Breyten Breytenbach. Klein reis, 25-30 November

Klein reis, 25-30 November                                              

 

*

Die lughawe is nog stadig en leeg in die vroeë ure van die 25ste. Dis Thanksgiving, Kalkoendag. Later sal daar ʼn drukte van Amerikaners wees wat alle paaie en stasies en lughawens oorstroom om by hulle families uit te kom. Om internasionaal te reis is al hoe meer ʼn pyniging.

Die vlug wat jou na Bogotá moet neem is om duistere redes met meer as twaalf uur vertraag. Jy word dus geboek op ʼn vliegtuig na Medellín om daar oor te stap. Die veiligheidsbeamptes, man en vrou, is groot en vet en lui en vaak. Is dit klassewraak of ʼn nuwerwetse vorm van slaafse intimiteit dat dit die armes moet wees (byna almal swart) wat talmend jou lyf bestryk en in jou bagasie vroetel om beslag te lê op ʼn buisie tandepasta wat te groot is? Eerste lig is ʼn geel smeersel buite die glasmure. Hierdie land kom aan die lig as ʼn eindelose grys industriële voorstad. 

 

“May we all be fondled by wanton security guards one day!”

 

*

om die wêreld te kan sê

om die pad te onthou

wanneer die gedagte aan

die groot vergeet voor

nog ʼn aanloklike avontuur is

om te luister hoe groei die boom

en die wind se rondinge met die hand

te verken

om te weet hoe vreet

die vernedering van armoede

en die verdriet van mag

om met ʼn vinger die bloed

te proe en te skryf

om die wordwoord se gesig

te kan teken

om bestaan te sing en besing

dat die sin van syn om te lewe is

 

*

Die reisgenoot langs jou is vriendelik, praat Engels, maar wanneer julle hoog bo die wolkekrulle ʼn onsigbare lyn oorsteek  slaan hy oor na Spaans. Later op die lughawe in Medellín wanneer julle veilig anderkant die versperrings en kontrole met verligting langs mekaar elk in ʼn eie stalletjie van die gemakskamer staan en pis sal hy mompelend wegskram van enige verwysing na familie of die doel van sy besoek. Jy sal wonder of dit te doen het met ‘handel’. Bergagtige landskap oral omheen, klouterende pieke, alles oordek met smaraggroen struike- en boomgroei, die laer hange bewimpel in bewegende newel en hier en daar strepies rook uit die oerwoud wat soos halms boontoe beur. Vuurtjies? Bosbouers wat steenkool maak? Hierdie afgelope weke was die reënval reeds 100% meer as gebruiklik vir die seisoen en dele van die land is oorstroom. In Bogotá maak almal gebruik van taxi’s, dis spotgoedkoop, en die roekelose jaagduiwels in geel motorkarretjies waterskaats deur vleie wat soms tot twee voet diep oor die strate kabbel. Sproeipluime water spat metershoog in boë. Die mense is vriendelik en saggeaard, die vroue en die meisies byna onstigtelik aantreklik, almal vra vir jou waar jy vandaan kom, wat jy van Kolombia ervaar en dink, dis asof hulle dankbaar is vir enige besoeker, niemand probeer iets aan jou verkwansel nie, Amerika is nie vir hulle ʼn verwysing of ʼn fantasma nie, Spanje is ʼn ou koloniale kwelling, al die huise en die tuine is afgesper met tralies en omring deur hoë mure met gebreekte bottelstukke bo-op, dis soos in Kakland, oral sien jy soldate en polisie en private sekuriteitsbeamptes, jong knegteknape met wapens wat te swaar is vir hulle, in die hotel en in restaurante is daar ʼn verdringing van kelners en kelnerinne, onberispelik flink stryk hulle tafeldoeke plat of vryf borde blink, by die lesings kom vreemdelinge met arms wyd op jou af en spreek jou aan as “Poeta!” (wat nie op Kaaps geartikuleer of bedoel word nie, al is daar dalk ʼn verwantskap), dis ʼn normale aanspreekvorm soos ‘dokter’ of ‘meneer’ of ‘mevrou’.   

