Marcelle Olivier. Onderwater

Nuus uit Brittanje: Onderwater

‘n Klompie maande gelede was ek by die Universiteit van East Anglia se Fees van Wêreldliteratuur, wat in Norwich gehou is.

Norwich

Norwich

Dit is ‘n ou stad met ‘n pragtige katedraal, ‘n tradisionele groentemark, ‘n gerespekteerde kreatiewe skryfwerk departement, en die tuisgrond van die sêding ‘Normal for Norfolk’ (NFN) – op sy dag ‘n algemene mediese term om die sogenaamde ‘slow of wit‘ in hierdie deel van die land te beskryf. O, en Norwich was ook in Julie vanjaar ‘n redelike suur verloorder in die wedstryd vir die titel van Britse Stad van Kultuur (Londonderry het gewen, en Noord-Ierland beplan om in 2013 vir ‘n jaar lank in verskillende kunsvorms die simboliek van die ‘duim-aan-neus’-posisie oor die Ierse See Engeland se kant toe uit te druk.)

Norwich is sentraal geleë in die oostelike uitgroeisel van suid-Engeland bekend as East Anglia, wat deesdae die moderne graafskappe van Norfolk, Suffolk, Essex, en Cambridgeshire insluit. Groot dele van Norfolk, Cambridgeshire, asook bietjie noord in Lincolnshire, is veenland, in die 1600s en 1700s deur ingevoerde Hollandse werkers gedreineer om veral landbou te fasiliteer (die stadswapen van die Suid-Cambridgeshire munisipaliteit, die familieleuse van hoofingenieur Cornelius Vermuyden, lees Niet Zonder Arbyt). Dit is waterig orals: in Norfolk en Suffolk – in die noorde verplat met mooi witsandstrande, in die ooste klippiesrig en steil – verdwyn tussen 30cm en 1m van kuslyn jaarliks in die blou-bruin Noordsee in. Elke paar maande sien jy nog ‘n tranerige gesin op die plaaslike televisiekanaal wat vertel hoe hulle huisversekering gekanselleer is omdat hulle voorheining en soutgeroeste tuindwergie oornag in die see ingeval het.

Het iemand my skuur gesien? Die gevolge van erosie op die Norfolk kuslyn. (c) Pat Gowen

Het iemand my skuur gesien? Die gevolge van erosie op die Norfolk kuslyn. (c) Pat Gowen

Dit is natuurlik ‘n ou-ou probleem, hierdie tilt van die Eiland wat veroorsaak dat die Noordsee en East Anglia so in en oor mekaar slaap. Op die Suffolk-kus sal jy die oorblyfsels van die stad Dunwich vind – op sy dag die sesde-grootse in die hele Engeland. Vandag is dit ‘n gehuggie met die noodgedwonge kerkie en pub, ‘n handvol huisies, die ruïnes van die Greyfriars, en ‘n verskrikking van ‘n kafeteria en parkeerarea vir die busse wat pensionaris-toeriste op £5 koerantkoepon-vakansies uit die Daily Mail of Sun see toe bring. Die strand is vol klippies, die water koud, en die lug grys, maar ek hou van die idee van die plekkie. So belangrik was dit gedurende die Middeleeue dat dit tot en met 1832 twee volle parlementslede in Londen gehad het, selfs al was daar teen die 19de eeu slegs omtrent 200 inwoners oor. In die sonderlinge dorpsmuseumpie kan jy meer oor die geskiedenis van Dunwich lees: ‘n hawestad wat vir meer as ‘n millenium die ooste van Engeland gedomineer het; ‘n tuiste vir Romeine, Saxons, en Vikings; vir Middeleeuse studie; ‘n belangrike speler in die wolhandel, en religieuse en sekulêre judisie. ‘n Paar verbleikte dioramas en ‘n kort videotjie sal jou wys hoe die hawe oor die jare begin opsilt het, hoe die stad telkemale probeer herbou is na verwoestende storms wat letterlik myle en myle van die kus weggevreet het, en hoe die menigte kerke, kapelle, en abdye hulle een vir een tot die godsverlate Noordsee se meedoënlose, selfsugtige visie versoen het.

Op die rand van die krans digby die Middeleeuse ruïnes van Greyfriars, tussen bosse en netels wat klou aan hulle strokie aarde, kyk ‘n laaste graf uit oor die golwe, opsoek na die ewige rus waarheen dooie bure eeue gelede al vervoer is. Volgens oorlewering kan jy die kerkklokke onder die onstuimige soutwaters hoor lui wanneer Poseidon kwaad word. Dis nou te sê as jy bereid is om op ‘n stormagtige aand buite in die koue reën te staan en luister, of as jou gehoorapparaatjie goed genoeg werk om die kattemaai van jou £5-busgenote se bestellings vir olierige koppies tee en kurkerige rosyntjieskons uit te skakel.

