Marius Crous. Laaste gedigte en/op die moltrein

In Exclusive Books loop ek vandag Harold Bloom se Till I end my song: A gathering of last poems raak. Hierin versamel en bespreek die grote Bloom (wat op 11 Julie 2010, 80 jaar oud geword het) die laaste gedigte van `n aantal digters; d.w.s. die laaste gedig wat hulle geskryf het of na bewering geskryf het – en seer sekerlik gepubliseer het. `n Interessante uitgangspunt, net soos in die geval van al Bloom se boeke, waarvan die jongste is The anatomy of influence –literature as a way of life (2011), asook `n literêre waardering van die King James Bible waarvan die publikasie 400 jaar gelede vanjaar herdenk word – en selfs die onderwerp was van die Britse koningin se Kersboodskap in 2010; voordat sy by die belangrikheid van sportdeelname uitgekom het!

Bloom verduidelik in die meegaande essay dat “last poems” ook kan verwys na die “imaginative conclusion to a poetic career”. Bloom kies sy gedigte om estetiese redes en wit mans is besonder goed verteenwoordig. Hiermee gee Bloom weer eens die middelvinger vir die feministe en diegene wat hom van elitisme beskuldig. Dis ook seker die rede hoekom Bloom vir Sylvia Plath weggelaat het. In `n onderhoud met Evelyn Spirer (1989)merk hy oor Plath op dat sy vir hom `n “absurdly bad and hysterical verse writer” is en dat hy beslis nie deel in haar bewieroking nie.

 

Die antologie sluit gedigte in deur die bekendste Engelse digters en volg op Bloom se The best poems of the English language. From Chaucer Through Robert Frost. Terloops, Bloom se titel is darem baie meer beskeie en afgebaken as Camille Paglia se Break, blow, burn: Camille Paglia reads 43 of the world’s best poems. In haar studie, wat ewe verkwiklik is, konsentreer sy egter net op Engelse gedigte. Nogal jammer, want ek sou graag dié Volskiaanse Camilla op tekste uit ander tale wou loslaat – iets wat sy wel doen in Sexual personae.

 

Die titel ontleen Bloom aan Edmund Spenser se Prothalamion en wel die refreinreël:

            Sweete Themmes runne softly, till I end my Song.

 

Laat my toe wonder: wat was Opperman, Van Wyk Louw of Eybers se laaste gedigte? Sou mens byvoorbeeld die skribbelinge van `n digter op die bedkassie tussen die medikamente en die radio voor die sterfbed as “sy laaste” bestempel? Die laaste paar reëls op die sigaretdosie? Net soos sterwenswoorde mens altyd fassineer. Inteendeel. 

Op die rak net bo Bloom staan Poems on the underground, wat ek al voorheen, danksy my Anglofiliese neef, onder oog gehad. Hier is van die sublieme tot die waansinnige. Gevestigde digters saam met nuwelinge en die onderwerpe is legio. Lande in die Statebond word ook betrek en Soyinka is byvoorbeeld daar om Afrika te verteenwoordig. Meestal kort gedigte vir die vinnig lees.

Die idee van gedigte op die moltrein blyk baie suksesvol te wees, want soos die webblad van Transport for London beweer,

The ninth edition of the book, “Poems on the Underground”, has sold more than a quarter of a million copies since it was published in 1999. 2001 is the 15th anniversary of “Poems on the Underground”, and sees the publication of a tenth edition of the book. It features more than 300 works displayed on the Tube since 1986. (www.tfl.gov.uk)

 

Ek wonder wat die Londenaars van die volgende gedig uit die 15de eeu gedink het:

I have a gentil cock
croweth me day
he doth me risen early
my matins for to stay

I have a gentil cock
comen he is of great
his comb is of red coral
his tail is of jet

I have a gentil cock
comen he is of kind
his comb is of red sorrel
his tail is of inde

his legs be of azure
so gentil and so small
his spurs are of silver white
into the wortewale

his eyes are of crystal
locked all in amber
and every night he pertcheth him
in my lady`s chamber

Jirre-Sjiwa, wanneer `n mens soiets lees, dan wil jy sommer voor die eerste beste lokomotief inspring. Want wat lees ons pendelaars? Mes my mes my met jou groot swart p**l het ek eens op `n trein van Pinelands na Kaapstad uitgekrap gesien teen die trok se kant. Wat staan teen ons stasiemure?

Wat is op die wande van die Gautrein aangebring? Die retoriek van die versnellende spoor? [Tersyde: waarom adverteer Indian Railways op SABC? Gaan ons die Indiërs inkry om die SAS weer aan die rol te kry?]

Ek het `n droom … die voorstedelike tweeling met die dikraambrille, eenderse truie en rompe pluk uit hul eenderse handsakke Soutrivierstasiegedigte en begin lees. Of Gedigte op die stasies en treine van die SAS. Of nog beter – haal die geblikte Groot Verseboek uit en begin aan die omsittendes voor te lees: “Tram-ode”.

In `n ontwikkelende land met ongeletterdheid is dit beslis `n pypdroom, maar ter wille van die leesvaardiges kan iemand oor die windverskeurde biljette teen die stasiemure grepe uit “Groot ode” of Peter Snyders se vers oor die gesteelde tv plak. Of oor die seksuitnodigings en die telefoonnommers agter die toiletdeure “Bitterbessie dagbreek”.

 

 

 

Bookmark and Share

41 Kommentare op “Marius Crous. Laaste gedigte en/op die moltrein”

  1. Ivan Mocke :

    ‘n Wonderlike blog, Marius! Lekker spitsvondig geskryf. Dankie daarvoor.

  2. Johann Lodewyk Marais :

    Prof. D.H. Steenberg van die PU vir CHO (deesdae die NWU) wou ‘n keer ‘n projek oor treingedigte in die Afrikaanse letterkunde aanpak …

  3. Charl-Pierre Naude :

    Bloom word totaal oorskat. Lekker blog.

  4. Wysneus :

    Ja, Bloom praat baie nonsens ook, maar hy was en is ‘n heldhaftige (alleen)stryder vir die Estetiese, teen die “School of Resentment,” soos hy hulle noem.

    Maar ek kan verkeerd wees.

