Leon Retief. Wanneer twee een bewussyn deel

“…only one proposition about how the brain makes us conscious – how it gives rise to sensation, feeling, and subjectivity – has emerged unchallenged: We don’t have a clue.” (Alva Noë, filosoof en neuro-wetenskaplike, lid van die Institute of Cognitive and Brain Sciences aan die universiteit van Kalifornië, Berkeley).

Die neurobiologie van bewussyn (wat die Engelse “consciousness” noem) is ʼn fassinerende studieveld wat wetenskaplikes uit baie ander terreine gelok het. Francis Crick, (ʼn fisikus wat saam met James Watson die Nobelprys gewen het vir die ontrafeling van die struktuur van DNS, oorgeskakel het van molekulêre biologie na neuro-wetenskappe en tot sy dood in 2004 hard maar onsuksesvol probeer om die “neurale korrelate van bewussyn” te vind), Gerald Edelman wat ook die Nobelprys gekry het vir sy werk oor die struktuur van antiliggame en Sir Roger Penrose, waarskynlik die grootste lewende wiskundige van ons tyd, is slegs drie voorbeelde.

Net om darem ʼn definisie te hê sal ek Edelman, tans direkteur van neurobiologie by die Scripps Research Institute in San Diego se beskrywing aanvaar, naamlik (so ietwat oorvereenvoudig) dat bewussyn ʼn proses is en dat dit beteken dat iemand bewus is van sy bewustheid – en ook dat dit beteken dat mens bewus is van jouself as ʼn aparte, diskrete entiteit, iemand anders as jou ouers, sibbe of eggenoot/eggenote. Dit is hopelik ʼn sienswyse waarmee almal ten minste tot ʼn mate kan saamstem sonder om te veel oor fynere besonderhede te vit (of so hoop ek).

Ongelukkig moet ek sê dat ek met Noë saamstem – die hele kwessie is nog troebel en daar is geen lig aan die einde van die tonnel nie. Met die dat kwantumfisika deesdae baie in die mode is, veral onder New Ager’s en ander onkundiges, het verskeie sogenaamde teorieë oor die verwantskap tussen hierdie vertakking van fisika en breinfunksie die afgelope paar jaar die lig gesien – Deepak Chopra is een van die voorbokke ten spyte van die feit dat elkeen van sy uitsprake op hierdie gebied sy diepgaande onkunde oor sowel breinfisiologie as kwantumfisika openbaar.

Bogenoemde paragraaf ten spyt is dit egter nie onmoontlik dat kwantumfisika wel betrokke mag wees by bewussyn nie, aangesien dit wel ʼn rol speel by ten minste twee biologiese prosesse, te wete fotosintese en reukreseptore. Meeste lesers van Versindaba is waarskynlik bekend met kwantumfisika en dus sal ek nie uitbrei oor die eienaardighede van hierdie vertakking van fisika nie en slegs volstaan deur te noem dat Penrose en Stuart Hameroff, ʼn narkotiseur en direkteur van die Centre for Consciousness Studies aan die universiteit van Tucson in Arizona, ʼn kwantumteorie (of liewer ʼn hipotese) van bewussyn voorgestel het.

 

Penrose

Sir Roger Penrose

Stuart Hameroff

Stuart Hameroff

Een van die wonderlike dinge in die biologie is dat daar altyd ʼn spanner in die works gegooi word en in hierdie geval is daar sommer twee spanners. Hul name is Tatiana en Krista Hogan en hulle is op 25 Oktober 2006 in Vancouver gebore.

 

Die Hogan tweeling

Die Hogan tweeling

 

Soos die foto duidelik toon is Tatiana en Krista wat in Afrikaans bekend staan as ʼn Siamese  tweeling. Die aanvaarde Engelse term is “conjoined twins” – is daar dalk ʼn ekwivalente Afrikaanse woord? Indien wel sal ek graag wil hoor.

Terwyl Tatiana en Krista nie spekulasies oor die fisiologie van bewussyn sal beïnvloed nie mag dit wees dat die definisie van presies wat bewussyn wel is radikaal hersien sal moet word. Hulle is nie sommer ʼn gewone Siamese tweeling nie maar wat in Engels bekend staan as “craniopagus twins” – dalk ʼn kraniopage tweeling?