'n Uitstappie strand toe, Dunwich 1909. Die ruines sigbaar op die foto het dekades gelede al verdwyn.

'n Daguitstappie strand toe, Dunwich 1909. Die ruïnes sigbaar op die foto het dekades gelede al die see in verdwyn.

Maar voordat ek myself heeltemal in die geskiedenis verloor, kom ons keer terug na Norwich en sy koffiewinkels, poësiekafees, en ‘n fenomenale inheemse geen wat jou met webvlerkies tussen jou tone laat gebore word sodat jy maklik deur die watervelde kan plons sonder om te sink. NFN. Of so hoor ek.

Die Dinsdagaand van die Feesweek woon ek die Suid-Afrikaanse voorlesings by. Dit is ‘n indrukwekkende lys: Zoë Wicomb, Jonty Driver, Gabeba Baderoon en JM Coetzee. Ek weet nie of die organiseerders van die fees ooit verwag het dat Coetzee, ‘n man wat so selde sy stem aan iets verleen, ‘ja’ sou antwoord op hulle uitnodiging nie, maar hy is inderdaad daar. Die saal is propvol – en ek wonder onwillekeurig hoe baie van die gehoor weet werklikwaar wie die ander skrywers is. Nie dat ek dink hulle nie belangstel in Suid-Afrikaanse skrywers of skryfkuns nie, maar die dwelm dié aand is duidelik Coetzee – almal is hier vir daai een fix. Behalwe Coetzee vertel die skrywers almal ietsie oor hulle agtergrond, wat hulle inspireer, en ook natuurlik oor hulle ervaring van Suid-Afrikaanse literatuur en oorlewing. En dit voel nogal of die tema van die aand ‘oorlewing’ is, want daar is nuanses van beide verlies en koppigheid/standvastigheid, en ‘n onsekere maar tipiese Suid-Afrikaanse idioom wat sylangs kla oor die presiese verwagtings van die konsep van heimwee.

Baderoon lees onder andere oor haar pa, en lees gedigte oor die minuskule aardskuddings wat amper ongemerk in die normale dag verlore raak en eers later ontoereikbare vibrasies jou lewe indring. Wicomb se voorlesing handel deels oor die gesag van geskiedenis en die effens deurmekaar teks wat beide die verwagtinge van ‘hier’, van die interne gemeenskap, en die drama van ‘daar’, van die eksterne politiek, probeer saamsmelt. Driver fokus op ontworteling in sy leeskeuse: fisiese en emosionele afstand tussen kulture, plekke, en ‘n doelgerigte besluit om oorlewing. En Coetzee se verhaal handel oor vervreemding van landskap, kennis en menseverhoudings – die onverklaarbare droë logika wat kom met ‘n diep wantroue van menswees wat jy gedwonge moet uitleef selfs al bly die aard daarvan onverstaanbaar.

Dit was ‘n goeie uur of twee, gevolg deur baie wyn en aandete saam met die deelnemers van Suid-Afrika en elders, en ‘n ongoddelik heerlike basiliekruid-kaaskoek vir poeding. Maar nieteenstaande die genot wat luister en saamkuier en kaaskoek bring, was dit effens teleurstellend om te sien dat die twee digters en Wicomb ‘n rusbank en ‘n sessie op die verhoog gedeel het terwyl Coetzee apart verskyn het. Ek is lief vir Coetzee, en dit is nie dat ek nie dink dat dit belangrik is om sy internasionale status te respekteer nie. Maar binne die konteks van ‘n voorlesing getiteld ‘An Evening with Four South African Writers’ was dit dalk effens nepotisties om die skrywers so ooglopend te skei dat daar basies ‘n opening act en ‘n main act was. En dis hartseer, want van wanneer af is ‘n digter van Baderoon se kaliber ‘n opening act? Eintlik, as almal eerlik daaroor kan wees, was dit ‘An Evening with JM Coetzee and Three Other South African Writers.’

En daar was iets anders wat my opgeval het daardie aand, iets wat onder my vel ingekruip het terwyl ek ook weet dat ek nie werklik in ‘n posisie is om daaroor te kla nie. Maar tog… Hier is vier bekende Suid-Afrikaners. Vier diverse kunstenaars wat openlik oor die Suid-Afrikaanse ervaring – en meer belangrik oor die individu se verwagtinge, skuld, misnoeë, en hartstog ten opsigte van daardie ervaring – skryf. Vier skrywers wie se metafore altyd torring aan die helderkleurige draadjies wat die public en die private so saam-saam laat ontrafel, en wat oorlewing in een of ander vorm, in een of ander emosie, beliggaam. En nie ‘n enkele een woon op die oomblik permanent in Suid-Afrika nie. Coetzee bly in Australië, Driver en Wicomb in die VK, en Baderoon in Amerika.

