US Woordfeesprogram: 2011
US Woordfees 2011: Elwe & Selwe
4-13 Maart 2011
Navrae: 021-808 3513, www.woordfees.co.za
Kaartjieverkope open op 1 Februarie 2011 by Computicket, tensy anders aangedui. Skakel vanaf 1 Februarie 021-808 2019 of 083 915 8000 of besoek www.computicket.co.za vir kaartjieaankope.
Die Woordfees beveel die volgende gastehuise en hotelle aan:
• Spier Hotel: 021-809 1100; reservations@spier.co.za
• Stellenbosch Lodge Country Hotel: 021-808 0100; info@stblodge.co.za
• Aan Dorpstraat: 021-886 4331; aandorpstraat@papegaai.co.za
• Besigheim: 021-887 6460; besigheim@mweb.co.za
• Casablanca Bed & Breakfast: 021-887 0939; casablancastellenbosch@msn.com
• Coopmanhuijs Boutique Hotel & Spa: 021-883 8207; info@coopmanhuijs.co.za
• Cultivar Gastehuis: 082 327 3344; info@culti-var.co.za
• Eendracht Boutique Hotel 021-883 8843; info@eendracht-hotel.com
• Kleine Zalze: 021-880 0717; quality@kleinezalze.co.za
• Knorhoek: 021-865 2114; guesthouse@knorhoek.co.za
• Magnolia Place: 021-883 8799; magnolia@katelenkos.com
• Oak Village B&B: 021-887 7889; oakvillage@volkskombuis.co.za
• Oakleaf Lodge: 021-884 4353; info@oakleaflodge.co.za
• Onze Rust: 083 556 3171; info@stellenboschstay.com
• Paradyskloof Guesthouse: 021-880 2538; kabouterbos@wam.co.za
• Protea Hotel Dorpshuis: 021-883 9881; reservations@dorpshuis.co.za
• Protea Hotel Techno Park: 021-880 9500; info@phstellenbosch.com
• Rosenview: 021-855 3613; info@rosenview.com
• Rustenbosch: 021-887 8549; info@rustenbosch.com
• Rivierbos Guest House: 021-887 2412; info@rivierbos.co.za
• Soverby: 021-881 3838; soverby@adept.co.za
• Stellenbosch Hotel: 021-887 3644; reservations@stellenboschhotel.co.za
• Summerwood: 021-887 4112; info@summerwood.co.za
• Wedgeview Country House & Spa: 021-881 3525; info@wedgeview.ca.za
• Wild Mushroom: 021-881 3586; info@wildmushroom.co.za
• Yellow Lodge: 021-887 9660; yellodge@alternet.co.za
Elf plekke
DIE PLATAAN-KAFEE
Hart-van die-fees agter die Sasol Kunsmuseum, met ete en drinke, cool praatjies en warm onderwerpe saam met RSG Nuus en RSG. By feeskunstenaar Walter Meyer se uitstalling, die Boektent se ryk skrywersprogram en die Boekportaal se boekverkope. Vanaf 21:00 toor ons die Boektent om tot Sanlam nagKAT, met kabaret, konsert en kinkels!
DE VETTE MOSSEL
Onder die bome langs die Sasol Kunsmuseum is ’n rusplek, storieplek, asemterugkryplek, plek van heerlike see-dinge en seëninge.
SPIER, Stellenbosch se spogkuierplek, speel vanjaar gasheer vir feesgangers en bied veral saans ’n tuiste vir teater en musiekskouspele.
As jy BILTON se natuurlike amfiteater en bekoorlike saal eers ontdek het, kan jy nie wegbly nie. ’n Ryk verskeidenheid musiek- en ander produksies betower en verruk!
WOW-KARNAVAL!
Van der Stel-Sportterrein bied vanjaar ’n heerlike fees op Vrydag en Saterdag, 11-12 Maart, met bekende kunstenaars: The Rockets, Lukmaan en Emo Adams, 7de Laan se Sanjay en Neville Meintjies, stalletjies en mallemeulens, sokker-skolekompetisies, skreeunaakse Robbie Wessels, Koekie, Salome en die Bakgat Boyz.
WOW-KARNAVALSTAP:
’n Blaasorkes en Klopse bring jou baie prettig na die WOW-Karnaval op Saterdag 12 Maart om 13:45. Kom geniet dit!
LAPA SE WOW-SPOOKBUS
’n Prettige rillerrit deur Stellenbosch en omgewing vir spooktoeriste. Net vir grootmense vergesel van kinders bo 10 jaar. Drie meesterskrywers: Jaco Jacobs, François Bloemhof en Fanie Viljoen, lees uit 13 Spookstories en stel jou aan sommige dorpspoke voor. Bring ’n flits. Ons laaf jou met vlugsout in ’n spookpakkie!
10 Maart 19:00 | Optelpunt: Kerkie op die Braak, aflaaipunt: Verbatim boekwinkel, h/v Andringa- en Dorpstraat | 120min | R60 kinders, R80 grootmense
LABIRINTE EN SELWE
Spesiaal! ’n Klip-labirint deur Terry de Vries op die Braak. Kom stap ’n persoonlike kreatiewe pelgrimstog of kom luister na Terry se uitleg.
8 Maart 10:00 | Die Braak | 60min | R30; 10 Maart 17:30 | Die Braak | 60min | R30; 12 Maart 10:00 | Die Braak | 60min | Gratis (Tromslaansessie ingesluit!)
KUNSROETE: ELWE EN SELWE
Kurator: Theo Kleynhans
Kom beleef die feestema heerlik en inspirerend, en kom koop uitstekende kunswerke teen spesiale feespryse. Net by die Woordfees! 4-26 Maart, PJ Olivier Kunssentrum.
WOORDtroFEES!
(Danksy die ATKV)
Wees die eerste om te hoor wie is Woordfees-wenners in 2011! Met pragtige troFEES deur Sanna Swart en Karen Zoid as gaskunstenaar. Laat weet voor 18 Februarie vir Jana (adminfees@sun.ac.za) as jy wil kom deel in die opwinding!
13 Maart 16:00 | Spier Ouditorium | 120min | Gratis
JOU EIE VRUG VAN DIE DRUIF
Kom pluk, trap en kuier by Pinotage-koning Beyers Truter, wat sy wynmaak-geheime met ons deel. Sluit jou eie Oesfees af met ’n heerlike ‘brunch’. Bespreek by Laurika du Bois: 082 886 5583 of laurikadubois1@gmail.com.
12 Maart 08:00 | Beyerskloof | 180min | R160 per persoon
Profiele
Ondersteun deur Naspers, tensy anders aangedui.
MARGARET BAKKES 80
Die gewilde prosaskrywer Margaret Bakkes vier vanjaar haar tagtigste verjaarsdag. Liesbeth Botha en Dorothea van Zyl kom stel ’n heildronk in op die lewe en werk van dié gevierde immer jong woordkunstenaar. Margaret wys waarom die talent so dik loop in die Bakkesfamilie se are. Seun Johann Bakkes kom loer in en neef Hennie Aucamp knik tevrede!
7 Maart 19:00 | Boektent | 80min | R40
PIETER W. GROBBELAAR 80
Pieter W. Grobbelaar se monumentale bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat word gevier in sy tagtigste lewensjaar. Adinda Vermaak praat oor Grobbelaar se lewensgeskiedenis en Dorothea van Zyl belig sy bydrae tot die kinderliteratuur. Randall Wicomb kom sing van die gewilde volkse liedjies wat Grobbelaar aan hom bekendgestel het.
8 Maart 19:00 | Boektent | 80min | R40
T.T. CLOETE 86
Die bekroonde digter, prosaïs en dramaturg T.T. Cloete het hom gevestig as een van die prominentste literêre figure in Afrikaans. Heilna du Plooy bring hulde aan Cloete die mens en Joan Hambidge gee ’n oorsig oor sy skrywersloopbaan. Elizabeth Frandsen sing André Strijdom se toonsettings van Cloete se verse. Ons is bevoorreg dat hy self by die Woordfees is – kom klink ’n glasie op ʼn groot gees!
9 Maart 19:00 | Sasol Kunsmuseum | 80min | R40
Skrywersfees
Ondersteun deur Naspers, tensy anders aangedui.
LAPA ROMANWEDSTRYD: PRYS-AAND
Deel in ’n aand van styl, feesvieringe en groot verrassings by die grootste skryfkompetisie tot nou in Suid-Afrika. Tydens die skemerkelkie word pryse oorhandig aan al die wenners van die roman- en jeugromankompetisie. Bespreek by Mariëtte Wienekus (mariettew@lapa.co.za) om die aand te geniet saam met LAPA en sy wenners. Beperkte aantal kaartjies beskikbaar.
4 Maart 18:30 vir 19:00 | Rupertmuseum, Stellentialaan, Stellenbosch | 90min | R100 | Drag: Skemerkelk
SPRAKELOOS MET TOM LANOYE
Met Tom Lanoye en Daniel Hugo; Volwasse, geen onder 12 (T)
Sprakeloos vertel hoe Tom se ma weens beroerte haar spraak en later haar lewe verloor het. Somber? Nee, want Lanoye se sprankel maak dit nie alleen ’n afskeid van sy jeug, van sy pa se slaghuis en die lewendige Vlaamse stadsbuurt waar hy grootgeword het nie, maar ook ’n humoristiese afrekening met ’n temperamentele amateur-aktrise wat teater en werklikheid nie kon skei nie. Daniel Hugo stel vrae aan Tom oor dié meesleurende en oorrompelende boek.
7 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R40
SANLAM | LITNET SKRYFNET: POËSIESKRYFSKOOL
(Ondersteun deur Sanlam, in samewerking met LitNet)
Met Danie Marais en Loftus Marais
Hou op wonder en twyfel oor die gedigte in jou laai en kom slyp jou woorde saam met die bekroonde digters Danie Marais en Loftus Marais. Vind uit wat werk en wat werk nie – en hoekom – in ’n ontspanne atmosfeer en ʼn klein groepie van 15 deelnemers. Stuur drie gedigte voor 20 Februarie 2011 vir keuring aan skryfskool@litnet.co.za.
8 Maart 09:00- 16:30 | De Hoek Gastehuis | R200
HOE VRY IS DIE VRYE VERS?
Middagete met Danie Marais en Loftus Marais
Sit aan by die gewilde De Vette Mossel saam met twee Marais-digters, Danie en Loftus, aanbieders van die Sanlam |LitNet-poësie-skryfskool. Dorothea van Zyl peil hulle ervaring met die wispelturige muse, modes, misverstande en twispunte in die kontemporêre poësie. ’n Moet vir alle poësie-aanhangers!
8 Maart 13:00 | De Vette Mossel | 90min | R80 (ligte ete ingesluit)
TOORWOORDE DEUR VALIANT SWART
Aangebied deur Lapa
Valiant Swart word bestempel as een van die voorste Afrikaanse liedjieskrywers van die afgelope twintig jaar. Hy word wyd gerespekteer as liriekskrywer en het reeds meer as ’n honderd oorspronklike komposisies op CD vrygestel. In Toorwoorde word sy lirieke saamgevat in ’n besonderse en poëtiese bundel. Hierdie versameling is meer as net liedtekste, dit is digkuns uit die pen van ’n ware woordkunstenaar.
8 Maart | 13:00 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R80
POËSIE: VYF VAN DIE BESTE
Met T.T. Cloete, Lina Spies, Petra Müller, Danie Marais en Joke van Leeuwen
Vier van Afrikaans se voorste digters lees voor uit eie werk, saam met die vonkelende vorige stadsdigter van Antwerpen. Kom verlustig jou en vind jouselwers in poësie uit die boonste rakke, soos ingelegde vrugte in ’n boordensvol woordspens!
10 Maart 19:00 | Sasol Kunsmuseum | 80min | R60
OOPMOND
Ondersteun deur die ATKV
Lus vir ’n smoelslanery op note? In dié gewilde program pak twee groepe digters mekaar om impromptu verse te produseer wat vier musikante terstond moet sing. Skeidsregter Hoerneef (Melt Sieberhagen) probeer die vrede bewaar tussen D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel), René Renaaissance (René Bohnen) en NP van Lykskou (Danie Marais). Die manne van DKW slaan die kitaar teenoor die kêrels van Klopjag. Kom kyk of mis yt!
10 Maart 19:00 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R40
DIS MY STORIE DIÉ
’n Spesiale geleentheid met vyf uiteenlopende skrywers wat lekker informeel met Amanda Botha gesels oor hulle werkwyse, die storie – en die mens – agter die boek. Die skrywers wat ons in hulle binnewêreld innooi, is Mariël le Roux, Karin Brynard, Irma Joubert, Christine Barkhuizen le Roux en Anzil Kulsen. Hierdie program teiken veral leeskringe, maar is bedoel vir elkeen wat ’n tuiste in die wêreld van boeke vind en jubel oor die ontdekking van ’n uitsonderlike boek.
11 Maart 11:30 | Boektent | 90min | R60 (Ligte ete ingesluit)
VLIEGER – UNPLUGGED
Ondersteun deur Rapport
Harry Kalmer se Vlieger-kortverhale neem Rapport se My Tyd-lesers terug na ’n era toe dinge anders was. En beter? Vlieger Unplugged is ’n gedramatiseerde voorlesing deur akteur Ben Kruger van die gewildste Kalmer-stories. ʼn Multimedia-vertoning.
11 Maart 14:00 | US Konservatorium: Fismer-saal | 50min | R40
DRIE MAKIETE
Met Charlyn Wessels, Wilna Snyman en Sandra Kotzé; Gespreksleier: Amanda Botha
Adam Small se Kanna hy kô hystoe het die Afrikaanse teater soos ’n sweepslag getref. Ons bring hulde aan dié geliefde skrywer deurdat drie aktrises wat Makiet op die verhoog vertolk het, kom vertel hoe hulle een van die grootste karakters uit die Afrikaanse drama beleef het. Hulle deel ook staaltjies uit en herinneringe aan ’n besonder interessante tyd in die Afrikaanse teatergeskiedenis.
11 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40
LAND OF BODY, BODY OF LAND
Featuring Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté, Karin Schimke and Leon de Kock
Contemporary South African poets perform poems in which a poetic crossing is made from language into the somatic weight and feel of bodies – both the bodies of land and the landscape of bodies.
11 March 17:00 | Boektent | 60min | R40
BEKENDSTELLING: RYMREISE
Aangebied deur Nasou Via Afrika
Uitgewers Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise sal jou deur die kosmos van die poësie laat vlieg op die rug van ’n perd. Alida Bothma se illustrasies van dié unieke bloemlesing vir laerskoolleerders en alle liefhebbers van poësie sal jou eweneens betower. Kom luister hoe van die digters voorlees en bekyk ’n uitstalling van die oorspronklike illustrasies. ’n Lekker vrolike partytjie vir oud en jonk! Bywoning is gratis, maar bespreek voor 7 Maart by rudi.venter@nasou.com.
11 Maart 19:00 | US Kunsgalery | 50min | Gratis, maar RSVP noodsaaklik
DRINK, DIG EN KUIER!
Aangebied deur Adam Tas Studentevereniging
Kom geniet ’n heerlike aand vol tintelende en treffende jong woorde. Studentedigters kom lees hulle verse en die gehoor kry kans om interaktief saam te help dig! Gratis landgoedwyn, buitelandse kaas en inheemse gedigte maak alles net nog geselliger!
11 Maart 20:15 | Aan de Braak Teater | 120min | Gratis
ROMANSKRYWERS: DIE GROOT VYF
Met André P. Brink, Elsa Joubert, Etienne van Heerden, Ingrid Winterbach en Arnon Grunberg
Vyf legendes op een verhoog! Kom luister hoe vier van die grootste Afrikaanse romanskrywers saam met die grootste lewende Nederlandse romansier voorlees uit hul jongste werk. ’n Opwindende prestige-geleentheid wat woordliefhebbers nie durf misloop nie!
12 Maart 11:00 | Boektent | 80min | R60
OOP MIKROFOON
Is jy ’n opkomende skrywer wat jou stem wil laat hoor? Kom lees jou beste drie gedigte of treffendste kort stukkie prosa voor op De Vette Mossel se verhoog. Kabous Meiring is die sjarmante gasvrou. Laat weet ons voor 1 Maart 2011 as jy wil deelneem, by woord@sun.ac.za. En aan die gehoor: Bring gerus geld saam vir ’n heerlike glasie wyn en lekker seekos terwyl jy luister na die trefferskrywers van môre.