Kraniopage tweelinge deel ʼn skedel – op sig self niks besonder buitengewoon daaraan nie aangesien sulke tweelinge al lankal in die mediese literatuur beskryf is. Wat hulle wel buitengewoon maak is die feit dat daar ʼn brug is tussen hul talamusse, daardie deel van die brein wat sensoriese informasie prosesseer en na ander dele van die brein gelei.

Dit wil voorkom asof Tatiana en Krista deur mekaar se oë kan sien. Hulle deel nie ʼn gemeenskaplike gesigsveld nie maar wanneer ʼn voorwerp aan een van hulle gewys word kan die ander een dit akkuraat aanvat sonder om daarvoor rond te tas al is daardie voorwerp nie in haar visuele veld nie. Breinskanderings toon ook dat elkeen se brein seine van die ander een se visuele veld ontvang.

Tatiana en Krista se intellektuele ontwikkeling is tans nie soos wat mens by gemiddelde vierjariges verwag nie en selfs al was dit so sou dit moeilik wees om kleuters op hierdie jong ouderdom uit te vra oor dinge soos persoonlikheid en bewussyn. Hul ouers is wel beslis oor een ding: die tweeling is bewus van mekaar se gedagtes. Een van hulle sal byvoorbeeld uit die bloute aan die ander een sê “If you’re going to be mean to me I’m going to stop being nice” – sonder dat daar ʼn woord vooraf gewissel is of enigeen iets gedoen het wat so ʼn opmerking tot gevolg kan hê.

Mens moet uiteraard staatmaak op die ouers se sienswyse oor die tweeling se persoonlikhede – per slot van rekening is hulle die mense wat hul kinders die beste ken. Hulle is van mening dat hul dogters elkeen ʼn eie, diskrete persoonlikheid het. Ten spyte hiervan ontstaan die noodwendige vraag: as twee kinders mekaar se onuitgesproke gedagtes kan weet en eendag, wanneer hulle volwasse is, ook mekaar se diepste innerlikhede ken – wat gaan eendag ons definisie van bewussyn wees?

Ten laaste – ek moet my hoed afhaal vir Tatiana en Krista se ouers. Hul toestand is reeds voor geboorte diagnoseer maar hulle het verkies om nie ʼn aborsie te ondergaan nie. Terwyl ek self geen beswaar teen aborsie het nie kan ek hulle maar net admireer.

Mens moet natuurlik ook wonder hoe hierdie kinders eendag deur die lewe sal gaan. Siamese tweelinge is nog altyd beskou as freaks en dit gaan geen maklike reis deur hierdie ondermaanse wees nie. 

THE CONJOINED TWINS

We looked so lovely when, as girls, we wore
those fat, starched ribbons in our ponytails,
white matching pinafores of eyelet lace,
and coal-black patent leather boots. A pair
of beauties in cahoots, we whispered jokes,
then sang on stage in high, canary voices
our slow, plaintive duet, its innocent
refrain of love and never-lonesomeness.
They asked for autographs, the soft-voiced men
who stared with quivering hands and rheumy eyes,
and looked like they might gobble us.  We shared
that uncleaved slope of skin and bone, our pelvis-
to-pelvis perma-dance; like knotted gymnasts,
we shook and shimmied cute but double-wide
through doorways into spotlights with a smile
and dual curtsey, to applause, gasps.
Charmed by our pale parasols, they wept,
the wives, and whiskered gentlemen adored us,
but we yearned for the lion tamer’s boy.
We wrote him love notes on blue stationery.
He kept away from us until we lured
him close with mirrored blossoms, twenty fingers
to coax him toward our slim, carnivorous petals.
He tugged our manes and gentled us like felines.
We were a two-stemmed cherry made for sharing,
but he picked only one.  The smell of lions,
fur and fetid breath, would make us flinch,
but we stayed stalwart, played the melded darlings
until the end. Now our strange rest positions
remain a comfort underneath the sheets
these evenings as we hum ourselves to sleep.
Our joints are bad, our voices crack, we charm
no one at all.  The carnival has gone.
We stare out separate windows of the house,
and hold a single silence, drink our tea.
When we undress for bed, we speak no words,
dream riven dreams of sharp knives glittering.

– Joanna Pearson

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Leon Retief. Wanneer twee een bewussyn deel”

  1. Pieter Odendaal :

    Leon, fassinerende artikel, dankie. Ek is net nie seker waarom die tweeling ons noodwendig gaan noop om ‘n alternatiewe definisie van bewussyn daar te stel nie? As bewussyn die gevolg van biochemisese reaksies in die brein is, maak dit tog sin dat Tatiana en Krista toegang tot mekaar se bewussyne sal hê as hulle talamusse aan mekaar verbind is.