 

*

 

                        

My drie Kolombiaanse seuns. Darem nie by dieselfde ma nie. Mauricio Diaz, Javier Osuna, Sergio Gama. Saam behartig hulle ʼn stigting met die naam van Fundación Fahrenheit 451. Jy is trots op hulle. Hulle is gesoute joernaliste. Javier is besig om ʼn boek te skryf oor die oorweldigende gewelddadige invloed van para-militêre groeperings op die Kolombiaanse samelewing. Hy het doodsdreigemente ontvang. Hy het hom onttrek aan openbare gesprekke en lewe diskreet. Die stigting werk met minder bevoorregte mense, tieners en vroue. Byna almal is minder bevoorreg hier. Deur vlae reën skuins teen die groen berg (die stad is groen, jakarandabome langs die strate), neem hulle jou na ʼn kulturele standplaas aan die voet van een van die favellas (hier comunas genoem). Die stuk of twaalf jong mense met wie jy gaan gesels is almal bendelede of oud-bendelede. Dis ‘gebied’, dis status, dis beskerming, dis familie, dis oorlewing. Die heersende bende in hulle lokasie se naam is die Palomas (duiwe). Dwelms. Prostitusie. Diefstal. Hulle peper jou met intense vrae oor die skryfproses, die geboortedaad. Een jongeling, hy skeer sekerlik nog nie, staan op en dra spontaan ʼn kort prosavers van ʼn Meksikaanse digter voor. (Later vannag, op ʼn nat sypaadjie buite die stadsbiblioteek waar jy deelgeneem het aan ʼn voorlesing, sal hy weer na jou toe kom en met vurige oë nog ʼn vers vir jou opsê. Sy bene onder die kortbroek is maer.) Die groep maak hulle eie literêre tydskrif. Een uitgawe is gewy aan die werk van José Saramago.    

*

Ek het vir ʼn lang tyd verdwyn. Vriende het my opgespoor in hierdie reënerige stad. In die verlede tyd het ek die koning en die prinses van die land leer ken, of hulle aan wie die rolle soms toegeskryf word, ook die howelinge en die kamerlinge en die bywywe en die vuurspuwers en die spioene en die narre. Ek begelei my vriende langs die sagte glooiing van ʼn groen heuwel na ʼn uitkykpunt bo die smal straatjie tussen moddermure wat hier die stad penetreer. Skemer het toegesak, ʼn ewige grys doek reën. Die koning en sy volgelinge was op pad terug stad toe na ʼn inspeksie van nabyliggende distrikte. Hy gaan die nag vooruit. Die perde se pronkstappies, die klingelende hoewe, die donker-getinte fladderende reënkappe, die geboende borsplate wat dof in die halflig gloei. Die prinses kom verby, geheel in silwer, rooigeverfde wange en skitterende oë, ses hofdames dra die sleep van haar rok. Sy moet stewels aanhê vir die modder. Ek wuif. Sy ignoreer my. Niemand gee my meer enige erkenning nie. Ridders en jagters galop verby, trek hulle perde skerp in die bek en tuimel dan oor die nekke van die rydiere om op die grond bollemakiesie te slaan. Hulle klap op hulle dye met gehandskoende hande. Alkant van die straat is daar mense met sputterende fakkels. Môre begin die feestelikhede. Van môre af is die koning amptelik binne die stadsmure. Daar sal springmielies en lawaaiklappers wees en blomblare om op die see te strooi. My vriende vergesel my na die herberg waar ek al so lank vertoef. Ons moet gaan. Ek moet my kleed gaan haal. By die herberg doen ek navraag na Moestafa, my reisgesel. Ons moet nou vertrek na daardie verre oord. Die herbergier kyk langs sy bruin neus op my neer. Hy beduie na ʼn klein kissie van aangeslaande silwer op die kaggelrak. Die kissie is tot bo vol rooi grond. Weet ons dan nie dat die treine nie meer ry nie? En dat die laaste rooi boot ook vertrek het? Kyk na daardie verrottende karkas, waterswaar, tussen die dobberende haweligte. 

