Gustav S. Preller (1875-1943): ‘n Profiel

Johann Lodewyk Marais

 

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller

1.         Inleiding

 

Gustav S. Preller (1875-1943) was ‘n veelsydige mens en het ‘n prominente rol as artilleris tydens die Anglo-Boereoorlog, taalstryder, joernalis en koerantredakteur, literêre kritikus en geskiedkundige gespeel. In heelparty gevalle was sy invloed die grondslag en prikkel vir verdere inisiatiewe binne die Afrikaanse kulturele wêreld. F.A. van Jaarsveld beskryf Preller as “‘n man met enorme energie en werkkrag en besiel met liefde vir sy volk en dié se verlede, ‘n kind van sy tyd”.[1]

In hierdie profiel val die klem op Preller as historikus, veral as verteenwoordiger van ‘n nasionalistiese Afrikanergeskiedskrywing. Afdeling 2 bevat ‘n kort lewenskets wat as agtergrond vir sy geskiedbeskouing dien en die leser ‘n beeld van hom as geskakeerde persoon gee. In afdeling 3 volg ‘n oorsig van sy geskiedkundige publikasies oor veral die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog, in afdeling 4 besonderhede oor die erkenning wat hom gedurende sy leeftyd en daarna te beurt geval het en in afdeling 5 word sy rol as nasionalistiese historikus krities onder die loep geneem. Die profiel word afgesluit met ‘n kort samevatting.

Soos dit uit die enigsins kursoriese bibliografie blyk, is baie oor Preller geskryf en word vandag nog van hom notisie geneem. “Oor geen Afrikanerhistorikus is so veel geskryf as oor Preller nie – nie net na sy dood nie, maar nog tydens sy lewe,” aldus Van Jaarsveld.[2] Aandag aan Preller se werk kom van sowel Afrikaanse as Engelse historici, wat baie oor sy nasionalistiese Afrikanergeskiedskrywing te sê het. Aangesien Preller homself in die eerste plek as ‘n Afrikanerhistorikus beskou het, is dit nie onvanpas om hierdie faset in meer besonderhede te behandel nie. Interessant genoeg gee die beskouings oor Preller ons ook ‘n blik op die beskouings van sommige historici wat hulle ideologies binne die Suid-Afrikaanse situasie probeer posisioneer.

 

2.         Lewensloop

 

Gustav Schoeman Preller is op 4 Oktober 1875 in Pretoria gebore. Hy was die oudste kind van kommandant Robert Clunie Logie Preller (1846-1916) en Stephina Maria Aletta (gebore Schoeman).[3] Preller het grootgeword op die Hoёveld van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) “met sy ou-wêreldse mentaliteit van die vóór-industriёle tydperk”[4] waar hy “die vaste roetine van daaglikse skoolgaan vry[spring]”[5] en nie sy skoolopleiding op Standerton voltooi nie. Nadat Preller ‘n ruk lank enkele ander betrekkings beklee het, begin hy in Augustus 1893 in Pretoria as vyfde klerk by die Departement van Mynwese werk.[6] In April 1898 trou hy met Johanna Christina (Hannie) (geb. Pretorius) Preller (1878-1975), ‘n direkte afstammeling van sowel Piet Retief as Andries Pretorius,[7] leiersfigure tydens die Groot Trek.

Tydens die Anglo-Boereoorlog veg Preller as artilleris in Natal en later in Oos-Transvaal. Op 11 Januarie 1902 word hy en “die oorlewendes van die korps Staatsartillerie”[8] naby Carolina gevange geneem en ‘n maand later met die Tagis[9] as krygsgevangenes na die Nilghiri-heuwels in Brits-Indiё gestuur.[10] Na sy terugkeer word hy deur Eugène N. Marais (1871-1936) oorreed om nie na Argentiniё te emigreer nie, maar as redakteur by Land en Volk aan te sluit.[11] Preller gaan werk later by De Volksstem totdat hy in 1925 redakteur van Ons Vaderland (later Die Vaderland) word. Deur al die jare het Preller en Marais ‘n besonder hegte verhouding gehad. In 1932 word Ons Vaderland, waarvan Preller eienaar en redakteur was, na ingryping deur generaal J.B.M. Hertzog om die koerant van finansiële ondergang te red, deur die Noordelike Drukpers Maatskappy oorgeneem[12] en die koerant se naam na Die Vaderland verander. Preller bly tot aan die einde van Februarie 1936 hoofredakteur, maar eintlik net in naam, aangesien sy besluitnemingsmag aansienlik ingekort is.[13]

