Marlies Taljard. Krog en hersirkulasie (3)

‘n Ondersoek na die publikasiegeskiedenis van Kleur kom nooit alleen nie, Country of my skull en ‘n Ander Tongval, toon dat eersgenoemde in 2000 verskyn, Country of my skull die eerste keer in 1998 in die buiteland verskyn en ‘n Ander Tongval die eerste keer in Engels as A Change of Tongue in 2003. In alle waarskynlikheid is hierdie drie tekste dus min of meer in dieselfde tyd gekonseptualiseer. Van daar dus moontlik die ooreenkomste wat ek in die vorige bespreking aangetoon het en waarmee ek nou voortgaan. In die vorige bespreking is gewys op uitgebreide ooreenkomste tussen Country of my skull en Kleur kom nooit alleen nie. Soortgelyke ooreenkomste bestaan ook tussen die poësieteks en ‘n Ander Tongval. In hierdie bespreking wil ek fokus op ‘n enkele gedig waarin transtekstualiteit, soos Genette die term definieer, asook veelvuldige palimpses of gelaagdheid voorkom.

'n Ander Tongval

Deel 5 van ‘n Ander Tongval heet “‘n reis” en beskryf “‘n poësiekaravaan na Timboektoe [wat] reeds in 1992 ontstaan in die verbeelding van Breyten Breytenbach, digter, skilder en lid van die Raad van Kuratore van die Gorée-instituut” (Krog, 2005:313). Baie van die feite-materiaal van hierdie hoofstuk kan teruggevind word in die laaste afdeling van Kleur kom nooit alleen nie, “bindweefsel” (Krog, 2000:77-104). Indien met ‘n fynkam deur beide die tekste gelees sou word, sou heelwat woordelikse ooreenkoms tussen die twee tekste blootgelê kon word. Dit is egter nie die doel van hierdie bespreking nie, aangesien ek woordelikse transposisie reeds vroeër beredeneer het en “invloed” nie binne ‘n postmodernistiese raamwerk relevant is nie.

 

‘n Baie interessante vorm van intratekstualiteit vind ons in Krog se gedig “griots” (Krog, 2000:89-90) en haar verslag van die vyfde en die negende dag van die poësiekaravaan se besoek aan Wes-Afrika (Krog, 2005:324-328; 335-338). Op die vyfde dag besoek die poësiekaravaan die huis van ‘n bekende skrywer van Mali, Mansa Makan Diabate waartydens van alle teenwoordige digters verwag word om hulle eie werk voor te dra. Die prosateks beskryf die verrigtinge in Die Huis van die Woord. Die digters mag aan die inheemse griots wat teenwoordig is, vrae stel. Een digter vra:

‘Wat is die rol van die griot in die samelewing?’.

Die griots beraadslaag ‘n rukkie en dan antwoord een van hulle: ‘Ons eet die daglikse woord. Ons leef van die daaglikse brood van die woord’ (Krog, 2005:326). Die aand lewer Were Were Liking, ‘n vroulike digter van die karavaan, ‘n vertoning in die hotel: Sy ontvang hulle, asemrowend aangetrek in veelkleurige lappe, dramatiese juwele, honderde versierde vlegseltjies. (…) Netjies op ‘n ronde tafeltjie staan haar laptop oopgeklap, met die program vir die aand op die skerm:

ons is die skrynwerkers van die geheue

ons skaaf woorde

die grein van die woord is die kultuur van genade

daar is die menswaardigheid van die woord

die adel van die woord

die plek van woorde in ‘n kamer

van kamers in dorpe van sand en wind

die woord beweeg van mens tot mens

totdat alle woorde byeen gehoor word

 

ons is meesters in die oordra van die siel

die roete van die reis

die vlerke van die taal

om die wêreld te sien verbygaan

in die voorportaal van taal

met soveel heerlike asem tussen die ribbes

 

Liking maak al die kalbasse op die vloer oop. Toe begin sy in die rondte draai. Doodstil. Al hoe vinniger totdat sy in ‘n vaste ritme stabiliseer, en byna sewe minute lank draai sy op dieselfde plek geluidloos in die rondte, ‘n warreling van kleur. Allerlei geure van kruie en speserye styg uit die kalbasse. Almal sit ademloos gehipnotiseer (Krog, 2005:327-328).

