene Dumas maak ryklik gebruik van intertekste by haar skilderwerk. Maar die musiek is sekerlik die beste voorbeeld … ek sal dit liewer nie waag om voorbeelde te noem nie, maar dink byvoorbeeld aan Heydn wat dikwels bestaande volkswysies in sy simfonieë inkorporeer.

  9. Chris Coolsma :

    Marlies, dit maak jou stuk nog baie beter begrypelik vir my. Dankie! In die musiek is dit algemeen, intermelodiciteit en intramelodiciteit. Verwysing na andere en selfverwysing. Bach verwys (en transformeer) Italiaanse musiek, Mozart en tydgenote verwerk volkswysies, religieuse wysies, maar ook vogelgeluide en straatgeluide (eintlik alle geluide, ook gesprekke), Beethoven dekonstrueer ‘n wysie van die uitgewer-skurk Diabelli en verpletter dit in s’n magtige Diabelli-variasies, Bartok siteer met spot die Leningradsimfonie van Sjostakowiets, Ravel en tydgenote laat jazz doorklink in tal van komposisies en Gershwin siteer Ravel, Strawinski inkorporeer volksmusiek, danswysies, en ek dink dat Strawinski s’n ‘Sacre du Printemps’ een van die allemeest gesiteerde werke uit die musiekgeskiedenis is.

  10. Chris, nouja, wat wil jy meer hê … Dis nou die naspeurbare deel van intertekstualiteit … hoeveel van ons gesprekke en gedagtes (en wat ander gesê en gedink het) gaan nie in ons skryfsels in nie …

  11. Chris Coolsma :

    Baie rede(n?)(s?) vir misverstande! Vorige week het ‘n bevriende Vlaamse digter my ‘n konsepbundel gestuur met gedigte van homself. Ons het ‘n tydlang ‘sonnettentennis’ gespeel (‘n voortdurende woordestrijd in sonnetvorm.) In die bundel tref ek ‘n sonnet van my, waaroor hy seker is, hy is die outeur. Ons het ‘n intertekstualiteitsanalyse moet pleeg om die misverstand te ontrafel. In die gedig gebruik ek die merkvan ‘Palm'(Belgies bier)om hom ‘n bietjie te stang, en hy’t gedink hy het dit geskryf OMDAT ‘t woord ‘Palm’in die gedig staat.

  12. Desmond Painter :

    Chris, goeie musiekvoorbeelde! Daar is ook Sjostakowietsj se wonderlike ‘aanhaling’ van Beethoven se ‘Maanlig’ sonate in sy eie altviool sonate… en dan verwys Schnittke natuurlik weer na die Sjostakowietsj in sy eie altviool concerto. En deedae, in hiphop veral, ‘sample’ die kunstenaar ‘n ander kunstenaar dikwels sommer direk.

  13. Chris Coolsma :

    Ja, Desmond, ek kan ‘The rest is noise’ van Alex Ross (ek is jou baie verskuldig vir jou referensie na dit wonderlike boek) noem: dit is die geskiedenis van intermelodisiteit. Joan Hambidge spreek van die poesie as ‘n eindelose geweefte (ekskuus tog, ek kan die Afrikaanse uitdrukking nie vind nie) van tekste, en musiek is ‘n geweefte (NL weefsel) van klank, ritmes, melodie.

  14. Wat ‘n misverstand, Chris!! En tog glo ek dit was ‘n eerlike vergissing … Die poësie (die kuns as sodanig?) is inderdaad niks anders ‘n weefsel van intertekste … Iewers stoor ons flardes gesprekke, woorde, frases, teksdele en hergebruik dit soos ‘n versamelvoël wat nes bou …

  15. Chris Coolsma :

    Maar nu ‘n heeltemal andere vraag. Wat vertel ons ‘intertekstualiteit’ méér dan dat die kuns as sodanig ‘n weefsel is van intertekse? Is dit eintlik nie slegs ‘n andere manier om te sê dat kuns ‘n produk van die geheue is en dat die geheue ‘n weefsel van gedagtes is nie? Ek worstel tog ‘n bietjie met die analiese van tekste. Wat voeg dit toe? Is dit suiwer die wens om te begryp hoe ‘n verteller vertel? Of is dit slegs ‘n andere manier van geskiedenis bedryf?

  16. Chris, by die vaardige skrywer kan intertekstualiteit natuurlik die teks op ‘n veelvoud van wyses beïnvloed en verryk – by die minder vaardige skrywer kan dit selfs ontaard. Maar baie van jou vrae beoog ek om in die volgende weke op hierdie blog te beantwoord – hou dus gerus dié ruimte dop!