12 Maart 15:00 | De Vette Mossel | 90min | Gratis
NB-fees
MARI GROBLER: TOE DIT NOG VROEG WAS
Die digter Mari Grobler gesels oor haar splinternuwe bundel Toe dit nog vroeg was, oor die oermense wat langs ons Suidkus geleef het, wie se nasate ons die San en die Khoi noem. Eintlik is dit net die digkuns wat dit kan waag om in hulle stiltes in te beweeg. Uitgegee deur Tafelberg.
8 Maart 11:00 | Erfurthuis | 60min | R30
DAN SLEIGH: NAVIGATOR VAN DIE GESKIEDENIS
Met romans soos Eilande en Afstande het Dan Sleigh homself bewys as een van die beduidendste prosastemme in Afrikaans. Die skrywer gesels met Die Burger se Murray La Vita oor hoe geskiedenis lewend raak in fiksie en die kreatiewe gees voed.
8 Maart 14:00 | Erfurthuis | 60min | R30
TWEE DIGTERS DEBUTEER
Joan Hambidge gesels met twee digters wat onlangs by Human & Rousseau gedebuteer het. Kom luister watter fasette van menswees Martina Klopper ontsluit met Nadoodse ondersoek, en hoe Andries Samuel met Wanpraktyk sy eie digspore ooptrap.
8 Maart 18:00 | Erfurthuis | 60min | R30
MARIËL LE ROUX EN ESTA STEYN
Mariël le Roux gesels oor haar tweede roman, Die naamlose, wat onlangs die tweede prys in die Sanlam Groot Romanwedstryd gewen het. Sy sal in gesprek wees met die bekende en geliefde Esta Steyn wat haar derde roman, Droomdelwers, bekendstel. Beide van Tafelberg.
9 Maart 11:00 | Erfurthuis | 60min | R30
WERKSWINKEL: SANLAM-PRYS VIR JEUGLEKTUUR
Reeds vir 30 jaar borg Sanlam die jeugromanwedstryd. Vanjaar se sluitingsdatum is 30 Junie. Tafelberg bied hierdie slypskool aan vir alle voornemende skrywers, met wenke van vorige wenners en algemene riglyne. Kom en wen!
9 Maart 14:00 | Erfurthuis | 120min | R50
BEKENDSTELLING: WELMA ODENDAAL EN ABRAHAM DE VRIES
Twee bekende skrywers, een gesprek. Human & Rousseau stel die keur van Welma Odendaal se kortverhale, Vreemdeling, en Abraham de Vries se Die behoue huis, met trots bekend. Die skrywers, wat elk op ’n ander manier besondere kleur aan die kortverhaalgenre verleen, praat met Francois Smith.
9 Maart 18:00 | Erfurthuis | 60min | Gratis
IRMA JOUBERT: PÉRSOMI
Uitgewer Etienne Bloemhof gesels met Irma Joubert oor haar roman, Pérsomi, kind van die Brakrant, wat onlangs by Human & Rousseau verskyn het. Hierdie kleurryke roman van die gewilde skrywer, wat aansluit by die topverkoper Anderkant Pontenilo, speel af in die Bosveld, maar met die 1940’s se stormagtige politiek en die 1950’s se Apartheidswette as breë agtergrond.
10 Maart 10:00 | Erfurthuis | 60min | R30
ELSA JOUBERT: REISIGER
Gerrit Olivier gesels met die gevierde Elsa Joubert oor die tweede volume van haar outobiografie, Reisiger, wat onlangs by Tafelberg verskyn het. Dit is ’n voorreg om hierdie groot skrywer vir die eerste keer by die Woordfees te verwelkom.
10 Maart 12:00 | Erfurthuis | 60min | Gratis
’N REISIGER NA ELDERS: DIGTER JOAN HAMBIDGE
Uitgewer Etienne Bloemhof gesels met Joan Hambidge oor reise in die buite- en binnewêreld van ’n digter, by die bekendstelling van haar nuutste bundel gedigte, Visums by verstek (Human & Rousseau).
10 Maart 14:00 | Erfurthuis | 60min | Gratis
MISDAAD BETAAL: SKRYWERS IN GESPREK
Koos Kombuis gesels met Piet Steyn oor Tou (Tafelberg); P.J. Haasbroek oor Kruispunt (Human & Rousseau) en Karin Brynard oor Plaasmoord (Human & Rousseau). Wat maak moord so spannend en misdaad so betalend?
11 Maart 10:00 | Erfurthuis | 60min | R30
BOEREOORLOG EN BOEREVERRAAIERS
Elna Boesak gesels met Albert Blake oor sy omstrede boek, Boereverraaier, gepubliseer deur Tafelberg. Hierin ontbloot Blake hoe Boereverraad tydens die dekades van Afrikaner-nasionalisme onder die mat gevee is, maar ook hoe dit tot in die 20ste eeu nog by Afrikaners gespook het.
11 Maart 14:00 | Erfurthuis | 60min | R30
KOFFIE UIT KOOS SE KOMBUIS
Joernalis Erns Grundling gesels met Koos Kombuis oor sy bundel rubrieke, Die reuk van koffie, wat pas by Human & Rousseau verskyn het. Natuurlik is dit koffie met ’n skop, in pas met ’n skrywer wat telkens kom met ’n ander blik op blik op blik.
11 Maart 18:00 | Erfurthuis | 60min | Gratis
KORTVERHAALKUIER
Pryswennerjoernalis en skrywer Willemien Brümmer gesels met kortverhaalskrywers Nicole Jaekel Strauss – Maal (Tafelberg), Anna Kemp – Op reis met ’n hond, Helena Gunter – Met koffer en kaart en Christine Barkhuizen le Roux – Wat die oog gesien het (al drie gepubliseer by Human & Rousseau) oor hoe hulle kyk en deur die lewe reis om iets besonders op die tafel te plaas.
12 Maart 11:00 | Erfurthuis | 60min | R30
JANIE DU PLESSIS: ʼn KEUSE VIR DIE LEWE
Kerneels Breytenbach, skrywer en voormalige uitgewer, gesels met Janie du Plessis oor haar onthutsende biografie, geskryf deur Martie Retief Meiring en uitgegee deur Tafelberg.
12 Maart 18:00 | Erfurthuis | 60min | R30
Aan tafel
SPORTLEGENDES
(In samewerking met SuperSport en Klipdrift)
Luisterryke legendes in die ware sin van die woord! Ontmoet Springbok-ikone uit die goue era van Suid-Afrikaanse sport. Hempies du Toit, Elana Meyer en Dawie Snyman se staaltjies sal sportliefhebbers nog lank bybly. Rugbywêreldbeker-wenner Francois Pienaar, Joel Stransky en Cobus Wiese gesels met Toks van der Linde. Omroepers Hennie Pietersen en Jan Snyman lei die gesprekke oor ’n heerlike ete. ’n Aand met wenners vir wenners – moet dit nie mis nie!
9 Maart 19:00 | Stellenbosch Gholfklub | 150min | R150 (ete ingesluit)
AANDWANDELING MET SPOKE
Op hierdie gewilde staptog begelei Pietman Retief feesgangers op die dwaalroete van onrustige geeste. Wanneer die spokejag verby is, word daar in die historiese Erfurthuis aangesit vir ’n welverdiende maaltyd saam met die dapperes van gees. Net die regte resep vir die feestema! Bespreek by 021-887 2937 – as jy genoeg murg in jou pype het!
10 Maart 19:00 | Erfurthuis | 120min | R120 (ete ingesluit)
SOETE GROETE
Met Arnon Grunberg, T.T. Cloete, Joke van Leeuwen, Herman Bogaert, Heilna du Plooy en Diana Ferrus. Musiek deur Jak de Priester, asook deur die uitstekende Visfilmusic, met Hans Visser en Irena Filippowa
Ons kuier vanjaar gesellig en informeel by Bilton se spitbraai, met van die grootste name uit die Nederlandse en Afrikaanse letterkunde – en met heerlike musiek wat jou tone sal laat kriewel en jou hartsnare sal roer. ’n Belewenis vir alle liefhebbers van woorde, musiek en lekker kos.
11 Maart 19:00 | Bilton Wynlandgoed | 120min | R150 (ete en wyn ingesluit)
SKEMERVERSE
Met Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Melt Myburgh, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins, Ronelda Kamfer en Gert Vlok Nel
Daar is geen beter manier om die skrywersprogram af te sluit as in die koel, rustige atmosfeer van die Botaniese Tuin nie. Geniet die voorlesings van feesdigters saam met Gert Vlok Nel se toonsettings van sy eie gedigte. ʼn Heerlike ligte maaltyd word bedien uit die Katjiepieringkombuis. Drankies te koop.
13 Maart 18:00 | Botaniese Tuin | 120min | R120 (ete ingesluit)
Aan tafel by De Vette Mossel
Kom skop jou skoene uit by De Vette Mossel en laat jou feesvoosvoete rus kry by die Woordfees se eie seestrand. Klink ’n glasie van die Kaap se heel beste en lê weg aan ’n oorvloed seekos.
REEKS: VIER FORMIDABELE VROUE
In hierdie sprankelende hoogtepunt op die Woordfeesprogram voer Riana Scheepers ontbytgesprekke met voortreflike vroue: Christina Landman, Marlene le Roux, Raenette Taljaard en Evita Bezuidenhout. Oor ’n glasie vonkelwyn van Beyerskloof word dié merkwaardige presteerders gepols oor hul werk en lewens, maar veral oor … nou ja, dit wat jy nog nooit van hulle gehoor het nie! Die gesprekke is informeel, informatief en interaktief, want die vier vroue kry ook die kans om aan die gehoor ’n vraag of wat te stel (ligte ontbyt ingesluit).
CHRISTINA LANDMAN is predikant, skrywer, filantroop, musikus en die eerste vroulike professor in Teologie in Suid-Afrika. Haar dikwels omstrede uitlatings oor teologie en seksualiteit sou haar ʼn paar eeue gelede ongetwyfeld op die brandstapel laat beland het, maar met wie sal sy op ’n eiland gestrand wil wees? En sal sy ’n Pienk Boek by haar hê?
9 Maart 09:00 | De Vette Mossel | 50min | R60
RAENETTE TALJAARD: Slim, sjiek en sjarmant … Raenette Taljaard is senior lektor aan die Universiteit van Kaapstad en direkteur van die Helen Suzman-Stigting. Sy is die jongste vrou nog wat as lid van die Suid-Afrikaanse parlement verkies is, woordvoerder vir die DA en Skaduminister van Finansies tot 2005. Maar hoe vaar sy in die kombuis?
10 Maart 09:00 | De Vette Mossel | 50min | R60
MARLENE LE ROUX: Direkteur, kunstenaar, filantroop, Vrou van die Jaar en Chevalier des Ordres et des Lettres. Wat het in dié merkwaardige vrou se lewe gebeur om haar ’n wêreldreisiger, gemeenskapsleier én model te maak? En is daar iets wat sy nié kan doen nie?
11 Maart 09:00 | De Vette Mossel | 50min | R60
EVITA BEZUIDENHOUT: Hoekom was Evita nog nooit die teiken van ’n politieke sluipmoord nie – of wás sy? Is dit haar sjarme, moederlike wysheid of haar geheime koeksisterresep? Suid-Afrika se grande dame van die politieke arena vertel waarom WikiLeaks besonder in haar belangstel, en hoe sy die snuiters elke keer troef.
12 Maart 09:00 | De Vette Mossel | 50min | R60
***
WOORDFIKS MET SUPERSPORT
Hoe dikwels word sportkommentators betrap met ʼn mond vol woorde? Kry saam met SuperSport ’n idee wat aangaan in die koppe van kommentators soos Hennie Pietersen en Jan Snyman.
8 Maart 18:00 | De Vette Mossel | 50min | R40 (ete uitgesluit)
PINOTAGE EN PERLEMOEN
Met Niël du Bois, Beyers Truter en Visfilmusic (Hans Visser & Irena Filippowa)
Strandkok en twakprater Niël du Bois vertel hoe mens nou eintlik seekos moet benader – en bewys dit met oorvloed uit die Vette Mossel-potte. Wêreldberoemde wynmaker Beyers Truter ontsluit die geheime van wyn en vertel die volle naakte waarheid (en ander liegstories) oor hoe om wyn te geniet. Proe saam en word eensklaps ’n wynkenner. Dié joviale here word bygestaan deur die gewilde Hans Visser en Irena Filippova. Hulle kombineer Russies en Nederlands in sensuele sigeuner- en ander klanke.
9 Maart 18:00 | De Vette Mossel | 180min | R180 (ete ingesluit)
PEDRO KRUGER IN PERSPEKTIEF
Niël Rademan gesels met die boytjie van Brackenfell wat vanjaar 40 word. Hy kyk terug op ’n musiek- en akteursloopbaan wat al vele hoogtepunte opgelewer het. Kom vind alles uit oor dié knap kêrel wat so ’n groot aanhang geniet. Bring jou beursie saam vir ’n lekker seekosgereg van die Du Boisspyskaart.
10 Maart 13:00 | De Vette Mossel | 50min | R40 (ete uitgesluit)
STORIEVUUR
Met Johan Bakkes, Karin Brynard, Diana Ferrus, Harry Kalmer, Dana Snyman en Koos Koegelenberg
Johan Bakkes speel gasheer vir die sappigste storievertellers in Afrikaans. Daar word gesellig bespiegel oor spoke wat loop en allerlei bonatuurlike verskynsels. Koos Koegelenberg se akkordeon sorg vir lekker musiek, terwyl gaste weglê aan al die gange van Niël du Bois se heerlike seekosfees.
10 Maart 18:00 | De Vette Mossel | 150min | R180 | Volwassenes (ete ingesluit)
IN GESPREK MET ZIETS EN ROCCO
Elzabé Zietsman en Rocco de Villiers loop al ’n lang pad saam. Wanneer hulle boonop saam op ’n musiekverhoog verskyn, is dit ’n kombinasie uit die sewende hemel. Kom geniet ’n vinnige middagete in De Vette Mossel, terwyl jy luister hoe Niël Rademan dié twee uitvra oor ’n lewe in die musiekbedryf.
11 Maart 13:00 | De Vette Mossel | 50min | R40 (ete uitgesluit)
Stories agter stories
Tweegesprekke met skrywers
PRAAT-PRAAT IN TAMATIESTRAAT
Aangebied deur Griffel Media
Francois Lotter vra vir Hennie van Deventer uit oor sy humorstories. Allerlei verleenthede, skades en skandes uit sy omswerwinge word onthul. Vrugbare temas word ontgin, soos stuitighede by begrafnisse, avontuurlike laat-liefdes, krom kommunikasie, dikvellige kuiergaste, mediese moleste, betjoinste boetebessies en veel meer. Dit is Van Deventer se 15de gewilde boek.
7 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R40
’N KAS IS (STEEDS) VIR KLERE
Protea Boekhuis is trots om ’n Kas is vir klere weer uit te gee. Hierdie keer is die teks omvattender, met ’n heel nuwe afdeling waarin Pieter Cilliers terugkyk op die korrespondensie, kommentare, ondersteuning en woede wat die boek die eerste keer uitgelok het. Yolanda Dreyer gesels met hom.
8 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40
PETER VELDSMAN EN HESTER VAN DER WALT
Die bekende kosskrywers Peter Veldsman en Hester van der Walt gesels met mekaar oor hul jongste boeke. Met Veldsman se ’n Mondvol lekker en Hester se brood deur Van der Walt word sielskos met ’n fyn sin vir humor opgedis wat die monde laat water. Kom luister na die kombuisgeheime van twee mense wie se hande vir niks verkeerd staan nie!
8 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R40
PRAAT VERBY GRENSE
Aangebied deur Umuzi-Uitgewers
Ds. Laurie Gaum en sy pa, dr. Frits Gaum, het in e-posse groot onderwerpe aangesny soos gay-wees, die NG Kerk, die Bybel, vergifnis en geregtigheid. Praat verby grense word ’n ontroerende en inspirerende gesprek tussen twee begaafde mense wat hulle eie en mekaar se grense uitdaag. Kom luister na pa en seun, en kom stel jou eie vrae.