    Impliseer jy dalk dat die bogenoemde kousale verband tussen die brein en bewussyn deur Tatiana en Krista se geval geproblematiseer word omdat hulle aparte persoonlikhede het en dit wil voorkom of hulle woordloos met mekaar kan kommunikeer sonder dat daar aantoonbare neurale weë vir hierdie interkraniale(?) kommunikasie bestaan?

    Ek is in elk geval lugtig vir die term “persoonlikheid” aangesien dit vir my al hoe meer lyk na ‘n historiese, uitgediende term wat sielkundiges gebruik het om dit wat ons bewussyn noem te omskryf – soortgelyk aan die term “siel” van ouds.

  2. Pieter Odendaal :

    PS. dis ‘n wonderlike gedig. Daardie laaste twee reëls gaan my nog lank bybly.

  3. Leon Retief :

    Bly jy het dit interessant gevind Pieter, moet sê dat neurofisiologie vir my al meer begin fassineer. Ek moet darem noem dat ek spesifiek gesê het dat dit “mag wees” dat die definisie van bewussyn radikaal hersien sal moet word, nie dat dit ‘n noodwendigheid is nie. Die definisie van bewussyn wat ek gebruik het stel spesifiek dat mens bewus is van jouself as ‘n aparte en diskrete entiteit. Jou bewussyn is apart van myne en die gedagtes wat jy daaromtrent het, sowel as enige ander gedagtes wat jy mag hê, is jou eie tensy jy dit willekeurig met iemand anders deel. Op ‘n triviale vlak weet (hoop? 🙂 ) ons almal dat ander mense bewus is, maar dit is so ver as wat dit gaan. Met die tweeling is dit nie die geval nie en alhoewel mens op hierdie stadium nie sonder twyfel kan sê of hulle die bewustheid van hul bewussyn deel nie lyk dit vir my asof dit wel die geval is aangesien hulle skynbaar nie in staat is om hul gedagtes (en dus ook hul bewus wees van hul eie bewussyn) van mekaar te weerhou nie. Dit sal waarskynlik nie die fisiologie van bewussyn verander nie maar moontlik, na my mening, die definisie.

    Alle ander dinge buite rekening gelaat is hierdie tweeling baie, baie interessant – na die beste van my wete is hulle enig in die geskrewe geskiedenis van die wêreld. Die feit dat hulle baie sensoriese informasie deel, informasie wat aanvanklik net deur een se reseptore waargeneem word, moet ook noodwendig hul bewussyn en bewustheid van mekaar se bewussyn beïnvloed.

    Ek dink nie die geval word geproblematiseer omdat daar nie aantoonbare intrakraniale neuronale verbindings tussen die tweeling is nie – alle breinfunksie berus op “wetware” en sulke verbindings sal wel bestaan.

    Oor persoonlikheid, wel, ek dink nie dis ‘n uitgediende term nie aangesien psigiatrie steeds praat van persoonlikheidstipes en persoonlikheidsafwykings, maar as jy nie van die woord hou nie kan mens seker praat van karaktertrekke. Dit is tot ‘n mate ‘n black box aangesien mens maar net afleidings kan maak oor iemand se persoonlikheid na gelang van sy/haar gedrag.

  4. Pieter Odendaal :

    Leon, jammer man. Ek het jou onderskeid tussen die fisiologie en die definisie van bewussyn in die oorspronklike artikel vir een of ander rede misgekyk, my bad. Ek wonder egter of dit enigsins nodig is om ‘n onderskeid tussen die twee te trek. Bewussyn is tog ‘n fisiologiese proses in die brein en is myns insiens niks meer as dit nie. As jy die fisiologie van hartsirkulasie beskryf het, het jy tog sekerlik ook hartsirkulasie as sulks implisiet gedefinieer?

    Jy is reg, die tweeling is inderdaad fassinerend. Die feit dat hulle breine die integrasie van sensoriese impulse via ‘n enkele talamus deel, en boonop nog bloedvate deel (sal dit impliseer dat hulle breine heel moontlik ook dieselfde hormone deel?) behoort hulle bewuste ervaring tog seker min of meer identies te wees? En tog, soos jy sê, kom dit voor asof hulle verskillende karaktertrekke openbaar. Het jy dalk meer info oor presies watter areas van die brein die tweeling nog als deel? Ek het op about.com gelees dat hulle ook ‘n breinlob deel, maar weet nie hoe akkuraat dit is nie.

