Lize Viljoen. Oosterse Gesondheid

Die geheime van die Ooste

Die geheime van die Ooste

Ek loop nou al geruime tyd met die blog in gedagte, ek meen, die idee wat ek hier wil voorsit stoom nou al letterlik meer as twee weke in my blog kombuis. Ek woon tans in Seoul, Suid Korea, wat ‘n Oosterse land is wat die afgelope paar jaar vinnig vooruitgang gemaak het op alle gebiede. Die area wat ek woon is bekend as die uitlandergebied en is behoorlik ‘n kookpot van vele nasies. Mens sien meer uitlanders hier as Koreaners. Tog, dit bly Oosters hier, en vandag wil ek vertel van die maniere wat mens  gesond kan bly hier deur die Oosterse leefstyl aan te kweek.

Eerstens is die kosse baie gesond, met die minimum vet. Elke dis kom met sydisse, wat gewoonlik kimchi insluit (Koreaanse kool met rooipeper, gemmer en knoffel) en die basis is gewoonlik rys. Dit werk ook goedkoper uit om by die Kim bab Nara (letterlik vertaal, die seegras rys plek) te eet as om kruideniersware te koop.

Onlangs het ek twee sessies Yoga bygewoon by die Magic Pond Gym. Daar is skynbaar twee tipes Yoga. Shiva en Shakti. Shiva Yoga is baie rustig en fokus deurgaans op die asemhaling en leer mens om ‘n diep asemhalingspatroon aan te kweek. Van Shiva Yoga kan ek getuig: dit is terselfdertyd die maklikste en die moeilikste ding wat ek nog ooit gedoen het.

Die groot kanon is natuurlik Akupunktuur. As jy my destyds op skool in Aliwal Noord vertel het dat ek eendag heel gewillig laat mense my met naalde steek in die naam van gesondheid sou ek dit behoorlik afgelag het. Tog, hier is ek, jare later, met nie net die naalde ingeryg op my rug nie, maar ook blou merke soos ek bewerk is met die bloedsuierkoppies, wat ten doel het om die ongerymdhede uit jou liggaam te suig.

So tussen die Yoga en die gesond eet en die akupunktuur het ek toe geskryf aan die volgende gedig.

Geloof in die lewe

Soms wanneer my drome my wakker maak,

snags en ek nie die idee van jou kan vergeet nie,

dan trek ek my aandag af deur vir vir myself

stories te vertel, stories waarin ek destyds

nog kon glo, maar wat my nou net laat lag,

of eerder, glimlag, net so terloops, onbeding.

Die dae en die nagte verloop teen ‘n vallende

helling, en net soos ek dink die tyd het oplaas

die laaste onheil van jou traak my nie agtigheid

uit my siel getrek, dan word ek wakker met ‘n

gemis, ‘n alewige gemis wat my laat rondtas

op die internet, wagtend op iets wat nie gebeur

nie, en ek besef dit is nie regtig jy nie, dis

eerder, die stuk van myself wat ek iewers,

was dit by geboorte, of tydens tienerjare,

iets van myself wat ek verloor het en in

jou kon raaksien, iets wat ek nie kon bekostig

om weer te vind nie, net so in die verbygang

kon ek dit in jou waardeer, en nou, nou is

ek weereens op soek daarna, al dink ek dit

is by jou, weet ek, dis reeds lankal weggesit

in die land van  verlore dinge, toegespin in

spinnerakke en vergete vir gedagtes.

Bookmark and Share

Comments are closed.