Marcelle Olivier. Betekenis in ‘n platoniese verhouding

Gedagtes uit Indië: Die betekenis in ‘n platoniese verhouding

Lodhi Tuine, Delhi

In Lodhi Tuine, Delhi

Om mee te begin ‘n gedig deur die liriese skrywer en digter Gulzar, gebore in 1934 in ‘n deel van Indië wat nou in Pakistan lê. Sy poësie is vol van aardsheid, sensitief en netjies vertolk, en hy is bekend vir ‘n sterk visuele fokus op alledaagse details wat wyer tematiese konteks en interpretasie uitlok (‘n rede hoekom ek op hierdie skrywer besluit het). Onverrassend dalk dat hy ook ‘n bekende film-maker is. Die twee verse hieronder is oorspronklik in Urdu geskryf en is vertaal deur Pavan K. Varma.

*

Meaning

From the square, through the mandi, past the market

Along the red street floats the paper boat

Helpless, bobbing about in the unclaimed, orphaned waters of the rain

In the wanton streets of the town, frightened, it asks:

If every boat has a shore

Will I too have mine?

.

What torment an innocent child has wrought

On a piece of waste paper

By giving meaning to the meaningless

*

Hulle is besig om Connaught Place, die eens-impressiewe sentrale sirkus van New Delhi se Koloniale argitektoniese meesterplan, op te grawe. Nuwe tonnels moet gebou word, fasades moet herstel word, parkeerareas moet van modder na teer verfraai word. Dis is werk wat begin het nog vóór die Statebondspele laas Oktober en is soos meeste dinge in Indië nooit voltooi nie. ‘n Stowwerige bordjie wat maande gelede omgeval het proklameer trots ‘Connaught Place: The Lifestyle Destination’; iemand het sylangs en sonder dink paan oor die letters gespu.

Gedurende die Spele het hulle die strate leeggemaak van diegene wat op die sypaadjies eetleefslaap, werkende mense op ‘n Goewerments-gesubsidieerde vakansie gestuur sodat die verkeer kon lig loop, en duisende jong boompies geplant om die eis dat Delhi die groenste stad in Indië (dalk ‘ter wêreld!’, as jy die advertensies op die busse wil glo) is, te versterk. Nadat die Statebond-toeriste en die media verdwyn het, het die stad sonder om oog te knip weer teruggeglip in sy voormalige klere: ‘n kleurvolle, reukvolle, treurvolle gemaal van 22 miljoen Delhiwallahs, rondloperhonde, beeste en muskiete. Die nuwe boompies is omgery deur motorfietse of platgetrap deur die menslike duisendpoot wat elke dag deur die stad sirkel (hulle moes vinnig weer herplant toe Barack Obama in November kom kuier het en selfs van dié stingeltjies is nou net ‘n droewige klomp takkies oor); die straatkinders met hulle blink hare en hartseer rofies is terug op elke hoek, al tik-tikkende aan jou kar se vensterruit; en die gedruis van konstruksiewerk in Connaught Place oorheers weereens die toetery en brommery van die groen-en-geel outo-riksjas.

Die winkeleienaars hier kla want nou is hulle alweer sonder telefoonkonneksies, en dus ook sonder ‘n meganisme om die kredietkaarte van beide die ongemaklikte oorsese toeriste en die Gap- en Reebok-draende middelklasse te aanvaar. Die stalletjie-eienaars in die ondergrondse Palikabazaar is eweneens kwaad: van die voetgangertonnels is toe, van die voerpaaie heeltemal afgesper, wat dit natuurlik moeiliker as gewoonlik maak vir, wel, daardie selfde ongemaklike toeriste om sover te kom om te veel Rupees op ‘n oulike standbeeldjie van Ganesh te spandeer. En die taxi-bestuurders skree blou moord oor hulle nêrens mag parkeer om klante op te tel en af te laai nie – en dít is ‘n baie ernstige aanklag aangesien jy eintlik orals in Delhi kan stop selfs al is daar ‘n streep of ‘n bordjie wat sê jy moenie.

