Marlies Taljard. Krog en hersirkulasie (2)

Country of my Scull

Omslag

 Die tematiek van versoening en die verkryging van Afrika-identiteit is in die post-apatheidsletterkunde in Suid-Afrika ‘n belangrike kode en die feit dat dié problematiek ook dwarsdeur Krog se oeuvre voorkom, bewys dat sy haarself doelbewus binne dié kode posisioneer. Verder onderstreep dit die Kantiaanse aanname dat niks op sigself betekenis het nie, maar slegs binne ‘n kulturele raamwerk of groter verhaal betekenis kan hê. Benewens inbedding in ‘n belangrike literêre tradisie, word die teks Kleur kom nooit alleen nie egter ook nog deur herhaling en selfs duplisering van tematiese materiaal in Krog se eie oeuvre ingebed. Hier vind ons dus dubbele intertekstualiteit: interpretasie van die betrokke bundel moet geskied deur sowel die interpretasie van die algemene Suid-Afrikaanse literêre kode as haar persoonlike kode en die konteks van haar nie-poëtiese werk – gevolglik intratekstualiteit. Lotman (1972:19-46) onderskei, benewens die algemene onderliggende literêre kode van ‘n bepaalde kanon ook nog ‘n nie-literêre ekstrateks wat biografiese besonderhede van die skrywer en die werklikheid waarna die teks verwys, in berekening bring by die interpretasie van ‘n literêre (of ander kuns-)werk. ‘n Mens sou daarom dié nie-literêre komponente van ‘n teks ook as intertekste van die finale teks kon beskou, selfs al kan die spore daarvan nie altyd in ‘n teks teruggevind word nie. In die geval van Kleur kom nooit alleen nie, waar die intertekste sigself as’t ware aan die leser opdring, is ‘n ondersoek na dié fasette van die teks beslis noodsaaklik. In hierdie bespreking sal veral verwys word na ooreenkomste met die boek Country of my skull wat voortspruit uit Krog se betrokkenheid by die Waarheids- en Versoeningskommissie.

 Antjie Krog se bekende boek en wenner van onder andere die Sunday Times se Alan Paton-toekenning, Country of my skull, verskyn in 1998 die eerste keer oorsee en in 2002 in Suid-Afrika, twee jaar na die verskyning van Kleur kom nooit alleen nie (2000). Country of my skull bevat ‘n verslag oor die skrywer se belewenis van die Waarheids-en Versoeningskommissie as lid van die radio-verslaggewerspan. Die teks kan moeilik geklassifiseer word onder een bepaalde genre, aangesien ‘n postmodernistiese veelheid van tekstipes en style daarin vermeng word. Soms praat die verteller met die stem van die verslaggewer wat feite voorberei vir nuusbulletins, soms is dit duidelik dat sy intens emosioneel betrokke is by die verhale van verontregtes én by diegene wat verontreg het. By geleentheid word biografiese gegewens by die teks ingewerk. Soms maak sy gebruik van ‘n sterk poëtiese prosastyl, soms van ‘n dramatiese vertelstyl in versvorm (sien “The Shepherd’s Tale”, Krog, 2003:210-216) en soms van gedigte (sien Krog, 2003:278-279). By die lees van Country of my skull is dit egter duidelik dat die tematiek veelseggende ooreenkoms vertoon met Kleur kom nooit alleen nie. Verskeie uitsprake wat Krog in Country of my skull maak, eggo temas uit Kleur kom nooit alleen nie of lewer eksplisiet kommentaar daarop. Dit is verder ook duidelik dat feitlik die hele afdeling “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu” (Krog, 2000:32-36), sowel as dele van die siklus “land van genade en verdriet” (Krog, 2000:37-44) feitlik woordeliks in die hoofstuk “Bereaved and Dumb, die High Southern Air Succumbs” (Krog, 2003:26-49) voorkom.