Vier dae later tree die digters op ‘n plein in die dorpie Segou op. Die verteller merk op:

Vanuit die voorste gestoeltes, tussen die dans, voordra en stof deur, merk sy ‘n Berber en sy perd aan die rand van die skare. (…) Terwyl Zein lees, kom ‘n troppie bokke rustig deur die skare gewei. Die gedig word Arabies en bokblêr. Terwyl sy haar nuwe gedig lees, sien sy uit die hoek van haar oog ‘n klein motorfietsie agter die skare verbystotter. Die vrou se kleed wapper vrolik, haar opgebinde koptooisel effens skeef. Sy maak dit sommer deel van haar gedig, so in die voorlees. Die motorfiets en die bokke en Afrikaans (Krog, 2005:336).

 

Stel daarteenoor die gedig “griots” uit Kleur kom nooit alleen nie:

4.  griots

duisende drom saam

hulle nekke gestrek tussen fladderende lap

hulle oë loei van ontdekte taal

 

ons is die bewakers van menseheugenis

ons eet die woord wat ons uiter

ons stig brand in die geheue

            as ons woord op papier sit

ons leef van die daaglikse brood van die woord

 

die grein van die woord is ‘n kultuur van genade

 

ons is die skrynwerkers van die geheue

ons bewerk woorde

daar is die menswaardigheid van woorde

die adel van woorde

die plek van woorde in ‘n kamer

            in dorpe van sand en wind

 

ons is meesters

in die oordra van die siel

 

nie net die woord nie, maar die reis van die woord

die spoor van die woord

die reis na die woord tóé

om met oop oë te reis

om die storie te vertel

 

hoe beweeg ‘n woord van een mens na ‘n ander

totdat alle woorde byeen gehoor word?

die griot is die dubbel skaduwee van die mens

 

die roete is reis

die vlerke is taal

 

om die wêreld te sien verbygaan

om die woord te sien verbygaan in die voorportaal van taal

            ‘n plek stralend van asem

om die woord te eet

om die woord uit swoerd te smee

om wurg in woord te verander

woord afkomstig uit die hele huis

            kollektiewe godsalig’ woord

 

(vrouens dans soos reiers op dun bene

in Nyafunke – arms klepper soos vlerke

met doeke wat wapper en grond toe fladder

 

‘n berber op sy perd – allerpragtigste spierwit perd

wat rondtrappel met henna kolle in kuif en stert

‘n troppie bokke kom stadig deur die gedig gewei

ook motorfietsies beman met lang gewade en fesse

soms skoeter ‘n vrou in deftige kopdoek tussen hakies)

(Krog, 2000:89-90).

 

Uit die aangehaalde gedeelte blyk eerstens dat die gedig “griots” (Krog, 2000:89-90) ‘n collage is wat saamgestel is uit dele van Krog se reisbeskrywing in ‘n Ander Tongval. As sodanig is dit dus ‘n gedig wat die postmoderne beginsels van fragmentering, hibriditeit, fluïditeit, oopheid en die gemaaktheid van die teks illustreer. Op ‘n ander vlak is dit egter ook ‘n gedig wat in homself die volledige teks van die gedig van Were Were Liking in ‘n effens veranderde vorm, bevat. In die lig van Stephen Watson se beskuldigings van plagiaat in enkele van Krog se werke, sou dit seker nie heeltemal onvanpas wees om ook die etiese implikasies van hierdie werkwyse te ondersoek nie (vgl. Myburgh, 2007). Op ‘n suiwer tegniese punt beskou Morgan (1989:29) plagiaat as ‘n vorm van intertekstualiteit wat in die gebied tussen ‘n duidelike sitaat en insinuasie lê. Myns insiens het Krog heeltemal openlik te werk gegaan deur Liking se gedig in sy geheel ook in ‘n ander teks op te neem en by wyse daarvan dus haar bron bekend te maak. Dié praktyk dui op ‘n hibriede siening van die teks en is in wese ‘n oorskryding van die grense van die twee betrokke tekste deur klem te lê op die oopheid en gefragmenteerdheid van haar tekste wat weerstand bied teen ‘n totaliserende diskoers.