  5. Charl-Pierre :

    Nee, toegegee, Wysneus. Dit is hy. Miskien nie alleen nie, maar alleen genoeg.

  6. Joan Hambidge :

    Bloom oorskat? Ek dink The anxiety of influence, A map of misreading, sy studies oor Yeats en Wallace Stevens, The Western Canon bly absolute bakens. The breaking of the vessels en Agon noodsaaklike tekste. Sy inleidings tot Shakespeare en etlike bloemlesings bly belangwekkend. Ek het van sy lesings by Yale bygewoon in 1985: inspirerend! Idiosinkraties is hy wel, maar ‘n enorm belangrike figuur. Een van sy bekendste studente was Camille Paglia.

  7. Joan Hambidge :

    Wysneus, ter wille van helderheid: waar dink jy praat Bloom nonsens? Dit interesseer my om te hoor!

  8. Joan Hambidge :

    Juis omdat jy so skerpsinnig is en dikwels met vars bydraes kom.

  9. Danie Marais :

    Ek dink Bloom is ‘n baie belangrike, hoogs onderhoudende, meesal formidabele kritikus, maar hy het beslis sy blinde kolle. Sy persoonlike voorkeur vir meer gedrae registers en soms ‘n soort Mandarynse deftigheid saam met sy plesier aan stroomop wees, het tot gevolg dat hy sekere digters, soos Philip Larkin en Sylvia Plath, nie na waarde skat nie.

    Daar is ook gate in sy herhaalde pleidooi vir die suiwer estetiese beoordeling van letterkunde. Ek verkies Bloom se benadering bo enige houding wat meer geïnteresseerd is in die betrokkenheid en sosio-politieke moraliteit van die teks as in die gehalte van die skryfwerk, maar ek stem saam met baie van die punte wat die digter Mark Doty maak in ‘n repliek op Bloom wat in die Boston Review verskyn het. (Sien: http://bostonreview.net/BR23.3/doty.html)

    Hier is ‘n aanhaling uit Doty se stuk wat die oorvereenvoudiging in Bloom se posisie uitlig:

    “The idea of aesthetic autonomy is a fantasy. It’s like going into a flower shop and believing that the flowers you buy have no qualities but color and shape, that they exist only to be arranged. The flowers
    have a local habitation and a name; they grew in specific places; they have characteristics, relations, histories. In their fields and their foliage, in their particular situations, the flowers are elements of a world. Who named them, hybridized them, grew them, sold them? Who
    owned the land? Who decided which were desirable? The flower arrangement is pretty, but the poetry resides in the whole complicated story, the web of relations.
    The aesthetic is not now and never has been autonomous. If it were, no poetry would be possible but language poetry, which denies the validity of representation and questions the very notion of subjectivity. To represent is to enter into a pact with the devil, with the powers of this world: it is to let the world help write the poem.
    Nothing more boring than aesthetic autonomy.”

  10. Andries Bezuidenhout :

    Danie, ek is besig om so stadigaan deur Bloom se “The Best Poems of the English Language” te werk. Ek vind sy arrogansie nogal quaint (eienaardig of sonderling, vlgs my woordeboek), ‘n bietjie soos Karel Schoeman se “Die laaste Afrikaanse boek”, ‘n boek waarvan ek baie hou. Ouw^relds, dalk. Soms wens ek ek was ook “of independent means”, soos baie van die digters wat Bloom bespreek, of het ‘n patron gehad om voltyds te kon skryf. Ek hou van hierdie uit Doty se stuk: “But does anybody really believe we can’t see Parnassus because it is being overrun by Latina lesbians, or recent MFA graduates, or alums of prison writing programs? Please. That noble peak’s obscured by the new megamall and multiplex, those immense ads for Calvin Klein, the cell-phone towers and high voltage wires carrying a million junk E-mails. Mass culture cares about mass money, not the stubbornly unsellable exchange between individuals which reading & writing comprises… I don’t think we can remedy this by stubbornly clinging to the difficult, noble as Bloom’s rallying cry sounds. In the face of an increasingly homogenous, market-driven culture, we need readers. We need to sign up anyone we can who cares about the portrayal of human individuality, of human stories. Start anywhere, I say, read anything. The entrances to the paradise of aesthetics are everywhere, some of them homespun, some of them rough attempts to sketch a self out of whatever material’s at hand. But they lead someplace: toward heightened perceptiveness. At this moment I am grateful for poetry in any permutation, in any form, even poetry I don’t like. It is a sign of hope, a sign which marks an attempt to blow on the coals of an old, old fire.”

  11. Danie Marais :

    Ja, ek het ook baie van daai passasie gehou. Dis goed dat Bloom ons herinner aan die waarde van die dooie, wit, manlike skrywers se nalatenskap en aan die literêre rykdom van die Weste, maar hy is uiteindelik een pool van ‘n baie ingewikkelde gesprek. Daar is immers bitter selde kulturele rykdom sonder ekonomiese welstand wat op allerhande onderduimse maniere verkry is.

    Ek kan ook nie anders as om met Doty se slot saam te stem nie:

    “To man (intentionally chosen verb!) the barricades of the aesthetic order seems too slight a gesture now. We who care about poetry need to insist, anywhere and everywhere, on its absolute value, its irreplaceability. And we need to acknowledge that it is, in essence, uncontrollable: there is no center, no commissariat, no universal judge of quality. This is not only the way it is, in our national multiplicity, but a good thing. Let a hundred flowers bloom. No one is going to win or lose, since we are not at war, not with each other. It’s the life of the art we need to defend.

    However, if the heaven of poetry will not allow us to think about our situation in the world, about the terrors and possibilities of the hour, then I don’t want to go there, as a writer or a reader.

    Here in hell (which I gather is a ways from Yale) certainty has long since eroded. Citizenship is tolerated, if not exactly encouraged. You’re allowed to read the papers, even if nobody especially cares what you think. Perhaps you’ll have something interesting to say about them.”