9 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R40
HANLIE RETIEF RAPPORTEER
Aangebied deur Protea Boekhuis
Hanlie Retief se beste onderhoude met meer as 60 persoonlikhede oor die afgelope amper 20 jaar in ’n opwindende bundel! Van Julius Malema tot Vernon Koekemoer. Andries Bezuidenhout gesels met Hanlie oor haar lewe en haar werk.
9 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40
BODYHOOD – A CONVERSATION WITH LEON DE KOCK
Leon de Kock’s acclaimed volume of poems Bodyhood (2010) raises the issue of the body in relation to masculinity. De Kock will be in conversation with poet and author Johan Myburg.
9 March 16:00 | Boektent | 50min | R40
GENESIS VIR VANDAG
Aangebied deur Christelike Media Publikasies
Prominente en populêre filosoof, akademikus en skrywer Willie Esterhuyse gesels oor sy nuwe boek, Die God van Genesis. Dit is die opvolg van die topverkoper God en die gode van Egipte. Hy vergelyk die Genesisverhale met andere vroeëre en latere stories in die wêreldkultuur.
10 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R40
POMP 2011
Aangebied deur Griffel Media
Pomp-lesers is voëls van annerste vere. Pomp-bydraers Stella Viljoen, Douwleen Bredenhann, Karin Brynard en Christine Wessels vertel vir Johannes Bertus de Villiers wat alles sit agter die jongste uitgawe wat soveel opspraak verwek het. Kom vind uit wat maak dié stylvolle, lewendige en polsende viering van die kunste in Afrikaans so gewild.
10 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R40
BIOGRAFIE VAN ʼn BENDE
In Fokofpolisiekar se fotoryke amptelike biografie vertel musiekjoernalis Annie Klopper hoe hierdie bekende punkrock-groep deur bloedsweet en ’n paar goeie sakebesluite een van die bekendste bands in die land geword het. Joernalis Henry Cloete gesels met die outeur en lede van die groep.
10 Maart 15:00 | Boektent | 90min | Gratis
VAN DIEP WATER TOT GYPSYDANSE
Met twee De Kocks: Helene en Nadia
Helene de Kock (Somersneeu) en Nadia de Kock (Heildronk op ’n gypsyromp) gesels met Madri Victor oor liefdesromans en chick-lit: genres wat as ‘maklik’ beskou word, maar goed geskrewe gewilde prosa hou baie uitdagings in. Dié verhale bied ontvlugting maar spreek op subtiele, onderhoudende en dikwels humoristiese wyse ernstige sosiale kwessies aan.
10 Maart 17:00 | Boektent | 50min | R40
MARIKE SE LAASTE DANS
In Deborah Steinmair se opspraakwekkende debuutroman, Marike se laaste dans, wandel en vlieg geeste en kontemporêre karakters die wye wêreld vol en gooi Steinmair alle konvensies vreesloos oorboord. Annemarié van Niekerk vra die skrywer uit oor dié unieke verhaal waarin allerlei grense verskuif en oorgesteek word.
12 Maart 10:00 | Protea Boekwinkel | 50min | Gratis
MOORD, LIEFDE EN PROFETE
Met Chanette Paul en Valiant Swart
Valiant Swart gesels met Chanette Paul oor haar romantiese spanningsroman Meetsnoer. In hierdie nuutste toevoeging tot die Gys Niemand-reeks val meetsnoere soms in afgryslike plekke – veral in die skadu van die Oordeelsdag. Twee bekende en gewilde skrywers en kunstenaars met baie op die hart.
12 Maart 11:00 | Protea Boekwinkel | 50min | Gratis
POËSIE VAN DIE SMAL EN BREË WEG
Akademikus Marthinus Beukes gesels met digter Tom Gouws oor Ligloop en sy ander bundels. Die temas in Gouws se werk word op boeiende wyse belig. Vind uit hoe werk die kop van dié woordsmid.
12 Maart 12:00 | Protea Boekwinkel | 50min | Gratis
PAPAWERS
Met Ingrid Vander Veken en Christine Barkhuizen le Roux
Papawers vertel die aangrypende verhaal van ʼn vrou se verhouding met haar stiefseun wat aan skisofrenie ly. Sy begin ’n gesprek met hom in die hoop om hom en sy siekte te leer begryp, maar haar konfrontasie met die skimme in die seun se kop bring meer vrae as antwoorde. Uiteindelik verloor hy beheer en dobber hy al verder weg, terwyl sy twee ouerpare magteloos toekyk. Die skrywer gesels met haar Afrikaanse vertaler.
12 Maart 13:00 | Protea Boekwinkel | 50min | Gratis
BLOEDSPOOR
Met Karin Brynard, Chris Marnewick, Izak de Vries en Kerneels Breytenbach
Die verhouding van skrywers en die Suid-Afrikaanse landskap van geweld word ondersoek in hierdie lewendige gesprek oor die stories wat uit ons gewelddadige bodem ontstaan. Kenners se kommentaar op ’n baie relevante kwessie.
12 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40
Woord-ure
MEDIUM SPECIFICITY
With Aryan Kaganof and Christo Doherty
Many artists today do not restrict their work to just one genre or medium but work interchangeably with different mediums. Writer, visual artist and filmmaker Aryan Kaganof discusses his work with Christo Doherty (head of the Wits Arts School) in terms of medium specificity and explores how content is influenced and potentially altered by different mediums.
7 March 14:00 | Boektent | 50min | R40
WANDELING OOR ARGITEKTUUR
Hoe goed ken jy die argitektoniese skatte van Stellenbosch se middedorp? Matilda Burden neem jou op ʼn staptog wat jou met ander oë sal laat kyk na die hart van die Eikestad.
7-12 Maart 17:00 | Vertrek vanaf Erfurthuis | 60min | R40
NUWE SENSUURBEDREIGINGS VIR DIE VRYE WOORD
Met Dene Smuts, Ampie Coetzee, Johan Retief en Piet Westra
Die moontlike muilbandaktiwiteite wat spruit uit die regering se planne om ’n media-tribunaal en sensuurwetgewing in te stel, kom onder die loep. Prominente gespreksgenote soos die DA-skaduminister van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling (Dene Smuts), ’n veteraan kampvegter teen apartheidsensuur (Ampie Coetzee) en Adjunk-Persombudsman van die SA Persraad (Johan Retief) praat met Piet Westra, ontvanger van die Albie Sachs Vryheidstoekenning.
7 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40
FEES VAN DIE ONGENOOIDES
Chris van Niekerk verbeel hom hy is deel van ’n radioverhaal en bring Fees van die ongenooides deur P.G. du Plessis met sy stem en al die byklanke tot lewe. Margot Luyt het vir die klankbaan gesorg van hierdie heel besondere aanbieding.
7 Maart 17:30 | US Konservatorium: Fismer-saal | 60min | R60
WAAR SPOKE SPEEL
Met Johann Nel, Joanie Combrinck, Waldemar Schultz, Jannie Hofmeyr
Regisseur Juanita Swanepoel span gesoute akteurs in om legendariese spoke in die Afrikaanse letterkunde te laat lóóp oor die Boektent-verhoog. In dié vrolik-skrikwekkende program is die ruiter van Skimmelperdpan slegs een van vele onrustige wandelaars wat koue rillings langs ruggrate afstuur. Beslis nie vir sissies nie, maar vir mense wat opgaan in die feestema: wonderbaarlik!
7 Maart 21:00 | Boektent | 50min | R60
GEESTE AGTER DIE GORDYN
Aangebied deur Griffel Media
In Agter die somber gordyn onthul Johannes Bertus de Villiers die vergete geskiedenis van spiritisme onder Afrikaners – ’n subkultuur tot in die 1970’s van mense wat deur tafelkloppery en glasie-glasie geeste opgeroep het. Van dié ou spiritiste het al in die 1930’s hul ervarings opgeteken. De Villiers bespreek sy navorsing oor dié vergete okkulte-geskiedenis, asook Afrikaanse spook- en esoteriese gelowe wat die spiritistiese gier voorafgegaan het.
8 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R40
STORIEBOU: STYLKASKENADES
Prof. Marianna Visser gesels met twee kortverhaalskrywers oor die stilistiese aspekte van skryf: die veteraan Abraham H. de Vries en debutant Nicole Jaekel-Strauss. Die skrywers verduidelik hoe sinne se nekke omgedraai en woorde se orde omvergegooi word om uitdrukking aan hul kreatiwiteit te gee.
8 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R40
DDT JABAVU OF FORT HARE: IMBUMBA YAMANYAMA
Davidson Don Tengu Jabavu (1885-1959) of Fort Hare University was the first Black teacher of Classics in South Africa, passionately concerned with educating his people and intensely involved in the early liberation struggle. Jo-Marie Claassen reflects on the life and work of this educator who was as comfortable before an international audience as he was talking to the simplest rural farmer.
8 March 14:00 | Boektent | 50min | Free entry
TEATER IN DIE KOLLIG
Met Saartjie Botha, Ingrid Winterbach, Marthinus Basson en Willem Anker
Ons talentvolste dramaturge en innoverendste regisseur sit koppe bymekaar oor die stand van sake in die hedendaagse Afrikaanse teater. Saartjie Botha vra Winterbach, Basson en Anker uit oor hul indrukke van Afrikaanse produksies op kunstefeeste.
9 Maart 17:00 | Boektent | 50min | R40
FILOSOFIEKAFEE
Met Anton van Niekerk, Paul Cilliers, Johan Hattingh, Hannes Smit en Vasti Roodt
Deurwinterde Stellenbosse filosowe sê mekaar oudergewoonte die stryd aan by die immergewilde Filosofiekafee. Kom kyk hoe die wysgere mekaar pak oor die bo-aardse en die ondermaanse, die paranormale en die alledaagse, die vreemde in die bekende, en die bekende in die vreemde. Bederf jouself met ’n gereg van die spyskaart en ’n drankie, sit terug en geniet. Bespreek gou – dis altyd vroeg reeds uitverkoop!
9 Maart 19:00 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R60 (ete uitgesluit)
BOEREKOS!
Dine van Zyl (skrywer en kenner van boerekos), Hettie Claassens (kenner van die geskiedenis van boerekos) en Matilda Burden (kultuurhistorikus) gesels oor die herkoms, die gebruike en die herlewing van die boerekoskultuur. Dis nostalgies, dis kontroversieel, dis opwindend – en dis alles in die kwylbek klank van Afrikaans!
10 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R40
ANDRÉ LE ROUX EN KERNEELS BREYTENBACH
Kerneels Breytenbach neem die gewilde Sarie-rubriekskrywer André le Roux onder hande oor sy jongste boek Kan ek maar aan jou selluliet vat? In dié “Kook & Geniet van intieme verhoudings” word mites oor die liefde ʼn vuishou toegedien. Kom vind uit waarom Kerneels die boek beskryf as “opspraakwekkend, oorspronklik en briljant”.
11 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R40
VEREENIGING, DIE ONVOLTOOIDE VREDE
Aangebied deur Umuzi-Uitgewers
Met sy vertrekpunt – dat die nuwe Suid-Afrika se grondwet op Nelson Mandela se aandrang by Vereeniging onderteken is, soos die Vrede van Vereeniging wat die Unie tot stand gebring het – stel Leon Wessels die vraag hoe ver ons op pad na vereniging gevorder het. In sy memoir beantwoord hy dit aan die hand van vyf groot temas: die regstaat, menseregte, rassisme, versoening en armoede. Wessels, wat ’n ver pad gekom het sedert sy berede dae, praat oorredend en met ontwapenende eerlikheid oor nasionale en eie dwalings.
11 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40
ROLPRENTE IN ʼn DIGITALE ERA?
Aangebied deur die Cape Winelands Film Festival.
Met Hannes van Zyl, Martin Botha, Gabriel Botma, Elsabé Daneel, Katinka Heyns en Pierre Lombard
Om verskeie redes het Suid-Afrika nooit ’n omvattende rolprentkultuur geskep nie. Is dit nou te laat? Films moet vandag met allerhande ander digitale en visuele media meeding en daar is baie filters wat die vertoning van ’n globale verskeidenheid prente in Suid-Afrika beperk. Hoe kan filmfeeste en -verenigings waardering vir films vergroot in die digitale era?
11 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R40
NEERLANDISTIEKDAG
Ondersteun deur die Nederlandse Taalunie, Kaapse Forum vir Neerlandistiek, Van Ewijck-Stigting en Fonds Neerlandistiek.
’n Boeiende dag spesiaal vir studente van ses verskillende universiteite, vol insiggewende praatjies en onderhoude met die Nederlandse skrywers en kunstenaars by die fees, asook interessante lesings. Kom ontmoet Herman Bogaert, die groot skrywer Arnon Grunberg en die sprankelende Joke van Leeuwen wat haar eie verse illustreer. Bespreek gou – daar is net enkele plekke vir belangstellendes van buite!
12 Maart 09:00 - 14:00 | Letteregebou: Lokaal 693 | 360min | R50 (ligte ete ingesluit)
KAAP VAN SLAWE
Met Marthinus van Bart
Die Britse slawebedryf van meer as 30 jaar was die grootste in sy soort in die geskiedenis. Hoewel daar betreklik baie oor die Transatlantiese bedryf geskryf is, word die Britse slawebedryf aan die Kaap die Goeie Hoop, die Kaapkolonie en Suid-Afrika vandag nog geheim gehou. Maar nou kom lig Martiens die sluier – ook met visuele beelde – op ’n veelbewoë tyd.
12 Maart 10:00 | Ou Hoofgebou: lokaal B | 60min | R40 | Volwasse
EK HAAT EN EK HET LIEF
Aangebied deur die US Departement Antieke Studie
’n Dramatiese voordrag van gedigte deur die Romeinse liefdesdigter Catullus, in Afrikaans vertaal deur Annemarie de Villiers. Catullus stoei dwarsdeur sy oeuvre met sy gevoelens van liefde en haat teenoor die beeldskone Clodia wat nie sy onvoorwaardelike liefde beantwoord nie. Die liefde neem ’n duisend vorme aan – trakteer jouself op die klassieke weergawe.
12 Maart 12:00 | US Konservatorium: Fismer-saal | 60min | R50
HERMAN BOGAERT
Moontlik gemaak deur die Vlaamse Kultuurstigting
Die bekende Nederlandse podiumkunstenaar Herman Bogaert bring vanjaar met besondere monoloë hulde aan twee groot skrywers uit die Lae Lande – Multatuli, wat sy Max Havelaar 150 jaar gelede geskryf het, en Willem Elsschot, wat 50 jaar gelede oorlede is. Kom kyk hoe bring hy groot geeste tot lewe in ’n optrede wat uitstekende reaksie uitgelok het by Woordpoort in Pretoria.
12 Maart 15:00 | Boektent | 90min | R40
Diskoers
RSG Nuus en RSG bied weer opwindende regstreekse uitsendings aan vanaf die Plataan-kafee in die Sasol Kunsmuseum se agtertuin. Laurie Gaum, self ‘n passievole meningsvormer, het van die gespreksonderwerpe saamgestel rondom die vraag: Terug na tradisionalisme?
Besprekings vir ontbyt by 082 874 2176. Almal kan egter gratis kom luister na:
Monitor, 7-11 Maart, 07:00 tot 08:00: Die bekende Cobus Bester praat met ’n reeks prominente meningsvormers.
RSG, Praat saam met Lynette Francis. 7-11 Maart, 8:00 tot 9:00: ’n Boeiende reeks gesprekke – kom stel jou vrae!
Spektrum, 7-11 Maart, 13:00 tot 14:00: Die span se interessante onderhoude met ʼn verskeidenheid gaste is immergewild – en die geliefde Iris Bester is weer gasaanbieder.
Naweek aktueel, Saterdag 12 Maart, 12:00 tot 13:00: Die aktualiteitsprogram met ’n verskil! Vir mense wat wil wegbreek en die wiele laat rol of sommer net ’n bietjie anders na die lewe kyk.
GRENSE AAN EKONOMIESE GROEI?
Lynette praat met Koos Bekker en Stan du Plessis
Die wêreldwye ekonomiese ineenstorting van 2008, sowel as die ekologiese krisis, roep vrae op oor die volhoubaarheid van ongebreidelde ontwikkeling. Die vraag op die tafel is: Behoort ekonomiese groei begrens te word?
7 Maart 08:00 | Plataankafee | 60min | Gratis
IS ‘DIE HUWELIK’ OP DIE ROTSE?