    Terloops, daar het glo vroeër vanjaar ‘n dokumênter op National Geographic genaamd “The twins who share a brain” verskyn. Wens ek kon dit in die hande kry.

  5. Leon Retief :

    Pieter die vergelyking met hartfisiologie is nie heeltemal van toepassing hier nie. Ten eerste is daar baie ander dinge wat buite die kardiovaskulê sisteem lê wat dit beïnvloed, bv die outonome senuweesisteem wat nie op sig self deel is van daardie sisteem nie.

    Ten tweede is ons kennis van breinfisiologie tans nie genoeg om dit te kan gebruik om bewussyn te definieer nie, anders as wat die geval is met kardiovaskulêre fisiologie en kan ons tans nie eers aspekte van dit waarvan ons gewaar word (of bewus word) te verklaar nie. Ons het ‘n redelike goeie idee van wat in die brein aangaan wanneer iemand die kleur rooi sien (letterlik, nie figuurlik nie) maar ons weet steeds nie hoe enigeen rooi ervaar nie. Of om ‘n ander voorbeeld te neem: ons weet vandag dat die hormoon oksitosien betrokke is by moederliefde sowel as ‘n aantal ander gewaardwordings. Proefpersone wat oksitiosien gegee is om te snuif (dit word geredelik deur die nasale mukosa opgeneem) is bv meer geneig om ander mense te vertrou. Als OK so ver – maar hoe ervaar daardie mense die gevoel van moederliefde of vertroue? Ons weet watter dele van die brein geaktiveer word deur oksitiosien en daar is ook heelwat bekend oor die interaksie van hierdie hormoon met reseptore in breinweefsel – maar dit beantwoord steeds nie hierdie vraag nie: hoe verklaar die interaksie daardie gevoelens waarvan mens bewus word en hoe onstaan hierdie gewaarwording as gevolg van die interaksie met die reseptore?

    Ek probeer nie te kenne gee dat daar iewers iets suprafisiologies aan die gang is nie, net dat die hele situasie uiters kompleks is en dat ons tans nie beskik oor genoeg basiese kennis om eers aspekte van die fsilogie te verklaar nie, laat staan nog wat bewussyn is en hoe om dit te ondersoek. Waarskynlik het ek hierdie aspek nie duidelik genoeg uitgelig nie.

    Ek is besig met die fisikus John Moffat se baie interessante outobiografie en ek dink dat neurofisiologie tans in dieselfde posisie is as kwantumfisika. Moffat vertel van ‘n gesprek wat hy in die 50-erjare gehad het met Wolfgang Pauli, een van die grondleggers van hierdie vertakking van fisika. Pauli het aan hom gesê: “Ultimately we must unify the laws of nature. I believe that during the next fifty years, physicists will see that as their ultimate goal. Maybe they will even succeed, who knows?”

    Moffat se droë kommentaar: “Today, almost six decades later, unifying the four known forces of nature…. is as illusory a goal as it was then.”

    As ek geld daarop moet sit sal ek sê dat ons oor vyftig jaar in dieselfde bootjie sal wees as die een waarin kwantumfisici hulle tans bevind.

    Ek weet daar is ‘n dokumentêr gemaak oor die tweeling maar het dit nie gesien nie, skynbaar was daar ook ‘n artikel in National Geographic maar het dit nie gelees nie. Ek weet nie of hulle ‘n gemeenskaplike breinlob deel nie.

  6. Leon Retief :

    Pieter jou opmerking oor die tweeling wat ‘n breinlob deel het my geinteresseer. Ek het al die besikbare mediese databasisse op die internet gaan deursoek maar kon geen akademiese publikasie oor hulle opspoor nie, moontlik is daar niks oor hulle in mediese joernale gepubliseer nie. Ek het wel op ‘n ander webwerf iewers die stelling gevind dat daar verbindings is tussen twee van hul breinlobbe, maar geen verdere besonderhede is gegee nie.

  7. Pieter Odendaal :

    Leon, ek het die NatGeo dokumenter opgespoor en sal dit die naweek kyk. Miskien kan ons iets daaruit wys word.

  8. Leon Retief :

    Gaaf Pieter, ek sien uit na wat jy gaan meedeel.