Amanda Lourens. ‘n Nanny-gedig vir lees en herlees

Goeie poësie, reken ek, is dié wat net beter raak met elke herlees.  Daarby bring elke lees sy eie skakering van die teks na vore: van die eerste lees en jou intuïtiewe wonder wat die digter probeer sê, deur die gewaarwording dat nuwe betekenisse hulle by jou aanmeld,  tot jy uiteindelik die  gedig met jou hele menswees ervaar en dit onlosmaaklik deel van jou raak.

Oewerbestaan, Melt Myburgh  se debuut, lê al ‘n hele paar weke op my bedkassie – waarskynlik omdat  ek tydens die eerste lees besef het dat hierdie bundel gedigte van die soort is wat hulle met ‘n tweede (en  verdere) lees in my binnewêreld sal kom tuismaak.

Bernard Odendaal  het die bundel baie deeglik vir die leser ontsluit in sy Versindaba-resensie.  Die digter se verhouding met die landskap van sy jeug – een van die sterk temas in die bundel – beskryf hy as een van “‘n gekompliseerde, ironie-gelade deernis” (Odendaal 2010), wat reeds aandui dat Myburgh nie hier bloot besig is met ‘n nostalgiese terugkyk na die grootwordomgewing van Karos langs die Oranjerivier nie.

Joan Hambidge het in haar bespreking in Die Volksblad tereg gewys op die sterk rol wat die digter se jeugwêreld in die bundel speel, en bestempel die  gedigte oor “die landskap-van-die-jeug” dan ook as die beste verse  in die bundel.  Nietemin laat sy ook nie na om die kompleksiteit van hierdie verse te belig nie.  In Hambidge (2010) se woorde is dit ‘n “gerepresseerde en rassistiese bestaan”  wat die digter herbesoek in sy poging om op psigiese vlak tuis te kom , spesifiek deur herinnering en herbewerking in die ruimte van die teks.  Dat dít geen maklike proses is nie, besef die digter goed, soos blyk uit die laaste twee strofes van die gedig “upington” (een van die gedigte wat deur Hambidge uitgesonder word):

reisigers wat in jou koelte vertoef, verkwiklike stad,

moet vooraf weet: die roete wat huiswaarts

 

deur die naelstring knoop, word gerig

deur ’n kompas sonder naald

‘n Gedig wat my in die besonder opgeval het, is “ousie”, in die eerste afdeling (“kanale en onderpaaie”).  Op die oog af is dit ‘n herinneringsgedig, opgedra aan ‘n geliefde kinderoppasser, byna in die trant van Koos Kombuis se bekende “Katie, Katie”:

in ’n buidel van doek en kombers

dommel die kind in agter haar rug

haar hart klop teen sy linkerslaap

 

salwend stuif die geur

van stroois en skerm en lokasie

onder haar kopdoek uit

 

haar borste deinend terwyl sy neurie

voor die strykplank in die kombuis:

 

binne die albumien van sy sagte dop

stel haar lied die dooier vry

sodat skadu’s wiegend beelde raak

            beeste wat wei aan heuwels

            mis bo die klei se kronkelgang

            seuns wat kleibesmeer in komberse staan

            skure tot teen die grond gebrand

           ’n man met ’n verbode naam

 

dooie gewig,

abba sy die kind oral rond

 

sy mondjie pruil lou asem

oor die miniatuurvuisie wat spierwit bal

teen haar breë  rug

Op een vlak gaan hierdie gedig oor die sorgsame nanny-figuur wat inderdaad ‘n “ma” vir die wit baba is.  Die gedig fokus aanvanklik op die sussende, moederlike kwaliteite van die nanny, onder meer deur die sterk bewustheid van liggaamlikheid en nabyheid wat die eenheid  van kind en sorggewer suggereer (“haar hart klop teen sy linkerslaap”).  In die tweede strofe is die “s”-klank die aanduider van gerusstelling (“salwend stuif …”), maar dit word vervolgens op nugtere wyse  aan “die strykplank in die kombuis” gekoppel, wat die leser aan die sosio-ekonomiese realiteit van die huishulpfiguur herinner.