Ondersteun deur BybelMedia
Lynette praat met Chris Jones en Ecclesia de Lange
Met die heteroseksuele huwelik onder druk, word gevrees dat tradisionele gesinswaardes bedreig word. Kan die huwelik tussen mense van dieselfde geslag herwaardeer word? En wat van poligamie? Chris Jones, redakteur van Kan ons nie maar net saambly nie? en Methodisteprediker Ecclesia de Lange, werp lig op die saak.
8 Maart 08:00 | Plataankafee | 60min | Gratis
MEDIA-ETIEK EN SELFREGULERING: KAN DIE MEDIA REGTIG SY EIE WAGHOND WEES?
Lynette praat met Christi van der Westhuizen en Elna Boesak
In die voortgaande inligtingrevolusie wend regerings wêreldwyd pogings aan om toegang tot inligting te beperk. Is daar ’n wesenlike gevaar vir ’n terugkeer na die ‘tradisionele’ geslotenheid van die Suid-Afrikaanse samelewing? En is ons demokrasie lewenskragtig genoeg om weerstand te bied? Is die media aan die ander kant te vertrou met selfregulering? En is dit wat WikiLeaks doen, geregverdig?
9 Maart 08:00 | Plataankafee | 60min | Gratis
OP SOEK NA NUWE MANLIKHEID
Lynette praat met André Agenbag en Robert Hamblin
Tradisionele manlikheid is onder druk in ’n samelewing wat beweeg van ʼn patriargale verlede na groter gender-gelykheid. Reaksies hierop wissel tussen ’n teruggryp na tradisionele rolle en hoë vlakke van geweld wat teen vroue en kinders gepleeg word. In hierdie gesprek word alternatiewe ondersoek.
10 Maart 08:00 | Plataankafee | 60min | Gratis
WÊRELDBEKER 2010: DIE BEGIN VAN DIE EINDE VIR RUGBY?
Met Danny Jordaan en Fanie du Toit
Het verlede jaar se sokkerwêreldbeker ’n blywende voorkeur vir sokker by die nasie laat ontstaan of kan rugby ’n terugkeer maak? En watter rol speel internasionalisering om die stand van rugby en sokker onherroeplik te verander?
11 Maart 08:00 | Plataankafee | 60min | Gratis
*********
16 JUNIE 1976 – 35 JAAR LATER
Aangebied deur die Afrikaanse Taalraad (ATR).
Met Albert Grundlingh, Wannie Carstens, Ria Olivier, Alana Bailey, Danny Titus en Michael le Cordeur
Die ATR nooi almal, veral ook jongmense, studente en leerders, uit na ʼn belangrike gesprek oor die volgende vrae: Is die herdenking van Jeugdag relevant vir alle jongmense en alle tale in Suid-Afrika? Ervaar mense Afrikaans steeds as ’n verdrukkerstaal of het dit ’n taal van versoening en geleenthede geword? Laat hoor jou stem by dié geleentheid!
11 Maart 14:00-17:00 Inleiding en oorsig: Opvoedkunde: Onderste saal | Gratis
12 Maart 09:00-13:00 Reaksies en debat: Opvoedkunde: Onderste saal | Gratis
WEES JY DIE REGTER | YOU BE THE JUDGE
Aangebied deur die Regsfakulteite van die UK en die US
Met o.a. Regter Dennis Davis, Pierre de Vos en Sandy Liebenberg
Soos in die TV-program You be the Judge lei Regter Dennis Davis ’n tweetalige paneelbespreking waartydens kundige regslui hulle uitspreek oor aktuele sake, soos: die dreigende mediatribunaal, die onafhanklikheid van die regbank, die aanstelling van regters, en ander aangeleenthede wat die behoud van die demokrasie en fundamentele menseregte bedreig.
12 Maart 09:00 | Ou Hoofgebou: J.C. de Wet Saal | 120min | R40
WETENSKAPLIKE BEVINDINGS: IS DIE PUBLIEK HORENDE DOOF?
Met George Claassen, Dawie van Velden en Elsabe Brits
Waarom glo mense die wetenskap net wanneer dit hulle pas? Hoekom is so baie Afrikaanssprekendes skepties oor wetenskaplike teorieë soos evolusie en die oerknal? Swyg wetenskaplikes terwyl pseudowetenskaplike denke en kwakkery hoogty vier in ons media en in die kunste? Wie het watter punt beet oor hierdie belangrike sake?
12 Maart 11:00 | Ou Hoofgebou: Lokaal B | 90min | R40
STELLENBOSCH AS ’N BATE: WAARHEEN?
Met Andreas van Wyk, Martie Retief-Meiring, Pietman Retief en David Daniels
’n Indringende debat oor die kruispad waarby Stellenbosch tans staan: net nóg ’n voorstedelike legkaart, of ’n unieke bestemming? Prominente rolspelers in die munisipaliteit, sakelewe en die Universiteit besin oor sake soos dorpsbeplanning, opvoeding en sport. Is Stellenbosch steeds een van die voorste dorpe of bly ons agter? Kom gee jou mening.
12 Maart 11:30 | Ou Hoofgebou: J.C. de Wet Saal | 90min | Gratis
Woordmusiek
‘BOKKIE VAT JOU SLOOP…’: AFRIKAANSE LIEFDESLIEDJIES IN VOLKSTRANT
Matilda Burden kom praat oor egte Afrikaanse volksliedjies, opgeteken uit die volksmond, en laat hoor hoe hulle gesing word, met kitaarbegeleiding. Die liedjies teken die selwe van volkse mense op, met hulle fyn waarnemingsvermoë, woordvaardigheid, skerp humorsin, aardsheid, pretensieloosheid en ook kruheid. Is hierdie liefdes- en hartseerliedjies sommer so geskryf, of het dit ’n onderskeibare vorm?
7 Maart 17:00 | Boektent | 50min | R40
BOEGOE VANNIE LIEFDE
Regie: Adri Breed; musikale regie: Franco Prinsloo
Hans du Plessis en Lize Beekman gee saam nuwe lewe aan die topverkoper-bundel met Griekwa-gedigte, Boegoe vannie liefde. Hierdie woord-en-musiekproduksie vertel die storie van die twee geliefdes in Hooglied. Die pragtige teks, lirieke en musiek voer die gehoor op mistieke wyse weg tot diep, diep in die rooi Kalahari. Twaalf van Potchefstroom se talentvolste jong kunstenaars tree op.
7 Maart 20:15 | 8 Maart 17:30 | Konservatorium: Fismer | 60min | R80
VAN WINTERNAGTE EN ANDER LEGENDES
Kom ervaar nostalgie én bewondering wanneer Hoër Jongenskool Paarl se mannekoor ons op ’n reis neem deur die lewe van Eugéne Marais, befaamde patriot en digter uit die vorige eeu, aan die hand van voorlesings en toonsettings uit die skrywer se mooiste gedigte en prosawerk. ʼn Vokale ensemble ondersteun die koor en Marissa van Zyl tree op as solis en begeleier.
8 Maart 20:15 | US Konservatorium: Fismer | 60min | R50
TSOTSITAAL, ’N NCA, FLAAI LINGO OM TE WEETIE
Robert Pearce verduidelik die aard, oorsprong en voorkoms van Tsotsitaal wat so ver terug as 1916 gebruik is deur gangsters, skollies én township intellectuals. Dié taal, vermeng uit Afrikaans, Engels en ander inheemse tale, het ’n unieke woordeskat wat steeds aan die ontwikkel is. Liedjies en gedigte in Tsotsitaal word gelees en gesing. Kom luister hoe besonders die taal gegooi word!
9 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40
AS JY LUISTER
Met Frieda van den Heever, Lou-Ann Stone en trio
Die ryk spektrum van Sheila Cussons se oeuvre klink op uit haar gedigte wat sangeres/aktrise Frieda van den Heever en digter/saksofoonspeler Lou-Ann Stone getoonset het. Die oorkoepelende temas laat ruimte vir eksperimentering met ’n nuwe tipe klank, wat ondersteun word deur ’n trio met die bekende jazz-pianis Ramon Alexander (klavier), Josh Prinsloo (baskitaar) en Annemie Nel (tromme en perkussie).
9 Maart 17:30 | Konservatorium: Fismer | 60min | R85
GOUE EEUE: ’N UYS KRIGE-HULDEBLYK
Leon Albert het onlangs ʼn CD saamgestel met kontemporêre toonsettings van Uys Krige se gedigte, genaamd Goue Eeue. In dié musiekteaterproduksie met dieselfde naam word hulde gebring aan die Goue Seun wat ’n eeu gelede gebore is. Maak kennis met Albert op stem, klavier, kitaar en trekklavier.
9 Maart 20:00 | Erfurthuis | 45min | R70
VERGESIGTE VERMEERDER IN VERS EN FUGA
Met Tom Gouws, Dinti Lotz en Leani Reynolds
Getoonsette gedigte oor Johannes Vermeer, aangebied as ’n Delftse doek, ingekleur met voorlesings teen die agtergrond van skilderye en grepies film, om só die visuele wêreld van Vermeer te vermeerder in vers en fuga. In Afrikaans, Nederlands en Engels.
10 Maart 17:30 | US Konservatorium: Fismer | 50min | R50
NIËL RADEMAN IN KONSERT
Met Rika Vermeulen op klavesimbel en klavier
Die gewilde woordmusiekkunsteNAR Niël Rademan sing nuwe toonsettings van gedigte deur o.m. Melt Myburgh, Hennie Aucamp en Louis Jansen van Vuuren. Die styl wissel tussen ligte rock, kabaret, die klassieke kunslied en die blues. ’n Grensverskuiwende produksie wat nie gemis mag word nie!
12 Maart 17:30 | Konservatorium: Fismer | 50min | R100
Kabaret en Konsert
GRATIS LAATAANDVERMAAK IN DIE KABARETTENT:
Die Sanlam nagKAT is die ideale kuiertent vir almal wat plesier en koelte soek in die soel Maartse laat-aande of gesellig skouers wil skuur met gevestigde én opkomende kunstenaars. Na die wonderlike vertonings word tot laat gekuier, en die volgende kunstenaars tree gratis op:
8 Maart 22:15 - Marika Reinke
9 Maart 22:15 - Johan Falck, Lucas Heinen, Richard Anraet en Pierre Theron
10 Maart 22:15 - Bianca de Klerk en Celeste Kruger
11 Maart 22:15 - Marlo Minnaar, Maryke Nel en Lucas Heinen
12 Maart 22:15 - Grethe van der Merwe en Johan de Jager
DAS IST BERLIN / DIT IS BERLYN
Met Chris van Niekerk, Elizabeth Frandsen en Rika Vermeulen (klavier).
Regie: Niël Rademan
As sentrum van die Weimarkultuur was Berlyn die bakermat van die kabaret – die spreekwoordelike ystervuis in die fluweelhandskoen. Hierdie wilde kind van die teater wil soms vervreem, ontmasker of opvoed, maar ook altyd vermaaklik oorreed. In hierdie sprankelprogram word die werk van Aucamp, Brecht, Blumer, Hollaender en Weill tot lewe geroep.
9 Maart 21:00 | Sanlam nagKAT | 60min | R100
11-3-71
Aangebied deur Wordsmith’s Theatre Factory. Met Pedro Kruger
Jy dink terug aan jou Wiskunde-onderwyseres in matriek wat gesê het jy sal moet uithaal en wys in die eksamen, want die eksaminator het nie ’n foto van jou nie. En in jou hart is jy nog murgsag en bloedjonk, maar die ou in die spieël raak dan nou 40. Na 25 jaar in die industrie, op die vooraand van sy 40ste, kyk Pedro Kruger geestig en gevat terug op die mense wat sy lewe kardinaal verander het.
10 Maart 21:00 | Sanlam nagKAT | 60min | R100
ONE ACT
Met Elzabé Zietsman en Rocco de Villiers
Saam terug op die verhoog na 16 jaar! Aktrise, sanger en sjef Elzabé Zietsman span saam met pianis en cocktail connoisseur, Rocco de Villiers, met ’n seleksie songs, gedagtes en herinneringe. Dié diva en haar divo is goed-geklee, goed-geoefen, goed-geolie en wel ter tale! Deel magiese momente met die musiek en wysheid van twee geliefde kunstenaars.
11 Maart 21:00 | Sanlam nagKAT | 80min | R100
BREL & PIAF: PARYSE TWEESANG
Met Herman van den Berg, Naomi Morgan en Jolette Odendaal.
In vonkel-Afrikaans, danksy Naomi Morgan en Bernard Odendaal
’n Paryse straatkind vertel oor dié lewendige stad in die jare vyftig: stad van Henri Cartier-Bresson, Jacques Brel en Edith Piaf. Foto-projeksies, ’n sprankelende vertelteks en aangrypende gunsteling-chansons deur Brel en Piaf sorg vir onvergeetlike vermaak.
12 Maart 21:00 | Sanlam nagKAT | 80min | R100
Sanlam Dramafees
WHEN THE SAINTS GO MARCHING IN
Deur Hennie Aucamp. Met Virginia Davids en Pieter van Zyl.
Regie: Juanita Swanepoel.
Hierdie Aucamp-stuk handel oor ’n bruin gospelsangeres, Suster Gloria, wat voor wêreldgehore optree, maar in die proses ontnugter word. Een aand laat, in ’n kroegie in ’n Brusselse agterstraatjie, vind sy weer die ‘lig’. Drama, woordkuns, musiek en fisieke beweging word in die produksie gekombineer. Die beweging spruit voort uit die mime corporel-tradisie van Etienne Decroux, wat Pieter van Zyl in Europa en Amerika bestudeer het.
6 Maart 18:00 | 13 Maart 18:00 | Klein Libertas Teater | 60min | R100
OOM ANTON BY DIE SEE
Uit Engels in Afrikaans vertaal deur Alewyn Lee. Met Waldemar Schultz, Francois Toerien, Jan-Hendrik Opperman, Johann Nel, Petrus du Preez, Ira Blanckenberg, Esther von Waltzleben, Stephanie Hough, Gaerin Hauptfleisch, Hugo Theart en Stephanie Badenhorst.
Regie: Juanita Swanepoel.
Anton Chekhov kuier by sy strandhuis in Jalta en ontvang besoek van lede van die Moskou Kunsteater. Die tafel is gedek vir heerlike komiese vermaak deur dié geselskap wat vir hul oorlewing afhanklik is van Chekhov-tekste. ’n Heerlike komedie oor die vroeëre dae van teater – vol intelligente, eksentrieke en flambojante karakters.
6 Maart 20:30 | 8 Maart 20:30 | 13 Maart 20:30 | Klein Libertas Teater: Buiteverhoog | 135min | R80, R40 vir studente en skoliere
KORTE METTE MET DIE VERSAMELDE WERKE VAN WILLIAM SHAKESPEARE
Aangebied deur TEATERteater
Teks: Adam Long, Daniel Singer en Jess Winfield. Vertaling en verwerking: Zandra Bezuidenhout en die geselskap. Met Wessel Pretorius, De Klerk Oelofse en Dean Balie. Regie: Hugo Theart.
Drie akteurs! 37 toneelstukke! 154 sonnette! Twee lang gedigte! In NET 99 minute! Na nege suksesjare op Broadway kan Suid-Afrikaners hulle verlustig in die oeuvre van William Shakespeare … in Afrikaans (wel, gedeeltelik). Geniepsig en genotvol. Vir Jack Parow, Jan Rap en sy Maat. Dis die antwoord. Vir meer inligting, besoek www.teaterteater.com.
7 Maart 18:00 | 12 Maart 17:00 | Klein Libertas Teater | 99min | R85 | Ouerbegeleiding
ROOI KAART
Deur Dana Snyman. Met Frank Opperman. Regie: Gys de Villiers
Na die sukses van Die uwe Pottie Potgieter is Frank Opperman terug as Wally Koekemoer, die president van ʼn plaaslike rugbyklub. Wally behartig die jaarlikse prysuitdeling en doen sy bes om alles bymekaar te hou, al het die meeste spelers nie opgedaag nie! Hy het ook ’n paar geraamtes in die kas wat dreig om uit te tuimel nog voor die eindfluitjie blaas, Jy sal beslis met ’n glimlag uitstap!
7 Maart 18:30 | 8 Maart 18:30 | Spier Ouditorium | 70min | R80, R40 vir studente
GOD VAN CHAOS
Ko-produksie met Absa KKNK en Innibos. Met Anna-Mart van der Merwe, Johann Nel, Martelize Kolver en Leon Kruger.