'n Normale dag se rookmis en verkeer in Connaught Place

'n Rustige dag se rookmis en verkeer in Connaught Place (c)Scott Dexter

Maar niemand sal luister na die winkeleienaars se pleidooie nie en, op die ou einde, sal die taxi-bestuurders in elkgeval oor die sypaadjies ry en in werksvore parkeer. Niemand in Delhi luister na enigiemand anders nie – mense leef verbymekaar ten spyte van die feit dat jy nooit verder as ‘n voet van iemand anders se asem verbyloop nie. Daarom dalk tog: kyk na jouself, want niemand anders het die tyd of die geld of die emosionele hulpbronne om ‘n uitsondering vir jou maak nie. Ek dink dit is ‘n natuurlike gevolg van ‘n groot populasie en beide die saamgeweefde godsdienste, en die kastesisteem van Indië. Soos Yann Martel se hoofkarakter dit in Life of Pi dink: Hedge your bets – doen wat gedoen moet word om hopelik dit tot die hiernamaals te maak. Karma sorg nie regtig vir selfloosheid nie: daar is nie ‘n innigheid in hulp, in dank, in trots, in vertroue hier nie. ‘n Plakkertjie van Ghandi of Shiva op jou kar se paneelbord bied genoeg veiligheid, laat jou onbesorg die wonderlike drama van Delhi se ringpad infoeter. Straatrommel het ‘n eie plek in die lewe en dit is niemand anders se bekommernis of beslommernis behalwe vir dié wat gebore word om hulself daarmee besig te hou nie.

*

Barren Woman

No spark bursts into flame in this cold body

Borken threads of breath hang from my throat

Bubbles of water are caught in my frozen blood

Sleep lies perched on eyes turned to stone

The night is still, it lies with me like a piece of wood

.

No spark bursts to flame in this cold body

She who gave me birth must have been some barren woman.

*

Ek weet dit klink simplisties, maar om hier te woon is so totaal anders as om vir ‘n paar weke deur die land te reis as toeris (en, in vergelyking, ligjare verwyder van my ervaring van leef en woon in Amerika, Engeland, Suid-Afrika, en Zambië); die verstandhouding wat jy opbou met die kultuur, en meer spesifiek eintlik met die daaglikse lewe, word besoedel deur ‘n tipe hardkoppigheid om te wees, te is, te bestaan in ‘n land waar ambisie, selfs al word dit uiterlik volbring, in praktyk net ‘n hipotese is. Ek besef ook dat ‘n mens eeue van geskiedenis en filosofie kan aanhaal om te bewys dat Indië wel kompleks en betekenisvol is en tog, ten spyte daarvan, het ek begin wonder of simplisme nie juis jou hele oorlewing in hierdie stad – ‘n stad wat ‘n volle derde van die hele Suid-Afrikaanse mensdom beslaan! – verseker nie. Dat as die Indiese visie van tegnologie, universele demokrasie, en wêreldleierskap wat daagliks die koerante vul wel tot vrug sou kom, dit eintlik geen verskil aan negentig persent van die inwoners sal maak nie.

Nuwe sosiale, ekonomiese of praktiese ‘reëls’ wat uit so ‘n verandering sou spruit sou niks beteken in relasie tot daardie negentig persent se eet-leef-slaap nie. Enige poging om herorganisasie sal aanvaar en dan geïgnoreer word, en die lewe sal voortgaan soos altyd – kla sal mense, ja, maar almal verstaan dit is eintlik net ‘n gejaag na die wind. Hier is dit makliker om saam met ander te leef as jy die reëls erken, maar nie daarby hoef te hou nie. Dus, oppervlakkige samehangendheid – op sosiale, ekonomiese, en ritualistiese vlak – bepaal oorlewing.

Go to a tea shop anywhere along the Ganga, sir, and look at the men working in that tea shop – men, I say, but better to call them human spiders that go crawling in between and under the tables with rags in their hands, crushed humans in crushed uniforms, sluggish, unshaven, in their thirties or forties or fifties but still ‘boys’. But that is your fate if you do your job well – with honesty, dedication, and sincerity, the way Gandhi would have done it, no doubt. I did my job with near total dishonesty, lack of dedication, and insincerity – and so the tea shop was a profoundly enriching experience. […] I used my time at the tea shop in Laxmangarh to spy on every customer at every table, and overhear everything they said. I decided that this was how I would keep my education going forward – that’s the one good thing I’ll say for myself. I’ve always been a big believer in education – especially my own.