Ná Preller se uittrede in 1936 het die gesin hulle huis in Blackwoodstraat, wat binne loopafstand van die Staatsargief in die kelder van die Uniegebou was, verhuur en permanent op Pelindaba gaan woon in die huis wat hy in die inheemse “Transvaalse styl” laat bou het.[14] Daar het Preller as historiese navorser van die Departement van Binnelandse Sake sy geskiedskrywing en insameling van bronne vir die Staatsargief voortgesit.[15] Na sy dood op 6 Oktober 1943 word hy op sy plaas begrawe.

Preller het dwarsdeur sy lewe ‘n belangrike rol op kulturele en politieke gebied gespeel. Deur bydraes op verskeie terreine beywer hy hom vir die bevordering van Afrikaans, onder meer as een van die leiers van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Hy was ook betrokke by die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap en die Z.A. Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (die latere Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns). In 1910 bring hy ‘n Afrikaanse tydskrif, Die Brandwag, tot stand. Benewens sy joernalistieke bydrae, lewer hy ook beduidende werk as prosaïs, literêre kritikus, vertaler en natuurlik as historikus. Hy beywer hom vir sowel natuur- as kultuurhistoriese bewaring, byvoorbeeld deur die versorging en uitgee van ou dagboeke soos dié van Louis Tregardt in 1917. Hy neem ook aan die Afrikaanse toneel deel en skryf in 1916 die draaiboek vir die rolprent De Voortrekkers.

 

3.         Publikasies

 

Preller het ‘n groot aantal publikasies die lig laat sien, wat in “drie afdelings” ingedeel kan word, naamlik “sy werke oor die Groot Trek, sy werke oor die Anglo-Boere-oorlog en verskeie werke wat buite hierdie twee terreine val”.[16]

Preller se publikasies oor die Groot Trek sluit die volgende in: Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker;[17] Baanbrekers: ‘n hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal;[18] Dagboek van Louis Trigardt, 1836-1838, met inleiding en aantekeninge;[19] Voortrekkermense, ‘n sesdelige versameling dokumente oor die Groot Trek;[20] Voortrekkerwetgewing: notule van die Natalse Volksraad, 1939-1945;[21] Die Retief-Dingaan-ooreenkoms” in Annale van die Universiteit van Stellenbosch;[22] Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommando;[23] Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker-kommandant-generaal;[24] en Ou-Pretoria: sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode.[25]

Preller se publikasies oor die Anglo-Boereoorlog sluit die volgende in: Kaptein Hindon: oorlogsawenture van ‘n baas verkenner;[26] Generaal Botha: ‘n paar besonderhede en ‘n paar foto’s, 27 Sept. 1862-27 Augustus 1919;[27] Oorlogsoormag en ander sketse en verhale;[28] Ons parool: dae uit die dagboek van ‘n krygsgevangene;[29] Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland: 1 Oktober 1901-18 Januarie 1902;[30] en Talana: die drie generaals-slag by Dundee, met lewenskets van genl. Daniel Erasmus.[31]

Preller se publikasies oor ander onderwerpe sluit die volgende in: Agt jaar s’n politiek: skoon geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Party, 1902-1910,[32] “Suid-Afrika s’n Boere republieke: ‘n historiese resumé”;[33] Historiese opstelle;[34] Sketse en opstelle;[35] Die Grobler-moord: historiese rekonstruksie van die opkoms en ondergang van die Matabele-dinastie, 2 dele;[36] Ons goudroman: die Marais-dagboek (1849-1865);[37] Daglumier in Suid-Afrika: oorsig van die geskiedenis van Suid-Afrika van die vroegste tye tot 1881;[38] Geskiedenis van die Krugerstandbeeld;[39] Voortrekkers van Suidwes;[40] en Lubengula: the tragedy of a Matabele king.[41]

Sommige van hierdie werke, soos die biografieё oor Piet Retief en Andries Pretorius, getuig van omvattende en voortgesette navorsing,[42] terwyl ander “feitlik pamflette” en “oppervlakkig” is.[43] Op grond van die beperkte omvang van heelparty van Preller se publikasies en omdat ‘n groot aantal daarvan uit bronnepublikasies en verwerkte herinneringe bestaan, is sy bydrae ten opsigte van die omvang daarvan, soos B.J. Liebenberg dit stel, “nie so indrukwekkend as wat dit by die eerste oogopslag mag voorkom nie”.[44]