 Tog kies die digter om hierdie tema nie verder te ontplooi nie, en fokus eerder op die lied wat die nanny neurie en die haas magiese effek daarvan op die jong kind se (onder)bewussyn.   Deur gebruik te maak van die beeld van die eier as argetipiese vrugbaarheidsimbool, word die sone van interkulturele kontak as een van primordiale lewe voorgestel.  Die gebruike van haar mense, onder meer die inisiasieritueel vir seuns, word in ‘n soort psigiese osmose na die wit kind oorgedra, deur die bemiddeling van die kuns (haar lied).  Die kollektiewe onbewuste van haar kultuur vind dan neerslag sy psige, sodat hierdie kennismaking met die Ander as kognitiewe en selfs poëtiese inhoude by hom gestalte kry: “sodat skadu’s wiegend beelde raak”.  Die opnoem van verskillende kulturele komponente in die vierde strofe gebeur by wyse van meesleurende klank- en beeldryke reëls, sodat die leser die magiese effek daarvan as’t ware aan die eie lyf ervaar.

Myburgh laat die gedig egter nie op hierdie noot eindig nie, en bewerkstellig ‘n wending wat bewys dat hy die tragiese kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse rassegeskiedenis en -verhoudings begryp.  Deur die kind nou as “dooie gewig” te bestempel, word die teenoorgestelde van die groeiproses in die vorige strofe betrek.  Progressie in ‘n meer sinistere rigting word gesien in die kind se “miniatuurvuisie wat spierwit bal” – met ander woorde, die kind wat die “dooier” of groeipunt van die magshebber in hom dra. So eindig die gedig dan met die suggestie van die kind wat, ten spyte van sy eertydse simbiotiese saambestaan met die Ander, hom terugtrek in die dop van die selfkoesterende “eie” en uiteindelik sy vuis bal teen die substituut-moeder.

Odendaal  (2010) het na die “omvorming of oorstyging van die alledaagse” in hierdie bundel verwys. Ek ervaar hierdie gedig as ‘n  treffende voorbeeld daarvan, alhoewel dalk op ‘n donkerder wyse as wat gewoonlik deur  die terme “omvorming” of “oorstyging” in poësieklasse geïmpliseer word. Op ‘n manier word dit vir my ‘n ontstellende politieke gedig binne die oënskynlik onskuldige kader van huishoudelikheid.

Dit laat my wonder hoeveel volwassenes daar vandag is wat nog die herinnering aan die nanny van kleintyd koester? Self onthou ek nog die hand-in-hand stap kafee toe, maar sedert my vroeë tienerjare is ek opgeslurp deur portuurgroepneuroses en my en die nanny se verhouding het een van terloopsheid geraak.  Het ons generasie dalk so opgeneem geraak in die spel van groepvorming en materialisme dat ons daardie herinnering nog nie weer opgesoek het nie? En erger selfs, dat ons die nanny verban het na die wil-nie-ken-nie landskap van Ander-wees?

Dankie Melt, ek gaan jou bundel nog ‘n rukkie op my bedkassie hou.

 

Bronne

Odendaal, B. 2010. Resensie van oewerbestaan. Versindaba [Internet]. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2010/07/25/oewerbestaan/. [2010, 12 Desember].

Hambidge, J. 2010. Wat digter kén, lewer beste verse.  Bespreking in Die Volksblad. Kommentaar op Versindaba [Internet]. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2010/07/25/oewerbestaan/.  [2010, 12 Desember].

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Amanda Lourens. ‘n Nanny-gedig vir lees en herlees”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    Melt Myburgh se gedigte oor sy “grootwordomgewing van Karos langs die Oranjerivier” is treffend. My ma het op Karos skoolgegaan en ons het dikwels met die trein by my oupa en ouma Oosthuizen ‘n klein entjie verder af langs die Oranjerivier gaan kuier. Ek is deesdae meer aangetrokke tot tropiese landskappe, maar die Noordweste behou nog sy bekoring.

