Oor depressie en skrywerskap

Skrywersfrustrasie

Skrywersfrustrasie

Dit is ‘n alombekende feit dat depressie hoogty vier by die rugkant van ‘n jaar. Daarom dat ‘n artikel op die Amerikaanse webtuiste Health.com my aandag getrek het. Hulle het naamlik onlangs die bevindinge van ‘n vraelys oor die verwantskap tussen beroepe en depressie gepubliseer. Daarvolgens kom hulle tot die aardskuddende gevolgtrekking dat skrywers geneig is tot depressie. Nogal sesde om die ranglys van Top 10. (Na verpleging en kindersorg, voedseldienste, maatskaplike werkers en gesondheidsorg.)

In ‘n onderhoud met The Guardian het die romanskrywer en jarelange depressielyer, Simon Brett, hom soos volg oor dié bevindinge uitgelaat: “You spend long hours sitting on your own. Writing can be wonderful therapy, but you are digging into yourself, and if you are writing fiction and creating characters, a certain amount of self-examination and self-doubt is inevitable. Many writers are also introverted, quiet people, and find it stressful to have their work assessed publicly.”

Dit is egter die digter, Gwyneth Lewis, se kommentaar wat my oog gevang het: “I’d argue the opposite, that given that writers do spend a lot of time on their own, and that the worldly rewards for poetry are minuscule, and given that most of the time you don’t know whether what you are doing is any good, it’s amazing that writers don’t suffer more,” het sy gesê en na digters verwys as “the SAS of the depression gang, willingly taking themselves into difficult terrain for their work.”

Maar dan dui sy ook die vreemde teenstrydigheid aan, naamlik dat jou skrywerk júís help as teenwig tot die depressie: “There is something in the principles of art that is not depressive, that’s so joyful,” het sy gesê en bygevoeg dat die opvatting “that you have to suffer to produce art” absolute snert is. “You have to be well. If you’re properly clinically depressed, you can’t think about rhyme.”

Nou ja, toe. Klink vir my na die óú filosofiese probleem van wat eerste was: die hoender of die eier. Of is dit eerder ‘n voorbeeld van ‘n ‘Catch 22’-situasie? Indien jy skryf, raak jy despressief en skryf jy nie, raak jy in ieder geval dáároor depressief. So – hoekom jou daaroor bekommer? Draai eerder na die donker kant van sake en geniet die lewe! Mmmm …

As leestoegif vanoggend, S.J. Pretorius se meesterlike kwatryn heelonder.

***

Sedert Vrydag het twee nuwe blogs bygekom: Andries Bezuidenhout vertel van sy besoek aan die Louws se huis op Sutherland en Marcelle Olivier skryf besonder insiggewend oor Indië en haar ervaring van Delhi. Fassinerende leesstof, inderdaad.

Ten slotte – hierdie Nuuswekker is Saterdagoggend reeds vir publikasie geskeduleer aangesien ek en Marlise die naweek nie toegang tot rekenaars gaan hê nie; synde op ‘n bootvaart na nêrens. Ek vra dus om verskoning vir die bloggers wat gedurende die naweek nuwe stukke geplaas het en dus nie hier vermeld – óf met ‘n blikvanger op die Klikbord aangekondig word nie.

Ons sal egter later vandag weer terug wees op ons pos.

Mooi bly.

LE

 

Pyn

 

Bedags krap ek hom tot sy wortels oop,

gooi hom met wat verby is op ‘n hoop,

maar as die dag breek na my nag se slaap

ontdek ek hy’t weer in my denke uitgeloop.

 

(c) S.J. Pretorius (Uit: Inkeer, 1948: Afrikaanse Pers-Boekhandel)

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Oor depressie en skrywerskap”

  1. ilze :

    Ja, maar kyk net wat het met Anne Sexton gebeur. Sy het jare lank met sielkundige probleme geworstel (is selfs eenkeer in ‘n inrigting geplaas net om ‘n gedig te skryf en weer ontslaan te word!) en dit is so te sê al waaroor sy geskryf het. Toe dit egter werklik sleg met haar gaan en min sielkundiges haar nog kon help, het die ink opgedroog en het selfmoord ingetree. So, ja, jy moet gesond genoeg wees om sinvolle woorde saam te ryg en wanneer jy dit doen is dit terapeuties.
    Navorsing van James W. Pennebaker werp meer lig hierop: http://www.goodreads.com/book/show/798927.Writing_to_Heal

  2. Louis :

    Beslis is Anne Sexton ‘n goeie voorbeeld, Ilze. Volgens Diane Wood Middlebrook, wat verantwoordlik was vir die inleidende artikel tot “The selected poems of Anne Sexton” (1988: Virago Press), is dit juis in opdrag van haar psigiater dat Sexton begin gedigte skryf het. Maar daar is natuurlik nog talle ander voorbeelde: Sylvia Plath, Paul Celan en Marina Tsvetayeva – om maar net drie te noem.
    Danksy selfmedikasie (soos drank byvoorbeeld) kon die meerderheid dit darem gelukkig maak tot ‘n (min of meer) natuurlike dood. Maar dat die skrywery dikwels maar ‘n kwessie is van wroeg en kners, is helaas ‘n feit so oud soos die oudste gedigte.
    Soos die Chinese digter Li Bai (701 – 762) wat volgens oorlewering in sy troostelose dronkenskap die maan se refleksie op die water wou omhels en toe oorboord geval en verdrink het.