 

4.         Erkenning

 

Preller is gedurende sy lewe op verskillende maniere vir sy werk vereer. In die eerste plek is daar die talle publikasies oor sy werk wat oor die jare heen die lig gesien het.[45] Daar was egter ook ander eerbewyse. In 1930 ken die Universiteit van Stellenbosch aan hom ‘n eredoktorsgraad in die Filosofie toe. In Nederland word hy benoem tot lid van die Historisch Genootschap van Utrecht en van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden.[46] In 1970 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Gustav Preller-prys ingestel, wat elke drie jaar aan ‘n Afrikaanse letterkundige toegeken word “for meritorious work in the field of literary studies”.[47] Sy woning op Pelindaba is in 1973 gerestoureer en tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.[48]

 

5.         Waardering en kritiek

 

Die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog waaroor Preller talle publikasies die lig laat sien het (kyk afdeling 3), was tot in die derde kwart van die twintigste eeu “main foci of the Afrikaner’s historical image”.[49] Preller se opvattings is gevorm deur “die Afrikaner se ellipsvormige geskiedbeeld met sy twee pole, naamlik die Groot Trek en die Eerste Vryheidsoorlog, en dié se religieuse grondslag wat godsdiens en geskiedenis ten nouste in Ou Testamentiese sin verbind het. Hierdie geskiedbeeld is verdiep deur sy oorlogservaring van 1899-1902”.[50] Preller het met sy “filosofiese fundering van die nasionalistiese ideologie wat voor die Oorlog ontbreek het”[51] ‘n historiese bewussyn nagestreef wat ‘n nasionale bewussyn kon kweek; ook andersom. Hy het derhalwe “die Afrikanervolk afgegrens uit die breё Suid-Afrikaanse geskiedenis en sy unieke posisie beklemtoon”.[52] Sy belangrikste protagonis was die Engelse van wie die Voortrekkers in die Kaapkolonie weggetrek het en teen wie hulle weer tydens die Anglo-Boereoorlog te staan gekom het. Preller het hierteen ‘n stryd gestry en aangesien sy nasionalistiese geskiedskrywing, geloof in onpersoonlike kragte en vryheidsdrang ‘n reaksie teen Britse Imperialisme was en sy geskiedskrywing ‘n hoё gevoelfrekwensie of emosionele inslag gehad het, “hou dit veel van die Romantiek in”.[53] Die geskiedenis moes vir hom die “kontinuїteit”[54] in die Afrikaner se geskiedenis bewerkstellig waarop die volk trots moes kon wees. Sodoende het Preller “as argitek van die toekoms opgetree en ‘n filosofiese fundering aan Afrikanernasionalisme verskaf”.[55]

Direk ná die Anglo-Boereoorlog het Preller met sy “alternatiewe, opposisionele volksgeskiedenis” die Afrikaners wat pas die oorlog verloor het, verdedig en hulle bestaan “gewettig en geregverdig”.[56] Preller het dus die geskiedskrywing as hulpmiddel gebruik om sy volk te inspireer deur hulle met nuwe oё na hulle geskiedenis te laat kyk. Sy eerste werke het oor die Groot Trek gehandel, is in Afrikaans geskryf en het onder meer verset teen die verengelsingsbeleid van lord Alfred Milner getoon.

Aangesien Preller baie publikasies oor die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog die lig laat sien het, kan met veiligheid aangeneem word dat sy beeld van die geskiedenis in ‘n tydperk toe daar min ander historiese werke in Afrikaans bestaan het, ‘n groot invloed op sy leserspubliek gehad het. Preller se 341 bladsy lange debuutwerk Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker is in 1905 kort na die Anglo-Boereoorlog en midde-in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging gepubliseer en het “sy weg tot die ‘hart’ van die ‘volk’ gevind”,[57] wat dit ‘n grensoorskrydende werk maak. Dit was “die eerste noemenswaardige lewensbeskouing van ‘n Voortrekkerleier”, “die mees gelese biografie in Afrikaans” en “naas J.H.H. de Waal se roman Johannes van Wyk, die eerste prosawerk van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging”.[58] Teen die 1930’s is 15 000 eksemplare van die boek verkoop, wat dit nog steeds een van die suksesvolste biografieё in Afrikaans maak.