Regie: Hennie van Greunen.
In dié Afrikaanse weergawe van die wêreldtreffer-komedie wat met drie Tony’s bekroon is, besluit twee paartjies om ’n geveg tussen hul onderskeie seuns uit te sorteer op ’n algemeen-beskaafde manier. Die ontmoeting begin stil, maar ontaard dan in ’n voorstedelike burgeroorlog met appeltert, brandewyn, sarkasme en vlymskerp humor as wapens.
7 Maart 20:15 | 8 Maart 20:15 | Spier Amfiteater | 120 min | R90, R100, R110 | Geen O/12
VERGENOEG
Gebaseer op Marita van der Vyver se roman. Teksverwerking: Alexa Strachan. Musiek: Herman van den Berg. Met Sandra Prinsloo, Milan Murray en Alexa Strachan.
Regie: André Odendaal.
Is dit hoe dit voel om dood te gaan? Adèle is sterwend aan kanker. Haar een dogter versorg haar – met die hulp van bietjie alkohol en baie make-up. Die ander doen nie juis iets nie, behalwe om moeilikheid en deurmekaar te maak. Daar is dinge wat gesê moet word, ander wat verswyg moet bly. Menslik, tydloos, met patos en fyn humor. Drie groot aktrises wat weet hoe.
7 Maart 20:15 | 8 Maart 20:15 | Oude Libertas Amfiteater | 80min | R80, R90, R100 | Geen O/14 (T)
SPRAKELOOS
Met Tom Lanoye.
In hierdie eenmanstuk neem Tom Lanoye bestek op van sy ma se beroerte, haar spraakverlies, haar langsame aftakeling en uiteindelike dood. Lanoye se sprankel maak dit nie alleen ’n afskeid van sy jeug, van sy pa se slaghuis en die lewendige Vlaamse stadsbuurt waar hy grootgeword het nie, maar ook ’n humoristiese afrekening met ’n temperamentele amateuraktrise wat teater en werklikheid nie kon skei nie. (Woon ook sy gesprek met Daniel Hugo by oor hierdie boek.)
7 Maart 20:30 | Klein Libertas Teater | 90min | R75
DIE HUWELIKSAANSOEK | DIE BUFFEL
Deur Anton Chekhov. Met Sjaka Septembir, Jaco Nothnagel, Cintaine Schutte en Phillip Rademeyer. Regie: Sandra Temmingh | Ilse Fourie.
Twee Chekhov-dramas op een verhoog! Die huweliksaansoek ondersoek die effek van swaar ekonomiese tye op die huweliksinstelling. Iwan en Natalja bevind hulle in ’n moeilike situasie waar die familienaam ten alle koste bewaar moet word, met skreeusnaakse gevolge. In Die buffel stamp ʼn ruk-en-rol-luisterende weduwee heeltyd koppe met haar iPod-behepte swaer wat ʼn regte hip hop-buffelkop is. Beleef die groot veldslag van die pop-kultuur! Beslis nie jou ma se Chekov nie!
8 Maart 18:00 | 11 Maart 20:30 | Klein Libertas Teater | 75min | R70 Geen O/13
DOWWE DOLLA DOEN DIT STAANSTAAN!
Teks: Hennie van Greunen en Jurgen Human. Met Margit Meyer-Rödenbeck. Regie: Hennie van Greunen.
Met die rooi lollie stewig in haar kies is Dowwe Dolla sekerlik Suid-Afrika se geliefste en bekendste blondine. Sy is ’n vrou oor wie daar uiteenlopende opinies is: Sy word gehaat deur sommige; bemin deur te veel; beswadder deur bitterbekke en bewonder deur haarself. Sy is ’n vrou met vele talente en uiteenlopende belangstellings, baie kennisse en min kennis. Met haar vlymskerp tong looi sy almal en alles wat voorkom. Sy sal Woordfeesgangers laat skater oor die wêreld waarin hulle bly.
9 Maart 18:30 | Spier Ouditorium | 60min | R80, R40 vir studente | Geen O/13 (T)
A WORM IN THE BUD
By Reza de Wet. With Stephanie Hough and Karolien van Zyl.
Director: Gaerin Hauptfleisch.
A thought provoking work by the acclaimed Reza de Wet, internationally regarded as “South Africa’s most significant playwright since Athol Fugard”. The play is an account of an Englishwoman’s post-Anglo Boer War quest to bring Victorian enlightenment to Africa and the Afrikaner, only to find a cauldron of madness in her inkwell. Theatre critic Lisa Witepski described it as “the most compelling production I have seen this year” and one that is, “quite simply, unmissable”.
9 March 20:00 | 10 March 20:00 | 11 March 20:00 | PJ Olivier Kunssentrum | 85min | R85
JANNEMAN
Deur Elaine Murphy. Met Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel en Hannah Borthwick. Vertaal, verwerk en geregisseer deur Hennie van Greunen.
Ontmoet drie generasies vroue van dieselfde gesin wat ’n trauma-jaar beleef: Kay (63), haar dogter Lorraine (41) en Lorraine se dogter, Amber (20). Janneman is soms skreeusnaaks en soms ongelooflik treurig. Drie buitengewone aktrises bring hierdie vroue na ons op ’n manier wat die krag, broosheid en wysheid van vrouwees uitmuntend uitlig in drie ordinêre maar passievolle lewens.
9 Maart 20:15 | 10 Maart 20:15 | Spier Amfiteater | 100min | R90, R100, R110
SPYT
Bekroon met die AngloGold Fyngoud-prys vir beste produksie by Aardklop 2010. Deur Ingrid Winterbach.
Met Stian Bam, Waldemar Schultz, Nicole Holm, Leanna Dreyer, Sjaka Septembir, Vicky Davis, Phumeza Rashe, Lulu Botha en Shaun Acker.
Regie: Brink Scholtz.
Te laat, te laat, altyd te laat. Manne en meisies en waarop dit afstuur. Brose harte, begerige lywe, ai. En dan daarna: spyt. ’n Verhoudingsdrama met ’n verskil: tragikomiese opset, donker humor, eiesoortige dialoog. So verskriklik vermaaklik, so verskriklik verskriklik. Nie vir fyngevoeliges of preutses nie. Winterbach is ‘n Hertzog-pryswenner. Spyt is haar eerste verhoogstuk.
9 Maart 20:15 | 10 Maart 20:15 | Oude Libertas Amfiteater | 80min | R80, R90, R100 | Geen onder 16
SKOLLIES
’n Komedie deur Leon Kruger. Met Stian Bam en Brendon Daniels.
In ’n sel van 3m x 3m sit en werk twee mans op mekaar se senuwees: William, opgesluit omdat hy ’n roofkyker is wat net SuperSport en BBC Food kyk en na 7de Laan se klankbaan luister, is behep met Vyfster van destyds en wens hy was Skollie. Saam met hom sit Abel agter tralies. Volgens die regter is hy ’n koekeloerder, al is dit sy eie vrou wat afgeloer is. ʼn Komedie waar seuns manne word en manne vriende. Vinnig, soms onwettig en heeltyd opwindend. As jy wil saamspeel, bring jou eie boeie en ’n bietjie brown sugar!
10 Maart 18:00 | 12 Maart 12:30 | Klein Libertas Teater | 60min | R80
MET DIE HOLM GEBORE
Deur Chris Vorster en Marion Holm. Met Marion Holm; Regie: Chris Vorster.
Om met die helm gebore te wees, is een ding, maar om met die HOLM gebore te wees, is nie net EEN ding nie … dis ’n hele nuwe produksie. Onder die top vyf verkopers by 2010 se KKNK en Volksbladfees – Marion Holm (volgens sommiges) op haar beste! Die produksie het ook ’n Fiësta-nominasie ontvang vir beste eenvrouvertoning.
10 Maart 18:30 | 12 Maart 14:00 | Spier Ouditorium | 75min | R80, R40 vir studente
MEDEA
Aangebied deur TEATERteater. Deur Dieter Reible; vertaling: Arnold Blumer. Met Coba-Maryn Wilsenach. Regie en ontwerp: Marthinus Basson.
In ’n tyd waar tannies met towerspreuke Blou Bulle wil tem vir die liefde, en waar gesinsmoorde gereeld voorkom, is die verhaal van Medea nog altyd waar en nuut. Sý moes alles (ook haar kinders) opoffer vir die liefde. In hierdie eenvrouvertelling word Medea gedwing om, as straf en vloek, vir ewig haar verhaal te herleef en oor eeue heen met die publiek te deel. Sien ook www.teaterteater.com.
10 Maart 20:30 | 12 Maart 14:30 | Klein Libertas Teater | 80min | R75 | Ouerbegeleiding
OUPA EN OUMA SIT OP DIE STOEP EN RAAK ROMANTIES
Aangebied deur JohanLida Produksies. Deur Leon Kruger. Met Johan en Lida Botha. Regie: Johan Botha.
Hoe raak getroudes nog romanties ná 42 jaar? In hierdie gewilde stuk word met deernis en humor gekyk na Oupa Stanley se chauvinisme en manlike selfvoldaanheid teenoor Ouma Debora se kamtige onderdanigheid. Kinders sien hulle eie oupas en oumas in dié twee karakters; ou getroudes herken die kleinlike konflikkies in hul eie huwelike, en mense op pad na die voorstoep begin onder groot gelag effe paniekerig raak oor die stoepsit wat kom.
11 Maart 14:30 | 12 Maart 10:00 | Klein Libertas Teater | 70min | R80
DAAI V-DING
Deur Esther von Waltsleben. Met Esther von Waltsleben en Jan-Hendrik Opperman. Regie: Francois Toerien.
Die akteurspaartjie ontleed verhoudings in ’n skreeusnaakse mengelmoes van sketse en skertse. Daar’s die rugby-ster wie se meisie op sy kop sit. Hoe vroeg kan jy sien of sy jou hasie gaan kook? En die hormonale spiertiere. Is ouens regtig deesdae so sensitief? Die mekaar-se-sinneklaarmaak-fenomeen word ook ondersoek. Jy ken hom, daai V-ding. So, kom lag ʼn slag vir jouself!
11 Maart 18:00 | 12 Maart 20:30| Klein Libertas Teater | 60min | R75
AS EK MAAR GEWEET HET
Met Shaleen Surtie-Richards. Regie: Casper de Vries.
Shaleen Surtie-Richards het ’n lang pad gekom sedert Fiela se Kind en in almal se harte gekruip as Nenna van Egoli. Sy het pryse ingeryg vir Shirley Valentyn. Saam met regisseur Casper de Vries maak hulle van hierdie lag-met-ʼn-traan stuk pure teater. Met haar briljante spel glip sy behendig van een situasie na ’n ander terwyl gehore skaterlag. Die teks bevat sketse deur o.a. Hennie Aucamp en Hennie van Greunen, en vertel ’n eenvoudige storie wat lewenswaardes aanspreek.
11 Maart 18:30 | 12 Maart 17:30 | Spier Ouditorium | 65min | R95
DIE SENDELING
’n Feestrust-produksie. Deur Elsa Joubert; verwerk deur Saartjie Botha. Musikale regie: Niël Rademan.
Met o.a. Lida Botha, Zane Meas, Mary Dreyer, Denise Newman en Stian Bam. Regie: Brink Scholtz.
’n Sendeling sterf en die leefwêreld van die sewentigerjare maak sy begrafnis ’n twispunt. Wie is welkom in wie se kerk en wie word die deur belet? Onder watter dak en van watter preekstoel sal ’n man van die Here verlaas groet? Die Sendeling is ’n terugblik op die verlede, maar ook ’n fyn besinning oor dood en die gemeenskap van gelowiges. Pragtige Halleluja-liedere uit ’n vervloë tyd vorm deel van die besondere belewenis.
11 Maart 20:15 | 12 Maart 20:15 | Oude Libertas Amfiteater | 70min | R80, R90, R100
DIE VREEMDELING
Gebaseer op ’n Frances Marek-kortverhaal; Met Ephraim Gordon, Rudi Malcolm en Dann-Jaques Mouton; Regisseur: Mark Fleishman.
’n Verlate dorp in die middel van nêrens. ’n Gemeenskap wat hulleself met ’n heining beskerm. ’n Vreemdeling verskyn in die verte: honger, dors en swak. ’n Jong vrou sien hom en besluit om die hek oop te maak … Hierdie trefferproduksie het reeds vyf benoemings vir fees- en teaterpryse ontvang.
12 Maart 11:00 | 12 Maart 20:00 | Spier Ouditorium | 65min | R60, R30 vir studente
Musiekfees: Kontemporêr
NEETHLINGSHOF SLENTERFEES
’n Skattejag op ’n drentelpas. ’n Eksklusiewe, intieme ontdekkingsreis vir die sintuie. ’n Volronde kultuurbelewenis vir ’n klein groep feesgangers wat ’n baie spesiale koers op die ryk historiese wynplaas inslaan en die een kunsskat na die volgende opdiep:
• ’n Kosdemonstrasie en ete deur Sonskynskafee-sjef en joernalis Mariëtte Crafford. Die omgewing en die seisoen (oestyd en kreefseisoen) bied die inspirasie vir ’n heerlike driegangmaaltyd met geregte soos oesbrode, korrelkonfyt en kreefpotjie;
• ’n Wynproe met die kwinksinnige Eisj-man, Neels van Jaarsveld;
• ’n Voorlesing deur die veelsydige en gewilde digter Danie Marais;
• ’n Trekkerrit met trekklavierklanke deur lede van Mr Cat and the Jackal;
• ’n Uitstalling deur visuele kunstenaar Carina Stander.
Die Slenterfees sluit ook toegang in na die skemerkonsert deur die geliefde 2010 Idols-wenner Elvis Blue. Sien onder vir meer besonderhede.
5 Maart 13:00 | Neethlingshof | 300min | R250
ELVIS BLUE
’n Skemerkonsert met die jongste Idols-wenner wat uit die staanspoor die nasie se verbeelding aangegryp het. Hierdie gesogte nuweling toer tans die land aan die brand met sy debuutalbum en verower ou en nuwe aanhangers so ver hy gaan. ’n Ware Idol op en agter die verhoog – ’n filantroop, familieman, musiekonderwyser en ’n top vermaaklikheidskunstenaar wat sy skielike sterstatus met die grootste gemak eien en oortref.
5 Maart 18:00 | Neethlingshof | 70min | R70
SOWETO GOSPEL CHOIR & NIANELL
Die Soweto Gospel Choir is gestig om die unieke en inspirerende krag van Afrika-gospel te vier. Hul eerste besoek aan die Woordfees beloof om ’n ongelooflike belewenis te wees. Hulle deel die verhoog met Nianell, die asemrowende sangeres wat musikale kulkunsies uitvoer met haar engelstem, in ʼn unieke versmelting van musiekstyle en -genres. Bespreek gou – dis ’n grote!
6 Maart | 20:15 | Spier Amfiteater | 90min | R90, R100, R110
KONSERTINA 11430
Met Niël Rademan, Ollie Viljoen, Ian Roberts, die Radio Kalahari Orkes, Manie Bodenstein, Barney van Dyk en Mariaan Wiese.
Kom in hierdie heel besondere musiekdrama vol groot name saam op ’n ontdekkingsreis deur die dagboek van ’n 1861 Wheatstone Konsertina. Beleef sy bydrae tot die versagting van leed, tot aanbidding, sy rol in die Afrika-volksdanskultuur, sy uitsonderlike uitdrukking van liefde, sy klank van toejuiging en uitbundige vreugde – tot hy as kultuurinstrument verhef is tot ikoon van die volkseie.
9 Maart 17:30 | Konservatorium: Endler | 80min | R85
BITTEREINDER
Uiteindelik slaan Bittereinder uit in die Kaap met hul vars Afrikaanse rap-album, ’n Ware verhaal. Kom jol saam terwyl Inge Beckmann (Lark), Richard Brokensha (Isochronous) en Tumi Molekane (Tumi & The Volume) die verhoog aan die brand rap. Gatskop-optredes deur Tumi en Yesterday’s pupil.
