Tydelose gety

Tydelose gety. Gedigte deur Lina Spies. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-383-6. Prys: R120. 64 bladsye. Sagteband.

 

Omslag

Omslag

Vroeër vanjaar het ‘n keur uit Lina Spies se poësie, deur Johann de Lange onder die titel Die skyn van tuiskoms byeengebring, by Human & Rousseau verskyn. Daardeur het ‘n mens die geleentheid gekry om die beste kante van Spies se digterskap in die kalklig te sien.

Dit was ook ‘n kans om die kenmerke van haar oeuvre in oënskou te neem teen die agtergrond van ontwikkelinge in die Afrikaanse poësie oor die afgelope veertig jaar. In my resensie oor dié keur op hierdie einste webblad kon ek my sieninge hiervan weergee; ek staan dus nie weer daarby stil nie.

Wat wel gesê moet word, is dat bogenoemde beskouingsgeleentheid van die voortreflikste aspekte van Spies se digkuns ongelukkig ‘n mens se teleurstelling met wat nou, in dieselfde jaar, in Tydelose gety aangebied word, groter maak. Gebrekkige aspekte van haar digwerk staan, as ‘t ware by wyse van kontrastering, nou uit in hierdie negende bundel van haar.   

Die meerderheid gedigte in die openingsafdeling is geskryf na aanleiding van ‘n (onverwagte) liefdeservaring deur die ongetroude sewentigjarige. Sy vrees, luidens die bundelopeningsgedig, dat dit “in hierdie halfwas land […] bejammerenswaardig” geag word “om na dertig ongetroud te wees / en ondenkbaar om na sestig verlief te raak”. Die spreekster se belewing van laasgenoemde toedrag van sake is klaarblyklik eg, en dit bring ‘n skrynendheid in die treffendste gedigte in die bundel teweeg. “Voorjaarsversoek”, “Skyn”, “Heelal”, “Moment”, “Gewoon” en dalk ‘n paar ander uit hierdie afdeling gryp ‘n mens aan. Vergelyk:

 

Voorjaarsversoek

 

Hoe dra September

die vrag van geure op sy glimmerende lug?

 

Om vir wie jy liefhet

swaar te weeg,

moet jy so lig en so deursigtig word

soos hierdie vroeë lentedae

en swewend soos ‘n swetterjoel skoenlappers

oor sproeiwit yslandse rose

onder hierdie lighartige, uitbundige, speelse son

wat lyk asof hy sing.

 

In “Gewoon” word geykte uitdrukkings en twee aanhalings funksioneel benut om iets van die kosbare in die gewoon Afrikaanse van die geliefde se naam te help evokeer:

 

Deesdae huiwer ek om iemand anders as jy

op jou naam te noem

omdat dit so spreekwoordelik is in Afrikaans,

maar jy vernieu elke cliché;

deur jou is daar weer goud

in die mond van die oggendstond:

Morning has broken like the first morning;

Blackbird has spoken like the first bird.

Praise for the singing! Praise for the morning!

Praise for them springing fresh from the Word!

 

As ek jou naam fluisterend sê

soos iemand wat die vokale en konsonante

van ‘n moedertaal van voor af leer,

maak jy die wêreld om my

nuut en ongerep en skoon

soos toe God die eerste keer gedeklameer het:

Dit is goed

 

en die lig gestraal het oor wat ‘n sekonde vantevore

chaos was en leegheid en die duister wêreldvloed.

 

In die res van die bundel is dit egter juis die geykte, die retoriese wat in die pad van egte inlewing deur die leser kom staan – of dit nou die idealisties-behoudende blik op familiale, stamverwante herkomste en op die verbondenheid aan land en taal van die tweede afdeling betref, of die huldigings van vereerdes van die derde afdeling, of die religieus getinte bemoeiing met leerstellighede en met uiterste beproewings van die slotafdeling.

