Toevallige tekens

Toevallige tekens. Gedigte deur Martjie Bosman. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-400-0. Prys: R150. 80 bladsye. Sagteband.

Toevallige tekens
Toevallige tekens

Met verse in die tematiese bloemlesings Groen (1990) en Ons klein en silwerige planeet (1997), en met haar solodebuut, Landelik (2003), het Martjie Bosman die aandag getrek as ‘n digterstem met ‘n besondere ekologiese sensitiwiteit.

Dié sensitiwiteit betref die natuur in die breë, maar sluit spesifiek ook ‘n verbondenheids- en verantwoordelikheidsgevoel in jeens Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse platteland (waaronder ook die Afrikaanse erfenis),  én jeens Afrika.

As “groen” digter is die soms opstapelende benutting van eie- en soortname as ‘t ware ‘n konkrete manifestasie van Bosman se respek vir en sorg om die verskeidenheid en integriteit van identiteite te midde van bedreigende omstandighede. In Toevallige tekens is daar byvoorbeeld Kamante, “[d]ie seun met die sere aan die been”; of “dokter Clara Santos / met die oë vol van mededoë”; of Flora Mavundla, wie se man “maandeliks / van die myn af ‘n deel van sy loon [stuur] / sodat sy kan sorg van die kinders”; of Sophie Lubisi, “donker en klein”. Maar ook plekname soos “Shongwe Mission Hospital”, Beira, Kigale, Mbozini, Gstaad, Taag en Twickenhamlaan; en spesiename soos eendagskoon, laventel, katjiepiering, mikstert, diederik, witstinkhout, tipuana, swartwitpens…

In die gedig “Mutilados” word die verminkte vroue van die bevrydingstryd in ‘n voormalige Portugese kolonie gedenk aan die hand van hulle welluidende name alleen – en waaronder die naam “Maria” herhaaldelik opklink ter versterking van die indruk dat die noem van die name ‘n roubeklag met religieuse newetone word.

In ‘n paar gedigte in Landelik het Bosman reeds die onmag van taal en poësie bely om die verskynsels en ons belewenisse daartussen enigsins indringend of omvattend weer te gee. Hierdie tweede bundel van haar begin weer met so ‘n gedig:

 

Op die spoor

 

Wildernis is nie eenvoudig nie.

Sou dit maar iets aan ons wou wys,

iets wat soos ‘n helder fluit styg

uit swamme op ‘n verrotte stomp.

Sou ons ‘n duidelike woord kon vind

vir die kort lewe van termiete

en ‘n bruin arend behoedsaam op ‘n tak.

Wat is al gesê oor ‘n dooie buffelkalf,

die woekergroei van waterhiasint?

Swart miere streep oor ‘n pad.

‘n Kiewiet weerkaats in ‘n poel.

Bruin kewers in ‘n lae web gevang.

Sou ons maar ‘n metafoor kon vind.

‘n Patroon om af te lei.

‘n Verhaal om te vertel.

In die sand lê spore kruis en dwars

en droë blare val daaroor.

 

Die bundeltitel, die veelseggendheid daarvan betreffende die menslike seggingsonmag, weerklink in die slotgedig, met ‘n ewe veelseggende titel en ‘n treffende beeld as ruggraat:

 

Toevallige digter

 

Aan die kern sit kennelik

die werkwoord “val”,

aangelap met setsels:

in-, toe-, by- en voor-.

Soos ‘n meteoriet

breek iets skielik

deur bufferlae

om die afgeplatte bol,

ontbrand en pyl

met ‘n vuurpad

tot in ‘n nagtelike tuin

waar onder fosforglans

die swart swaan

‘n oomblik lank verskyn.

 

Ons staan, luidens die bundelmotto wat Bosman aan N.P. van Wyk Louw se werk ontleen het, met ons tekortkominge en met dié van die mensetaal voor “dié Woord

/ vol bybetekenisse en bowe-tone, / té vol vir bloot net beteken en betekenis”. Inderdaad: “Wildernis is nie eenvoudig nie.”

Tot die “bybetekenisse en bowe-tone” van die werklikheid behoort ook die onontkombare verganklikheid. (Vandaar die foto van ‘n versnipperde eendagskoon-kelk op die voorplat.) “Life is very unusual,” haal Bosman vir Nassim Nicholas Taleb aan as motto van die slotafdeling van haar bundel. Dit wil sê: Die lewe is nié die reël in die skepping nie, én dit is (daarom) wonderbaarlik, selfs paradyslik om te ervaar:

 

            Ek soek nog na ‘n metafoor

vir die vergaan van ‘n lyf,

tevergeefs in hierdie soet seisoen.

As die rose pieringgroot oopvou

[…]

bly die metafoor van aftakeling

my gelukkig nog ontwyk.

In hierdie soet seisoen

sal ek nog talm by dié tekens

in hierdie tuin van alle liefde.

(“Soet seisoen”)

 

Dieselfde geld tale en digkunste. Ek het ‘n knop in my keel betrap by die lees van die slotgedig van afdeling 2:

 

Vanishing voices

The extinction of the world’s languages

  • – Daniel Nettle & Suzanne Romaine

 

Hoe onvoorstelbaar eensaam moet die laastes wees

wat nog woorde van gewone dinge weet,

hoe onvoorstelbaar eensaam die ore wat nooit meer

die woorde hoor waarmee die dinge genoem is nie.

Hoe eensaam die stemme wat vergeefs die son besing,

hoe eensaam as die koue nou net joune is,

as die wind jou roep vergeefs oor die vallei wegdra.