Dit is belangrik om kortliks aandag te gee aan Piet Retief, waarvoor Preller wyd navorsing gedoen het. In die boek word deur middel van voorwoord(e), voetnote, erkenning van koerantberigte, mondelinge bronne, geslagsregisters, gedenkskrifte en argivale en gepubliseerde bronne rekenskap van die navorsing gegee. Tersaaklike dokumente word in die “Bijlage” afgedruk. Die boek sluit af met ‘n “Bladwijzer”, ‘n verdere bewys dat Preller en J.L. van Schaik hulle bes probeer het om wetenskaplike aanskyn aan die publikasie te gee. M. Lombard toon aan hoe krities Preller met sy bronne omgegaan het en met min gegewens tot sy beskikking ‘n beeld van die jong Retief geskets het.[59] Preller lê verder veral klem op die Groot Trek as ‘n volksbeweging waaraan duisende mense deelgeneem het. Die voorstelling klop met Preller se geskiedbeskouing wat hy in een van sy sleutelopstelle soos volg verwoord het:

“Dit is ‘n gebeurtenis wat in sy soort altemit uniek is in die geskiedenis van die mensheid, waarin ons duisende en nogmaals duisende mense spontaan sien oorgaan tot ‘n sekere, algemene handeling: die gesamentlike beweging om hul vaderland te verlaat, en elders anderkant die grens, vir hulle ‘n eie vry land te vestig. In Retief, miskien ook in Potgieter, in Pretorius e.a. leef daardie ideaal bewus. By die massa is ‘t vaag. Tog berus by die massa alleen die mag tot handeling.”[60]

Liebenberg noem Piet Retief Preller se “beste werk”.[61]

Preller het Piet Retief in 1937, ‘n jaar voor die honderdjarige herdenking van die Groot Trek, met ‘n ewe groots opgesette werk, Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker-kommandant-generaal, opgevolg. Volgens Ken Smith was Preller in hierdie werk “strongly under the influence of the racial theories of National Socialism and he tried to establish parallels between the theories of National Socialism and the Teutonic tribal migrations in Europe. The issue of race came strongly to the fore.”[62] Die werk was andersins ook nie so suksesvol soos Piet Retief nie, onder meer op grond van die lang aanhalings “wat van drie tot sewe bladsye beslaan”.[63]

Uit die groot hoeveelheid bronne wat hy tydens die navorsing vir sy biografieё opgespoor het, was massas ongepubliseerde eerste- en tweedehandse bronne oor die Groot Trek, wat Preller in verskeie bronnepublikasies opgeneem het. Een van die belangwekkendste hiervan was Dagboek van Louis Trigardt, 1836-1838.[64] Vir Preller was hierdie dagboek oor die epiese tog van Trigardt van belang vanweë die “kennis van sy volk en hul vrydheidsin”.[65] Preller versorg ook Voortrekkermense, ‘n sesdelige versameling dokumente oor die Groot Trek.[66] Met hierdie publikasies het hy ‘n magdom bronne oor die Groot Trek aan toekomstige navorsers beskikbaar gestel en getoon dat hy in die voortgang van die wetenskaplike bestudering van die geskiedenis belê. Die bronnepublikasies, wat onder meer talle herinneringe bevat van mense wat self die Groot Trek meegemaak het, word as “een van die grootste bydraes van Preller tot die Suid-Afrikaanse historiografie” beskou.[67]

As outodidak wat sy skoling in Duitse en Franse vakkundige boeke gehad het,[68] het Preller se werk in ‘n voor-akademiese fase van die bestudering van die geskiedenis talle leemtes getoon. Sy dokumentering was nie altyd duidelik nie, aanhalings uit dokumente is meermale in vertaalde vorm gegee, die negentiende-eeuse Engelse koloniale beleid teenoor die Voortrekkers word nie in sy biografieё behandel nie, min aandag word aan die materiёle oorsake van die Groot Trek gegee, soms vermeld hy net die dag en maand van ‘n gebeurtenis, bronne word dikwels in die teks ingevleg en nie in voetnote opgeneem nie, en bronne word foutief gebruik.[69] Preller se aanhalings uit dokumente was ook “uiters onnoukeurig”,[70] terwyl sy taalgebruik wat deur sommige historici geprys is ook eksentrieke elemente bevat wat “‘n mens eerder irriteer as plesier”.[71] Hierdie gebreke in Preller se werk het ongelukkig bygedra om ‘n skaduwee oor sy bydrae as historikus te werp en hom waarskynlik ten onregte die beeld van ‘n enigsins argaїese en verstokte persoonlikheid besorg.

