Frances Lubbe. Ysfees

Dis die vroegste en ergste ‘cold snap’ in ‘n baie lang tyd in Groot-Brittanje, met dagtemperature onder vriespunt hier in die suid-ooste, en ‘n ondenkbare minus 20 in die Skotse Hoogland. Die hele land bibber en beef.  Die Britse media is op hul normale half-histeriese trant besig om die voortbestaan van die land soos ons dit ken te bevraagteken – is daar genoeg sout om op die paaie te strooi?  Sal daar blikkieskos wees om almal deur te sien mits die vars kosvoorraad vergaan?  En natuurlik van grootste belang:  hoe sal hierdie abnormale weerpatrone Prins William en Kate Middleton se troue volgende jaar affekteer?

Groot-Brittanje toe onder ys

London is gewoonlik die warmste (of sal mens liewers se minste koue) plek in Groot-Brittanje in die winter, veilig en snoesig in die mikroklimaat van ‘n groot stad. Maar in die laaste twee weke het selfs Londen se warm borreltjie gebars, met sneeu storms, glibberige ys op die sypaadjies en verbaasde Londenaars wat wolhoede en sokkies aanskaf. Daar word vertel van pensionarisse wat hul gratis vervoerkaart gebruik om heeldag heen en weer op die stad se verhitte busse te ry sodat hulle warm kan bly.  En daar is blykbaar goeie Samaritane wat van die stad se menigte huislose mense individueel inboek by ‘Bed ‘n Breakfasts’ sodat hulle vir tenminste een aand warm kan slaap.

Gepaard met die weersomstandighede is dit andersins ook buitengewoon kil in Engeland. Soos wêreldwyd het finansiële probleme baie sake ondernemings en mense getref. Daar is ‘n gevoel van bitterheid teenoor die nuwe regering, omdat hulle so kwaai aan verskeie begrotings snoei. Kulturele en opvoedkundige instansies loop versal swaar deur. Studente en skoliere hou protestoptogte in die bitter koue oor die nuwe beoogde universiteitsfooie. Die unies, onder andere dié wat te make het met vervoer in London, hou ‘n reeks stakings wat die moltreine belemmer. Miljoene mense sukkel dus daagliks om by die werk te kom.

Vreemd genoeg het David Cameron, die Eerste Minister, dit op hierdie tydstip goedgedink om ‘n ‘happiness index’ tot stand te bring. Hy het aangekondig dat sy regering mense se gelukkigheid wetenskaplik wil bepaal en aanteken, sodat die Verenigde Koningryk se persentasie glimlaggies vergelyk kan word met die van ander nasies. ‘n Mens wil amper vir Cameron op die skouer tik en sê:  ‘Dave, dink jy regtig dis nou die beste oomblik om so ‘n projek te loods? Ek sien nie juis groot smiles in die omtrek nie?’

Maar dalk is vermaak in moeilike tye juis ‘n goeie idee. Mense het positiewe mikpunte nodig in die winter. Kersfeesvieringe in die noordelike halfrond het, buiten die godsdienstige konteks, ook ‘n praktiese funksie – dit dien om die donker tyd van die jaar tydelik opsy te skuif en ‘n feestlike atmosfeer van samesyn te skep.

Die ou Londenaars het veel erger winters as ons oorleef sonder elektrisiteit en verhitting. Van die 14de tot die 19de eeu was die Engelse winters verskriklik kwaai. In daardie tyd was die Teems ‘n vlakker maar breëer rivier, en het dus soms vir tot twee maande op ‘n slag gevries. Die Teems was in hierdie ys toestand steeds ‘n vervoermiddel – Henry VIII het in 1536 byvoorbeeld heelpad van sentraal London na Greenwich toe gereis op ‘n slee. Maar die rivier het ook ‘n plek geword vir die sogenaamde Frost Fairs. Die eerste een is in 1608 op die oppervlak van die Teems naby London Bridge gehou. Daarna is die fees herhaaldelik gehou, tot die klimaat in die 1800s veel warmer geword het en dit nie meer moontlik was om op die ys te baljaar nie.