*

Aan die einde van die voorlesing word Liu Xiaobo se werk aan die gehoor voorgestel, sy gedig, vertaal deur Olga Rojas, gelees deur Gonzalo Márquez. Dis reeds in Engels vertaal. Binne enkele dae sou hy in Oslo die Nobel Vredesprys in ontvangs moes neem, maar hy dien ʼn 11-jaar vonnis uit – waarskynlik vir “ondermyning van die staat” (hy is een van die Chinese menseregaktiviste wat Handves 8 gekonseptualiseer het, ʼn oproep vir menswaardigheid en die erkenning van demokratiese regte) – en sy vrou is onder huisarres en familie en vriende word geboelie om nie die oorhandiging by te woon nie. Die proletêre diktatuursbewind in China kry al sissend en skellend katjies. Daar kom ʼn internasionale protespetisie onderteken deur skrywers en komende Maartmaand gaan van Xiaobo se gedigte wêreldwyd voorgedra word. Jy het ʼn voorstel gemaak: dat digters oral in die wêreld ʼn wit masker opsit met daarop geskryf, kalligrafies, EK IS LIU XIAOBO.

Christine Haberstock, ʼn ontwerper van Suid-Afrikaanse afkoms wat al jare lank in Berlyn woon, het gespeel met verskeie moontlikhede.

*

Jy wag vir my met stof

 

Daar bly niks vir jou oor, niks

behalwe om vir my te wag in die stof van ons huis

daardie vergaderde lae wat elke hoek bedelf

jy weier om nog die gordyne oop te trek

sodat lig nie die stilte mag steur nie

 

Oor die boekrak is die handgeskrewe etiket

bedek met stof

die tapyt se patrone adem die stof in

wanneer jy ʼn brief vir my skryf

en jou daarin verheug dat die penpunt

in stof gedoop is

word my oë deur pyn deurboor

 

Die heeldag lank sit jy

en waag dit nie om te beweeg nie

uit vrees dat jou voetstappe die stof sal vertrap

jy probeer jou asem inhou

gebruik stilte om ʼn storie te bou.

Dis by tye soos dié

dat versmorende stof

al is wat getrou bly

 

Jou visie, asem en tyd

hou die stof in stand

in die dieptes van jou siel

word die graf duim vir duim

onder stof begrawe

van jou voete tot die borste

tot aan die keel

 

Jy weet die graf

is jou beste rusplek

waar jy vir my wag

sonder vrees of verskrikking

dis hoekom jy die stof

se donkerte verkies, in kalm verstikking

wag, vir my wag

jy wag vir my met stof

 

En wys sonlig en lugberoering van die hand

sodat stof jou geheel en al toe mag maak

sodat jy in stof mag slaap

totdat ek terugkom

en jy ontwaak

om die stof van jou vel en jou siel te vee

 

Wat ʼn wonderwerk – terug uit die dood.

 

(Liu Xiaobo, 9 April 1999) 

*

En dan word daar geëet in ʼn Persiese restaurant en die eienaar vra of julle al gehoor het van Hafiz en Rumi. En dan word daar verdaag na Javier se huis en groot hoeveelhede aguardiente word uit ʼn kartondoos gedrink. Buite is die nag glimmend en nat soos ʼn vlies van swart sy oor die strate met die enorme slaggate wat so rats deur die taxidrywers vermy word. En dan beland julle in ʼn nagklub waar die salsa onophoudelik deur die lywe klop. ʼn Oorgewig jong digter met ʼn bos krulhare sit en ruk soos ʼn ritmiese jellievis. Die Japanse digter wat slegs in Spaans skryf se oë word moeg en hy hou jou vas en skuifel lomp oor die vibrerende vloer. Die glase is vol rhum; die goue vog loop soos byeverdriet in jou keel af. Javier dans nie, vertel dat hy gewoonlik die nagte om dans, jy het gesien hy loop kruppel, nou hoor jy hy het ʼn koeël in die een been, minder as ʼn maand gelede is hy op straat oorval en toe hy hom teësit het die rower, byna nog kind, hom geskiet. ʼn Digter, eintlik ʼn mediese dokter, dans so knap en so vinnig dat jy nie sy voete se bewegings kan volg nie, sy heupe klap soos vingers. Selfs Gonzalo Márquez staan op en lig sy glas en begin beweeg dan, en dans en dans. Vroeër vanaand het jy vir hom een van sy gedigte in Afrikaans laat klink. (Ver in die wêreld, Kitty…)

 

*

Testamento del agua

A veces una página es la piel de las ausentes

A veces en hojas de carne anoto mis silencios

A veces escribo en los idiomas de la muerte

 

Nalatenis van water

Soms is die bladsy die vel van afwesiges

Soms pen ek my stiltes neer in blare van vlees

Soms skryf ek in al die tale van die dood

 