9 Maart 19:00 | Klein Libertas Teater: Buiteverhoog | 180min | R50, kaartjies by die hek
ROBBIE WESSELS EN BOBBY VAN JAARSVELD
Supergewilde Bobby van Jaarsveld en Robbie Wessels. Die liefling en die leeuloper. Die blonde blou-oog en die stoute seun van Suid-Afrikaanse popmusiek. Bobby sing treffers soos Spieëltjie en Net vir jou; Robbie vermaak met sy plat-op-die-aarde verhoogpersoonlikheid en gewilde, vlymskerp liedjies. Hierdie vertoning gaan die oë laat blink, die voete laat klop en die danspassies laat handuit ruk – as jy gelukkig genoeg is om plek te kry. Bespreek blitsig!
11 Maart 20:15 | Spier Amfiteater | 90min | R90, R100, R110.
’N VLAM TUSSEN TWEE VURE
Met Coenie de Villiers en Amanda Strydom. Musiekregie: Janine Neethling. Opgedra aan Lucas Maree.
Twee vooraanstaande musiekteaterkunstenaars span saam om in ’n pragproduksie ou gunstelinge te laat saamsing op ’n manier wat ʼn volkome ander dimensie daaraan verleen. Saam met die geniale Janine Neethling kom nie alleen die talente van die fenomene op sigself tot hulle reg nie, maar die natuur speel saam in ’n magiese buitelug-ervaring wat elke feesganger sal betower.
12 Maart 20:15 | Spier Amfiteater | 80min | R90, R100, R110
REEKS: MATT BLACKSESSIES, BILTON WYNPLAAS
Hierdie maandelikse musieksessies, vernoem na Bilton se gewilde rooi versnit, bied sedert Augustus 2010 vir Stellenbossers en die Helderbergstreek ’n splinternuwe ervaring, anders as die gewone cliché-vertonings op die kalender. Elke Matt Black-sessie is uniek, interaktief en outentiek, en word gehou in Bilton Wynlandgoed se natuurlike amfiteater, met die skouspelagtige goue hange van die Helderberg as agtergrond. Nou kan Woordfeesgangers ook kom uitvind waarom hierdie produksies van die begin af so gewild is:
STEF BOS EN ORKES
Die gevierde Nederlandse sanger en digter Stef Bos tree op saam met sy orkes in die buitelug. Kom geniet sy nuwe en ou treffers met ’n heerlike glasie Bilton-wyn. Moenie die piekniekkombers vergeet nie! Verlede jaar het Stef se ‘show’ so gou uitverkoop dat ons moet waarsku: bespreek gou en bespreek nou!
7 Maart 20:15 | Bilton Wynplaas | 90min | R80, R50 studente
KOOS KOMBUIS EN JAK DE PRIESTER IN BROOKLYN BABALAAS
Ervaring en jeug ontmoet in ’n vriendskap wat die toets van tyd kan deurstaan. Dat daar kontraste bestaan tussen die twee sanger-liedjieskrywers, is duidelik. Hoewel Koos en Jak se voorkoms en beeld hemelsbreed verskil, het hulle dieselfde vlymskerp humor en verrassende vermoë om ʼn boodskap met innige patos oor te dra. Die ligte geskerts kan dalk herinner aan daardie eerste Kerkorrel en Kombuis shows in die Black Sun, maar weet dat daar hier en daar ʼn sweempie opstand en drif kan volg. Koos en Jak word bygestaan deur Danny Smoke en Lucas Heinen.
8 Maart 20:15 | Bilton Wynplaas | 80min | R80, R50 studente
aKING SE NUWE CD
Die eerste en enigste Stellenbosch-bekendstelling van die bekroonde rockgroep se jongste album! Dis hul derde vollengte CD ná die wegholsukses van Dutch Courage in 2008, en die rustiger, meer volwasse klanke van 2009 se Against All Odds. Wees van die eerstes om te beleef hoe hierdie melodiese pop-rockers hul kragtoer voortsit met hul splinternuwe album.
9 Maart 20:15 | Bilton Wynplaas | 90min | R80, R50 studente
KAREN ZOID MET NICK TURNER EN ZINKPLAAT
Karen Zoid se vyfde album, terms and conditions, is in November 2010 uitgereik en sy is tans besig om die land plat te toer. In ’n loopbaan van meer as nege jaar het sy verskeie toekennings verower en ’n onmisbare deel van die Suid-Afrikaanse musiektoneel geword. By hierdie piekniekkonsert word sy ondersteun deur kitaarlegende Nick Turner en die immergewilde Zinkplaat, wat op dié aand self hul negende bestaansjaar vier. ’n Heerlike aand vol verrassings!
10 Maart 20:15 | Bilton Wynplaas | 120min | R80, R50 studente
CHRIS CHAMELEON & PLUSH
Met sy vol skedule van plaaslike en oorsese toere, witwarm Boo!-optredes, en die uitrits van een oorspronklike nuwe liedjie en rubriek na die ander, is dit ’n seldsame geleentheid om Chris Chameleon met net ’n kitaar op die verhoog te ervaar. Sy vertellings, kwinkslae en interaksie met die gehoor, saam met sy buite-die-boks en hartroerende mooi musiek, boei en betower telkens weer. Die internasionaal-bekende groep Plush kom lewer boonop ʼn akoestiese openingsrede.
13 Maart 18:00 | Bilton Wynplaas | 120min | R80, R50 studente
***
REEKS: BEYERSKLOOF MUSIEKMARATHON BY DORPSTRAAT TEATER @ SUMMERHILL
Beyerskloof se gewilde musiekmarathon is terug in ’n vars gedaante by die nuwe(rige) Dorpstraat Teater @ Summerhill. Hier kry jy musiek en woorde na elkeen se smaak, en ’n onvergeetlike kuier is gewaarborg. Kom geniet verrassende paradokse en ou bekendes in nuwe baadjies op die verhoog, gesellige wyne en lekker borde kuierkos, opgedis met die gemaklike gasvryheid so eie aan Dorpstraat Teater. Moontlik gemaak deur Beyerskloof. Let op: alle kaartjies ook deur Computicket:
ROBIN AULD
Robin Auld is al lank in ons land, maar sy musiek bly vars, vreemd en verrassend. Slide guitar, bekfluitjie, Afrika-blueskitaarklanke en ’n sangstyl wat op soul trek, duik alles op in Auld se vars, lewendige Roots-klank. Die wêreldreisiger bring die jongste van sy 12 albums, In the bay again, na Dorpstraat se intieme atmosfeer – slegs vir een aand.
4 Maart 20:15 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 90min | R60 (ete uitgesluit)
DDISSELBLOM
Sedert dié bekroonde trio se ontstaan in 2002 en die onvergeetlike treffers Nikotien & kafeïen, Goud en marog en Kiepie en Kandas, het elke lid ook as solokunstenaar naam gemaak. Nou is hulle saam terug op die verhoog en op CD, met hul jongste album, Onskuld, wat onder vanjaar se opwindendste uitreikings tel. In dié onskuld is deurdagtheid, ondersoek, bepeinsing en bowenal suiwer kreatiewe genot!
5 Maart 20:15 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 90min | R80 (ete uitgesluit)
EMILE MINNIE
Emile Minnie word nie verniet deur Laurika Rauch as een van die land se beste liedjieskrywers gereken nie. Hierdie KKNK Kanna-genomineerde vir Beste Musiekteater, World Song Contest-finalis en ATKV Crescendo Top 10-finalis is ’n Afrikaanse kunstenaar wat sy storie ken. Sy optrede bied ’n verfrissende mengsel oorspronklike kontemporêre liedjies van sy 2010-album Supernova, asook romantiese Franse kabaret-treffers van sy vorige album, Chanson.
7 Maart 13:00 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R80 (ete uitgesluit)
MET JOU HIER OP DIE MAAN
Laurinda Hofmeyr en Riku Lätti is albei bekend as uitmuntende sangers en liedjieskrywers. Saam sorg hulle vir ’n unieke en aweregse kombinasie weens hulle uiteenlopende style, in ’n interaksie vol verrassende variasie. Hulle begelei mekaar in hierdie ongewone vertoning om die beurt met klavier en kitaar in ’n intieme atmosfeer.
7 Maart 20:15 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R80 (ete uitgesluit)
JAN BLOHM & ANDRA
Andra word beskryf as Eddie Vedder wat tee drink saam met Alanis Morrisette, terwyl Jeff Buckley verbyry in ’n Mustang wat Marianne Faithfull kliphard oor die draadloos pomp. Jan Blohm kan vergelyk word met Stevie Ray Vaughan se alter-ego, Bruce Springsteen. Beleef die twee passievolle kunstenaars saam op een verhoog!
8 Maart 20:15 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R80 (ete uitgesluit)
HANS VISSER EN IRENA FILIPPOVA
Ondersteun deur die Van Ewijck-Stigting en Fonds Neerlandistiek.
Hierdie uitsonderlike internasionale groep met hulle fokus op twee tale en twee identiteite, kombineer Russies en Nederlands in liedere met akkordeonbegeleiding en ’n verleidelike sigeunerinslag. Beide het reeds talle CD’s, DVD’s en duisende optredes agter hulle naam in die Nederlande, Duitsland, Frankryk, Indonesië, Griekeland, Engeland, Rusland en die VSA. ’n Vertoning wat jy nie mag misloop nie – die Woordfees is bevoorreg om hulle in Suid-Afrika te kan verwelkom! Kyk hier op Youtube waarna jy kan uitsien!
10 Maart 13:00 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 60min | R50 (ete uitgesluit)
HELENA HETTEMA IN KABARET
In hierdie kragtoer voer Helena Hettema mee in Frans, met gewilde liedjies van Piaf, Brel, Albinoni, Becaud en Aznavour. Beleef die alternatiewe met Marianne Faithfull en Anton Goosen, asook treffers soos Mannetjies Roux. Beeld sê: “Sy sny dieper as die vel!”
11 Maart 13:00 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 85min | R60 (ete uitgesluit)
VALIANT SWART & LES JAVAN
Twee legendariese kitaarmanne ontmoet op ’n stofgetrapte kruispad iewers tussen die Boland en die Karoo: die Stellenbosse veteraan bluesrocker van die Duisend Myl Blues, Valiant Swart, saam met Les Javan, Solms Delta se inwonende musiekmeester wat sy stories uitspin met sy Kaaps-eie mengsel van folk, rock, ghoema en selfs ’n tikkie gospel. Beslis nie ’n vertoning om mis te loop nie.
11 Maart 20:15 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R80 (ete uitgesluit)
ANTON GOOSEN TRIBUTE
Saamgestel deur Schalk Joubert.
Hulde aan die Liedjieboer deur mede-musiekmakers en ou vrinne in die bedryf! Die milde oes van Pampoene op die dak, Geelperskereën, Waterblommetjies en vele meer word nuut opgedis deur bekende kunstenaars. Elkeen geur dit met eie herinneringe aan vriendskap, en aan die inspirasie geput uit hierdie veteraan en held se Afrikaanse liedjiekuns.
12 Maart 20:15 | Dorpstraat Teater @ Summerhill | 120min | R80 (ete uitgesluit)
*********
DANIELLE PASCAL
Dié immergewilde ambassadeur van die Franse kabaret vier 25 jaar in Suid-Afrika met ’n samestelling van romantiese ballades, digkuns en towerkrag. In hierdie vertoning word jy getrakteer op Piaf, Brel, Cohen, en treffers van haar album Parisette. Pascal se pragtige vertaling van Kinders van die wind, opgeneem as Les Chants des Alisees, word ook gehoor. Sy word bygestaan deur pianis en musiekregisseur, Pieter van Helslandt du Plessis.
10 Maart 20:00 | Aan de Braak Teater-kroeg | 75min | R80
DAVID KRAMER - STOKSIELALLEEN
David Kramer het 30 jaar gelede op ’n verhoog in Stellenbosch geklim om van sy eerste liedjies te sing. Net hy en sy kitaar. Nou maak hy weer so, maar sedertdien het ’n hele skatkis vol Kramerliedjies bygekom. ’n Seldsame ervaring: David Kramer stoksielalleen op die verhoog!
11 Maart 20:15 | 12 Maart 20:15 | Konservatorium: Fismer | 60min | R90
ZAPPA STRAATFEES
Die terugkeer van ’n ou Woordfeestradisie: ’n gratis straatfees vir studente en ander jonges van gees by gunsteling kuierplekke Bohemia en Mystic Boer. ’n Viering van kultuur, somer, rock ʼn roll en goeie gees in die middedorp. Met Straatligkinders, Foto Na Dans, New Holland, Ryno Velvet, Die Tuindwergies en baie ander verrassings.
12 Maart 11:00 | Victoriastraat (voor Bohemia) | 600min | Gratis!!
REEKS: BLACK BOTTLE BLUES @ DE VETTE MOSSEL
Kom koel saans na 21:00 af na die lang, warm feesdag met ’n koue whisky op ys, smullekker seekos en Blues-improvisasies wat jou tone in De Vette Mossel se seesand sal laat omkrul. ’n Vaste band gesoute Blues-kunstenaars (Dale Collins, Simon Orange, Rob Stemmet en Wayne Pauli) vorm die sessies se ruggraat. Hulle verwelkom elke dag ’n opwindende gaskunstenaar:
Maandag, 7 Maart: Studente-aand (spesiale afslag op drankies)
Dinsdag, 8 Maart: Gerald Clark
Woensdag, 9 Maart: Jan Blohm
Donderdag, 10 Maart: Albert Frost
Vrydag, 11 Maart: Dane Taylor, Basson Laubscher (vanaf 19:00 tot laat)
7-10 Maart 21:00 | 11 Maart 19:00 | De Vette Mossel | 120min | Gratis
Musiekfees: Klassiek
CARMINA BURANA
Deur Carl Orff.
Die Universiteit Stellenbosch se Simfonie-orkes, gedirigeer deur Corvin Matei, voer die Carmina Burana uit saam met die Canticum Novum Koor. Soliste wat optree in dié gewilde produksie is Beverly Chiat (sopraan) en André Howard (bariton).
4 Maart 20:00 | 5 Maart 20:00 | Konservatorium: Endler | 60min | R110, R85 vir studente en pensionarisse
KUNSLIED EN KOOR
Met Schola Cantorum; Samesteller: Rudolf de Beer.
’n Ongewone program met Afrikaanse kunsliedmusiek in verskeie kombinasies van koor, vokale ensembles en soliste, saamgestel deur die artistieke direkteur van Schola Cantorum. Die projek, uitgevoer deur lede van Schola Cantorum se solistekoor, bring werke van bekende komponiste wat die Afrikaanse idioom in verskeie vorme van vokale besettings ontgin het.
6 Maart 16:30 | Konservatorium: Endler | 75min | R70, R35 vir studente en pensioenarisse
BLONDES ON A G-STRING
Met Zorada Temmingh en Elna van der Merwe
Die Blondes se nuwe tweeklavier-produksie bring bekende treffers in vier keurspele byeen. Kom luister eers hoe sing en spring die klaviere in ’n vrolike keurspel uit Grieg se bekende Klavierconcerto en dele uit die Peer Gynt- en die Holberg-suites. Van Gershwin hoor jy onder andere dele uit Rhapsody in Blue en liedere uit sy gewildste musiekblyspele. Geliefde Simon en Garfunkel-gunstelinge en bekende treffers uit die musiekblyspel Grease kom ten slotte aan die beurt.
9 Maart 20:15 | Konservatorium: Endler | 60min | R85
BACH TJELLO-SUITES MET PETER MARTENS
Peter Martens, een van ons land se mees befaamde tjelliste, kom met ’n seleksie uit Johan Sebastian Bach se meesterlike ses suites vir onbegeleide tjello, wat hy reeds uitgevoer het in verskeie sentra, insluitende Salzburg. Bach het dié suites geskryf toe hy Kapelmeester was aan die hof van Prins Leopold in Köthen. Met hul ongeëwenaarde skoonheid en sublieme musikale konstruksie is hulle hoogtepunte in hierdie genre. Koop dus gerus ook die CD met die volledige werk.
9 Maart 20:15 | Konservatorium: Fismer | 60min | R70, R40 vir studente
AVE MARIA/HALLELUJA
Aangebied deur die ATKV en US Woordfees.
Met Minette du Toit-Pearce (Mezzo-sopraan), Anneke Lamont (klavier), Ockie Vermeulen (orrel), Winand Grundling (orrel) en die Stellenbosch Madrigaalsangers.
Deur die loop van die eeue is baie pragtige musiek met die titel Ave Maria gekomponeer, en die woord Halleluja/Alleluia is ook algemeen binne ’n musikale konteks. Hierdie unieke musiekproduksie is gebaseer op beide ligte én klassieke musiek met dié woorde in die titel. ʼn Hemelse ervaring!