 Laasgenoemde hoofstuk begin met ‘n verslag oor die eerste sitting van die Waarheids- en Versoeningskommissie (Krog, 2003:26-27). Na ‘n asterisk volg daar (Krog, 2003:27-29) sewentien woordelikse verslae van slagoffers voor die Kommissie. Na nog ‘n asterisk volg kort kommentaar in poëtiese prosa (Krog, 2003:29), dan weer ‘n asterisk en woordelikse verslae. Hierdie patroon word volgehou dwarsdeur die hoofstuk en is trouens deel van die struktuur van die hele teks. Die subopskrif van die eerste reeks woordelikse verslae is “To seize the surge of language by its soft, bare skull” (Krog, 2003:27). Hierdie titel wys heen op die problematisering van taal wat een van die belangrikste temas in dié hoofstuk is, maar trouens ook in die hele teks van Country of my skull. Die rede waarom getuienisse in die prosateks sowel as in die poëtiese teks verbatim geplaas word, het waarskynlik te make met verskeie sake rakende die taal, onder andere die geloof dat die wêreld ‘n talige konstruksie is én die ondermyning van dié aanname deur te wys op die onvermoë van taal om die werklikheid te beskryf. Eerbied vir die woorde van getraumatiseerde slagoffers sou nog ‘n rede kon wees waarom Krog verkies het om die woorde van slagoffers onveranderd in beide tekste te plaas. Die metatekstuele kommentaar van die ordenende instansie in Country of my skull lui:

Elders maak die verteller haar strategie openbaar oor beriggewing van die WVK oor Suid-Afrikaanse radio: dit is vir die radiospan van uiterste belang dat die stemme van getuies in die openbare media opklink en dat die stemme van gewone mense oor die radio gehoor word. Wanneer sy verslag moet doen in die tweede week van die WVK-verhore, kan sy nie haar telefoniese verslag voltooi nie: “‘I stammer. I freeze. I am without language” en dan bevestig die sielkundige hierdie feit op professionele vlak: “You will find yourself powerless – without help, without words'” (Krog, 2003:37). Maar ten spyte van gedurige verwisseling van plek, soos die Kommissie deur die land reis, is daar een gegewe wat die verteller nie van haar kan afskud nie: ” … but the language, the detail, the individual tone … it stays” (Krog, 2003:37).

Antjie Krog

Antjie Krog

“In the beginning it was seeing. Seeing for ages, filling the head with ash. No air. No tendril. Now to seeing, speaking is added and the eye plunges into the mouth. Present at the birth of this country’s language itself” (Krog, 2003:29).
Die sterkste getuienis oor taal en bewys van die (postmodernistiese) klem wat Krog plaas op die proses as sodanig, selfs bo die eindproduk, vind ons egter teen die einde van die betrokke hoofstuk in ‘n stuk metatekstuele kommentaar waardeur ook die grense tussen “teks” en “wêreld” opgehef word:

No poetry should come forth from this. May my hand fall off if I write this.

So I sit around. Naturally and unnaturally without words. Stunned by the knowledge of the price people have paid for their words. If I write this, I exploit and betray. If I don’t, I die (Krog, 2003:49).

 Dit lyk derhalwe asof die ordenende instansie se besluit om die getuienisse van slagoffers in hulle eie woorde in die teks van Country of my skull op te neem enersyds gedryf word deur respek vir die woorde van getraumatiseerdes vanweë die besef dat alle representasies slegs ‘n afskaduwing is van die Ware (sien ook Viljoen, 1995:402)  en andersyds deur ‘n onvermoë om woorde te vind vir die ontsettende lyding waarvan dié slagoffers getuig.