*

En Olga vertel vir my hoe moeilik dit is om ʼn Kolombianer te wees. Die skaamte. Mense met ʼn bietjie Afrikabloed in die are is skaam daaroor. Baie het Afrikabloed in die are. Mense van gedeeltelike indigeno afkoms skaam hulle daarvoor. Haar moeder het nooit plathakskoene gedra nie want dis wat die Indiane doen. Baie mense het Indianebloed in die are. (Jy het hulle gesien op straat, hoe hulle versiersuikerde soetighede en gebraaide mielies verkoop; jy het hulle fluisteringe gehoor, dit was soos baie ou reën.) Mense weet Kolombia word vereenselwig met kokaïenehandel. Die skaamte. Die regering en die smokkelbendes en die paramilitarios en die ‘bevrydingsbewegings’ lewe almal van die kokaïene. Mense weet dis ʼn land van staatsgrepe en opstande en marteling en korrupsie. Hulle is skaam daaroor.

 

*

Olga vertel jou die skrywer se “kin” volgens die vervloë Maja-kalender is “Wit Kristal Wêrelde-oorbrûer”. Sy sê daar is ʼn gedig wat dit uiteensit en sy wil dit met jou deel.

                                      Groen Sentrale Kasteel van Betowering

                                      Aardfamilie Kardinaal Stambloed

                                      Ek dra op om gelyk te kan maak

                                      Geleentheid vir almal toeganklik

                                      Ek verseël dood se stoorkamer

                                      Met die kristalklank van samewerking

                                      Word ek gelei deur die mag van oneindigheid

Dan wys sy vir jou die illustrasie van die voertuig wat die skrywer deur tyd en ruimte dra. In die middel is die Wit Kristal Wêrelde-oorbrûer en wat jou rig is die Wit Spieël sodat jy eindeloosheid mag reflekteer en benadruk. Aan jou linkersy is daar die Geel Kryger, jou teenpool, wat jou bevraagteken en jou intellek verskerp. Regs van jou is die Rooi Hemelloper, hy wat soos jy is en wat eweneens ruimte verken en beken. En onder is jou geheim, die Blou Arend wat ʼn visie vir jou skep en oopmaak.   

         

 

En ons

planeet

wentel deur

die nag

 

 

 

 
© Breyten Breytenbach. Desember 2010
Bookmark and Share

6 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Klein reis, 25-30 November”

  1. Louis :

    Breyten, dankie vir ‘n besonderse bydrae tot die webblad. Net vinnig twee vragies:
    1> Volgens gerugte bestaan daar ‘n algemene opvatting dat die jaarlikse poësiefees te Medellin die grootste ter wêreld is. Vind jy dat ander poësiegeleenthede (soos die wat jy in jou stuk beskryf) met dieselfde entoesiasme ondersteun word? Maw is daar in Kolombia regdeur die jaar die frenetiese aktiwiteit en belangstelling as wat ‘n mens rondom die Medellin-fees bespeur?
    2> Die hele Liu Xiaobo-gedoente vind ek erg ontstellend. Wat wel vir my vreemd is, is dat prominente Chinese digters soos Bei Dao en ander tjoepstil is in die hele situasie … Of is ek verkeerd?
    Met waarderende groete,
    Louis

  2. Breyten :

    Ai ai ai… praat van pinkie en hele skouer…

    Die Medellín fees trompetter hoog en laag dat hulle die grootste is, en dis nie waar nie. Wat wél waar is, is dat hulle die grootste aantal toehoorders lok vir hulle openings- en afsluitings-seremonies. Tot 6000 mense! Dit gebeur in die opelug in ‘n soort Romeinagtige amfiteater en dis ‘n sidderende ervaring. Veral omdat die publiek saampraat. Medellín het ook die gebruik om die digters in allerhande openbare plekke te laat optree – soos in die tronk, waar ek by geleentheid byna ‘n hele dag deurgebring het (ek het sommer hartseer van verlange geword) en wonderlike digters ontmoet het. of groepies digters word gevlieg na Cartagena of ander stede om dáár te gaan knor en koer. Dieselfde het my oorgekom in Venezuela. In die ‘provinsies’ is die kontak tussen publiek en voordraers baie intens. Die digkuns beklee ‘n veel belangriker rol in Latyns-Amerika as elders. Digters is gesiene mense. (Die Here help ons.) En daar is ‘n ou en deurlopende tradisie van sosiale en daarom politieke betrokkenheid. Dit beteken egter nie noodwendig dat daar deur die jaar meer aktiwiteite as op ander plekke sal wees nie.