11 Maart 20:15 | Konservatorium: Endler | 75min | R90
WITLIG
Met Nicole Holm, Eben Genis en Minette du Toit-Pearce.
Vir hierdie heel besondere Weskus-liedspel het Engela Venter verse van Hertzogpryswenner Petra Müller getoonset. Aan die koue kus oorleef mense omdat daar vis is. Saam met dié mense kom verhale wat legendes word en aan die koue kus ronddwaal lánk nadat hulle verdwyn het …
12 Maart 15:00 | Konservatorium: Endler | 75min | R85
KOORSIG GALAAAND: VAN BACH TOT BOS
Met die Libertas-koor, onder leiding van Johan de Villiers; Zorada Temmingh; B#dameskoor en die plaaskoor van Babylonstoren.
Die Libertas-koor onderneem ’n musikale reis met interessante nuwe verwerkings – van Bach tot ’n verkenning van musiek eie aan ons land en sy mense, en ten slotte Stef Bos se Ek vir jou. Met Zorada Temmingh op die orrel, die klanke van die B#dameskoor, wenners van Koorsig 2010, en die plaaskoor van Babylonstoren, is daar geen beter manier om die Woordfees op ’n hoogtepunt af te sluit nie!
13 Maart 20:15 | Konservatorium: Endler | 90min | R90
Aan de Braak-fees
MR CAT & THE JACKAL
Kom beleef hierdie unieke vyfstuk multi-instrumentele groep wat met genres soos blues, tango, en met pirate- sowel as Balkan- en Ierse temas in hulle musiek eksperimenteer. Met ’n sirkus van klanke geskep deur vreemde en handgemaakte instrumente is hulle optredes ’n fassinerende musikale ondervinding. Hulle tweede album, Sins & Siren Songs, is in Februarie vrygestel.
7 Maart 20:00 | Aan de Braak Teater-kroeg | 60 min | R60, R30 studente
VERBEEL JOU!
Met Marlo Minnaar, Johan Falck en Dean Balie.
Toneelspel, musiek en komiese momente word ingespan om die gehoor te neem op ’n verbeeldingsvlug deur die goue oomblikke van die verlede en die ‘klipdom’ oomblikke van die hede. Verbeel jou: Elvis Presley, Louis Armstrong en Aretha Franklin drink ’n glasie hardehout saam met Boy George op ʼn program met die naam Elwe en Selwe!
8 Maart 18:00 | Aan de Braak Teater-kroeg | 60 min | R60, R30 studente | Geen O/16
DIE EKSENTRIEKE WÊRELD VAN BROER EN BOETIE
Deur Nico Burger. Met Pierre-Arnold Theron, Geon Nel, Nico Burger en Phil Hatting; Regie: Johan Falck.
’n Absurde komedie. Broer en Boetie bevind hulle in ʼn moeilike situasie, maar gelukkig is oom Frikkie die ‘rapper’ daar om sy blink idees met hulle te deel. Gaan hulle hul doel in die lewe bereik en genoeg kinders vang, of gaan die polisie die lewe vir hulle nog moeiliker maak?
8 Maart 20:00 | Aan de Braak Teater-kroeg | 60 min | R60, R30 studente | Geen O/16
11 CM+
Met Johan de Jager, Grethe van der Merwe en Schalk van der Merwe.
“Nou kyk, ek het dit al lankal sien kom. Almal sê dit maak nie saak nie. Solank jou hart op die regte plek is, is DIT nie ’n faktor nie. Maar ons weet, almal wat so groot soos ons is, WEET. Sentimeters tel!” (Elfie – verlangse neef van die Tandefeetjie)
9 Maart 18:00 | Aan de Braak Teater-kroeg | 60 min | R60 volwassenes, R30 studente
TRAIN SMASH!
’n Kabaret met Riaan Visman en Stephanie Badenhorst.
Die onvergeetlike treinrit van twee akteurs op pad na ʼn oudisie wat hul lewens kan verander. Alledaagse Metrorail-struikelblokke kniehalter hul rit tussen Eersterivier en Kaapstad …
10 Maart 18:00 | Aan de Braak Teater-kroeg | 60 min | R60, R30 studente
AFSTANDBEHEER: KLIM UIT JOU KASSIE
Skets-komedie met musiek, deur Lize-Meri Smalberger, Maryke Nel en Lucas Heinen op klavier.
Moeg vir vae, dowwe, kleurlose beelde? Ons het die antwoord. Die nuwe variant van HDTV-toestelle is die nou bekende ABKK, wat jou toelaat om alles te sien asof vir die eerste keer. Dinge in Suid-Afrika wat vroeër onduidelik was, sal jy nou in volle kleur sien.
11 Maart 18:00 | Aan de Braak Teater-kroeg | 60 min | R60, R30 studente
ASKOEK
’n Kabaret deur Celeste Kruger en Bianca de Klerk.
’n Alternatiewe blik, in nuwe én bestaande musiek en oorspronklike tekste. Die musiek skep ’n veilige sone en die teks verken die ‘anderste’ aspekte van die lewe en die liefde. Die meisies is gewapen met eerlikheid en eksperimenteer graag met grammatika, styl en verskillende musiek-genres.
12 Maart 18:00 | Aan de Braak Teater-kroeg | 60 min | R60, R30 studente
Kunsfees
FEESKUNSTENAAR WALTER MEYER: ʼn VERDWENE OOMBLIK IN TYD
Woordfeeskurator: Amanda Botha.
Met sy enigmatiese landskappe het Walter Meyer ʼn belangrike posisie in die Suid-Afrikaanse kuns verower. As vernuwer is hy sedert sy eerste solo-kunsuitstalling in 1988 wyd geloof vir sy alternatiewe siening van die Suid-Afrikaanse landskap: die kyk daarna in die tradisie van die realisme, maar met die wete dat ook realisme ʼn illusie is. Sy doeke vang ʼn verdwene oomblik in tyd vas – jy kyk, maar sien dit nie só nie. Hierdie tentoonstelling, wat geopen word deur Andries Bezuidenhout, bied ’n unieke oorsig op die ontwikkeling van ’n buitengewone talent.
Sasol Kunsmuseum: Opening 4 Maart | Uitstalling: 4 Maart tot 24 April
A.K.47 (Aryan Kaganof-filmfees)
Aryan Kaganof (voorheen Ian Kerkhof) het in 1983 politieke asiel in Nederland ontvang. Sy omvattende oeuvre bestaan uit romans, poësie, beeldende kuns en internasionaal-bekroonde films – as geheel ’n ongeëwenaarde optekening en volgehoue intermediale critique van die Suid-Afrikaanse samelewing. ’n Seleksie van sy grensverskuiwende films oor musiek is te sien op die volgende tye:
7, 9 en 11 Maart 18:30 | Ryneveldstraat 5 | 150min | R40 8 en 10 Maart 18:30 | Kayamandi: Amazink African Restaurant | 150min | Gratis
RONDLEIDING: PIERNEEF EN SY STASIEPANELE
Aanbieder: Amanda Botha.
Pierneef word alom as die meesterlandskapkunstenaar gesien. In hierdie eenmalige rondleiding van sy beroemde stasiepanele word oor sy pioniersbydrae tot die Suid-Afrikaanse kuns gepraat en ook besin oor sy benadering tot die landskap, wat in die post-apartheidsjare dikwels in dispuut gebring is.
9 Maart 13:00 | Rupert Kunsmuseum | 60 min | R30
RONDLEIDING: WALTER MEYER
Feeskurator Amanda Botha, jare lank reeds betrokke by Walter Meyer se werk, begelei kunsliefhebbers deur die Woordfeeskunstenaar se tentoonstelling. Sy deel haar kennis en insigte wat die genot en waardering vir hierdie besondere kunstenaarskap sal vergroot. Bespreek gou – net ’n beperkte aantal mense kan dit meemaak.
10 Maart 17:30 | 12 Maart 15:00 | Sasol Kunsmuseum | 60 min | R30
LANDSKAPSKUNS: ANNEKSASIE OF VERKENNING?
Met Lize van Robbroeck, Stella Viljoen en Andries Bezuidenhout; Gesprekleier: Amanda Botha.
Paneelgesprek oor die Suid-Afrikaanse landskapskuns, met spesiale verwysing na die werk van feeskunstenaar Walter Meyer. Kenners deel hul indrukke.
12 Maart 12:00 | Erfurt-huis | 50 min | R40
ALICE SE AVONTURE IN WONDERLAND
Aangebied deur NB-Uitgewers.
Tien van Marjorie van Heerden se bekoorlike en kreatiewe illustrasies vir die nuwe uitgawe van André P. Brink se gevatte vertaling van Alice se avonture in Wonderland (Human & Rousseau) word by die Woordfees uitgestal. Doller as kop-af kan dit nie! Kom klink gerus ʼn glasie saam met ons by die openingsgeleentheid.
12 Maart 15:00 | US Kunsgalery | 60min | Gratis. Uitstalling: 7-12 Maart
SKILDER MET WOORDE II
Aangebied deur die ATKV.
Vir hierdie reisende uitstalling het sewe beeldende kunstenaars elk saam met ʼn digter ’n kunswerk geskep rondom die tema: ‘Dis Afrikaans’. Die resultaat is ’n wisselwerking wat vars perspektiewe gee op iets wat na aan onsself lê. Toe is die talente van voordrag- en musiekkunstenaars boonop ingeroep om die totale ervaring te vergroot. ’n Uitsonderlike en roerende belewenis in woord, beeld en klank!
4 - 13 Maart | Sasol Kunsmuseum | Gratis
Kunsroete en verkoopsuitstallings
Kom soek gerus winskopies en geniet die prettige ontginning van ons feestema in die groot verskeidenheid uitstekende kunswerke teen ’n spesiale feestarief. Die ideale plek en tyd om jou eie kosbare versameling te begin of verder uit te bou. Kunsroete-kurator: Theo Kleynhans.
RONDLEIDINGS: KUNSROETE
Aanbieder: Theo Kleynhans.
Moenie die boeiende rondleidings deur kurator Theo Kleynhans misloop waarin hy die beste beleggings uitwys nie. In die kort afstand tussen PJ Olivier Kunssentrum en die US Kunsgalery wag daar verrassings wat op die duur vir jou goud werd is!
7-12 Maart 18:00 | PJ Olivier Kunssentrum | 90min | R50
LAND
Vyf kunstenaars wat op ’n verfrissende manier na die landskap kyk, se werke word tentoongestel. Annelie Venter, Jan du Toit, Paul Birchall, Hermann Niebuhr en Elette Fouché tree in gesprek met die landskapsuitstallings van onder meer Pierneef en die feeskunstenaar, Walter Meyer.
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
TOWERWÊRELD
Ruby Mary Olive Reeves se asemrowende skilderye van haar ragfyn sprokieswêreld word uitgestal saam met illustrasies deur Cora Coetzee. Karen Synovich en Lissa Claassens se keramiekwerk met sprokies en droomwêrelde as tema, sluit hierby aan. Iets heel besonders, wat seker die naaste kom aan ‘Elwe’.
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
4 = 7 = 11
Vier keramiekkunstenaars en sewe drukkunstenaars kom spog met hulle werk. Interessante visuele spanninge word geskep deurdat jonger en meer gevestigde kunstenaars se werk dieselfde uitstalruimte deel. Kom kyk gerus wat bied Mervyn Gers, John Bauer, Alessandro Pappada, Margaret Woermann, Paul Painting, Sylvia Rossouw, Tracy Payne en Francisca Louw.
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
550
In hierdie uitstalling van klein kunswerke (net in omvang) deur ons voorste kunstenaars kos alle werke R550.00 (11 X 50) Dit bied ’n gulde geleentheid vir winskopiejagters om goeie kuns aan te skaf teen ’n belaglike prys!
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
ANDRIES GOUWS
’n Solo-tentoonstelling met ongeveer 20 skilderye van dié vermaarde skilder. Klein skilderytjies van voete, stillewes en interieurs – veral die voete is belangrik, want dit lui ’n nuwe onderwerp in. Andries skilder sy vriende se voete en word geïntimideer deur die proses, omdat voete-kyk vir hom selfs meer intiem kan wees as kyk na kaal borste …
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
KYK HOE LYK ONS NOU!
Die Breytenbach Sentrum het mense uit die Wellingtonomgewing genooi om selfportrette te skilder vir hierdie interessante uitstalling. Vir die meeste van die kunstenaars was dit die eerste keer dat hulle ’n kwas opgetel het. So, kom kyk hoe lyk ons nou!
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
ELEVEN STROKES
Al die kunstenaars wat vanjaar deelneem aan die Woordfees se visuele kunsprogram is genooi om hul selwe te verewig in elf kwas-, potlood-, ink- of krythale. Hierdie gereduseerde portrette word in ’n blok tentoongestel. Dis moeilik genoeg om ’n herkenbare portret te skilder, maar om dit reg te kry in slegs elf hale is bykans onmoontlik. Kom kyk of hulle dit regkry!
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
FAIRY
Die woord fairy word soms as skelwoord gebruik om na gay mans te verwys. Gender- en homo-erotiese temas, te make met die posisie van gay mense in die samelewing, asook die skeidslyn tussen erotika en pornografie, word ondersoek.
Ouderdomsperk 18, en toegangsbeheer.
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
MICHELE NIGRINI
Nigrini se solo-tentoonstelling van haar jongste werke wat in Rosendal in die Vrystaat geskep is. Hierdie kunstenaar is bekend vir haar ekspressiewe kwashale, rojale kleurgebruik en los komposisies. Beslis die moeite werd!
4-26 Maart | PJ Olivier Kunssentrum | Kyk gratis!
Studentefees
Aangebied deur Maties SR – kontak Ilizna Esterhuyse (SR-lid MatieWees) vir meer besonderhede, 083 382 1939.
SUPERSPORT-VASVRA
Aangebied deur SuperSport, ondersteun deur Klipdrift.
Maties se mans- en dameskoshuise vorm spanne om hul sportkennis teen mekaar te toets. Wonderlike pryse is op die spel. Die gewilde aanbieders Toks van der Linde en Hennie Pietersen tree op as gashere by ’n opwindende sportwedstryd van ’n ander aard. Kom ondersteun jou span volmondig (dit verdien ook punte) en kyk wie wen!
8 Maart 19:00 | De Vette Mossel | 90min | Gratis
MENSVERF
Sowat 30 spanne van koshuise, die PSO en verenigings neem deel aan ’n kreatiewe lyfverfkompetisie oor middagete op die Rooiplein. Drie spanlede takel die vierde met verf om ’n tema uit te beeld. Die oorspronklikste pogings word beloon met pryse. Hope pret vir almal! Vir meer inligting, skakel Nina van Schalkwyk by 074 125 0706.
9 Maart 12:00 | Rooiplein | 120min | Gratis
MATIES DRUM CAFÉ
By hierdie supergewilde geleentheid kan jy leer hoe om die wilde ritme van die Afrika-tromme self in jou eie are te voel saam met honderde Maties! Dis opwindend, interaktief, prettig en boonop kultuur! Vir meer inligting, skakel die SR-Komitee se projekleier, Alwyn Smit, by 0725914254.
9 Maart 19:00 | Eendragkoshuis: binnehof | 60min | R20
NEELSIE GERAAS INNIE GAT
Aangebied deur Neelsie Studentesentrum & MFM 92.6.
Die beste lewendige rock bands in die rondte! Met ʼn tradisionele rock-basis gelaai met elektroniese ritmes, kry hierdie baie gewilde en bekende feesgeleentheid altyd groot aftrek. Hou gerus die media dop om te kyk watter formidabele bands gaan speel. MFM se DJ’s laat jou move op die musiek se maat. Kom vroeg! Kom rock tot laat en deel in hierdie skreeuende, duikende, springende en vallende hoogtepunt!
10 Maart 18:00 | Neelsie | 240min | Gratis
Koowee Kinderfees
BUNDU BUDDIES
Die gewilde karakters van Koowee se Boendoe Buddies is teenwoordig by ons Kinderfees om feetjies en kabouters van alle ouderdomme te vermaak. Kom ontmoet jou gunstelingkarakter by die items op ons feestelike en opvoedkundige program.