Preller het heelwat moeite gedoen met sy “ontkennings en weerleggings van en verontwaardiging oor die Engelse historiese voorstelling” van die Afrikaner.[72] Vir hom was die voortbestaan van die volk en die vaderland immers belangrik en moes Afrikaners “hulle eie identiteit behou”.[73] Daarom staan vryheid sentraal in sy werk en is die Afrikanergeskiedenis vir hom “enersyds ‘n worsteling van baanbrekers teen inboorlinge om die land bewoonbaar te maak en andersyds ‘n vryheidstryd teen Britse oorheersing”.[74] Preller se geskiedskrywing was “in diens van die lewe[75] en hy het ‘n besondere gevoel vir die gewone mens gehad, wat hom ‘n hoogs suksesvolle “populariseerder van die geskiedenis”[76] gemaak het.

Die feit dat, soos Van Jaarsveld dit stel, “die Afrikaners as aparte volk binne die Britse Unie van Suid-Afrika ook ‘n aparte, isoleerbare geskiedenis van Suid-Afrika het, wat dié geskiedenis van die land verteenwoordig”,[77] was skering en inslag van Preller se geskiedskrywing. Dit het ongelukkig meegebring dat hy “[d]ie eis dat die geskiedskrywer onpartydig of neutraal of objektief teenoor die verlede moet staan” met minagting verwerp het.[78] Sy beeld as historikus is ook geskaad deur sy negatiewe sienings van Engelse en swart mense.

Preller se simpatie met die Afrikaner se geskiedenis het weliswaar ook winste vir sy werk as historikus gehad. Dit het hom minstens in staat gestel om “‘n simpatiek, begrypende en liefdevolle uitbeelding van sy volk se verlede te gee”.[79] Sy werk was daarom ook “‘n belangrike korrektief op die werk van skrywers soos H. Rider Haggard, John Nixon, Alexander Wilmot, J. Cappon, A.M.S. Methuen en andere wat met vyandige oё na die Afrikaner gekyk het”.[80] Onder Afrikaanstalige historici sal hy bowendien ‘n besondere plek as iets van ‘n herout van Afrikaanse historici inneem.

 

6.         Samevatting

 

Gustav S. Preller is ‘n goeie voorbeeld van ‘n historikus wie se lewensverhaal nou verweef was met die onderwerpe wat hom as historikus die meeste besig gehou het. Tydens sy vormingsjare aan die einde van die negentiende eeu en tydens die eeuwisseling is hy blootgestel aan belangrike politieke gebeure en omwentelinge van die tyd. Deur sy huwelik met ‘n afstammeling van twee van die Voortrekkerleiers en kennismaking met mense wat self ooggetuies van sleutelgebeure was, het hy bowendien as ‘t ware ‘n bloedband met die geskiedenis gehad. Dit verklaar minstens ten dele Preller se onomwonde partydigheid vir die Afrikaner se geskiedenis. Preller se “leefwêreldlike ervaring [het] ‘n rol in [sy] siening van die geskiedenis gespeel en [sy] geskiedskrywing is dus deur hede-betrokkendheid gekenmerk”.[81] Die sentimente en opvattings wat uiteindelik in Preller se sterk Afrikaner-nasionalistiese geskrifte neerslag gevind het, sou egter maklike teikens word vir historici wat met aspekte van die Afrikaner se geskiedenis in ‘n geding getree het en min begrip vir Preller as kind van sy tyd toon. Preller se “geskiedenisboeke [het] afgegly na die vlak van tydsdokumente waaruit studente sy gees, tyd en omstandighede kan leer ken”,[82] maar ‘n historikus wat vandag ‘n omvattende werk oor (onder meer) die Groot Trek wil skryf, sal dankbaar van Preller se onherhaalbare navorsing gebruik kan maak.