  12. Andries Bezuidenhout :

    Danie, op ‘n ligter noot so saam met die ernstige gesprek: Hier in die hel ontvang ‘n mens darem digterlike e-posse (“high voltage wires carrying a million junk E-mails”). Ek is verstom oor die detail wat by sulke kennisgewings ingesluit word, asook die elegansie van die toevallige rym. Ek het ‘n paar keer ge-enter om dit soos ‘n gedig te laat lyk:

    Kollegas, neem asseblief kennis
    van plaagbeheeraktiwiteite
    in die Tand- en Mondhospitaal
    op Saterdag, 5 Februarie 2011.

    Aktiwiteite kan moontlik insluit
    beroking, bespuiting of plaas van lokaas
    of ‘n kombinasie van bogenoemde.

    Die amptelik aangestelde
    plaagbeheerdiensverskaffer van die Universiteit
    sal hierdie diens uitvoer.

    Vir verdere inligting
    in hierdie verband skakel…

    Ek moet elke stukkie selfbeheersing in my lyf benut om nie die nommer te skakel vir verdere inligting nie. “So, vertel my meer van die aktiwiteite… Ja, die beroking, die bespuiting en die plaas van lokaaaaaaaas, jy weet, vir die plaag by die hospitaal. Ek wil alles weet! Alles! Gee my meer, meer, meer! Is die lokaas perdalks kaas?”

  13. Danie Marais :

    Die “plaas van lokaas” is ‘n juweel. Hier’s een uit my Spam Folder:

    Hello honey!! I am
    for a good mature man.

    As for myself, I am
    a pretty Ukrainian lady.
    Are you fond of Ukrainian ladies??

    We are not just pretty and clever, but
    very tolerant as well …

    Ukrainian ladies? esteem family
    and tend to be with their beloved ones
    a great deal of right time.

    It’s right time to meet each other!
    I’ll be waiting for you on international marriage site.

    Bye dear!!

  14. Wysneus :

    Joan, sjoe. Vir wat dit werd is, verloor Bloom my as hy in mistiese, gnostiese, en kabbalistiese vlakke inbeweeg. Volgens “The Book of J” het Batseba (ja, sy) moontlik die pentateug geskryf. “Genius” is gnosties georden. En ek dink darem nie Shakespeare het die mens, of die menslike, uitgevind nie. Maar ek geniet die ou man se werk vreeslik. Sy arrogansie en selfversekerdheid pla my niks. Inteendeel.

    Danie, estetiese relativisme (om een ding te noem) is meer vervelig as estetiese outonomie. Lees jy enigeiets? Sou jy jou kinders aanbeveel om enige plek te begin? Dink jy alle ingange lei tot die paradys van die estetiese? Sommiges is deel van ‘n ontkoppelde doolhof, dink ek. Is jy dankbaar vir digkuns in enige permutasie, selfs die waarvan jy nie hou nie? Oscar Wilde het blykbaar gesê “all bad poetry is sincere.” Waarby mens wil voeg dat dit steeds swak is.

    Terloops, jy sê: “Daar is immers bitter selde kulturele rykdom sonder ekonomiese welstand wat op allerhande onderduimse maniere verkry is.” Ek vermoed mense floreer in vrye samelewings, met welvaart, kuns en tegnologie die gevolg. Athene, die Italiaanse Republieke, Holland, laissez faire Engeland en Frankryk, Amerika.

    Maar ek kan verkeerd wees.

  15. Joan Hambidge :

    In sy nou reeds klassieke teks oor digterlike beïnvloeding, The anxiety of influence, skryf Harold Bloom oor die verskillende trope wat die digter kan gebruik om met die digterlike vader / moeder af te reken. Bloom se siening van die Apophrades is gebaseer op die Atheense ritueel van die ongelukkige tyd of nag wanneer die dooies terugkeer om die huise te besoek wat hulle eens bewoon het. In Bloom se belangrike woorde:”But the poem is now held open to the precursor, where once it was open, and the uncanny effect is that the new poem’s achievement makes it seems to us, not as though the precursor were writing it, but as though the later poet himself had written the precursor’s characteristic work”(16). Die Gnostiek is ‘n belangrike aspek van sy werk en die kwessie dat hy die estetiese vooropstel net een faset van sy werk. As kanoniseerder in byvoorbeeld in The Western Canon of wanneer hy die “beste” gedigte uitsonder, lees hy dit teen ‘n netwerk van ander tekste. Vir hom begin alles by Walt Whitman.
    Daar is Bloom die kanoniseerder en daar is Bloom die skrywer van tekste oor digterlike beïnvloeding wat o.a. van die Gnostiek en psigoanalise gebruik maak om tekste op fassinerende wyses te beskou.

  16. Danie Marais :

    Wysneus, estetiese relativisme en estetiese outonomie is myns insiens albei fiksies. In ware estetiese relativisme – die geloof dat alles basies ewe ‘goed’ of ‘sleg’ is – kan net ’n gerookte eerstejaarstudent glo en in estetiese outonomie – die geloof dat daar ’n stel tydlose estetiese kriteria is waarvolgens elke teks binne ’n ahistoriese, geïsoleerde vakuum objektief na waarde geskat kan word – kan net ’n wêreldvreemde dromer in ’n ivoortoring glo. En soos Flaubert gesê het: “I’d love to live in an ivory tower. If only there wasn’t a constant tide of shit beating against the walls.”

    Ek is dan eerder wat Richard Rorty in sy essay “The Inspirational Value of Great Works of Literature” ’n funksionalis noem: “Whereas essentialists take canonical status as indicating the presence of a link to eternal truth, and lack of interest in a canonical work as a moral flaw, functionalists take canonical status to be as changeable as the historical and personal situation of readers.”

    Ek meen dus werke kan beoordeel en vergelyk word deur lesers/kritici wat ’n sosio-politiese, historiese konteks en/of estetiese raamwerk deel. Die vergelyking tussen skrywers is sinvol omdat dit insiggewend is om vas te stel waar die estetiese krag van ’n spesifieke skrywer lê, maar so ’n vergelyking lei nie noodwendig tot ’n hiërargiese orde nie. ’n Digter wat Van Wyk Louw beter as Breyten noem, verraai meer oor sy persoonlike voorkeure en verwysingsraamwerk as oor die objektiewe waarde van die digter wat hy verkies. Daar is tradisies en strominge binne die tradisie.
    Rorty wat ’n groot aanhanger van Bloom is, noem laasgenoemde ook ’n funksionalis, maar Bloom neig vir my soms te veel na ’n essensialis en ’n apologeet vir estetiese outonomie – iemand wat sy eie, ongetwyfeld belese en genuanseerde oordeel, as objektief verifieerbaar wil beskou.

