Johann Lodewyk Marais. Kersfees op Mont Pelaan

Op Mont Pelaan, die plekkie tussen Harrismith en Memel waar ek my eerste ses skooljare deurgebring het, is daar elke Desember ‘n “Kersboom” in die Boerevereniging se saal langs die vendusiekrale aangebied. Dit was vir ons, die kinders, die hoogtepunt van die jaar. Meester Olivier se handjie vol plaasskoolleerlinge het dan ook weke voor die groot aand reeds hulle stukke begin oefen vir die Kerskonsert wat plaasgevind het ná die geskenke vroegaand deur Kersvader uitgedeel is.

naby Memel

naby Memel

Vir ons het die groot dag uiteindelik begin aanbreek wanneer ‘n boom die middag voor die “Kersboom” op Meester se plaas Sunnyside, in die rigting van Memel, gehaal moes word. Gewoonlik was die wêreld daardie tyd van die jaar, teen vroeg-Desember, grasgroen en die Drakensberge sagte, blou kurwes in die verte, met haelwit wolke wat oor die aarde uitblom. Dan het al die seuns agterop die bakkie saamgery en om die verlate ou opstal help soek na ‘n geskikte dennetak om af te saag. Hierdie tak – volgens Marthinus Versfeld een “op die toppie waarvan die Bethlehemster van blinkpapier mooi sal vertoon, met genoeg takkies om presente vas te maak” – is dan by die saal afgelaai waar die vrouens dit die volgende dag tot ‘n behoorlike Kersboom versier het.

Ja, die Kersboom moes ‘n denneboom wees, soos dit in talle lande van die wêreld, veral in Europa, ook gebruiklik is. Ofskoon die sielkundige Carl G. Jung beweer dat talle mense hierdie tradisie navolg sonder dat hulle die ware betekenis van die Kersboom ken, het die Kersboom klaarblyklik sy oorsprong in sekere gebruike deur die Egiptenare, Chinese en Hebreërs gehad. Dit het die ewige lewe versimboliseer. In later jare het die ou volke van Europa op 25 Desember, wanneer die son op sy flouste is, groot vure aangesteek en hulle huise met immergroen plante versier. Hulle het geglo dat die sterwende son deur die vuur tot nuwe lewe opgewek word en die lewe van die verborge saad deur die ritueel van groen takke verseker is.

Die eietydse Kersboomtradisie kan veral na Duitsland teruggevoer word, waar dit teen die begin van die negentiende eeu reeds ‘n instelling was.

Dennebome

Dennebome

Daar is seker min mense wat nie met nostalgie aan die “Kersbome” uit hulle kinderjare terugdink nie. Maar hoe leef hierdie tradisie vandag voort? Ons samelewing het al hoe meer materialisties geword, en die sakewêreld huiwer nie om ook Kersfees ter wille van finansiële gewin uit te buit nie: dink maar aan die skaamteloos soetsappige klokkies en klingels wat reeds van voor einde Oktober jaarliks aan ons opgedring word. Hierdie uitbuiting word deesdae tog toenemend raakgesien en mense begin hulle hierteen uitspreek.

Maar wat sê Kersfees en die Kersboomtradisie vandag op ekologiese vlak vir ons? Omdat die groen gesprek allesomvattend is, moet ons selfs ons Kersfeesgebruike daaraan toets; ook die boom wat ons vir die geleentheid versier. In Your Guide to Green Living in Southern Africa (1990) beveel Waynne McLintock aan dat ons ‘n Kersboom met wortels, pleks van net ‘n afgesaagde tak, moet koop. Wanneer hierdie boom dan te groot word vir sy pot, kan hy in die tuin geplant word. Sodoende kan daar op dié manier bygedra word tot die aanplant van bome (waardeur lugbesoedeling teëgewerk word) en die verfraaiing van die omgewing.

Andersins, sê McLintock, kan ‘n groot potplant as Kersboom versier word. Is dit darem te onromanties na jou sin? Vra jouself dan af wat meer onromanties is en van ‘n groter vervreemding van die omgewing getuig as die groen (of erger nog, wit-en-silwer) plastiekboompie op sy driepootstaandertjie wat in al hoe meer huise as plaasvervanger vir die ware Jakob moet dien. Wanneer Kersboomherinneringe sou kinders wat hiermee grootword eendag nostalgies aan hulle kinders kan oorvertel?

Om ‘n groen Kersfees in die ware sin van die woord te vier, behoort ‘n mens ‘n regte, egte denneboom of spar in ‘n groot pot te hê: ‘n boom waarvan die reuk van naalde en hars kan meng met die geur van die klam grond in die pot, ‘n boom wat die belewenis van die egtheid en eerlikheid van die natuur in elke huis kan indra. Dan behou die Kersboom ook iets van die oorspronklike betekenis wat hy in die feesvieringe gehad het.

Meester Olivier het waarskynlik ook nie presies geweet wat die “ware betekenis” van die Kersboom is nie, want hy het ons nooit daarvan vertel nie, ook nie wanneer hy jaarliks die Kersverhaal voorgelees het voordat die geskenke uitgedeel is nie. Deurdat hy ons saamgeneem het om ‘n tak te gaan uitsoek en te help afsaag, het hy ons egter die geleentheid gegee om ‘n egte ervaring mee te maak, wat waarskynlik op ons ‘n veel groter en blywender indruk gemaak het as wat ‘n duisend woorde sou.

 

Miskien sal ons en ons gesinne Kersfees ook veel intenser beleef indien ons dit met egte dinge uit die omgewing, soos ‘n ware Kersboom, kan vier.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Kersfees op Mont Pelaan”

  1. Ivan Mocke :

    Wat ‘n fassinerende vertelling! Veral die foto naby Memel het my teruggeruk na my eie kinderjare in die Oos-Vrystaat. Lieflik.

  2. Johann Lodewyk Marais :

    Dankie, Ivan. Hierdie tyd van die jaar moet ‘n mens in die Oos-Vrystaat wees. Dan is die landskap magies.

  3. Louis :

    Johann, vir my is die mooiste tyd van die jaar in die Oos-Vrystaat herfstyd; wanneer die plate en plate kosmosblomme langs die paaie staan …
    Onvergeetlik. Om nie eens van die rye geel vuurhoutjiepopuliere in die vleie en om plaasdamme te praat nie!
    Inderdaad ‘n besonderse landstreek met besonderse mense.

  4. Wysneus :

    Ons het ‘n verpotte Outeniekwa geelhout gebruik as krismisboom. ‘n Henkel se geelhout sou seker ook werk.

    Moet tog asseblief nie dennebome uitplant nie.

  5. Johann Lodewyk Marais :

    Ek het tussen denne, seders en bloemkoms grootgeword. In die Oos-Vrystaat is daar min ander bome wat die koue winters kan oorleef.

  6. Wysneus :

    Seker so. Eintlik hoort daar nie bome op die hoë hoëveld nie (‘n minimalistiese ontwerp), maar sonder bome kan mens nie.