Frances Lubbe. Die koms van die Kindle

Een van die mees opvallende en herhaalde advertensies in Londen se moltreine met die aanloop tot Kersfees was van ’n Kindle toegedraai in ‘n feestelike strik onder ‘n Kersboom. Amazon se E-boek leser is tans die webwerf se topverkoper, wat beteken dat daar meer Kindles verkoop word as die laaste sarsie van Harry Potter. Die Kindle kan ongeveer 3,500 boeke digitaal stoor, en skep vir die gebruiker ‘n elektroniese biblioteek wat omtrent enige plek saamgekarwei kan word. Uit persoonlike ondervinding kan ek rapporteer dat dit werklik ‘n speelding uit die boonste rakke is. Dis maklik om te gebruik, gerieflik om rond te dra, en boonop plaas die skerm nie ekstra stres op mense se oë nie. En in teenstelling met Apple se musiek I-pod, is die Kindle se battery baie sterk en hoef dit net een keer per maand herlaai te word.

So beteken dit dat daar ‘n lees-revolusie aan die kom is? Gaan die toekomstige pendelaars van Londen elke oggend op die trein hul E-boek lesers te voorskyn bring, in plaas van om in ‘n sagteband novella weg te sink?

Vanuit ‘n uitgewersoogpunt lyk dit asof die koms van E-boeke en E-boek lesers wel ‘n groot impak sal hê. E-boek edisies vir alle nuwe titels is nou die norm, en verkope is besig om aansienlik te styg. Daar is egter probleme omdat dit blyk dat die ou reëls vir ‘gewone’ boeke nie altyd in die digitale ruimte ook geld nie. Dit is byvoorbeeld die geval dat die Kindle se gebiedskontroleermiddels relatief maklik omseil kan word. Ter illustrasie, wanneer ‘n boek deur twee verskillende uitgewers in Amerika en Engeland gepubliseer word, het die twee uitgewers gewoonlik die ekslusiewe reg om hul weergawe van die boek in hul eie gebied te verkoop en sodoende geld te maak. Maar in terme van E-boeke wat verkoop word via die Kindle sisteem, is dit maklik om in Engeland met ‘n Britse kredietkaart die Amerikaanse E-boek weergawe aan te skaf en af te laai deur bloot ‘n geldige Amerikaanse posadres in te tik. Sulke transaksies behoort in terme van tradisionele uitgewerswetgewing nie te gebeur nie. In die digitale ruimte is dit egter nie moontlik om fisiese grense op dieselfde wyse vas te stel nie. Daar is dus uitdagings wat voorlê vir uitgewers in hierdie verband.

Die grootste uitdaging vir tradisionele uitgewers in terme van E-boeke gaan egter kom van die skrywers self. Die Internet bied vir skrywers ‘n manier om direk met die publiek te skakel en hul boeke te bemark en te verkoop. Daar is reeds webwerwe soos byvoorbeeld Smash Words (www.smashwords.com) waar skrywers sonder die bemiddeling van literêre agente en uitgewers hul E-boeke kan verkoop. Aangesien hierdie skrywers nie onderhewig is aan die gewone outeersaandele en kommissies nie, verdien hulle baie meer geld vir elke kopie van hul werk wat verkoop word as in die geval van skrywers wat aan uitgewers verbind is.

Een van die probleme met E-boeke op webwerwe soos Smash Words is dat die materiaal nie deur ‘n redakteur nagegaan en gekontroleer word nie, en dat hierdie boeke dus nie altyd op dieselfde standaard is as boeke wat deur die redaksieproses by ‘n tradisionele uitgewer gegaan het nie. Maar daar is talle goeie redakteurs wat in die onlangse finansiële krisis hul werk verloor het, en as vryskut redakteurs juis hierdie Internet skrywers sal (of behoort te) teiken as kliënte. Ek vermoed dat die kwaliteit van hierdie E-boeke dramaties sal styg, en dat tradisionele uitgewers op hierdie nuwe vorm van mededinging bedag sal moet wees.

Op ‘n minder praktiese, maar dalk veel meer beduidende wyse, kan mens ook vra wat die impak van E-boeke op lesers self sal wees. Hoe verander E-boeke en E-boek lesers die leser se verhouding met hul boeke? Lees mens teks van ‘n skerm af op ‘n ander manier as wanneer jy ‘n boek in jou hande het en blaaie omgedraai kan word by treffende passasies en jy dalk selfs notas in die kantlyn kan maak? Wat verloor ons as ons die fisiese boek verloor? Kan ‘n mens werklik ‘n boek op ‘n skerm besit?

‘n E-boek leser soos die Kindle veronderstel dat die leser ‘n verbruiker van boeke is, maar soos Alberto Manguel in A History of Reading dit stel, “the association of books with their readers is unlike any other between objects and their users”. Ons verhoudings met boeke het te make met herinneringe, sensasies, assosiasies en die fisiese teenwoordigheid van die boek. Die idee van ‘n leser as verbruiker is nie genoegsaam om dié ryk verhouding te beskryf nie:

“the reader as consumer […] neatly omits what I consider the heart of reading: not whether we wish to purchase a new book but how we maintain our connections with our old books, the ones we have lived with for years, the ones whose textures and colors and smells have become as familiar to us as our children’s skin.” (Ex Libris: Confessions of a Common Reader deur Anne Fadiman, bladsy x)

Daar is geen twyfel dat E-boeke en E-boek lesers ‘n opwindende en belangrike toekomstige deel van die lees-ervaring gaan uitmaak nie. Maar ‘n mens moet tog wonder oor wat die implikasies van die haastige digitale era sal wees vir lesers se ervaring van lees en met hul verhouding tot boeke, en of dit nie ‘n meer oppervlakkige ervaring sal wees nie.

Who reads

Incessantly, and to his reading brings not

A spirit and judgement equal or superior,

(And what he brings, what need he elsewhere seek)

Uncertain and unsettled still remains;

Deep vers’d in books, and shallow in himself,

Crude or intoxicate, collecting toys,

And trifles for choice matters, worth a sponge,

As children gathering pebbles on the shore

– uit Paradise Regained deur John Milton

Bookmark and Share

Comments are closed.