In die geval van die inkorporering van Liking se gedig in Krog se eie teks, is daar in die gedig “griots” dus sprake van sowel intratekstualiteit, waar die digter fragmente uit haar eie oeuvre in die komposisie van haar teks gebruik, as transtekstualiteit, waar sy die werk van ‘n ander digter in haar eie werk opneem. Deur die werk van die Afrika-digter te gebruik, maak sy ‘n polities korrekte stelling wanneer sy die Afrika-tradisie by haar werk inkorporeer. Inbedding van dié digter se gedig in haar eie gedig is ikonies van een van die belangrikste temas van die bundel Kleur kom nooit alleen nie, naamlik, in die woorde van die gedig “reis” wat “griots” voorafgaan: “hoe meer kere jy vermeng / hoe meer word jy hier” (Krog, 2000:88).

Bogenoemde werkwyse lê klem op die performatiewe, konstruksionistiese aard van die postmodernistiese kunswerk waarin die klem op die ontologiese val en die konstruksie van alternatiewe wêrelde. Viljoen (1998:402) voer aan dat postmodernistiese tekste doelbewus hulle gemaaktheid, hulle representasie-wees blootlê. Hy wys daarop dat sulke tekste altyd as voorstellings beskou word, “iets afgeleids, iets sekondêrs, ‘n skim en selfs vervalsing van die oorspronklike”. Hierdie siening kan dus gedeeltelik gebruik word as verklaring vir die keuse wat die digteres uitgeoefen het deur woordelikse opname van ‘n hele gedigteks van ‘n ander digteres in haar eie werk en kan ook gebruik word as teenargument aan plagiaat-jagters.

Benewens ooglopende ooreenkomste tussen die twee genoemde tekste, is daar egter ook veelseggende verskille. Dit is duidelik dat Krog gegewens wat in ‘n Ander Tongval as drie aparte gebeurtenisse vertel word, in die gedig “griots” saamtrek tot ‘n enkele gebeurtenis of indruk. Die gedig begin met iets wat op dag 9 in die prosateks vertel word. Dan kom Liking se gedig, wat egter nie woordeliks aangehaal word soos op p.328 in die prosateks nie, maar verweef is met die feite van die eerste optrede van dag 5, soos vertel op p.326 van die prosateks. Verder is dit duidelik dat die woordkeuse en chronologiese orde in die gedig effens verander word. Die gedig eindig dan met die verwysing wat op dag 9 in die prosateks inpas, naamlik die Berber op sy perd en die vrou op die motorfiets.

Anders as in die prosateks wat streng chronologies verloop, spreek uit die gedig “griots” ‘n tydsbewussyn wat dui op ‘n dialektiek van gelyktydigheid, ‘n bewussyn wat ‘n enkeldimensionele, sekwensiële tydsbesef ondermyn. Die effek van ‘n saambestaan waarin alle gebeure gelyktydig plaasvind, word onder andere verkry deurdat tyd in die gedig ingekrimp word. Problematisering van chronologie en die wyse waarop tyd in die Weste beleef word, is ‘n tipiese postmodernistiese praktyk en natuurlik ook ‘n artistieke tegniek wat spesifiek met poësie geassosieer word. Veelseggend is dat hierdie werkwyse nie sigbaar sou wees indien die gedigteks nie ook in prosa bestaan het nie. Dit is inderdaad in hierdie geval duidelik dat oorname van intertekstuele materiaal nie onskuldig geskied nie, maar ‘n duidelike poëtiese en postmodernistiese stelling maak, ‘n praktyk waarna Julia Kristeva verwys en wat Morgan soos volg opsom:

… Kristeva’s most valuable contribution to the debate of intertextuality is the idea that an intertextual citation is never innocent or direct, but always transformed, distorted, displaced, condensed, or edited in some way in order to suit the speaking subject’s value system (Morgan, 1989:22).