  2. Pieter Odendaal :

    Dr. Lourens, ek wonder of die laaste deel van die gedig nie ook anders gelees kan word nie. Die “miniatuurvuisie wat spierwit bal” het my dadelik laat dink aan die vuisballende ondersteuners tydens die destydse “rallies” wat “amandla awethu!” geskree het. Dit lyk vir my of die baba se miniatuurvuisie dalk eerder ‘n teken van solidariteit en ontluikende weerstand teen die Apartheidsregering kan wees as dat dit ‘n “terugtrek in die dop van die selfkoesterende ‘eie’ is”. Hierdie interpretasie word ondersteun deur die laaste deel van die nanny se lied: “skure tot teen die grond gebrand / ‘n man met ‘n verbode naam”. Dit is asof die lied nou nie net meer oor die nanny se kultuur handel nie, maar ook die sosio-politieke realiteite van swartmense tydens Apartheid betrek. Is die “verbode naam” dalk die naam van ons eerste demokratiese president? (In die roman “Swartskaap” van Odette Schoeman word die hoofkarakter as kind verbied om Mandela se naam in die huis te gebruik. Weet u of dit ‘n algemene verskynsel was, naamlik dat daar ‘n soort “verbod” op die gebruik van sekere name in wit huise was?)

    Die enigste potensiële probleem met die bogenoemde ontleding is die reël “dooie gewig”. U lees dit as ‘n aanduiding van progressie in ‘n meer sinistere rigting, naamlik dat die teenoorgestelde van die groeiproses in die vorige strofe nou betrek word. Maar die “dooie gewig” kan dalk eerder die veranderde houding van die nanny teenoor die baba vergestalt, en nie andersom nie. Dit kan wees dat sy, na haar lied wat haar opnuut bewus maak van die onregte in die ou Suid-Afrika, so te sê haar rug op die kleintjie draai – hy word nou vir haar niks anders as ‘n dooie gewig nie. Desnieteenstaande is die saadjie van weerstand reeds in die kleintjie se onderbewuste geplant en eindig die gedig daarom met ‘n handgebaar van mede-protes eerder as met ‘n bevestiging van die nanny as Ander.

  3. Amanda Lourens :

    Hallo Pieter – ek hou baie van jou interpretasie, en ek is seker dat die gedig ook so gelees kan word (inderdaad dan wel ‘n gedig vir lees en herlees). Miskien is my interpretasie gekleur deur my eie ervarings, waar ek self in die ou bestel ervaar het hoe die eens gekoesterde kind uiteindelik die nuwe “baas” word en die nanny vergete raak in haar opset sonder veel vooruitsigte op verandering of verbetering.

    Jou interpretasie sal byvoorbeeld ook resoneer met Ingrid Jonker se alombekende “Die kind”, waar die vuis ‘n simbool van die ontluikende swart bewussyn is.

    Jou opmerking oor die “verbode naam” het my ook weer laat terugdink aan my eie kinderjare. Ek reken dat die “verbod” op byvoorbeeld Mandela se naam miskien afgehang het van jou eie konteks – ek self kan my nie herinner dat dit soseer in ons huis ‘n verbode naam was nie; dalk eerder ‘n bloot onbekende naam of ‘n naam om liefs net nooit eens te noem nie? Dit was eers teen universiteitsdae dat die naam Mandela vir my betekenis gekry het, en dan merendeels op ‘n T-hemp van ‘n student wat meer gewaag het as die res van ons. Dit sal interessant wees om ook te verneem wat ander lesers se herinneringe in hierdie verband is?

  4. Johan Vos :

    Baie interessante lesings van ‘n treffende gedig. Onthou, Nelson Mandela is in die ou bestel gebrandmerk as “terroris” wie se gesigafbeeldings verbode was. Miskien verwys die “verbode naam” nie soseer na Mandela se naam nie, maar die ideologie waarvoor hy (ge)staan (het).