    Ek stem nie heeltemal saam met Bloom of diegene wat die sosiale funksie van letterkunde bepleit nie, maar staan met gemengde gevoelens êrens tussenin. Margaret Atwood verwoord haar ambivalensie teenoor albei uiterstes mooi in Negotiating with the Dead: A Writer on Writing: “Sê nou jy draai af van die smalle weg van Kuns om Kuns Onthalwe en kies ’n ander pad – die een met die rigtingwyser wat lees: ‘Sosiale Relevansie’. Eindig jy dan in ’n paneelbespreking en is daardie paneelbespreking dalk in die hel? Maar sê nou jy draai jou rug op Sosiale Relevansie, hekel jy dan nie uiteindelik maar net woord-doilies vir die ornate leunstoele in die Paleis van Kuns nie?”

    Maar wat vrye samelewings betref: Sekere mense en sekere kulturele sektore floreer in ’n gegewe bestel. Antieke Athene en Rome is ook sinoniem met slawerny; die ongebreidelde kapitalisme in ’n laissez faire-Engeland met kinderarbeid in steenkoolmyne. Daaraan verander die produksie van top-letterkunde en groot filosofie, wat deels moontlik gemaak word deur welgestelde beskermhere van kuns en kultuur, niks nie.

  17. Danie Marais :

    En Wysneus, wat jou ander vraag betref:

    Ek sal natuurlik sekere boeke vir my kind aanbeveel, maar ek glo wel ‘n mens kan ook maar enige plek begin en dat die lees van vrot boeke, pulp, trash en comics ook belangrike verwysingspunte vorm. Ek wonder of daar doolhowe is wat geheel en ontkoppel is van die kulturele web waarbinne ons lees, skryf en probeer sin maak.

    Ek stem entoesiasties saam met die eerste gedeelte van Michael Chabon se essay “Trickster in a Suit of Lights”:

    “Entertainment has a bad name. Serious people learn to mistrust and even to revile it. The word wears spandex, pasties, a leisure suit studded with blinking lights. It gives off a whiff of Coppertone and dripping Creamsicle, the fake-butter miasma of a movie-house lobby, of karaoke and Jägermeister, Jerry Bruckheimer movies, a Street Fighter machine grunting solipsistically in a corner of an ice-rink arcade. Entertainment trades in cliché and product placement. It engages regions of the brain far from the centers of discernment, critical thinking, ontological speculation. It skirts the black heart of life and drowns life’s lambency in a halogen glare. Intelligent people must keep a certain distance from its productions. They must handle the things that entertain them with gloves of irony and postmodern tongs. Entertainment, in short, means junk, and too much junk is bad for you—bad for your heart, your arteries, your mind, your soul.

    But maybe these intelligent and serious people, my faithful straw men, are wrong. Maybe the reason for the junkiness of so much of what pretends to entertain us is that we have accepted — indeed, we have helped to articulate — such a narrow, debased concept of entertainment. The brain is an organ of entertainment, sensitive at any depth, and over a wide spectrum. But we have learned to mistrust and despise our human aptitude for being entertained, and in that sense we get the entertainment we deserve.

    I’d like to believe that, because I read for entertainment, and I write to entertain. Period. Oh, I could decoct a brew of other, more impressive motivations and explanations. I could uncork some stuff about reader response theory, or the Lacanian parole. I could go on about the storytelling impulse and the need to make sense of experience through story. A spritz of Jung might scent the air. I could adduce Kafka’s formula: “A book must be an ice-axe to break the seas frozen inside our soul.” I could go down to the café at the local mega-bookstore and take some wise words of Abelard or Koestler about the power of literature off a mug. But in the end—here’s my point—it would still all boil down to entertainment, and its suave henchman, pleasure. Because when the axe bites the ice, you feel an answering throb of delight all the way from your hands to your shoulders, and the blade tolls like a bell for miles.

    Therefore I would like to propose expanding our def inition of entertainment to encompass everything pleasurable that arises from the encounter of an attentive mind with a page of literature.

    Here is a sample, chosen at random from my career as a reader, of encounters that would be covered under my new def inition of entertainment: the engagement of the interior ear by the rhythm and pitch of a f ine prose style; the dawning awareness that giant mutant rat people dwell in the walls of a ruined abbey in England; two hours spent bushwhacking through a densely packed argument about the structures of power as embodied in nineteenth-century prison architecture; the consummation of a great love aboard a lost Amazon riverboat, or in Elizabethan slang; the intricate fractal patterning of motif and metaphor in Nabokov and Neil Gaiman’s Sandman; stories of pirates, zeppelins, sinister children; a thousand-word-long sentence comparing homosexuals to the Jews in a page of Proust (vol. 3); a duel to the death with broadswords on the seacoast of ancient Zingara; the outrageousness of whale slaughter or human slaughter in Melville or McCarthy; the outrageousness of Dr. Charles Bovary’s clubfoot-correcting device; the outrageousness of outrage in a page of Philip Roth; words written in smoke across the sky of London on a day in June 1923; a momentary gain in one’s own sense of shared despair, shared nullity, shared rapture, shared loneliness, shared broken-hearted glee; the recounting of a portentous birth, a disastrous wedding, or a midnight deathwatch on the Neva.

    The original sense of the word “entertainment” is a lovely one of mutual support through intertwining, like a pair of trees grown together, interwoven, each sustaining and bearing up the other. It suggests a kind of midair transfer of strength, contact across a void, like the tangling of cable and steel between two lonely bridgeheads. I can’t think of a better approximation of the relation between reader and writer. Derived senses of fruitful exchange, of reciprocal sustenance, of welcome offered, of grasp and interrelationship, of a slender span of bilateral attention along which things are given and received, still animate the word in its verb form: we entertain visitors, guests, ideas, prospects, theories, doubts, and grudges.