 Vergelyk ‘n mens nou die dertien gedigte in die siklus “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu” (Krog, 2000:32-36) met die teks van Country of my skull , pp27-48, blyk dat nege van die dagboek-gedigte byna woordeliks ooreenstem met getuienisse van slagoffers soos beskryf in Country of my skull. Ter illustrasie die volgende twee voorbeelde:

                dit binne my

veg teen my tong

dit is

ondeelbaar

dit vernietig

woorde

voor hy opgeblaas is

sny hulle

sy hande af

daar is geen vingerafdrukke nie

hoe sê ek dit

 Die

 Verskriklike

 ek wil sy hande terughê (Krog, 2000:33).

 teenoor:

‘This inside me … fights my tongue. It is … unsharable. It destroys … words. Before he was blown up, they cut off his hands so he could not be fingerprinted … So how do I say this? – this terrible … I want his hands back.’ (Krog, 2003:27).

 ‘n Vergelyking van die twee tekste toon ‘n woordelikse ooreenkoms op sintaktiese vlak. Omdat dit nie duidelik is watter een van die bostaande die bronteks (hipoteks) en watter die sekondêre teks (hiperteks) is nie, is dit natuurlik onmoontlik om te sê of die teks eers in poësie of eers in prosa ontstaan het. Hierdeur word die onafhanklike bestaan van die twee verskillende tekste geproblematiseer en ondermyn omdat die poreuse aard van tekste hierdeur onderstreep word en bekende hiërargieë onder verdenking geplaas word. Morgan (1989:9) beskou juis hierdie “ambiguity of the basic sign relation (signifier-signified) and the infinite regression or mise en abîme of signification” soos ons dit vind in die bogestelde problematiek, as tipies van die postmodernistiese intertekstuele relasies in tekste.

 Tog sou dit onjuis wees om te beweer dat die tekste op semiotiese vlak ook identies is. Lotman (1972:95) skryf oor die veelvlakkige aard van die kunswerk:

…[es] ergibt sich, daß man den künstlerischen Text als einen vielfach kodierten Text ansehen kann. Genau diese seine Eigenschaft is gemeint, wenn man davon spricht, daß das künstlerische Wort vieldeutig sei, daß man Poesie nicht in Prosa, ein Kunstwerk nicht in nichtkünstlerischer Sprache reproduzieren könne.

 [’n Mens kan die literêre (kuns-)teks as ’n veelduidig gekodeerde teks beskou. Juis hierdie eienskap word bedoel as mens beweer dat die woord van die kunstenaar (literêre woord) veelduidig is, dat mens poësie nie in prosa kan weergee nie en ’n kunswerk nie in alledaagse taal kan reproduseer nie.]

  ‘n Mens sou kon byvoeg dat die blote teenwoordigheid van ‘n bepaalde woord binne die grense van ‘n gedig reeds gelaai word met “ander”, indien dan nie “dieper” betekenis as wanneer dieselfde woord in ‘n prosateks sou verskyn. Die blote aard van die poësie vereis ‘n ander ingesteldheid van die leser as byvoorbeeld prosa of joernalistiek.