Hoe onuitspreeklik eensaam dat niemand jou verstaan

as jy sou sê nie: “Ek vrees dat alles doodstil raak.”

Hoe onuitspreeklik eensaam die kennis

dat in jou mond die sinne stol, die woorde

waarmee jy behoort het aan ‘n verlore stam.

 

Dis juis afdelings 1 en 2 waarin verminking, lyding, misdaad, doodslag en die gepaardgaande vrese van die huidige Suid(er)-Afrika in die kollig staan, sodat ‘n “[h]esperiese neerslagtigheid” selfs dreig om die subjek in die gelyknamige gedig te oorval. Toespelings op bekende gedigte van Ingrid Jonker, D.J. Opperman, Van Wyk Louw en Toon van den Heever word effektief benut om (onder meer) verwilderende hede met identiteitsbevestigende verlede te kontrasteer. En klink iets van C. Louis Leipoldt se “‘n Handvol gruis uit die Hantam” nie ironieserwys deur as die “breek-en-gryp”-slagoffer haar besittings byeenraap in die volgende gedig nie?

 

            Handsak

 

By die plek van breek-en-grypslae

lê besittings argeloos uitgestrooi:

Uit al dié dinge van min waarde

sal ‘n mens dalk ‘n lewe kan herbou –

‘n gesig kyk uit ‘n natgereënde

paspoortblad bleek na boontoe;

‘n rybewys skuil half onder gras;

tussen bou-afval lê ‘n besmeerde

ID-boek ouderdom en blyplek bloot;

‘n verwese sakdoek verkondig

intieme nommers van bekendes,

die huisarts, die versekeraar;

lipstif, ‘n bril, ‘n hoofpynpil,

kaartjies vir die simfoniekonsert.

Ek raap dit alles blindelings bymekaar,

probeer onthou hoedat ek gister was.

 

Téén hierdie vernietiging in voel die digter “dat jy nou / alle vensters oop moet maak / om in die woonhuis van die sinne / die kortstondige geilte te behou” (“Bosveldvisvanger”); dat die verskynsels aangegryp beleef en byvoorbeeld onder woorde gebring moet word om miskien so iets daarvan te bestendig. Dít is die sentrale tematiek van afdelings 3 tot 5 in die bundel. Één voorbeeld van hoe Bosman sodanige intensies glansend in vervulling laat gaan:

 

Wolf op die tweesprong

Na ‘n foto van Jim Brandenburg

 

Hy het reeds sy staanplek

op die ysskots verlaat

en gespring.

Sy skraal skadu weerkaats

swart in die ysblou water:

onbeduidend onder die groot groot lug,

onbeduidend op die spieëlsee, diep en koud,

onbeduidend teen die dreiging van grys wolke.

Maar op hierdie oomblik, nou,

waag hy die sprong,

sweef hy vry in sy onveiligheid,

los en bly oor alles wat syne is:

hiérdie stuk dryfys, hiérdie see,

hiérdie uitgestrekte yl bestaan.

 

Myns insiens kry Bosman dit in hierdie bundelafdelings reg om plek-plek eggo’s van ander digters se werk – hoor ‘n mens nie byvoorbeeld Wilma Stockenström en T.T. Cloete fynweg deurklink in dele van bostaande vers nie? – in ‘n verdere intertekstuele funksie te benut: die aktivering, sodoende ook bewáring/wáármaking, van ‘n literêre tradisie.

Die belydenis aangaande die digterlike seggingsonmag vind myns insiens funksionele uiting ook op stilistiese en vormlike vlakke in Toevallige tekens. Pretensies dat ‘n omvattende of deurvorsende greep op die dinge moontlik is, word vermy. Vryeversvorme word hoofsaaklik ingespan, soms met vaster geneigdhede, soos eindrym wat meer “toevallig” as volgens vaste patrone opduik. Wanneer vaste vormgewing wel voorkom, soos in “Die kind van Kigali” (met sy eggo’s van een van Ingrid Jonker se beroemdste gedigte), voeg die dwangmatigheid daarvan op funksionele wyse ‘n element van “noodlottigheid” by tot die strekking van wat gesê word.

 

            Die kind van Kigali

 

Dis die kind van Kigali wat moet loop

om vir die gesin ‘n brood te gaan koop.

 

Die kind kom gou terug met die brood

en vind om die huis die spoor van die dood.

 

Die aanval was oorwoë en subiet:

Met mortiere is alles platgeskiet.

 

Die kind swerf deur die land sonder ‘n pas,

op sy skouers lê oorlewing ‘n loodsware las.

 

Die styl is eerder aan die ingetoë kant; verstild eerder as flambojant. Deur benoeming en beskrywing – eerder as deur metaforiek, aandagvergende woord- en klankspel en direk verdiepende of verruimende suggestie – word die dinge toegelaat om as ‘t ware vir hulself te spreek. Waardeur “groen” bundels van Lucie Möller (Watermerke) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) uit die afgelope sowat ‘n jaar sterk in die herinnering geroep word.

Op my maak Bosman se bundel, hoe persoonlik die verwoorde belewenisse en sieninge daarin ookal is, ‘n indruk van brandende aktualiteit, in die besonder wat die Afrika-mens (ook die Afrikaner) se verhouding met sy omgewing betref. Dit sluit aan by wat al ‘n sterk stroming in die Afrikaanse digkuns geword het. Naas die name van Möller en Marais, kom dié van onder meer Eugéne Marais, C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Trienke Laurie en Carina Stander dadelik by my op.

Met Toevallige tekens word Bosman s’n na my oordeel ‘n besonder verdienstelike stem in hierdie name-rei. 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

Comments are closed.