    At some point, inevitably, as generations of hosts entertained generations of guests with banquets and feasts and displays of artif ice, the idea of pleasure seeped into the pores of the word. And along with pleasure (just as inevitably, I suppose) came disapproval, a sense of hollowness and hangover, the saturnine doubtfulness that attaches to delight and artif ice and show: to pleasure, that ambiguous gift. It’s partly the doubtfulness of pleasure that taints the name of entertainment. Pleasure is unreliable and transient. Pleasure is Lucy with the football. Pleasure is easily synthesized, mass-produced, individually wrapped. Its benef its do not endure, and so we come to mistrust them, or our taste for them.”

  18. Wysneus :

    Danie, dis nou ‘n antwoord.

    Aangaande relativisme: Estetiese outonomie is moontlik van toepassing op visuele kuns. Jy hoef niks te weet van Phidias of Michelangelo, of hul samelewings, of enige ander konteks, om hulle standbeelde treffend te vind nie. Letterkunde is dalk anders omdat ‘n taal en sy samelewing moeiliker skeibaar is. Jy sê werke kan (slegs?) beoordeel en vergelyk word deur lesers/kritici wat ’n sosio-politiese, historiese konteks en/of estetiese raamwerk deel, maar is dit nie juis die punt van ‘n kanon nie? Dat dit die werke is wat ‘n leterkudig-Darwinistiese natuurlike seleksie-proses oorleef het, en waardevol gevind is deur lesers/kritici oor die sosio-politiese-, historiese konteks-, en/of estetiese raamwerk grense heen nie?

    Al glo mens nie in die Groot Waarheid nie, is daar tog klein waarhede (soos bv. die manlike vaders-beskouiing in die roerende Seamus Heany gedigte onlangs hier geplaas). Werke wat ‘waar’ is, in hierdie sin, sonder om alledaags te wees, het dalk ‘n groter estetiese tref-wydte as Sewende Laan. En as daar nie ‘n Groot Antwoord is nie, is daar Groot Vrae. Daarom sluit meeste kanons Kierkegaard en Nietzhe, Calvyn en Hegel in (dis nou filosowe, natuurlik, maar ek dink dieselfde geld vir fiksie-skrywers, want niks is heel fiksioneel nie).

    Terloops, Heine het blykbaar gesê “There is a god, his name is Aristophanes.” Nou moet ek sê “There is a devil, his name is Hegel.”

    — Nou moet ek gaan kinders gaan grootmaak (‘n man se werk is nooit klaar nie), maar ek antwoord die ander twee gesprekspunte. Ek is seker jy kanniewagnie. —

  19. Danie Marais :

    Wysneus, die sorge van die lewe verdruk my en ek het ongelukkig nie tyd om behoorlik te antwoord nie, maar net dit:

    Visuele kuns moet ook gelees word en ons waardering en interpretasie daarvan berus op kykgewoontes en historiese, sowel as kultuurspesifieke verwagtings en idees oor skoonheid of die rol van visuele kuns. (Sien bv. Susan Sontag se essay “An Argument about Beauty” vir ‘n skerpsinnige bespreking van die onderwerp: http://www.amacad.org/publications/fall2002/Sontagweb.pdf)

    Ek het in Thailand agtergekom hoe Westers my oog en persepsies is. Ek is skielik in restaurante gekonfronteer met kuns en ornaat versierde meubels wat duidelik oud moes lyk, maar ek kon nie oordeel of dit nagemaak of outentiek antiek was nie. Die mitologiese figure wat uitgebeeld is, was vir my onbekend. Ek het geen van die stories agter die standbeelde geken nie. Daar was dalk selfs ironie in van die houtbeelde, maar ek sou eenvoudig nie kon sê nie omdat niks in my verwysingsraamwerk my kon help om sin van die kunswerke of artefakte te maak nie. Soos die filosoof Wilfrid Sellars iewers verklaar: Menslike begrip is soortgelyk aan vertaling – ons verstaan deur iets uit ’n onbekende konteks in ’n bekende verwysingsraamwerk te plaas. Begrip van die voorheen onbekende word dan deur middel van analogie gevorm.

    En wat die kanon betref: ‘n Darwinistiese beginsel binne die kunste beteken maar net dat dit wat oorleef, oorleef as gevolg van bewondering en meriete enersyds en kulturele konsensus andersyds, maar ook as gevolg van ‘n hele boel kontingente faktore wat kulturele konsensus, sowel as bewondering binne ‘n sekere historiese konteks beïnvloed. Soos Milosz êrens sê: “Survival of the fittest is not necessarily survival of the best and finest.” Oor Opperman en Brink se onderskeie benaderings tot die samestelling van Groot Verseboek kan ‘n mens byvoorbeeld stry tot die heilige beeste huis toe kom.

    ‘n Kanon sal daar hopelik altyd wees, maar ek beskou dit eerder as gesprekspunt en noodwendig omstrede leeslys en nie as die suiwer distillaat van onaanvegbare kundigheid nie. Die toets van die tyd se resultate word ook maar deur verskeie magte gedokter.

    Maar nou moet ek rêrig werk.

  20. Charl-Pierre :

    Genotvolle interaksie, kerels! Ek sit dit in my pyp en ek rook dit (dit wil se ek ‘kanoniseer’ dit vir myself).

    Hierdie is die beste:
    Soos Milosz êrens sê: “Survival of the fittest is not necessarily survival of the best and finest.”

  21. Joan Hambidge :

    Danie Marais jy was deel van kanonisering toe jy Nuwe stemme 4 saamgestel het en o.a. gedig geskryf het oor hoe onbehaaglik jy vrot gedigte vind. (Dus vermoed ek weet jy wat ‘n goeie gedig, tereg, behels!)Almal wat resenseer, werkswinkels aanbied, keurverslae skryf, bloemlesings saamstel, is by wyse van skrywe deel van die kanon.
    Dis net diegene wat nie terugpraat nie, wat die proses ontglip. Groete, jh

  22. Wysneus :

    Danie, ek sal oor die naweek moet antwoord, want ek wil dit kortbondig doen, en dit vat tyd.