 Kyk ‘n mens na die struktuur van die twee tekste en die spel met genre-onderskeidings wat daardeur geaktiveer word, is dit duidelik dat Krog ‘n bepaalde stel feitelike gegewens telkens na ‘n sekere genre transponeer deur gebruik te maak van die konvensies eie aan die poësie en dié eie aan die prosa. In die prosateks maak sy byvoorbeeld gebruik van die ellips om hortende spraak te suggereer, terwyl sy in die gedig van enjambement gebruik maak om min of meer dieselfde effek te verkry. “Ekstra” konvensies waarvan sy in die poëtiese weergawe gebruik maak, is strofebou waardeur die onsegbare waarskynlik selfs meer outentiek op die oudiologiese vlak waargeneem sou kon word én op metaforiese vlak die afstand tussen die trauma en die “lewe” suggereer. Uitheffing van “Die // Verskriklike” deur die gebruik van hoofletters én uiteenplasing in verskillende strofes is ‘n goeie voorbeeld van Krog se virtuose omgang met poëtiese konvensies ten spyte van die oënskynlike gestrooptheid van haar gedigte. Wat die uitheffing selfs nog meer betekenisvol maak, is dat sy in haar hele oeuvre, maar ook in Kleur kom nooit alleen nie, baie selde van hoofletters gebruik maak. In die prosateks vind ons ‘n redelik normale leestekengebruik – die gebruik van byvoorbeeld die vraagteken na ‘n vraag en die gebruik van punte aan die einde van sinne. Die feit dat in die gedig van geen enkele leesteken gebruik gemaak word nie, verhoog die effek van vloeibaarheid en suggereer gelyktydigheid en emosionele onstabiliteit asook die destabiliserende effek van trauma op die psige van die spreker. As ‘n mens dit versigtig stel, sou dit dus lyk asof die poëtiese weergawe (uit die aard van die poëtiese) doelbewus met dieper betekenis gelaai word en in dié opsig dus kommentaar en repliek lewer op die prosateks. In hierdie konteks sou ‘n mens kon beweer dat die gedig “meer” sê as die prosateks. Terselfdertyd verryk die gedig egter ook die prosateks, deur byvoorbeeld die suggestie te lê dat dit wat daar staan, so ‘n diepgewortelde egtheid en patos in sigself bevat, dat daar eintlik nie poësie van gemaak kan word nie.

 Die volgende is nog ‘n voorbeeld van dele van die twee betrokke tekste wat ‘n baie noue verwantskap met mekaar vertoon:

                ek kyk na sy linkerhand

die kind het my hande

ek kyk na sy dye

sy bobene draai na buite soos myne

ek kyk na sy privaatdele

my suster knipoog vir my

sy linkerbeen lyk soos myne

daar sit die geboortemerk

dis my kind, sê ek, dis Stompie

dis die oudste kind van my, ek, Mananki Seipei (Krog, 2000:35).

 Op p.147 in Country of my skull, as deel van die hoofstuk “Letters on the Acoustics of Scars”, begin die getuienis van Stompie Seipei se ma, Testimony of Mananki Seipei, mother of Stompie Seipei. Dit lyk na ‘n woordelikse transkripsie van haar getuienis en beslaan 3½ bladsye. Die gedeelte van die getuienis wat dieselfde feitelike gegewens bevat as die bostaande gedig, verskyn op p.149:

On 14 February 1989 they [the police] took me and we went to Brixton. We went to Diepkloof  Mortuary. That’s where I identified Stompie. His body was decomposed, but your son is your son. I was fighting for my rights. There were signs that really indicated to me that it was Stompie. After having been killed he was thrown into the river between New Canada and Soweto. You couldn’t even identify him. I looked at Stompie because I am his mother. I had a deep look at him. I saw the first sign. I said, ‘I know my son. He doesn’t have hair at the back.’ His eyes were gouged, and I said, ‘This is Stompie. The time Khotso House was bombed Stompie was involved during those times. He had a scar on his eye. I looked at his nose, and he had a birthmark. I looked at his chest and I could see a scar, because he fought with another boy in Tumahole. And I looked at his left hand. It was identical to mine. I looked at his thighs. Stompie is very fit, just like his mother. I looked at his private parts, and my sister just winked her eye. His left leg is similar to mine. Underneath the leg there was a birthmark as well” (Krog, 2003:149).

 Lê ‘n mens die twee bogesiteerde teksgedeeltes langs mekaar, dring die problematiese verhouding tussen werklikheid en fiksie sigself aan die leser op. Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die prosateks baie meer feitelike gegewens bevat as die gedig, veral as in aanmerking geneem word dat hier slegs een paragraaf uit ‘n langer teks gesiteer is. Dit sou wel moontlik wees om ‘n deeglike analise te maak van ooreenkomste en verskille, maar hier is dit slegs belangrik dat Krog ‘n bepaalde seleksie gemaak het uit die getuienis van Mananki Seipei (wat in hierdie geval weens voor die hand liggende redes as die primêre teks of hipoteks beskou kan word). Dit is duidelik dat die mees traumatiese moment uit die getuienis gekies en na ‘n poëtiese teks omgewerk is.