12 Maart | Oude Libertas Amfiteater
JAN EN DIE BOONTJIERANK
Aangebied deur Spektrum en Stercus-produksies. Met Esther von Waltsleben, Stephanie Hough en Jan-Hendrik Opperman. Verwerking en regie: Gaerin Hauptfleisch.
Soos in die klassieke sprokie verkoop Jan hulle koei vir vyf wonderbone – tot ontsteltenis van sy ma wat gehoop het op ’n geldjie om hulle deur die swaar wintermaande te dra. Ma gooi die bone weg, wat onmiddellik opslaan in ’n wonderboontjierank. Kom ontdek ’n wêreld met reuse, feetjies, eende wat goue eiers lê en harpe wat self speel. Pret vir oud en jonk!
12 Maart 09:00 | Oude Libertas-amfiteater| 50min | R30
LOLLOS!
Die vriendelike Lollos kom kuier weer op aarde saam met Alta en Minki – en dié keer gaan hulle met vakansie! Almal vertrek saam op ’n prettige treinrit en speel lekker by die see. Intussen word die maatjies ook ‘n bietjie slimmer en leer oor gesond eet en ’n horlosie, terwyl heerlik gedans en gesing word.
12 Maart 10:00 | Oude Libertas Amfiteater | 50min | R30
PRET MET WOORDEBOEKE
Aangebied deur Maskew Miller Longman
Mariza Steyn en Rufus Gouws het al baie woordeboeke geskryf. Hulle kom vertel vir jong lesers van 7 tot 9 jaar hoe om woordeboeke maklik en vinnig te lees sodat hulle baie slim kan word. Woordeboeke word uitgedeel aan boekwurmpies wat al self woorde kan opsoek en reg kan spel. Ouers en onnies sal net soveel pret hê by hierdie geleentheid waar die Grondslagfasewoordeboek Afrikaans/English bekendgestel word.
12 Maart 11:00 | Oude Libertas-amfiteater | 50min | Gratis
SARELTJIE SOEK ʼn MAAT
Met Lulu Botha en Leon von Moltke.
Kom hou konsert saam met Sareltjie, Olga, Leonard en Fielies. Maar wie is Sareltjie se maatjie dan? Tog net nie ’n gevaarlike dier of ʼn monster nie! Wag, ons verklap iets van die geheim: Hy is nog ’n baba, maar staan byna so hoog in sy sokkies as Sareltjie. Al praat hy nie mensetaal nie, dra hy elke dag pajamas! Kom kyk wie is dit! Vir kinders van 3 tot 8.
12 Maart 12:00 | Oude Libertas Amfiteater | 50min | R30
WOW-projek
Woorde Open Wêrelde
Ondersteun deur Die Dagbreek Trust, die ATKV, Provincie Antwerpen, Het Jan Marais Nationale Fonds en die L.W. Hiemstra Trust.
Die WOW-jaarprojek, die Woordfees se bemagtigingsprojek, bestaan sedert 2003. In 2010 is meer as 18,000 leerders in Wes-Kaapse skole bereik met ’n groot verskeidenheid projek-aksies. Leerders se oë word geopen vir ruimer moontlikhede in ’n groter wêreld en hulle word bemagtig deur blootstelling aan kreatiewe programme gerig op die bevordering van lees en die kunste, aangesien behoorlike leesvaardighede ten grondslag lê van alle skoolvakke. Leerders se potensiaal vir tersiêre studie word verwesenlik deur voorligtingsessies op te volg met ruim WOW-studiebeurse van die US. Vir meer inligting of deelname: bel asb. Shireen Crotz (021-808 9106).
WOW-SKRYWERSFEES
Moontlik gemaak deur LAPA.
In 2010 is WOW-leeskringe by 10 verskillende hoër- en laerskole in die Wes-Kaap gestig. Lede het kinder- en jeugboeke help beoordeel vir die ATKV-Woordveertjies. Met ons splinternuwe WOWSkrywersfees kry jong lesers kans om skrywers te ontmoet en om vrae aan hulle te stel:
SKRYWERSFEES VIR GRAAD 1 TOT 3
Kinderboekskrywer Wendy Maartens bied ’n lekker gesellige program aan vir ons jongste WOW-leeskringlede en gee wenke vir jong voornemende skrywers.
8 Maart 09:30 | Van der Stel-sportgronde: Van der Stel-saal | 180min | Gratis
SKRYWERSFEES VIR GRAAD 4 TOT 6
Janie Oosthuysen, skrywer en vertaler van verskeie kinderboeke, vertel leerders van Hester Hemelbesem se vreeslike avonture. Dié gesoute skrywer, wat o.m. Harry Potter in Afrikaans vertaal het, sal saadjies van inspirasie by enige aspirantskrywer plant.
9 Maart 09:30 | Van der Stel-sportgronde: Van der Stel-saal | 180min | Gratis
SKRYWERSFEES VIR GRAAD 7 TOT 9
Vir die meer senior leerders bied Carina Diedericks-Hugo ’n opwindende sessie aan oor die wonderwêreld van woorde en boeke. Sy is onder meer die skrywer van die gewilde Thomas.net-boeke.
10 Maart 09:30 | Van der Stel-sportgronde: Van der Stel-saal | 180min | Gratis
Spesiaal vir die seniors!
SKRYFSKOOL VIR HOËRSKOOLLEERDERS
Moontlik gemaak deur LAPA.
Vir die eerste keer: ‘n WOW-skryfskool vir hoërskoolleerders! Die ervare skrywer en dramaturg Rachelle Greeff maak jong skrywers touwys in die skryf van ’n verhaal. As deel van hul opleiding ontvang leerders ’n kortverhaalbundel om verskillende skrywers se style te vergelyk.
11 Maart 15:00 | De Hoek Gastehuis | 120min | R80 | Bespreek by 021-808 9106
WOW-DAG VIR GRAAD 12-LEERDERS
Ondersteun deur Shoprite/Checkers.
Na ’n inligtingsessie oor Maties o.l.v. Beverley Fanella, bied Nanette van Rooyen, Zulpha Otto-Sallies, Jan van Tonder en Diana Ferrus werkwinkels oor kreatiewe skryfwerk aan. Leerders word toegespreek deur Frank Louw van Sanlam, Elias P. Nel van die ATKV, Kay Karriem van Kuier-tydskrif en Claude Schroeder van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit. Daarna word hulle by die Van der Stel-sportterrein vermaak deur US Musiekdepartement se jazz-orkes. Ivor Price gesels met bekende, inspirerende persoonlikhede en hulle ontmoet Sanjay en Neville van 7de Laan-faam. Mnr. Japie Gouws, ATKVdirekteur, lewer ook ’n besielende boodskap.
12 Maart 08:00-14:00 | Opvoedkunde: Lokaal 3006 | Gratis
WOW-DEBATFEES
Moontlik gemaak deur die ATKV, LAPA, NB-Uitgewers en Paarl Media.
32 skole kompeteer ná opleidingsessies in twee afdelings: Nuwe Besems en Ou Hande. Tydens die groepsfase kom elke skool teen drie ander te staan, waarna die semi’s en finale volg. In 2010 was die debatwenners Settlers en Hoërskool D.F. Malan. Vanjaar beloof weer ’n stywe kompetisie, met skole so ver as Port Elizabeth en Graaff-Reinet wat deelneem. Elke spanlid ontvang ook ’n opleidingspakket, T-hemp, gratis boeke en gratis toegang tot sekere Woordfees-aktiwiteite.
12 Maart 09:00 – 15:15 | Bloemhof-skoolsaal | R300 per skool | Kom woon gerus gratis by
WOW-SKOOLKOERANTPROJEK
In samewerking met die US Departement Joernalistiek.
’n Voldagprogram met werksessies vir ongeveer 70 leerders en hul onderwysers oor aspekte van die joernalistiek en hoe om ʼn skoolkoerant interessant en prakties aan te pak. Leerders verken ook die feesterrein, voer onderhoude met feesgangers en kunstenaars, en stel hul eie feesblad saam.
12 Maart 09:00 – 15:05 | Neelsie: Vroueverenigingsaal | Gratis, maar bespreek by 021-808 9106
WOW-DAG: VISUELE KUNS-LEERDERS
In samewerking met die US Departement Visuele Kuns.
Verna Jooste en haar studentespan bied werksessies in juweliersontwerp aan. Leerders en onderwysers maak hul eie juwele en ontvang inligting en leiding oor verdere studie in dié rigting.
12 Maart 09:00 – 15:00 | Dept. Visuele Kuns | Gratis, maar bespreek by 021-808 9106
Spesiaal vir die juniors!
VIR LAERSKOOLLEERDERS
Moontlik gemaak deur LAPA.
Bekroonde skrywer Janie Oosthuysen deel skryfgeheime saam met karakters soos Tant Potjierol en Pietersielie op hierdie ontdekkingsreis. Ingesluit by die inskrywingsgeld is een van die Bessie Hemelbesem-boeke sodat leerders kan sien hoe die teorie praktyk word.
11 Maart 15:00 | De Hoek Gastehuis | 120min | R70 | Bespreek by 021-808 9106.
WOELIGE WERKWINKELS: OPSKRYF, OPSÊ, OPVOER – WOW!!
Na die sukses van ons eerste Woelige Werkwinkel kan sowat 50 leerders van omliggende laerskole werkwinkels vol verrassings bywoon! Een werkwinkel leer meer oor kreatiewe skryfkuns en die skryf van gedigte. ’n Ander werkwinkel leer hoe om woordkuns voor te dra en hoe om te komponeer. Kom oefen jou talente en kry wenke!
12 Maart 09:00 – 15:00 | US Dramadepartement | Gratis, maar bespreek by 021-808 9106
GATIEPIE SE GRAPPIEWERKWINKEL
Gatiepie (Kevin Ehrenreich) is baie snaaks en hy wil graag aan voornemende grappieskrywers waardevolle raad gee oor hoe om jou lesers en hoorders te laat skater. Daar is plek vir ’n groep van tien leerders van slegs vyf skole – bespreek gou!
12 Maart 10:00 – 13:00 | PJ Olivier Kunssentrum: Stoeplokaal in Anneks | Gratis, maar bespreek by 021-808 9106
KINDERHOEKIE
Kuier-tydskrif bied ʼn heerlike prethoekie waar leerders gehelp word om hul eie handwerk te maak. Skole uit die omgewing kan graad 4 & 5-leerders stuur om hul talente te ontgin en lekker kreatief saam te kuier.
12 Maart 10:00 – 13:00 | PJ Olivier Kunssentrum | Gratis, maar bespreek by 021-808 9106
WENNERS: VERF- EN VERSKOMPETISIE
Die uitstalling van die leerders se kunswerke vorm deel van die Woordfees se fokus op woord en beeld. Wenners kry boek- en geldpryse vir hul eie ryme wat op kleurryke plakkate uitgebeeld word. Inskrywings word vanoor die hele Wes-Kaap ontvang.
4-13 Maart | Erfurthuis | Gratis
Spesiaal vir die onderwysers!
WOW-DRAMASLYPSKOOL VIR ONDERWYSERS
In samewerking met die ATKV.
Werksessies vir 25 onderwysers word aangebied onder die bekwame leiding van ATKV-kundiges. Vereistes vir deelname aan die ATKV Tienertoneelkompetisies word deeglik bespreek, en Mathilda Walters-Vlok en Abduragmaan Adams deel waardevolle wenke oor sake soos programsamestelling en tegniese aspekte.
5 Maart 09:30 – 15:00 | Luckhof Hoërskool | Gratis
WOW-DAG VIR ONDERWYSERS
Anzil Kulsen praat met EKM Dido en Abraham de Vries oor hul kortverhale in Storiejoernaal vir graad 12. Lynne Rippenaar lei ’n gesprek oor taalvaardigheid en moedertaalonderrig, met o.a. Brian Schreuder (WKOD), Magda Fourie (US Vise-rektor Onderrig) en Charles Marthinussen (skoolhoof, Atlantis Sekondêr). Ligte vingerete danksy prof. Hennie Kotzé (US Dekaan Lettere en Sosiale Wetenskappe) voordat opvoeders aansluit by Van der Stel-sportterrein.
12 Maart 09:30 – 13:00 | Neelsie: Sanlamsaal | 240min | R50
Spesiaal vir paartie!
LANGARM SNACK DANS
(Ten bate van ons gemeenskap)
Oud en jonk kan maar weer hulle dansskoene uithaal en kom afstof. Kom vier die Langarm-tradisie by die Woordfees saam met ons, terwyl Paddy’s Dance Band jou voete laat jeuk!
4 Maart 19:30 | Neelsie: Sanlamsaal | 240min | R50 (ligte verversings ingesluit)
WOW-KARNAVALSTAP
Kom vang Karnavalgees by die stalletjies op Die Braak. Om 13:45 vertrek ons op ʼn vrolike, plesierige fan-walk na die Van der Stel-sportterrein saam met blaasorkeste, die Kaapse Klopse, trompoppies en kunstenaars om heerlik saam fees te vier.
12 Maart 13:45 | Die Braak | Gratis
WOW-KARNAVAL!
(Ondersteun deur Die Dagbreek Trust, ATKV en Het Jan Marais Nationale Fonds)
Vet en veilige pret vir oud en jonk! Volop stalletjies, mallemeulens en fantastiese vermaak:
11 Maart 16:00-23:00: The Rockets en die talentvolle Lukmaan Adams.
12 Maart vanaf 10:00: Sokker-skolekompetisies. Vanaf 14:30: 7de Laan se Sanjay en Neville Meintjies kom kuier.
Saterdagaand: Sanjay kom sing; Robbie Wessels doen die leeuloop, en Emo Adams, Koekie, Salome en die Bakgat Boyz bring vermaak uit die boonste gestoeltes!
Van der Stel Sportterrein R10 Grootmense; R5 kinders
HOOFDONATEURS
Universiteit Stellenbosch
Die Burger (Media24)
Sanlam (Dramafees & Kabaret)
Die Dagbreek Trust (WOW)
ATKV (WOW)
SENIOR DONATEURS
US Fakulteit Lettere
Naspers
Het Jan Marais Nationale Fonds
Nederlandse Taalunie
Kaapse Forum vir Neerlandistiek
Provincie Antwerpen
LW Hiemstra Trust
Vlaams SA Kultuurstigting
Van Ewijck-Stigting
Rupert-Musiekstigting
DONATEURS
Dirk Hertzog
Distell
Fonds Neerlandistiek
Provincie Oost-Vlaanderen
PRODUKSIEVENNOTE
Aan de Braak Teater
ABSA KKNK
Breytenbach Sentrum
Klein Libertas Teater
Dokumentesentrum: US Biblioteek
LAPA-Uitgewers
NB-Uitgewers
Neelsie Studentesentrum
SA sentrum: Nederland & Vlaandere
Stellenbosch Museum
SuperSport
Protea Boekwinkel
Umuzi
US Bemarking en Kommunikasie
US Konservatorium
Oude Libertas
Amfiteater
LitNet
Let’s Play
Protea Boekhuis
VENUEBORGE
kykNET
Oude Libertas
Protea Boekwinkel, Stellenbosch
Stellenrust
Universiteit Stellenbosch
De Vette Mossel
Stellenbosch Lodge
PRODUKBORGE
Maties Travel
Checkers
Die Burger
Sanlam
Sarie
Spier
kykNET
Koowee
Creative Gear
Elite Marquees
DRANKBORGE
Beyerskloof
Blaauwklippen
Black Bottle Scotch Whisky
Delheim
Drostdy-Hof
Kaapzicht
Mooiplaas
Muratie
Overgauw
MEDIAVENNOTE
Die Burger
RSG Nuus
RSG
Sarie
Eikestadnuus
LitNet
Radio Helderberg
Son
Matieland
Die Matie
Kampusnuus
Distrikpos
FMR
www.versindaba.co.za
MFM
KOÖRDINEERDERS
Sanlam Dramafees: Saartjie Botha
Feeskurator: Amanda Botha
Kunsroete-kurator: Theo Kleynhans
SASOL-kurator: Ullrich Wolff
Musiek: Bertie Coetzee
Karnaval: Eric Arnolds
Sanlam nagKAT: Niël Rademan
Diskoers: Laurie Gaum
ATKV Skoledebatkompetisie: Marieta Nel
Tegnies: Pieter-Jan Kapp
Webwerf: Mari Retief
Program & Plakkaatuitleg: Christa van Zyl
Plakkaat-kunswerk: Theo-Paul Vorster