Ook die seleksie en kombinasie van gebeurtenisse en motiewe (vgl. Bal, 1986:22-25) word tot ‘n groot mate sinvol eers wanneer dit met die prosagegewens vergelyk word. Wanneer die digteres in die laaste reël van “griots” skryf: “soms skoeter ‘n vrou in deftige kopdoek tussen hakies” (Krog, 2000:90), bied die metatekstuele kommentaar op p.336 van die prosateks ‘n moontlike verklaring waarom dit “tussen hakies” plaasvind: “Sy maak dit sommer deel van haar gedig, so in die voorlees. Die motorfiets en die bokke en Afrikaans.” Maar ook die feit dat die gedig ‘n ware collage is, ‘n laslapwerk wat letterlik die prosateks en die gedig van Liking in fragmente opbreek en dit in ‘n nuwe geheel rangskik, dui op herskrywing van die werklikheid en van reeds bestaande tekste tot ‘n nuwe betekenis. Hambidge (1995:76) beskou “die bybring van disparate dinge of oënskynlike onversoenbaarhede” as ‘n opvallende kenmerk van postmodernistiese tekste waarin ‘n totaliserende diskoers van orde, samehang en logika ondermyn word. Die saambestaan van Liking se gedig, van die vergadering van griots, van die berber op sy perd en die vrou op die motorfiets onderstreep die hibriede aard van die kunswerk en lê klem op die ongestruktureerdheid van die menslike bestaan. Ook word poëtiese verbande só gelê wat in die prosateks nie duidelik sigbaar is nie. Ter illustrasie dat nie “onskuldig” met die “geleende” stof omgegaan word nie, kan die volgende as voorbeeld genoem word:

Krog se gedig begin met reël 3 van Liking se gedig: “die grein van die woord is ‘n kultuur van genade” (Krog, 2000:89), wat aansluit by “woord” in die vorige reël en kommentaar lewer op die voorafgaande, indien ‘n mens die leef van die daaglikse woord sien as ‘n bepaalde “kultuur”. Die woord “grein”, beteken tegelyk “korrelrigheid”, dus substansie of tekstuur wanneer dit byvoorbeeld terugverwys na die “brood van die woord” én die “draad” van hout, wanneer dit na “skrynwerkers” heenwys (vgl. Odendal et. al., 2000:323). Dit vorm dus hier die skakel tussen die eerste en die tweede deel van die gedig. Hierdie duidelike strukturerende handeling getuig van ‘n bewuste omgang met die oerteks deur die lê van nuwe verbande tussen elemente van Liking se gedig sowel as tussen Liking se gedig en stof wat in die prosateks as aparte episode vertel word. Selfs ‘n oënskynlik onskuldige verandering in Liking se reël “die grein van die woord is die kultuur van genade” (Krog, 2005:89) na “die grein van die woord is ‘n kultuur van genade” (Krog, 2000:89) (my kursiverings – MT) in die poësieteks, is ‘n subtiele inskryf teen ‘n totaliserende uitspraak deur dit te omskryf na ‘n inklusiewe uitspraak wat, op tipies postmodernistiese wyse, ook vir alternatiewe sieninge ruimte laat.