 Die diskoers van outentisiteit word verder ondermyn deur die ordening van die vertelling wat in die gedig en in die prosateks redelik ingrypend van mekaar verskil. Die woordelikse getuienis van mevrou Seipei is ongeorden en klink soos gedagtestroomtegniek. Die poëtiese weergawe is duidelik gestruktureerd (sy ondersoek die liggaam van bo na onder), bevat geen herhalings nie en die slotsom kom eers aan die einde en nie in die middel soos in die prosateks nie. Wat struktuur betref, is die prosateks dus in hierdie geval die “mees” postmodernistiese teks, aangesien die postmodernisme daarop klem lê dat die werklikheid nie altyd volgens konsekwente, logiese prosesse verstaan word nie. Blykbaar beskou Krog die poësie tog in baie gevalle nog as ‘n redelik gestruktureerde representasiewyse waarin universele waarhede nog hulle regmatige plek het en wat (ten minste in sommige gevalle) volgens die tradisionele reëls van die poësie funksioneer.

 Wat verder opvallend is, is dat die prosateks die indruk skep dat die moeder haar seun herken het omdat hy nie hare op sy agterkop het nie. Die gedig maak egter nie eens melding van dié feit nie. In die gedig word die klem eerstens geplaas op ooreenkoms met die moeder: “die kind het my hande”, “sy bobene draai na buite soos myne” en “sy linkerbeen lyk soos myne”. Hierdie klemlegging op ooreenkoms met die moederliggaam, is ‘n bevestiging van wat die moeder in die prosateks sê, naamlik: “I was fighting for my rights”. Een van die regte van die onderdrukte vrou is die reg om gesien te word, die reg dus om te bestaan. Deur die ooreenkoms tussen haar en haar seun aan te toon, beklemtoon sy die feit dat sy lewe en teenwoordig is. Klem op identiteit en, voortvloeiend daaruit, menswaardigheid, word versterk deur die slotreël waarin sy haarself drie keer benoem – eers deur “my”, dan deur “ek” en ten slotte deur die noem van haar naam: “dis die oudste kind van my, ek, Mananki Seipei”. In hierdie geval is dit die doelbewuste inskripsie van die moeder en haar reproduktiewe vermoë in die geskiedkundige kanon van die land. Deur klemplasing op die liggaam van die vrou, sluit hierdie gedig aan by ‘n belangrike metafoor in die bundel en word klem gelê op ‘n feministiese praktyk, naamlik die interverbondenheid van mense.

 Klemlegging op littekens en merke as tekens van verwonding en identiteit elders in die bundel, word in hierdie gedig geëggo deur die implikasie dat die moeder haar seun herken het aan die geboortemerk aan sy been: “daar sit die geboortemerk / dis my kind, sê ek, dis Stompie”. Die litteken is ‘n belangrike identiteitskeppende simbool, veral soos ons dit vind in liminale praktyke soos inisiasierites. In die gedeelte van die prosateks wat aangehaal is, word eweneens verskeie male na verwonding en littekens of identifiserende merke verwys. Ook in hierdie geval sou ‘n mens dus kon wys op die oop-wees van die teks, die gelyktydige saambestaan van verskillende tekste en inbedding in die groter simboliek en geskiedenis van Suid-Afrika en die literêre kanon. Die dinamiek tussen hierdie twee tekste werk beslis na beide kante toe deur ‘n wedersydse gesprek tussen die twee tekste en wedersydse kommentaar deur die twee tekste op mekaar.