  23. Desmond Painter :

    Indien almal by wyse van skrywe deel van die kanon is, wat beteken die woord ‘kanonisering’ dan? Dit veronderstel tog ‘n proses waarvolgens sommige goed ingesluit word, en ander uitgesluit word. Alles is dus nie deel van die kanon nie, en juis daarom baklei mense oor die grens tussen ‘binne’ en ‘buite’, en word ‘binne’ en ‘buite’ nooit gefinaliseer nie. Daar is niks fout met so ‘n proses nie, maar die kriteria wat ingespan word sal altyd krities bevraagteken kan word. Ook dit is goed — dit hou dinge lewendig, en ou werke kan nuut en op onverwagse maniere met ons praat. Eerder as dat die kanon word soos die museum waarna Bob Dylan verwys, waar ‘infinity goes up on trial / voices echo, this is what salvation must be like after a while…’ Of verstaan ek die kanon ding verkeerd?

  24. Joan Hambidge :

    Kanonisering beteken in die letterkunde dit wat opgeneem word en erken word as goed/groot. (In die Bybel die kanonieke boeke versus die apokriewe boeke wat uitgelaat word.) Alhoewel daar verskille bestaan, is daar altyd sekere tekste – soos Dante, soos Shakespeare, e.d.m. – wat altyd ingesluit word. In ons letterkunde is die twee Groot verseboeke ‘n bewys van hoe tye verander het. Opperman was strenger, terwyl Brink selfs digters uit Nuwe stemme opneem: digters wat nie noodwendig ‘n solo-bundel gaan haal nie.
    Daar is binne ‘n letterkunde verskillende kanoniseringsprosesse: keurders by uitgewers; wat gepubliseer word; pryse; die voorskryfmark; selfs resensies wat boeke as goed aanbied, terwyl dit dalk middelmatig is, ensomeer. ‘n Digter kan “verdwyn” soos Elizabeth M. du Toit wat Komrij terug gebring het of ‘n digter kan dalk weens ‘n studie ‘n nuwe fokus of tweede lewe kry. Sekere tekste sal altyd gekanoniseerde tekste bly – ander sal kom en gaan. En estetiese maatstawwe verander ook binne ‘n letterkunde. In die 80er jare was daar ‘n “political unconscious”.
    Kleiner bloemlesings – soos die Nuwe stemme- reeks – kanoniseer ook, want die samestellers bepaal watter gedigte voldoen aan die maatstawwe wat hulle reken iets nuuts bybring. Daar was immers onlangs op die Versindaba se webblad ‘n reaksie van ‘n digter wat nie opgeneem is nie, as ek reg onthou? Ons is dus by wyse van skrywe deel van die kanon as ons deelneem aan hierdie prosesse, Desmond. Daar sou goedskiks iewers ‘n digter wees wat gedigte skryf in dit in sy laai berg: hy is dan nie deel van die kanon nie, al is sy tekste grensverskuiwend. Louis Jansen van Vuuren se Tempermens is ‘n wonderlike bundel: vars, nuut, anders – maar dit gaan beslis impak maak
    en volgende Dinsdagaand lees Daniel Hugo van sy gedigte voor op RSG.

  25. Daniel Hugo :

    Joan, na aanleiding van jou stelleng “Ons is dus by wyse van skrywe deel van die kanon as ons deelneem aan hierdie prosesse”, ‘n vraag. Wat is dan die verskil tussen “literêre sisteem” en “kanon”?

    Terloops, ek gaan “Bedvaart”, daardie wonderlik uitbundige vers van Louis Jansen van Vuuren, voorlees. Hy gebruik die talle vreemde en argaiese woorde in die gedig om tegelyk die gay-erotiek te verbloem én te besing.

  26. Joan, ek stem saam met wat jy hier bo skryf. Ek stem ook saam dat figure soos Shakespeare en Dante altyd ingesluit (sal) word, maar dit moet mens natuurlik nie verlei om te dink daar is, ten spyte van die al die variasies en kontestasies, ‘n stel ahistoriese, apolitiese kriteria wat ‘n mens maar net moet identifiseer en verfyn nie (ek probeer nie s^e dit is jou standpunt nie).

    ‘n Mens sou jou, as ‘n denkeksperiment, kondisies kon indink wat ‘n Shakespeare of ‘n Dante sou fnuik. Of wat ‘n ewe briljante tydgenoot op die agtergrond sou kon stel. Die samevloeing van die ideaal van gestandardiseerde, geskrewe tale, die nasiestaat en ‘drukkerskapitalisme’, en gesentraliseerde onderwys en gepaardgaande modernistiese prosesse van ‘subjektivering’, het immers die letterkunde soos ons dit ken moontlik gemaak. Kolonialisme het dit gehelp globaliseer, maar ook die kondisies geskep vir die empire om terug te praat — die unieke aksent van Indiese romansiers byvoorbeeld. Alles is maar historiese toeval…

    In die filosofie is Descartes bv. absoluut sentraal in die kanon, terwyl sy ewe briljante tydgenoot Vico vir baie lank ‘n marginale figuur was. Tot sekere ‘postmodernistiese’ denkers hom as belangrike element in ‘n verhaal oor moderniteit, kennis en subjektiwiteit toege-eien het.

    Die rol wat estetiese, paradigmatiese en politieke prosesse speel in die tot stand koming van ‘n kanon, en in die mnaier waarop ons na dinge kyk (‘n soort ‘habitus’) bly maar fassinerend.

  27. Danie Marais :

    Joan, ek was deeglik bewus daarvan dat Nuwe stemme 4 moontlik ‘n beskeie rol in die kanoniseringsproses kon speel, maar ek is net so oortuig dat ek bloot ‘n man met ‘n flits is. Ander digters sou met goeie, koherente redes ook anders as ek en Ronel kon kies.

    Ek verstaan egter nie hoekom jou kommentaar soos ‘n teregwysing klink nie. My samestelling van Nuwe stemme 4 plaas tog nie ‘n vraagteken agter my menings oor die kanon nie? Ek sê net die kanon word nie deur ‘n eksakte wetenskap tot stand gebring nie. En juis daarom is gesprek rondom kanonisering sinvol.

  28. Joan Hambidge :

    Danie, beslis geen teregwysing nie, net ‘n verheldering rondom die komplekse kwessies van kanonisering.
    Ek dink ook nie Bloom sou glo dat die kanon deur eksakte menings tot stand gebring word nie. The Western canon byvoorbeeld argumenteer eerder dat sommige boeke bly staan ten spyte van politieke of teoretiese modes.