  17. Chris Coolsma :

    Okei, Marlies, jy het my aanhoudende attensie.

  18. Joan Hambidge :

    Intertekstualiteit is so oud soos die berge.
    In postmodernistiese tekste is die aksent anders: die teks is self-bewus hieroor in die sin dat dit struktuur van leen en hersirkulasie vooropstel. Hierdie proses kan inderdaad, soos Marlies aantoon, ook gebeur wanneer ‘n skrywer sy/haar eie werk weer “nuut” maak.
    Uit die gevormde literatuur is daar inderdaad weer literatuur te maak en die palinode of teensang is ‘n bekende verskynsel, nie net in die postmodernisme nie.
    Die kritikus kan die teks ook teen sy intensie inlees en problematiseer soos wat Barthes in S/Z doen met Balzac.
    Of die teks is op sigself ‘n verwysing na ander tekste – wat die leser moet ken alvorens die teks gelees/begryp kan word. ‘n Mens dink aan al die Henry James-tekste wat die afgelope paar jaar verskyn het wat, sowel die lewe as die romans, van James oproep.
    Dus hoe meer intertekste die leser raaksien, verswak nie die teks nie. Ons is al lankal verby die nosie dat tekste in wese oorspronklik kan wees. Is die teks wat sy eie on-oorspronklikheid aankondig nie dalk oorspronkliker as die een wat dit nie doen nie?, het Harold Bloom gevra. En tekste werk met genre-voorskrifte en –kodes wat ‘n vorm van intertekstualiteit impliseer.
    As Tom Gouws oor Verweer dig, moet jy die skilderye ken en ook die magistrale verse van Cloete – veral “Die vroue van Vermeer”. Gouws gee ‘n manlike perspektief op die stilte wat die vroue ervaar in Cloete se vers.
    Die lisible en scriptible is handige terme (Barthes) net soos die open en closed texts van Umberto Eco.
    Die resensent wys die intertekste uit en die leser moet besluit wat hy/sy daarmee gaan maak.
    ‘n Interteks amplifiseer ’n teks – natuurlik as die verwerk of geïntegreer is in die teks. Ulysses van James Joyce wys hoe sterk die klassieke teks verwerk is in die teks.

  19. Franci Vosloo :

    Ek wonder of ‘n mens nie wyer as die konsep intertekstualiteit kan dink nie. Bourdieu se konsep ‘habitus’ – in al sy abstraksie – bied aan die navorser ‘n veel meer uitdagende benadering tot teksanalise (hoewel implisiet) sowel as tot die geskiedenis van ‘n skrywer se disposisie as skrywer en kulturele agent.

  20. Joan – hierdie voorbeelde spreek inderdaad boekdele!
    Vir Franci: Jy is natuurlik heeltemal reg! Dit is dringend nodig dat ons een of ander tyd hierdie gesprek moet hê, maar dan nie sommer as ‘n tersyde by ‘n ander gesprek nie. Dit verdien ‘n behoorlike deurpraat!

  21. Desmond :

    Franci Vosloo — interessante opmerking. Het jy al Bourdieu se essays oor Flaubert gelees? Dit is beskikbaar in Bourdieu se The Field of Cultural Production: Essays on Art and Literature. Ek dink jy is reg: aan die hand van Bourdieu se begrippe sou jy liter^ere produksie dieper kon deurgrond as met die begrip ‘intertekstualiteit’ — juis omdat dit tog nie net die verhouding tussen tekste is wat in liter^ere produksie van belang is nie, maar ‘n hele klomp ander sosiologiese ‘veranderlikes’.

  22. Chris Coolsma :

    Joan, baie dankie vir die pragtige hiperbole metafoor ‘íntertekst is so oud soos die berge’. Hierdie tekst is ‘n gedig waard oor die ontstaan van die berge as ‘n verhaal. Maar ek het ook gedink: wat is die oudste intertekst? Het Adam en Eva die eerste intertekste gevorm? Of is daar al baie intertekste in die liefdeskrete van die bonobo ape?

  23. Chris Coolsma :

    Marlies, ek weet hoe jy nou voel. Jy’t die kooi geopen en die blêrrie voël fladder om jou kop.

  24. Chris … kan jy gedagtes lees …? Ek voel darem nog nie heeltemal so nie … lees gerus my volgende skryfsel. Hy behoort nou op te wees.