 Mananki Seipei se getuienis voor die WVK, soos gevind in die gedig “8. ek kyk na sy linkerhand” is beslis ‘n herskrywing en ‘n herinterpretasie van ‘n verhaal wat vantevore reeds bestaan het, deur gebruikmaking van narratiewe praktyke wat by die poëtiese medium aanpas. Deur middel van bepaalde poëtiese konvensies, soos aangetoon, lewer die gedig kommentaar op sowel die aangehaalde deel uit die Krog-teks, maar ook op die gedokumenteerde getuienisse en die vertelling voor die WVK. Ook die gedig “3. dit binne my” is streng gesproke ‘n oorvertelling van die prosagegewens en lewer, vanweë die transposisie na die poëtiese medium en daarmee gepaardgaande betekenisverdieping, kommentaar op sowel die Krog-teks as die getuienis voor die WVK waarvan dit heel waarskynlik deel is.

 Die uitgewersnota aan die begin van Country of my skull maak dit duidelik dat die boek ‘n weergawe is van die vele stemme wat voor die WVK gehoor is:

Many voices of this country were long silent, unheard, often unheeded before they spoke, in their own tongues, at the microphones of South Africa’s Truth Commission. The voices of ordinary people have entered the public discourse and shaped the passage of history. They speak here to all who care to listen (Krog, 2003:viii).

 Daarom kan ‘n mens met reg aanneem dat die soms anonieme getuienisse op pp.27, 28, 29 & 48 van Country of my skull, wat ook in “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu” die feite-materiaal uitmaak, wel voor die WVK vertel is en derhalwe op sowel die oudiobande as die geskrewe dokumentasie van die Kommissie bestaan. Verder sou ‘n mens kon aanneem dat die meeste van dié verhale reeds deel uitmaak van die orale verhaalskat van ten minste die naaste familie- en vriendekring van die betrokkenes. Gevolglik is in hierdie geval ook semiotiese intertekstualiteit aanwesig, soos Julia Kristeva dit verstaan, aangesien hierdie verhale deel is van ‘n groter teks en put uit dit wat reeds in ‘n bepaalde tradisie en kultuur vertel, beredeneer en belewe is. Die feit dat Krog hierdie tekste ten minste tweekeer in haar eie oeuvre opneem, getuig van die belangrikheid wat sy aan dié bepaalde verhale heg. Dat sy die verhale, waarvan die feite heel waarskynlik redelik deeglik op rekord verskyn, egter telkens in ‘n ander versie weergee, sinspeel op die amorfe aard van wat ons “die lewe” noem, op die onagterhaalbaarheid van die feitelike gegewens van die verlede en op die narratiewe aard van geskiedskrywing – alles duidelike eienskappe van skryf in ‘n postmodernistiese modus.

 Op ‘n bepaalde vlak sou ‘n mens dus daarop kon wys dat daar wel woordelikse ooreenkoms tussen Kleur kom nooit alleen nie en Country of my skull bestaan. Dit is egter ook so dat die prosatekste waarna verwys word, nie die verteller se eie kreatiewe skepping is nie, maar dat die ordenende instansie ten minste die indruk probeer skep dat dié dele van die prosateks waarna hier bo in verband met die gedigte uit die siklus “dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu” verwys is, die direkte woorde van slagoffers weergee. Benewens die bo-beredeneerde veronderstellings, maak die skrywer nog van bepaalde ander skryfkonvensies gebruik om die woorde in die prosateks as aanhalings te laat uitstaan, onder andere deur van aanhalingstekens gebruik te maak en die getuienis van mevrou Seipei met ‘n opskrif as sodanig aan te dui. Op p.49 van Country of my skull lewer die skrywer metatekstuele kommentaar wat hierdie prosedure gedeeltelik verduidelik: “No poetry should come forth from this. May my hand fall off if I write this. (…) Stunned by the knowledge of the price people have paid for their words. If I write this, I exploit and betray. If I don’t, I die” (Krog, 2003:49). Uit hierdie gedagtegang van die verteller, is dit duidelik dat sy met ‘n diepe verskeurdheid worstel: dat sy wel besef dat dit wat sy gehoor het, noodwendig gedokumenteer moet word as deel van die land se gruwelike geskiedenis, maar deur dit deel te maak van haar persoonlike teks, sou sy die slagoffers verraai, omdat sy as’t ware hulle stories vir haarself toe-eien. Haar oplossing is dan om dit tog te skryf, maar om dit doelbewus nie in haar teks te integreer deur van haar eie idiolek gebruik te maak nie, om dit onveranderd in te bed en sodoende die vervreemdende effek van die ingebedde gedeelte te verhoog deur dit duidelik “vreemd” te laat aandoen. Weliswaar is hierdie praktyk nie heeltemal neutraal nie, maar word die digteres se voorneme om die woorde van slagoffers onveranderd te plaas, onmiddellik ondermyn deur die poëtiese praktyke waarvan sy gebruik maak wat tóg op die vlak van byvoorbeeld struktuur addisionele betekenis tot die woorde toevoeg en ‘n bepaalde afstandelikheid bewerkstellig.