'n Ys kermis naby Londen Brug in die 1800s

Dié ys kermisse was uitbundige affêres met stalletjies, slees, marionet teaters, perd-en koetsresiese, en natuurlik baie drank en dobbelary  – alles op die ys!  Daar was ‘bull-baiting’, beergevegte en by die Frost Fair in 1814, die laaste een van sy soort, was daar selfs ‘n olifant wat op die ys vertoon is.

'n Uitbeelding van die ys kermis in 1814

Natuurlik was dit gevaarlik om so op die ys te beweeg, en wanneer die ys begin smelt en ontdooi het sommige mense nie betyds weer op vaste aarde uitgekom nie. Maar dit klink tog na ‘n aanloklike ervaring, en alhoewel ek nie kouer weer op die inwoners van Londen sou toewens nie, sou dit fantasties wees om die rivier in ‘n gevriesde toestand te sien.

In haar gedig ‘Frost Fair’ skep die jong digteres Rowyda Amin ‘n ryk en spokerige beeld van ‘n hedendaagse Londen wat vermeng is met die feeste van die ou tye. Een van haar gawes is om die energie en die kilheid van die stad op te roep, die situasie waarin elke stadsmens hul van tyd tot tyd bevind.  Waar ‘n mens alleen staan tussen soveel ander mense – en dis hierdie sielseensaamheid wat gedurende die winter soveel meer akuut ervaar word.

FROST FAIR

Slideshow faces flicker from the station.

You’re following the mood to London Bridge

where taxis cruise black as death’s pyjamas.

The Thames you find is glacier silk, shantied

With booths and carousels. Five screaming hens

Speed by in a white horse sleigh. Ballad singers

Busk their vagrant lines. Alas my love, you do me wrong.

Crowds scoff hotdogs and candyfloss,

Cheer as Punch batters Judy with the baby.

Hog roasts spit fat on the ice, children watching

With faces pink and hot. Thy girdle of gold so red.

Falling snow feathers the whipped bear moonwalking in chains.

It looks at you with marshmellow eyes

And you want to take its arms and zip over the ice,

Feel fur on your cheeks, skating against the wind to the estuary

Where the ice breaks apart, but you smile, hands in pockets,

And turn to the skittles and acrobats, sugared crepes and hot

wine.

And yet thou wouldst not love.

–        Rowyda Amin

(uit Ten New Poets Spread the Word, saamgestel deur B. Evaristo en D. Nagra, Bloodaxe Books, 2010)

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Frances Lubbe. Ysfees”

  1. Louis :

    ‘n Treffende gedig om ‘n wonderlike blog mee af te sluit, Frances! Kan jy dalk ietsie meer vertel van Rowyda Amin? Dit is die eerste keer wat ek van haar iets te lese kry …

  2. marcelle :

    Frances, ek stem saam met Louis: vertel bietjie meer van Rowyda Amim – die ‘five screaming hens’ het my nogal geraak. En dalk ook oor die 1814 olifant?!

  3. Gerhard :

    In Hamburg word daar vandag nog veel daarvan gemaak as die Alster vries – ook ‘n vlakker rivier, dink ek.

  4. Gerhard, ek wonder of hulle ook feeste vier op die Alster? 🙂

    Louis en Marcelle, Rowyda Amin is in Newfoundland in Kanada gebore, en haar ouers se herkoms is vanuit Saudi-Arabie en Ierland. Sy het in Kanada grootgeword, toe vir ‘n wyle in Riyadh gewoon, en is nou hier in Londen ‘n PhD student by Birbeck en gee ook klas daar. Sy het in 2009 die Wasafiri New Writing Prize gewen vir haar digkuns. Ek het heel toevallig op haar gedigte afgekom! Mens kan verder oor haar en haar werk lees by http://rowyda.wordpress.com