Leon Retief. Wanneer kinders soldate word

 

Roméo Dallaire, They Fight Like Soldiers, They Die Like Children, Random House Canada, ISBN 978-0-307-35577-5.

Luitenant-generaal (afgetree) Roméo Dallaire, tans senator vir die Liberale Party van Kanada, was in die middel negentigerjare van die vorige eeu bevelvoerder van die Verenigde Nasies se vredesmag in Rwanda, waar sowat 800 000 mense binne die bestek van ongeveer 100 dae vermoor is. Die grusaamhede wat hy daar belewe het, het diep en blywende psigiese letsels gelaat: “The smells, the sights, the terrible sounds of dying in Rwanda have been dampened down in my psyche to a dull roar through constant therapy and an unrelenting regimen of medication.”

 

Dallaire

Dallaire

 

Sy ondervindings het twee boeke toe gevolg gehad. Die eerste, Shake Hands With the Devil, is in 2003 gepubliseer en het sowel die Shaugnessy Cohen Award for Political Writing as die Goewerneur-Generaal se toekenning vir nie-fiksie gewen. Dit handel oor sy mislukte pogings om die menseslagting te stop. Die mislukking, moet ek byvoeg, kan nie voor Dallaire se deur gelê word nie maar was weens die streng parameters waarbinne die VN se magte moes optree, sowel as apatie en teenstand uit die geledere van die Weste.

Die tweede boek wat pas die lig gesien het, They Fight Like Soldiers, They Die Like Children, handel spesifiek oor die gebruik van kindersoldate in die gebiede waar hy diens gedoen het, alhoewel hy beklemtoon dat kinders ook in ander wêrelddele as soldate gebruik word. Hy praat in hierdie boek nie oor jeugdiges van vyftien of sestien nie, maar van kinders so jonk soos tien tot twaalf of jonger.

 

 

Waarom kinders as soldate? Volgens Dallaire:

“…there is no more complete end-to-end weapon system in the inventory of war machines than the child soldier. Its negligible technology, simple sustainment requirements, unlimited versatility in all possible facets of low-intensity conflict, and capacity for barbarism has made the child soldier the weapon of choice in over thirty conflicts around the world… Man has created the ultimate, cheap, expendable, yet sophisticated human weapon, at the expense of humanity’s own future: its children.”

“Thanks to a worldwide proliferation of light weapons… combined with the limitless resource of children as a result of overpopulation in developing countries… there is no more readily available, cost-effective and renewable weapon system in existence today. Desperate children, boys and girls, are cheap to sustain, have no real sense of fear, and are limitless in the perverse directions they can be manipulated through drugs and indoctrination since they have not yet developed a concept of justice and have been ripped away from their families to fend in the new perverted family of armed force.”

“Children are faceless and they are considered expendable. The guns are light enough for children to carry, and they are plentiful. There are illicit arms dealers in the dozens who (for blood diamonds especially) are most accommodating. The children dig up the diamonds and sustain the weaponry, and they are the expendable platform to conduct the killing. Girls are an even greater asset, as they can do everything that boys can do, and so much more. They set up bivouacs, prepare the food, control the younger children and are used as sex slaves and bush wives.”

“Children are excellent as combatants, as bait for ambushes, as cannon fodder. They are light to transport but still heavy enough to explode land mines so adults can move safely in their wake. “

Hoofstukke drie en vier handel oor die wedervaringe en dood van ʼn kindersoldaat wat gewelddadig uit haar ouerhuis ontvoer word. Dallaire stel dit duidelik dat die karakter fiktief is maar dat die verhaal gegrond is op werklike gebeure en dat talle kinders in Rwanda sulke ervarings gehad het. Hy skilder ʼn dalk ietwat te idilliese prentjie van die meisie se kinderjare voordat sy uit haar tuisdorp ontvoer word nadat haar ouers en ander inwoners voor haar oë tereggestel word – haar pa word deur haar oudste broer, lank reeds ʼn kindersoldaat, onthoof en haar jongste sussie word verkrag. Daarna volg basiese opleiding en blootstelling aan dwelms, mettertyd word sy die leidster van ʼn klein groepie ander kindersoldate voordat sy in ʼn geveg deur ʼn soldaat van die VN vredesmagte gedood word.