 Baie van dié praktyke vind ons ook as ons die tekste van Kleur kom nooit alleen nie en ‘n Ander tongval langs mekaar lê, en dit is die fokus van die volgende en laaste aflewering van hierdie reeks.

 BRONVERWYSINGS

KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

KROG, Antjie. 2003 (Tweede bygewerkte uitgawe). (Eerste druk: 1998). Country of my Skull. Johannesburg: Random house.

LOTMAN, Ju.M. 1972. Die Struktur Literarischer Texte. Übersetzt von Rolf-Dietrich Keil. München: Wilhelm Fink Verlag.

MORGAN, Thaïs E. 1989. Is there an intertext in this text? Literary and interdisciplinary approaches to intertextuality. In: Style 23 (2). Summer 1989.

VILJOEN, Hein (Red.). 1995.  Metodologie en representasie.  Pretoria: RGN

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Marlies Taljard. Krog en hersirkulasie (2)”

  1. Chris Coolsma :

    Marlies, is daar ook ‘n afdeling oor verdwyntekste in die teorie van intertekstualiteit? Vanmôre het ek ‘n kommentaar geplaas op jou tweede manjifieke stuk, maar dit het verdwyn na die Bermudadriehoek vir digitale tekste.

    Wat ek sou wil kon sê is dit: Stel jou ‘n oue ou met pen op paier en tong tussen tande voor, die woord na woord die komplekse metatekst oor intertekstualiteit, hipertekst, hipotekst en intratekst trag te begryp en homself weer die student voel.

    Die student hou nie baie van postmoderniteit, hy’s ‘n romantiese modernist, of dalk ‘n moderne romantikus, maar jou tekst het hom tog tot ‘n hoër staat van insig gebreng.

    Wat hy van jou in dankbaarheid het opgesteek is dit:

    – Antjie Krog is ‘n groot skrywer,
    – Ek moet haar werke (her)lees,
    – Die analise van intertekstualiteit het uitsonderlike effekte want leg die klem op die noodsaak van fokus, aandag, liefde vir die tekste. Verwondering is die resultaat. En bewondering vir die skrywer en die onvatbare skoonheid van die werking van die harsens.

    Kannie wag vir die derde stuk.

  2. Chris, jy sal maar na die Bermudadriehoek moet gaan om dié teks weer te vind … Ek sien die voetnoot wat ek gebruik het, het die teks so ‘n bietjie deurmekaar gegooi en toe herstel ek dit en pos nuut … Teks is dus swerwend in die nie-fisieke sfere …
    En dankie baie vir die mooi woorde. Ek moet erken dat ek self hoendervel kry wanneer ‘n oënskynlik “onskuldige” teks skielik in lig getooi daar staan … Antjie is inderdaad ‘n groot skrywer en dit loon die moeite om haar werk weer en weer te lees, want dit stel nooit teleur nie en dit wys steeds nog ‘n nuwe kant by elke herlees!