Dis nie nuus dat Spies sterk uitgesproke was/is in haar gehuldigde opinies oor bepaalde aangeleenthede nie; ook nie dat dit neerslag in haar verskuns vind nie. Dikwels gee dit aanleiding tot beskoulike, bespiegelende skryfwerk – soos die talle en talle retoriese vrae in Tydelose gety reeds aandui. Dié beredenerende, retoriese meegevoerdheid vind neerslag in sintaktiese uitweidings wat meermale hele strofes en selfs groter gedigdele dek. Abstrakte en prosaïese segging voer dan ook alte dikwels die botoon in sulke sinsvlegsels. Één voorbeeld (die twee slotstrofes van “Geen eiendomsreg”):

 

Jy laat jou Suid-Afrika los

en sluit aan by die groot eksodus

wat families uitmekaar uit skeur

en ek wonder of jy jou ‘n terugblik gun

wat die slawe ontsê is toe hulle gevaar het

uit die hawens van die vaderland wat hul liefgehad het

 

en soos die behoue seevaarders van ouds

– ontkom aan storms en skeurbuik –

wat die seën van God gevra het op die kolonisasie

van ‘n onherbergsame en onbekende land

kniel ek op my geboortegrond

en stamel na die swygende kranse

dat elkeen wat hier ‘n holte gevind het vir sy voet

oor die gawes beskik wat Paulus roem

in die liriese crescendo van sy brief aan die Korintiërs

maar dat as dit strategieë van oorlewing word

die grootste nie die geloof en liefde is nie,

maar die hoop.

 

Geykte uitdrukkings – wat enersyds styltamheid tot gevolg het, andersyds, net soos die apostrofiese aansprekings van en/of opdragte aan afwesige of gestorwe beroemdes, pralerig aandoen – deurspek die grootste deel van die bundel. Op byna elke bladsy lê verslete taalwendinge vir die opraap: “wellus” wat in die “lendene gloei of smeul”; “sierlike skadu’s” van bome se takke; “blosende kleintjies” se “mollige lyfie[s]”; “knallende kleure”; “oë werktuiglik neergeslaan”; “die vervlietende  rooi / van die ondergaande son / teen ‘n verdonkerende hemel”; ensovoorts, ensovoorts.

Dit is so dat Spies se poësiebeskouings ouderwets-elitêre elemente bevat; dat haar digterstem nogals ‘n plegstatige toon kan aanneem. Vergelyk die openingstrofe van “Daphne en Apollo”:

 

Die kreet uit haar oopgesperde mond

om die bewaring van haar maagdelikheid

kon net sowel gekom het

uit orgastiese ekstase in die arms van Apollo

as hy haar soepel welwende meisieslyf

ingedring het om haar een te maak

met sy lenige, hoekiger jong liggaam[.]

 

Dit hoef nie tot esteties verslete gedigte aanleiding te gee nie, soos vroeër vanjaar se Die skyn van tuiskoms oortuigend gedemonstreer het.

Maar die hoofsaaklike onbesieldheid waarmee die retoriese grepe en wendings opmekaar gestapel word in groot dele van Tydelose gety, werk fnuikend.  Selfs die verwoordings van uiterste menslike lyding in die slotafdeling word hierdeur ontkrag – júís opmerklik gemaak deur die trefkrag van die enkele uit Duits vertaalde gedigte van Paul Celan en Pavel Friedmann wat in dieselfde afdeling naas Spies se eie staan. 

Luidens byvoorbeeld die gedig “Lectori salutem” wou Spies met hierdie bundel uitstyg bo die geykte:

 

[…]

Ontvang, liewe lesers, hierdie verse,

ongeag jul leeftyd,

as die oomblik in die tyd

waarop ‘n mens jou kan verhef

bo alles wat vals is en stereotiep.

 

Dis dan besonder ironies – en jammer – dat sy haar in dié poging so ryklik gaan bedien het van die bombas.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

Comments are closed.