'n Platform by Nizamuddin in Delhi

Tussen treine, tussen stasies: die lewe op 'n platform by Nizamuddin in Delhi

My goeie voorraad (inheemse) gin & tonics maak my meer filosofies en, ek is bevrees om te sê, ook meer subjektief oor my verhouding met die stad. Die lesers wat dalk nog nie Aravind Adiga se ‘The White Tiger’ gelees het nie, moet dit gerus op die bedkassie sit; die drie kort uittreksels hier aangehaal in kursief kom uit dese boek. Dit is ‘n goeie storie met swak struktuur wat sleg geskryf is, ‘n Booker-pryswenner wat die beoordelaars verstom het met sy eerlikheid oor die onveranderbare baatsugtigheid wat Indië kenmerk eerder as ‘n werk van merkwaardige literêre deug. Al wou ek dit nie alles glo voordat ek self hier op die boonste vloer van ‘n woonstel sonder warm water in die kombuis, in ‘n buurt met die romantiese naam van South Extension Part Two, aangeland het nie, kan ek jou nou al sê: dit wat jy in dié boek gaan lees, is waar. Vergeet Sam Miller se genotvolle staaltjies oor niks en niemand, en William Dalrymple se uitstekende historiese kommentaar in ‘City of Djinns’ of ‘The Last Mughal’ (wat ongelukkig in sulke onverdraaglike egoïstiese prosa geskryf is dat jy wens dat jy ook midde ‘n wolk van as en wierook op die Ganges kan wegdryf). Vergeet die betowerende intellektuele tekstuur en karakters van Roy, Naipaul, Rushdie, Seth en Narayan: hierdie is verhale wat die kultuur diep aanraak, maar nie die gesetelde en bewonderingswaardige oppervlakkigheid van bestaan eksplisiet verwoord nie. Subtiel is nie ‘n tema wat Indië goed pas nie – ‘n moeilike, godslasterlike ding om te sê, maar iets wat die leser midde-in elke onderhandeling tussen Adiga se karakters sal opmerk: ‘n kern is nie noodwendig subtiel nie.

Go to Old Delhi, behind the Jama Masjid, and look at the way they keep chickens there in the market. Hundreds of pale hens and brightly coloured roosters, stuffed tightly into wire-mesh cages, packed as tightly as worms in a belly, pecking each other and shitting on each other, jostling just for breathing space; the whole cage giving off a horrible stench – the stench of terrified, feathered flesh. On the wooden desk above this coop sits a grinning young butcher, showing off the flesh and organs of a recently chopped-up chicken, still oleaginous with a coating of dark blood. The roosters in the coop smell the blood from above. They see the organs of their brothers lying around them. They know they’re next. Yet they do not rebel. They do not try to get out of the coop. The very same thing is done with human beings in this country. […] Here in India we have no dictatorship. No secret police. That’s because we have the coop.

Oorlewing hier moet simplisties wees, dit kan nie anders nie: You can put the key of his emancipation in a man’s hands and he will throw it back at you with a curse. Adiga skryf dat die rede hiervoor is dat jy gebonde is aan diegene rondom jou in n letterlike lewe-en-dood situasie, maar ek sou dink dat selfs so ‘n verduideliking te intellektueel, te gekompliseerd is. Op die ou einde is dit net te veel moeite – selfs al sou ‘n honderd miljoen individue uitbreek sal dit niks aan die land verander nie. Daar bly nog negehonderd miljoen mense oor wat nie omgee oor jou nie en wat nie hulle lewe kan of wil verander nie. Dus mag jy jou persoonlike ambisies bereik, maar om hier te bly leef sal jy steeds met die res van die samelewing moet kommunikeer. Niemand sal ernstig luister nie, almal sal voortgaan soos altyd. Of jy nou ‘n hoender of ‘n slagter is of die slagter se baas se baas is, ‘n oppervlakkige samehangendheid bevoordeel almal. Dit is iets wat ek waardeer, en waarop ek op n vreemde manier jaloers is.