Krog se oorname van materiaal uit twee van haar prosawerke wat min of meer in dieselfde tyd as Kleur kom nooit alleen nie ontstaan het, dui waarskynlik op haar bewuswees van die konvensies van skryf in die postmoderne modus. Deur dieselfde feitemateriaal in sowel poësie as prosa te gebruik, lewer sy duidelik bewys daarvan dat weergawe in verskillende genres ook verskillende interpretasies van dieselfde feitelike gegewens impliseer, selfs al word dieselfde woorde in beide tekste gebruik. Ook is sy deeglik bewus van die oopheid en die permutasie van postmodernistiese tekste, wat behels dat sowel genregrense as die fisiese grense van die kunswerk oorskry en gedekonstrueer word. Verder kan daarop gewys word dat sy op bewuste wyse haar eie en ander tekste as intertekste vir haar gedigte gebruik en dat sy deur gebruikmaking van dié praktyk beslis haar eie stempel op die hipotekste (tekste waaruit sy “geleen” het) afdruk en op gestruktureerde en bewuste wyse met dié tekste in gesprek tree. ‘n Mens sou hier dus inderdaad kon praat van ‘n opheffing van die grense tussen literêre teorie en teks deurdat Krog se teks hier literêre teorie in aksie word en daar verbastering of mutasie van genres plaasvind (vgl. Hambidge, 1995:41 en Viljoen, 1998:399).

Alhoewel kennis van die intertekste nie noodsaaklik is vir die verstaan van die betrokke gedigte en baie ander wat inter- en intratekstuele gesprekke met ander werke aanknoop nie, val dit nie te betwyfel nie dat kennis van die intertekste wel bydra tot dieper begrip en tot die generering van nuwe betekenisverhoudinge in sowel die betrokke gedigte as die prosatekste. Hieruit spruit voort die belangrike rol wat binne ‘n postmodernistiese leespraktyk aan die leser toegedig word in die totstandkoming van tekste. Soos Morgan dit stel:

We are left with the uncomfortable implication that any set of intertexts will always be only those intertexts noticed by the individual analyst (Morgan, 1989:19).

Hierdie insig ondermyn die stabiliteit van die teks en lê klem op die onstabiele, performatiewe aard van postmodernistiese tekste en die belangrike rol van die leser, soos deur poststrukturalistiese teoretici soos Barthes, Derrida en Kristeva aangetoon word.

Interafhanklikheid van bepaalde gedigte en dele van Krog se prosatekste ondermyn die siening van dié gedigte as losstaande, outonome entiteite sowel binne bundelverband as binne die verband van haar oeuvre omdat dié gedigte telkens heenwys na ander gedigte en prosatekste (vgl. ook Hambidge, 1995:32).

In die drie besprekings oor Krog en hibriditeit het ek probeer om intratekstualiteit tussen die bundel Kleur kom nooit alleen nie met die tekste Country of my skull en ‘n Ander tongval aan te toon. Daar behoort geen twyfel te bestaan nie dat Krog deeglik bewus is van die implikasies van die verskillende praktyke van intertekstualiteit. Deur gebruikmaking van dié tegnieke, verruim en verdig sy haar eie teks op betekenisvolle wyse én bewerkstellig sy herinskripsie van die “ou” kunswerk deur kommentaar en repliek daarop te lewer.

 

Bronne

BAL, Mieke. 1986.  De theorie van vertellen en verhalen: Inleiding in de Narratologie. Muiderberg: Dick Coutinho.

HAMBIDGE, Joan.  1995.  Postmodernisme.  Pretoria: J.P. van der Walt.

KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

KROG, Antjie. 2003 (Tweede bygewerkte uitgawe). (Eerste druk: 1998). Country of my Skull. Johannesburg: Random house.

KROG, Antjie. 2005. ‘n Ander Tongval. Kaapstad: Tafelberg.

MORGAN, Thaïs E. 1989. Is there an intertext in this text? Literary and interdisciplinary approaches to intertextuality. In: Style 23 (2). Summer 1989.

MYBURGH, Melt. 2007. Die toetsbord se verbode vrugte. [Web:] http://www.litnet.co.za [Datum besoek: 20 Januarie 2007].

ODENDAL, F.F. en R.H. Gouws. 2000. HAT: Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Midrand: Perskor Uitgewers.

VILJOEN, Hein, 1998: Marginalia on Marginality. Alternation 5:2.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.