Charl-Pierre Naudé. Mistastings oor taal bedreig Afrikaans se oorlewing

 

Op grondvlak groei Afrikaans. Daar is passie vir die taal. So waarom dan bekommerd wees? Vergun my ‘n argument waarom.

‘n Taal is soos ‘n ekologie, ‘n bio-sosiale veld waarin betekenisse van ‘n oorkoepelende samehang afhanklik is. Hierdie feit word onderskryf deur elke denkbare taalfilosoof of taalkundige tot op hede. Voortbestaan van die taal word nie bepaal deur indiwiduele deelname nie maar deur die gehalte van kollektiewe deelname. En dís wat geskend word deur die huidige taalbestuur in die land.

Dis die middelpuntvliedende samehang, oftewel integriteit, van ‘n taalveld wat ‘n taal se bruikbaarheid as betekenisdraer bepaal.

Die argument gaan ook nie oor Afrikaans se voortbestaan as lieflike demotiese kommunikasiemiddel nie (dis intak) maar oor die gelyktydige voortbestaan as ontwikkelde, moderne taal. Demotiese taalvariante is van aard geperforeer, vaag en hoofsaaklik emotief in betekenis. Dis die sjarme daarvan. Dit kan egter nie instaan vir die rolle van ontwikkelde taal nie en ‘n opbloei in kletsrymgroepe wat Afrikaans gebruik beteken nie die taal as ontwikkelde medium word in stand gehou nie.

As die integriteit van ‘n taalveld weens óf politieke óf ander faktore verval sal sprekers hulself naderhand onttrek nes diere ‘n streek verlaat as die ekologie verval. Weens verskeie faktore verbrokkel die integriteit van Afrikaans as taalveld ondanks die passie van tallose indiwidue op grondvlak.

Ek staan nou die dag by ‘n partytjie en dink: Ek hoor sewe tale om my, gelyk! Dit was nie in die ou dae so nie. Dit is wonderlik. Maar hierdie geskenk uit die nuwe Suid-Afrika was ‘n rewolusionêre omverwerping wat die “natuurlike” integriteit van die plaaslike tale (helaas nie die eerste nie) en dit verg behoorlike ingrypingsbestuur. In stede het ons Gods water wat oor Gods akker loop. 

In terme van my analogie: Weens die feit van menslike ingryping in die natuur, iets wat ons lewens eindeloos verryk het, moet natuurbewaring helaas self ‘n ketting van voortdurende ingrypings wees. Menslike ingryping is die rede vir die verval, maar dit is terselfdertyd die enigste manier van bewaring.

Soortgelyk met tale. Meeste van die ingrypende faktore wat Afrikaans bedreig kan inderwaarheid verrykend wees as verdere ingrypingsbestuur op taalvlak daarmee gekombineer word. Hoe lyk die prentjie van Afrikaans se taalintegriteit in werklikheid?

  • Taalkohesie op streeks- en buurtvlak het sedert die einde van apartheid in vele plekke drasties in duie gestort, soms op geforseerde wyse.
  • Die gewone taalkombinering van mense wat oor taalgrense heen trou en kinders kry het met die verstrooiing van Afrikaanse mense in die buiteland (weens politieke redes meestal) oorgegaan in taalvervanging – ten koste van Afrikaans.
  • Die oorgelewerde, organiese taalkohesie van die werkplek of maatskappy is verboten weens rassekwota’s.
  • Dieselfde verlies aan samehangende taalveld kenmerk sport- en ontspanningsklubs, kerke, skole sowel as die sosiale dampkring, wat almal histories taalbindende terreine was.
  • Die media se rol in Afrikaanse taalkohesie, veral op ontwikkelde taalvlak, het drasties verval. Dis amper uitsluitlik demotiese taalvariante wat bevorder word.

In die lig van bogenoemde, is dit werklik soveel gevra dat een Afrikaanse universiteit klasse in onversnyde en onverknoeide Afrikaans doseer? Ons praat hier van die mees ontwikkelde inheemse taal wat Afrika tot dusver opgelewer het en ‘n taal wat groter is as byvoorbeeld Noors of Deens of moderne Hebreeus.  

Op haas elke lewensterrein moet Afrikaanse sprekers  na Engels of straatafrikaans oorslaan “ter wille” van ‘n medeburger.

Wat op aarde goeie ingrypings vir taalbestuur sal behels weet ons nog nie duidelik nie, maar dis ‘n begin om oorkoepelend na die stand van sake te kyk soos hierbo.

Wat nié goeie taalbestuur is nie weet ons wel uit feitelike bewyslewering wêreldwyd. Dis nié die T-opsie van brabbeltaal/Engels wat Stellenbosch Universiteit nou inslaan nie. Dit versnipper die taalveld doelbewus en sistematies. Die allerlaaste, nederige aandrang op Afrikaanse taalkohesie word so van die tafel gevee.

Dis ‘n saak wat die toekoms van die betekenissisteme van die hele kontinent ten nouste raak.   

 

 

(Nota: Hierdie is die oorspronklike weergawe van ‘n essay wat vroeër in Beeld verskyn het. – CPN )

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.