Ek hou van Indië en Delhi, maar nie op ‘n uitspattige manier of spirituele vlak wat dalk nodig is om in te val met die romantiese ‘idee’ van hierdie land wat mense so graag wyd en suid proklameer nie. Ek en die stad het ‘n emosionele maar platoniese verhouding. Die geskiedenis van die sub-kontinent is oorweldigend en soms moeilik om mee tred te hou, en dus bewonder ek die feit dat mense dit so maklik van hulle daaglikse lewe kan distansieer én terselfdertyd kan verpersoonlik, sonder verwyt of skuld, soos hulle dit benodig, ten koste van ander. Enige priester by enige tempel in Delhi sal jou ‘n deal maak: die béste god vir jou bekom teen ‘n goeie prys. Dis maklik en goedkoop. En as jy bietjie straataf rondsoek wed ek jou jy kry ‘n ander priester wat jou vyftig Rupees minder sal vra vir dieselfde god se seën, dalk sommer ‘n ietsie ekstra bygooi want hy het ‘n spesiale konneksie met ‘n spesifieke inkarnasie. Dit is nie innig nie, maar dit ís wel uiters belangrik. Hedge your bets, en die toekoms sal blink wees! Dus, moet my nie misverstaan nie: simplisiteit en oppervlakkigheid in hierdie samelewing as geheel is nie verkeerd of sleg of dubieus nie. Inteendeel, dit is wat dit is – prakties en vertroud, en daarom ongelooflik om in te kan meedeel. Soos ‘n Indiese vriend onlangs oor Delhi geïnsinueer het: as jy nie môre meer geld gemaak het as vandag nie, het jy te hard daaroor gedink.

My stukkie sonsondergang in die suide van 'n groot stad

My stukkie sonsondergang in die suide van 'n groot stad

* marcelle olivier spandeer tans ‘n bietjie kreatiewe dink- en skryftyd in Indië. New Delhi vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Marcelle Olivier. Betekenis in ‘n platoniese verhouding”

  1. maria :

    Absoluut wonderlik!!! Baie dankie Marcelle – sjoe, ek het inderdaad Aravind Adiga se The White Tiger in Desember gelees, net na Kiran Desai se The Inheritance of Loss (ek kan nie glo ek het die hierdie stuk gemis nie – waar was ek die 7e Jan??!), en ek stem heeltemal saam oor die boek – dis ‘n moet-lees! En nou het jy my gedagtes uiteindelik bietjie ‘georden’ want hulle dool en dwaal nog heeltyd na die leeservaring – want al wat ek kon dink na The White Tiger was: waaroor kan ons Suid-Afrikaners nie alles oor dankbaar wees nie, wat nog te se van leer by daardie kleurvolle-geurvolle land nie! Sjoe, ons leef mos nog in ‘n gladde hemel in vergelyking met die baie klasse en rasse en welvaart en gelowe en geografiese en klimaats ens. ens. verskille van Indie-en-al-sy-dele!

    Ek wens jou die beste wense toe met jou kreatiewe dink- en skryftyd daar toe en kan absoluut nie wag vir die verdere produkte nie (maar vat jou tyd, ons kan wag!)- want ek dink ons is in vir ‘n ding as jy NOU al so mooi en indringend oor daardie ryk stuk aarde en sy mense skryf! Geniet daardie inheemse gin&tonics intussen ook terdee!

  2. marcelle :

    Ek’s bly jy het die stukkie geniet, Maria – eitlik net’n klomp verfrommelde gedagtes wat hard probeer saamwerk het om sin te maak van hierdie tipe ‘anderste’.
    En ja, my G&T’s werk net so hard in te staan vir ‘n goeie Stellenbosch wyntjie en ‘n lekker vet stukkie steak. Alhoewel, ek sal nogal Sula Wynlandgoed se Dindori Reserve Shiraz kan aanbeveel, as jy dit ooit iewers op ‘n rak sien (maar ongelukkig het ek nog nie ‘n uitstekende stukkie vleis hier teegekom nie…