Hoofstuk 8 (The Moment: Killing a Child Soldier) beskryf die gewaarwordings van die betrokke (weereens fiktiewe) soldaat wanneer hy uitvind dat die aanvaller wat hy so pas uit selfverdediging doodgeskiet het ʼn dertienjarige meisie is. Dallaire grond nogeens sy beskrywing van die impak wat hierdie gebeurtenis op die soldaat het op persoonlike waarnemings – alhoewel hy nie self iemand in Rwanda doodgeskiet het nie is hy terdeë bewus van die wroeging wat sommige van hierdie soldate na die tyd het sowel as die invloed van daardie emosionele turbulensie op hul families.

Dallaire se beskrywing van die oorsaak van die volksmoord is beknop maar insiggewend en volgens hom kan dit vierkant voor die deur van kolonialisme gelê word. Terwyl Afrika se probleme nie in hul totaliteit te wyte is aan koloniale optrede nie wil dit wel vir my voorkom asof die hele fiasko in Rwanda nooit sou plaasgevind het as dit nie was vir die kunsmatige skeiding wat tussen die Hutus en die Tutsi’s bewerkstellig is nie. Hierdie benamings het oorspronklik niks met stamverband te doen gehad nie maar was bloot ʼn beskrywing van okkupasie – mense wat met vee geboer het was Tutsi’s, landbouers wat Hutus, maar hulle taal, kultuur, godsdiens en dies meer was identies.

Met die koms van setlaars het sake egter verander omdat die Tutsi’s as gevolg van Westerse stereotipering as meerderwaardig beskou is. Die gevolg was dat Tutsi’s meer toegang gehad het tot skole en poste in die staatsdiens, hulle is skynbaar ook vertel dat hulle bo die Hutus verhewe is. Hierdie valse identiteit was die oorsaak van die gapende kloof wat mettertyd tussen die twee groepe ontstaan het.

Die boek is ʼn fel aanklag teen Westerse moondhede se onbereidwilligheid om betyds doeltreffende stappe te doen om die volksmoord te verhoed of te stop. Dit is veral die VSA wat hier sleg afkom. Dallaire skryf van ʼn Amerikaanse soldaat wat aan hom gesê het dat “…there was nothing in Rwanda except human beings, and there were too many of them.” Sy pogings om voormalige kindersoldate te rehabiliteer en weer in die samelewing te integreer gaan gedurig gebuk onder apatie van die kant van regerings wat hierdie projekte moet finansier en mens kan die desperaatheid aanvoel wanneer hy hieroor skryf.

They Fight Like Soldiers, They Die Like Children is een van die moeilikste boeke wat ek nog gelees het, nie omdat die inhoud ingewikkeld is nie maar omdat dit mens gryp op ʼn manier wat jou vir lank nadat jy klaar is nog laat met ʼn talmende gevoel van terneergedruktheid.

Dallaire, ooglopend ʼn welbelese man, haal aan uit Coleridge se Rime of the Ancient Mariner:

 

I closed my lids, and kept them close,

And the balls like pulses beat;

For the sky and the sea, and the sea and the sky

Lay like a load on my weary eye,

And the dead were at my feet

 

 

The look with which they looked on me

Had never passed away.

 

But oh! more horrible than that

Is the curse in a dead man’s eye!

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Leon Retief. Wanneer kinders soldate word”

  1. Desmond Painter :

    Leon, dankie vir hierdie. Ek gaan die boek summier koop. Klink erg.

  2. Leon Retief :

    Hoor graag jou opinie Desmond.