  3. Chris Coolsma :

    Hoendervel ja, dit is wat dieper insig kan veroorsaak.
    Ek is oortuig dat die kenmerk van ‘n groot kunstenaar is, dat haar kunstwerke by elke nuwe interpretasie nuwe kante prysgeef. Ek ken dit persoonlik veral van musiek. Ons het bv. die klaviertrios van Haydn omtrent 20 jaar gespeel, maar elke uitvoering (veral tydens uitvoerings!Die publiek skyn my die ewebeeld van die leser te wees) breng nuwe insigte.

  4. Cas Vos :

    Marlies, jou artikels is boeiend en insiggewend. Intertekstualiteit kom op ‘n besondere manier in die Antieke wêreld voor, veral in Sumeriese, Akkadiese en Hebreeuse tekste. In hierdie proses sien ‘n mens hoe tekste geheg en ontheg word en tot ‘n eie teks groei.

    Cas Vos

  5. Chris, ‘n baie interessante lyn wat jy daar trek tussen die gehoor en die leser. Die gehoor is die “ontvanger” / “leser” / “dekodeerder” van die “teks”, want musiek is ook ‘n teks wat (wel deur middel van ander kodes) betekenis genereer. En veral vir jou wat nuut na die postmodernisme kyk, is dit interessant dat die interpretasie van die “ontvanger” (luisteraar) van musiektekste in ons gemeenskap geneig is om ‘n baie groter (vryer) bydrae te maak ten opsigte van betekenisgenerering as wat die norm is by literêre tekste. Ek wonder of dit is omdat die meeste mense wat letterkunde lees, die konkrete teks voor hande het, maar dat die partituur nie altyd vryelik beskikbaar is vir teoretiese interpretasie nie en die luisteraar dus deur middel van ander norme (soos emosie) beoordeel … Dis maar net gedagtes. Wat sê jy as musikus …?

  6. Cas, daardie antieke tekste boei my eindeloos!! Ek wens ek kon dit eerstehands lees. Jou eie verwerking van die Uruk-fragmente bou natuurlik voort op die Sumeriese (?) tradisie, want jy neem ook selektief daaruit oor om ‘n nuwe (meer universele) betekenis aan die antieke tekste te gee (in “Die afdruk van ons hande”). Ek is nou regtig nuuskierig oor die rol en die werking van intertekstualiteit in die tekste waarna jy verwys. Vertel ons to so ‘n ietsie …?

  7. Chris Coolsma :

    Marlies, dit is só interessant dat ek ‘n bietjie tyd wil neem om my gedagtes daaromtrent te formuleer. Dit skyn my toe daar is ‘n gradasie van vryheid, so ongeveer:
    techniese tekste (handleidinge): vryheid nihil
    wetenskaplike tekste: vryheid nihil tot baie begrens
    pulpliteratuur: enige vryheid, maar tog ‘platte’tekste, min diepgang
    literêr prosa: baie tot grote vryheid
    poësie: grote tot maksimale vryheid
    liedtekste: gelyk an poëzie
    musiek: iets groter vryheid as poësie

    Ook maar net gedagtes.

  8. Louis :

    Marlies & Chris – jul gesprek herinner my aan iets wat Joseph Joubert glo by geleentheid gesê het: “You will not find poetry anywhere unless you bring some of it with you.”
    Die rol van die (ingeligte) leser in die hele proses van digkoers is myns insiens inderdaad van oordonderende belang.
    Soos Charl-Pierre Naudé by geleentheid gesê het: Die digter leef in opwindende tye; al wat hy kortkom is ‘n opwindende leser.”
    Gaan kyk gerus by: http://versindaba.co.za/2009/06/27/wat-is-eietydse-digkuns/

  9. Chris Coolsma :

    Louis, wat ‘n skitterende uitspraak is dit nie. En ja, dit geld ook vir musiek. Glo Boulez (ek verwys na dié diskussie oor Desmond se interessante stuk) en baie ander komponiste sal dit kan onderskryf: die komponiste leef in baie opwindende tye, al wat hulle tekortkom is opwindende luisteraars.