Terwyl Preller aanvanklik wyd gelees is en groot lof deur tydgenootlike en later historici soos J.J. Oberholster,[83] D.W. Krüger[84] en J.S. du Plessis[85] toegeswaai is, het die kritiek teen sy werk met verloop van tyd toegeneem. Liebenberg het aangevoer dat Preller se “bydrae tot die opwekking van Afrikaner-nasionalisme […] hoёr aangeslaan [moet] word as sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywng”.[86] Isabel Hofmeyr het aandag gegee aan die rol van Preller as populariseerder van die geskiedenis van die Groot Trek, waardeur hy as belangrike miteskepper van hierdie geskiedenis en die uiteindelike viering van die Simboliese Ossewatrek van 1938 in die spervuur is.[87] (Ook Van Jaarsveld noem hom “die skepper van ‘n Groot Trek-mite wat tot vandag toe nog bestaan”.[88]) Met sy omvangryke oeuvre het Preller, wat “in sy persoon die eienskappe van beide kunstenaar en wetenskaplike” verenig het,[89] egter veel nagelaat waarmee ook die kritiese en afwysende leser van ‘n ander era hom of haar mee kan besig hou.

 

7.         Bronne

 

ANTONITES, A.J., Gustav Schoeman Preller. In: De Klerk, W.J. (hoofred.) Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Kaapstad, 1968.

Bosman, Martjie, Awards for South African literature. Pretoria, 1988.

De Klerk, W.J. (hoofred.), Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Kaapstad, 1968.

DU PLESSIS, J.S., Dr. Gustav Preller as historikus van die Groot Trek in B.J.  Liebenberg (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie. Pretoria, 1975.

DU PLESSIS, P.J., Die lewe en werk van Gustav Preller, 1875-1943. Universiteit van Pretoria, 1988. Ongepubliseerde DPhil-proefskrif.

Hofmeyr, Isabel, Popularising history: the case of Gustav Preller, AFS Forum, UNISA, 1988. Ongepubliseerde MS.

Holm, Albrecht., HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam, 2005. CD-ROM.

KRÜGER, D.W., G.S. Preller as geskiedskrywer in B.J. Liebenberg (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie. Pretoria, 1975.

LIEBENBERG, B.J., Gustav Preller as historikus, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1975.

LIEBENBERG, B.J. (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie. Pretoria, 1975.

LOMBARD, M., Gustav Preller as historikus, Tydskrif vir Letterkunde 13(4), November 1975.

OBERHOLSTER, J.J., Die neerslag van die Romantiek op ons geskiedskrywing – Gustav S. Preller in B.J. Liebenberg (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie. Pretoria, 1975.

PRELLER, Gustav S., Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker. Pretoria, 1905.

PRELLER, Gustav S., Agt jaar s’n politiek: skoon geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Party, 1902-1910. Pretoria, 1910.

PRELLER, Gustav S., Baanbrekers: ‘n hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal. Pretoria, 1915.

PRELLER, Gustav S., Kaptein Hindon: oorlogsawenture van ‘n baas verkenner. Pretoria, 1916.

PRELLER, Gustav S., Dagboek van Louis Trigardt, 1836-1838, met inleiding en aantekeninge. Bloemfontein, 1917.

PRELLER, Gustav S., Voortrekkermense: dele I-VI. Kaapstad, 1918-1925 en 1938.

PRELLER, Gustav S., Generaal Botha: ‘n paar besonderhede en ‘n paar foto’s, 27 Sept. 1862-27 Augustus 1919. Pretoria, 1920.

PRELLER, Gustav S., Oorlogsoormag en ander sketse en verhale. Kaapstad, 1923.

PRELLER, Gustav S., Voortrekkerwetgewing: notule van die Natalse Volksraad, 1939-1945. Pretoria, 1924.

PRELLER, Gustav S., “Die Retief-Dingaan-ooreenkoms in Annale van die Universiteit van Stellenbosch IIB, no. 1. Kaapstad, 1924.

PRELLER, Gustav S., Historiese opstelle. Pretoria, 1925.

PRELLER, Gustav S., Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommando. Bloemfontein, 1928.

PRELLER, Gustav S., Sketse en opstelle. Pretoria, 1928.

PRELLER, Gustav S., Die Grobler-moord: historiese rekonstruksie van die opkoms en ondergang van die Matabele-dinastie, 2 dele. Pretoria, 1930.