  29. Desmond :

    Joan, indien Bloom so sou argumenteer sou ek tot ‘n mate saamstem — maar net tot ‘n mate. Feit is, sekere ‘politieke modes’ (bedoelende: histories spesifieke maniere waarvolgens die wereld polities verstaan en ingerig is), soos nasionalisme en die nasie-staat, die politiek-ekonomiese magsentrum van die VSA, die globale hegemonie van Engels, ens., het saam met die moderne letterkunde tot stand gekom en kom maar nou eers (in sommige gevalle) onder druk. Ons weet dus nog nie wie hierdie ‘modes’ en ‘teoriee’ gaan oorleef nie…

    Walt Whitman is een van my helde, en ek deel Bloom se bewondering van hom, maar sou Whitman so vanselfsprekend deel van die kanon van die wereldliteratuur gewees het indien die politieke en ekonomiese begunstiging van die VSA gedurende die 20ste eeu nie gebeur het nie? Indien die Amerikaanse revolusie nie gebeur het nie en ‘n ander stel diskoerse oor persoonlike en nasionale outonomie, oor die self, oor die liggaam, ons verbeelding aangegryp het? Mens weet nie.

    En Shakespeare, as ‘n ander taal as Engels die belangrikste wereldtaal geword het? Hoe sou dit sy status en posisie aangetas het? Waarskynlik sou hy steeds ‘n reus gewees het, maar my punt is dit: dit is nie so maklik om te onderskei tussen ‘modes’ en ‘blywende waardes’ nie, want selfs die taal waarin enige letterkunde geskep word is, as jy ver genoeg teruggaan, ‘n historiese, teoretiese en dikwels politieke konstruk. Die blywende waardes is net ‘modes’ wat stadiger kom en gaan.

    Miskien onderskat Bloom tot ‘n mate die radikale historisiteit van dinge soos taal, skrif, nasionale tradisies, ens. — ‘n soort estetisisme, dus, wat immers self histories moontlik geword het en maatskaplik in stand gehou word. Bloom se soort perspektief op die letterkunde, die Westerse tradisie en die kanon, het op ‘n bepaalde historiese moment moontlik en ‘plausible’ geword. Niemand weet hoe lank dit nog moontlik sal bly nie. Maatskaplike en tegnologiese veranderinge gaan nog baie van ons mees vanselfsprekende sekerhede vernietig.

  30. Johann de Lange :

    Vir my is die kanon ‘n organiese proses, amper iets soos natuurlike seleksie. Dit is wat oorbly nadat al die speletjies uitgespeel is, al die eksperimente uitprobeer is, al die meninkies lug gegee is. Dit is ‘n illusie dat enige mens of ideologie enige blywende effek sal hê. Hoogstens van tyd tot tyd ‘n gelokaliseerde irritasie wat opvlam & verdwyn.

  31. Joan Hambidge :

    Polemiek is woord en wederwoord. Elke kommentaar ontlok ‘n ander kanttekening, nota, addendum, p.s., vraagteken.
    Dit moet nie as teregwysing gelees word nie, eerder as ‘n gesprek. Geen stuk / artikel is die finale Allamagtige Woord nie. En ja, die letterkundige sisteem hou die kanon in stand en ek dink die gesprek tot dusver wys op al die komplekse rolspelers wat deel hiervan uitmaak.
    Emily Dickinson is deur ‘n manlike kritikus tot swye gedwing in haar lewe – nou is sy die kanon se liefling. Toe ek haar huis besoek het, ontdek ek (tot my chagrin) dat al die belangrike dokumente word geberg in Harvard se biblioteek. Lekker paper chase. Maar dit was lekker om haar dorp te sien en in haar tuin te wandel…

  32. Danie Marais :

    Johann, ek dink jou siening van die kanon hierbo is ’n romantiese illusie. Dis dieselfde as om te sê alles sal uitwerk soos dit moet, want Die Kanon (Westers, nasionaal of internasionaal?) sal uiteindelik organies tot ruste kom wanneer die sterkste, mees vitale tekste eens en vir altyd oorleef het. Dis soos om te glo Die Waarheid sal uiteindelik seëvier wanneer alle menings op een of ander punt in die toekoms konvergeer.

    Kulturele imperialisme is meer as net ’n ideologie – dis ’n feit soos ’n koei. As gevolg van sekere taalgroepe se ekonomiese mag en geografiese invloed word hierdie tale en kulture se skeppingswerk bevorder en gedy dit ten koste van ander kleinter tale en kulture s’n sonder dat dit noodwendig altyd eers ’n doelbewuste agenda van die dominante tale en kulture is. Sekere Jiddisje poësie beëerwe tog nie net die vergetelheid omdat dit noodwendig esteties swakker is as Hebreeuse of Engelse poësie nie? Antieke Griekse en Latynse tekste is tog sekerlik in oorloë of nattuurrampe vernietig? Wat sou gebeur het as Duits die VSA se eerste taal geword het, soos wat in ’n stadium amper gebeur het? Sou Karel Schoeman se status as romansier presies dieselfde gewees het as hy soos J.M. Coetzee in Engels geskryf het?

    Die mag en invloed van tale en die kreatiewe werk in daardie tale is onlosmaaklik met politieke en ekonomiese mag verstrengel. Derek Walcott sê dit uitstekend in die sesde afdeling van sy gedig “The Schooner Flight”. Die Kreoolse, Karibiese matroos Shabine is aan die woord:

    6 The Sailor Sings Back to the
    Casuarinas

    You see them on the low hills of Barbados
    bracing like windbreaks, needles for hurricanes,
    trailing, like masts, the cirrus of torn sails;
    when I was green like them, I used to think
    those cypresses, leaning against the sea,
    that take the sea noise up into their branches,
    are not real cypresses but casuarinas.
    Now captain just call them Canadian cedars.
    But cedars, cypresses, or casuarinas,
    whoever called them so had a good cause,
    watching their bending bodies wail like women
    after a storm, when some schooner came home
    with news of one more sailor drowned again.
    Once the sound “cypress” used to make more sense
    than the green “casuarinas”, though, to the wind
    whatever grief bent them was all the same,
    since they were trees with nothing else in mind
    but heavenly leaping or to guard a grave;
    but we live like our names and you would have
    to be colonial to know the difference,
    to know the pain of history words contain,
    to love those trees with an inferior love,
    and to believe: “Those casuarinas bend
    like cypresses, their hair hangs down in rain
    like sailors’ wives. They’re classic trees, and we,
    if we live like the names our masters please,
    by careful mimicry might become men.”