Coetzee lees voor by die fees. © Martin Figura

Coetzee lees voor by die fees. © Martin Figura

Hoekom is dit belangrik? Ek is nie seker nie, maar ek voel tog dit is. Ek voel dit is grootliks Amerikaners of Australiërs of Britte wat akademies baat, nie Suid-Afrikaners nie (maar ek is bewus daarvan dat hierdie skrywers soms kom klas gee in Suid-Afrika). Ek voel dat dit op een of ander manier hipokrities is om te praat en te skryf oor die hier as dit eintlik daar is; dat die Suid-Afrikaanse letterkunde iets verloor. Ek voel verneder dat daardie Dinsdagaand-gehoor nie met teoretiese implikasies wil speel nie, maar net ‘n simpatie vir die eksotiese sou oorhou wanneer hulle die saal uitstap.

Ek voel ook dat ek verkeerd is om hierdie dinge te dink, en dat dit amper erger is om dit te sê – my huisie staan, op stuk van sake, op die rand van die veenlande van East Anglia, nie in Kaapstad nie. Want jou ervaring is nie minder werd omdat jy die kraak van Weskus-sand moet onthou eerder as tussen jou tande kan proe nie; omdat jy maande laas R5 aan iemand moes gee om jou kar in Loopstraat op te pas nie. Jou kop werk nie anders omdat die wind deur Europa se populiere met ‘n ander aksent huil as deur dié in die oker Karoo nie, of omdat jou bure se kinders grootword met ‘n desperate wantroue vir ander gelowe eerder as om te wonder oor die vreemde rol wat velkleur in hulle geskiedenis speel. Jou storie is nie minder belangrik nie, jou besluite nie onderhewig aan jou kreatiewe rol nie: niemand, insluitende jyself, sê jy moet in Suid-Afrika bly om die land se letterkunde te bevorder nie.

Maar dit pla my nog steeds (en dikwels) op ‘n manier wat ek self nie heeltemal verstaan nie of vertrou nie. Ek weet dit gaan meestal glad nie oor Suid-Afrika nie en dat ‘Herkoms’ slegs een uit ‘n menigte potensiële keuses van lees is, veral in poësie. Dat die Suid-Afrikaanse idioom anders funksioneer as jy ook self besig is om te krap aan ‘n self-toegediende rofie. Miskien maak dit nie saak waar jy hoed ophang nie, solank die hoed en sy veer aan jou behoort; miskien gee niemand eintlik om oor wie waar woon of wie saam met wie op ‘n verhoog verskyn behalwe vir ‘n handjievol hipokritiese individue wat veels te snobisties oor koerantkoepon-busvakansies op die Britse Ooskus optree. Dalk was ek net vies omdat ek nie ‘n tweede sny basiliekruid-kaaskoek mog gekry het nie. Tog, êrens-êrens beitel die see weg aan die krans se fondasies. En dalk nie net aan myne nie.

*

I cannot myself

Gabeba Baderoon

To come to this country,
my body must assemble itself

into photographs and signatures.
Among them they will search for me.

 

I must leave behind all uncertainties.
I cannot myself be a question.


 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Marcelle Olivier. Onderwater”

  1. Bess :

    Ai, dankie! Ek het sommer baie gedagtes opgedoen uit jou skrywe.

  2. Chris Coolsma :

    Baie dankie, Marcelle! Maar uit ‘n ander perspektief. Ek het onlangs ‘Waterland’ van Graham Swift geniet en jou magnifieke stuk doen my verlang na die veengebiede, na Ely, na die Hollandse landskap daar bo Cambridge.

  3. marcelle :

    Chris: as jy ooit weer jouself in Ely bevind, drentel van die katedraal af na die rivier, en gaan maak tog asseblief ‘n draai by ‘Peacocks Tearooms’ op die waterkant – , een van die top tee-plekkies in Engeland.
    Hulle het die wonderlikste seleksie van blare en konkoksies (die volledige lys is op hulle webwerf hierbo), en die beste is dat as jy dalk nie baie van die tee wat jy bestel het hou nie, mag jy dit terugstuur en ‘n sommer gratis ander een probeer.