PRELLER, Gustav S., Ons goudroman: die Marais-dagboek (1849-1865). Pretoria, 1935.

PRELLER, Gustav S., Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker-

kommandant-generaal. Johannesburg, 1937.

PRELLER, Gustav S., Daglumier in Suid-Afrika: oorsig van die geskiedenis van Suid-Afrika van die vroegste tye tot 1881. Pretoria, 1937.

PRELLER, Gustav S., Ou-Pretoria: sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode. Pretoria, 1938.

PRELLER, Gustav S., Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland: 1 Oktober 1901-18 Januarie 1902. Kaapstad, 1938.

PRELLER, Gustav S., Geskiedenis van die Kruger-standbeeld. Pretoria, 1939.

PRELLER, Gustav S., Voortrekkers van Suidwes. Kaapstad, 1941.

PRELLER, Gustav S., Talana: die drie generaals-slag by Dundee, met lewenskets van genl. Daniel Erasmus. Kaapstad, 1942.

PRELLER, Gustav S., Ons parool: dae uit die dagboek van ‘n krygsgevangene. Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth, 1943.

PRELLER, Gustav S., Lubengula: the tragedy of a Matabele king. Johannesburg, 1963.

SMITH, Ken, The changing past: trends in South African historical writing. Johannesburg, 1988.

VAN JAARSVELD, F.A., Omstrede Suid-Afrikaanse verlede: geskiedenisideologie en die historiese skuldvraagstuk. S.l., s.a.

VAN JAARSVELD, F.A., Afrikanergeskiedskrywing: verlede, hede en toekoms. S.l., s.a.

VAN JAARSVELD, F.A., Omstrede Suid-Afrikaanse verlede: geskiedenisideologie en die historiese skuldvraagstuk. S.l., s.a.

VAN JAARSVELD, F.A., Geskiedkundige verkenninge. Pretoria, 1974.

 

 


 

Eindnote

 

[1] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing: verlede, hede en toekoms, p. 19.

[2] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 18.

[3] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller, 1875-1943, p. 19.

[4] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 19.

[5] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, p. 20.

[6] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, p. 34.

[7] A.J. Antonites, Gustav Schoeman Preller in W.J. de Kock, Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek: deel I, p. 673.

[8] Gustav S. Preller, Ons parool: dae uit die dagboek van ‘n krygsgevangene, p. 1.

[9] Gustav S. Preller, Ons parool …, p. 59.

[10] Gustav S. Preller, Ons parool …, p. 83.

[11] Gustav S. Preller, Ons parool …, pp. 153-154.

[12] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, p. 417.

[13] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, pp. 419 en 439-440.

[14] Albrecht Holm, HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of emarkable sites. Die “Transvaalse styl” is aangevoor deur argitekte W. de Swaan, F. Soff, J. Burg, G. Moerdijk en andere wat hul bewustelik deur die plaaslike klimaat, omgewing, materiaal, kultuur en tradisie laat lei het. Hierdie argitektuur het hom ook onderskei van die herlewing van die Kaaps-Hollandse styl wat in die 1920’s mode geword het, asook van die Edwardeaanse en ander Europese style.

[15] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, pp. 439 en 442.

[16] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 4, Desember, p. 243. F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 19 maak dieselfde indeling.

[17] Gustav S. Preller, Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker. Die boek is wyd gelees en het elf herdrukke beleef.

[18] Gustav S. Preller, Baanbrekers: ‘n hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal.

[19] Gustav S. Preller, Dagboek van Louis Trigardt, 1836-1838, met inleiding en aantekeninge.

[20] Gustav S. Preller, Voortrekkermense.

[21] Gustav S. Preller, Voortrekkerwetgewing: notule van die Natalse Volksraad, 1939-1945.

[22] Gustav S. Preller, “Die Retief-Dingaan-ooreenkoms” in Annale van die Universiteit van Stellenbosch IIB, no. 1. Kaapstad, 1924. Dit is later opgeneem in Sketse en opstelle.

[23] Gustav S. Preller, Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommando. Die boek is herdruk in Voortrekkermense: VI.

[24] Gustav S. Preller, Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker-kommandant-generaal.

[25] Gustav S. Preller, Ou-Pretoria: sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode.

[26] Gustav S. Preller, Kaptein Hindon: oorlogsawenture van ‘n baas verkenner.