    Die grootste literêre fees in terme van deelnemers is die Berlynse Internasionale Literatuurfees, eens per jaar in die laatsomer. Die oudste en mees roemryke fees, die oermoeder van almal, bly die Internasionale Poësiefees van Rotterdam. Maastricht is waar die meeste drank verbete en met stywe oë in keelgate gegooi word; tot so ‘n mate dat geen poeheet weet of onthou hoe om van punt A tot punt B te kom sonder om eers ‘n mildelike bydrae opgooisel te maak as diepgroet vir punt of kommetjie C nie. Terloops, ek dink amper dat Durban se Poetry Africa huidiglik die beste fees is: net die regte kombinasie van stywe bo-lip en los litte. Dis seker deel van die kreatiewe spanning tussen vorm en beweging.

    Maar ek dink dis totale lawwigheid om ‘n fees te wil meet aan haar grootte. ‘n Digtersfees, net soos die digkuns self, is nié ‘n groei-besigheid nie. Die revolusionêre besef is dat genoeg beter as méér is.

    Bei Dao, Duo Duo, Yang Lian (al het hy die petisie onderteken) en ander uitgeweke of dissidente Chinese digters, buite en binne, is deurboor deur die vurktande van teenstrydigheid. Hulle is geweldig sensitief oor die implikasies van die proses, voel hart en niere daarvoor, laat weet aanmekaar hoe ‘n riem onder die hart dit vir Chinese skrywers is – maar hulle het bejaarde ouers wat met waterige oë sit en wag dat die verlore seun of dogter tog net één keer kan kom kuier vóór die doodsdonkerte van eeue, en hierdie digters wéét hulle gaan geviktimiseer word, kalk kou in die gevangeniskampe (China se gulag is groter as wat die Sowjet-unie s’n ooit was), of waar hulle ook mag gaan agtervolg en vervolg sal word. Mens speel nie met die Chinese owerhede nie. Hulle is anderster verslindend as Adriaan Voetewas Vlok of Bolloks en O-Koot Vorster en hulle agterbroederryers was. En die Chinese digters weet ook dat ‘Westerse’ verontwaardiging en steun vir hulle penarie eendagvliegsverskynsels is. Persoonlik neem ek hulle nie in die minste kwalik vir hulle besluit om weg te koes agter die skanse nie en dit sal ‘n besonder kwade dag wees as ons wat eintlik geen hond in die fight het nie en dikwels kantlynskreërs en borstrommelaars is hulle begin beskuldig van lafhartigheid.

    Ek weet dis nie wat jy bedoel het nie!

    Groete,

    Breyten

  3. sebra :

    Hierdie man, Breyten, is ‘n towenaar. Hy laat papier sing. Dankie vir ‘n wonderlike Kersgeskenk.

  4. Hoe verdra ‘n mens sulke woorde? Dankie, dankie.

  5. Melanie Grobler :

    Breyten, my broerskind is onlangs getroud met ‘n klein Kolombiaanse meisiekind, skaars twee en twintig jaar oud, wat haar land verwoed verdedig teen enige aanslae wat na haar kant toe kom! Johan en Lucia is dan ook in Bogota getroud. Toe hulle mekaar trou beloof het, het die priester ‘n klein dosie opgemaak. In die daar opvolgende sekondes en minute het ‘n duisend geel vlinders hulle vlerkies oor die kerkgangers gefladder. Wat ek so by myself gedink het, is dat magiese realisme ‘n manier is om die werklikheid van daardie land te oorleef.
    Soos altyd, Melanie

  6. engemi ferreira :

    Ja sebra, ek stem saam. Nog al die jare, maar nou veral. Baie dankie Breyten
    En Melanie, wat ‘n mooi beeld om mee aan te sluit; die digters soos vlinders oor die feeste vliegend, en ek wonder of die soort van “magiese realisme” nie dalk ook hier, waar dinge onderdruk bly en slegs sporadies sigbaar word, verligting sou kon bring nie