  4. Chris Coolsma :

    Marcelle, als jy ooit weer jouself in Cambridge bevind, nooi ons dan uit, dan trakteer ons julle op ‘n tee en taartefees by Peacocks Tearooms.

    Ek beplan ‘n fietsvakansie rond die Fens in die nabye toekoms. ‘Waterland’ het my betover.

    En ek gaan jou antwoord skryf op jou brief uit Delhi.

  5. marcelle :

    Chris: it’s a deal! Tee & skons, en dalk ‘n trippie om aal te vang?
    En net sodat jy weet, ek is ook ‘n groot ‘Waterland’-fan, in die beide boek- en fliekvorm. Ek het die fliek met Jeremy Irons gesien toe dit oorspronklik jare gelede uitgekom het (en voordat ek die boek gelees het), en ek onthou hoe erg dit my toe aangeraak het.
    Maar mens verstaan soveel meer, of ten minste soveel ‘anders’, as jy jouself eers binne die plasserige, mineraalryk landskap en sy inwoners geplaas het. Die komplekse konsep van die ‘fen-edge village’ spesifiek (not quite fen, not quite ‘not-fen’) is nogal vir my aanloklik: daar is soveel sosiale, ekonomiese en kulturele aspekte waarmee daarliks omgegaan moet word, uitgesorteer moet word in hierdie plekkies dat jy ‘n honderd ‘Waterland’-boeke kan skryf sonder om inspirasie te verloor, of deur al die issues te werk.
    Inelkgeval, kom ons praat verder daaroor oor ‘n beloofde koppie Pleine Lune (een van my gunsteling tees!).

  6. Great! Pleine lune klink aanloklik, of is daar dalk die papawer – die alle Britse politisi op hulle jasboorde (weet nie die Afrikaanse woord vir ‘revers’ nie) draag in verwerk? Wat Waterland in ‘n newelig droomland verander? Jou wonderlike observasies roep ‘n digbundel op. Is daar enigiets soos gedigte oor die Fens? Ek onthou Houseman’s manjifieke liedere, maar nee, dié is ‘The Shropshire Lad’ getitel (ken jy daardie hiperromantiese tekste?
    ‘When I was one-and-twenty
    I heard a wise man say,
    ‘Give crowns and pounds and guineas
    But not your heart away;
    Give pearls away and rubies
    But keep your fancy free’
    But I was one-and-twenty
    no use to talk to me

    When I was one-and-twenty
    I heard him say again,
    ‘The heart out of the bosom
    Was never given in vain;
    ‘Tis paid with sighs aplenty,
    And sold for endless rue’

    A I am two-and-twenty,
    And oh, ‘t is true, ‘t is true

    I love those songs, that make you weep and laugh, set on music bij Arthur Somervell so much, my heart aches. En die tema van ‘coming of age’ is ook aanwesig in die gedigte.

    Ek wil sê, die liedere is my so lief, ek kry hartseer as ek dink an die musiek van Arthur Somervell. Moet tog Afrikaans praat hier, nè?

    Ons ken ook die tiepe van dorpies, rand sand rand turfgrond, daar woon mense met vuur en ys in hulle hart. Die van die turf en die van die sand is baie verskillende mense.

    See you under (or is it over) full moon.

  7. Chris Coolsma :

    Marcelle, hier is ‘n uitvoering van ‘When I was one and twenty’ van Houseman/Somervell.

    http://www.youtube.com/watch?v=a5S293GsKhU

    Nie so baie goed geregistreer nie en ‘n bietjie té bariton, maar tog. Moet sekerlik bevreemdend klink in Delhi, maar dalk ook ‘n flinter dierbaar nostalgies.

  8. marcelle :

    Chris: John Clare skryf tog op tye oor die veenlande, dink ek. Ek het deur ‘n Clare-fase gegaan op ‘n stadium, jare gelede, maar sal nou hard moet werk om enige titels te herroep?
    Maar jou skakeltjie was wonderlik! En op ‘n heeltemal ander noot: http://www.youtube.com/watch?v=OPgo6s1lBbw&feature=related

  9. Chris Coolsma :

    Marcelle, ek is ‘n nincompoop in die land van Engelse poësie. Dankie vir die Clare-verwysing. En baie baie dankie vir die skakel na Flanders and Swann. Ek het my verloor in Youtube-flieks en so’n bietjie geSerendip. Ill wind het my gebreng na Billy Holiday http://www.youtube.com/watch?v=rQdHdWS6dwY&feature=fvw en
    Ella Fitzgerald http://www.youtube.com/watch?v=suSBd6MaGXM&feature=related

    Om oor ‘n heeltemal ander noot te praat.