[27] Gustav S. Preller, Generaal Botha: ‘n paar besonderhede en ‘n paar foto’s, 27 Sept. 1862-27 Augustus 1919. Gedeeltelik herdruk in Historiese opstelle.

[28] Gustav S. Preller, Oorlogsoormag en ander sketse en verhale.

[29] Gustav S. Preller, Ons parool: dae uit die dagboek van ‘n krygsgevangene.

[30] Gustav S. Preller, Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland: 1 Oktober 1901-18 Januarie 1902.

[31] Gustav S. Preller, Talana: die drie generaals-slag by Dundee, met lewenskets van genl. Daniel Erasmus.

[32] Gustav S. Preller, Agt jaar s’n politiek: skoon geskiedenis van die Suid- Afrikaanse Nasionale Party, 1902-1910. Die werk het onder die skuilnaam “Knop” verskyn.

[33] Gustav S. Preller, “Suid-Afrika s’n Boere republieke: ‘n historiese resumé”. Opgeneem in C.J. Langenhoven en Gustav S. Preller se Twee geskiedkundige opstelle.

[34] Gustav S. Preller, Historiese opstelle.

[35] Gustav S. Preller, Sketse en opstelle.

[36] Gustav S. Preller, Die Grobler-moord: historiese rekonstruksie van die opkoms en ondergang van die Matabele-dinastie, 2 dele.

[37] Gustav S. Preller, Ons goudroman: die Marais-dagboek (1849-1865). Ook in Engels as Argonauts of the Rand.

[38] Gustav S. Preller, Daglumier in Suid-Afrika: oorsig van die geskiedenis van Suid-Afrika van die vroegste tye tot 1881. Ook in Engels as Day-dawn in South Africa.

[39] Gustav S. Preller, Geskiedenis van die Krugerstandbeeld.

[40] Gustav S. Preller, Voortrekkers van Suidwes.

[41] Gustav S. Preller, Lubengula: the tragedy of a Matabele king.

[42] Preller het die herdrukke van Piet Retief telkens met nuwe navorsing aangevul.

[43] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 244.

[44] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 244.

[45] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, pp. 18-19 verwys na ‘n aantal van hierdie publikasies.

[46] A.J. Antonites, Gustav Schoeman Preller, p. 677.

[47] Martjie Bosman, Awards for South African literature, 1988, p. 10.

[48] Albrecht Holm, HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of emarkable sites.

[49] Ken Smith, The changing past: trends in South African historical writing, 1988, p. 65.

[50] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, pp. 19-20.

[51] F.A. van Jaarsveld, Geskiedkundige verkenninge, p. 63. Sy kursivering.

[52] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 20.

[53] J.J. Oberholster, Die neerslag van die Romantiek op ons geskiedskrywing – Gustav S. Preller in B.J. Liebenberg (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie, pp. 51-53.

[54] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 21.

[55] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 21.

[56] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 22.

[57] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 34.

[58] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 243.

[59] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, pp. 10-25.

[60] Gustav S. Preller, Historiese opstelle, p. 15.

[61] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 243.

[62] Ken Smith, The changing past …, p. 67.

[63] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 247.

[64] Gustav S. Preller, Dagboek van Louis Trigardt … .

[65] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, p. 19.

[66] Gustav S. Preller, Voortrekkermense.

[67] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, p. 20.

[68] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, p. 22.

[69] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, pp. 20-22.

[70] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 247.

[71] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 248.

[72] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, pp. 23-24.

[73] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 27.

[74] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 30.

[75] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 30. Sy kursivering.

[76] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 31.

[77] F.A. van Jaarsveld, Omstrede Suid-Afrikaanse verlede: geskiedenisideologie en die historiese skuldvraagstuk, p.20.

[78] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 246.

[79] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, pp. 244-245.

[80] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 245.

[81] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 18.

[82] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 36.

[83] J.J. Oberholster, Die neerslag van die Romantiek op ons geskiedskrywing ….

[84] D.W. Krüger, G.S. Preller as geskiedskrywer.

[85] J.S. du Plessis, Dr. Gustav Preller as historikus van die Groot Trek.

[86] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 250.

[87] Isabel Hofmeyr, Popularising history: the case of Gustav Preller.

[88] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 28.

[89] D.W. Krüger, G.S. Preller as geskiedskrywer, p. 59.

Bookmark and Share

Comments are closed.