  33. Danie Marais :

    Of laat ek só vra: Indien Afrikaans as literêre taal tot niet sou gaan,
    beteken dit dalk Die Geskiedenis (Die Kanon?) sal deur middel van
    natuurlike seleksie bewys André P. Brink of Breyten is die grootste
    Afrikaanse skrywers? Of is daar ‘n realistiese kans vir Opperman en
    Van Wyk Louw om in Engelse of Mandarynse vertaling ‘n tweede kanonieke
    asem te vind?

  34. Charl-Pierre :

    Ek dink die kanon is dit wat oorbly nadat mens ‘n reeks vet zolle geswaai het van die Groot Verseboek.

    ‘n Goeie, oorwoë antwoord hierbo, mnr. Marais.

  35. Johann de Lange :

    Danie, my opmerking hoër op ontken nie die bestaan van allerlei posisionerings, manipulerings & onregte in die naam van wat op enige gegewe oomblik as die Regte beskou word nie. Al wat ek sê, is dat dit nie saakmaak nie. Wat oorbly as kanon in enige gegewe konteks vórentoe is nie in die hande van intellektuele reuse, of in regstellende aksies nie. Ek wil my (met sekere voorbehoude) steeds skaar by Auden wanneer hy beweer “for poetry makes nothing happen”.

    Shakespeare is nog steeds groot na hoeveel eeue. Dis nie ‘n gegewe dat dit so sal bly nie. Dis ook nie vir die huidige bestel(le) om te besluit nie, al wedywer hulle aandoenlik onder daardie illusie. Uiteindelik maak dit ook nie saak as Shakespeare, of Van Wyk Louw vorentoe uit die kanon verdwyn & die een of ander rapper die Nuwe Lig word nie. Ook onse rapper sal verdwyn & dalk weer verplaas word deur Shakespeare.

    Ons kan altyd alléén na hierdie groter bewegings van die letterkunde & die geskiedenis vanuit ‘n agternaperspektief kyk. Al kom ons so ná aan die huidige oomblik as demmit – soos met die Big Bang is die naaste wat ons (vir nou) áltyd & hóógstens kan kom, ‘n mikrogedeelte van ‘n sekonde ná die Groot Gebeurtenis. Wat nie beteken of keer dat ons spekuleer oor waarheen die kosmos op pad is nie. Dit is boeiend & interessant & dit hou ons uit of in die kwaad – maar uiteindelik gaan niks wat ons doen of benadruk of in die vooruitsig stel, of voel die stand van sake behóórt te wees nie, enigsins ‘n verskil maak aan die verloop van sake nie.

    Al wat ons kan doen, is om ons kennis, ons geheelbeeld te blý aanpas, soos dinge (buite ons beheer) ontvou ‘n oomblik nádat dit reeds geskiedenis geword het.

  36. Wysneus :

    O, John, jy vind dit tittelerend? Ek ook!

  37. Desmond Painter :

    John, in jou geval rym dit seker met: blank, blank, blank…

  38. Wysneus :

    Danie, ek dink daar is twee skeibaar maar verstrengelde aspekte hier betrokke: estetika en die kanon.

    Is dit nie so dat die natuurlike siftingsproses van die kanon tot ‘n mate self-selekterend is nie? Dat dit nie slegs ‘n lys is van wat jy moet lees as jy belese wil wees nie, maar dat dit nodig is vir literêre- en/of filosofies konteks nie. Joyce se Ulysses (en Oh Brother Where Art Thou?) is onverstaanbaar sonder Homer s’n. Dalk bepaal ‘n werk se tekstuele invloed, eerder as objektiewe kwaliteit, dus die kanonieke eks- of inklusie daarvan. Vico (who knew?) was dalk briljant, maar dit was op Descartes dat die daaropvolgendes geantwoord het. Dit antwoord dalk ook waarom skrywers van dominante samelewings oorverteenwoordig is. Nietemin is daar heelwat werke uit nie-dominante samelewings wat weie invloed gehad het. Cervantes, Tolstoy, Dostoyevsky, endiesmeer.

    “Survival of the fittest is not necessarily survival of the best and finest, but it is survival of the fittest to survive.” — ek

    NS. Jou proktologiese beskouiïng van, bv, Athene (wat, in konteks, ‘n oase van redelikheid en vryheid was) laat my dink aan Eustace in The Voyage of the Dawn Treader. “Most of us know what we should expect to find in a dragon’s lair, but, as I said before, Eustace had read only the wrong books. They had a lot to say about exports and imports and governments and drains, but they were weak on dragons.”

  39. Wysneus :

    wye

  40. Desmond Painter :

    Wysneus, jammer ek spring nou hier in die gesprek is; jy antwoord immers spesifiek vir Danie. Maar OK, ek sou net verskil dat die proses waarvolgens sommige nie deel word van die kanon nie, of nie ikoniese verwysingspunte word nie, ‘natuurlik’ is. Die invloed waarvan jy praat, eerder as objektiewe kwaliteit van die teks (ek stem saam met daai onderskeid), kan aan te veel goed toegeskryf word om dit ‘n proses van ‘natuurlike’ seleksie te noem, sou ek dink: ‘n belangrike ‘spokesman’ (Paulus vir Jesus, bv.!), politieke en ekonomiese prosesse (die groei en kwyn van spesifieke tale, bv.), smaak, die intellektuele modes van die dag, en natuurlik doodgewone good luck — om op die regte plek op die regte tyd te wees.

    As ‘n mens praat van ‘survival of the fittest’ impliseer mens steeds dat dit uiteindelik (en amper uitsluitlik) iets omtrent die teks self is wat sy oorlewing of kanonieke status bepaal. Shakespeare was geniaal, maar hy was ook doodgewoon darn lucky. En dit sou verkeerd wees om sy status dan by nabetragting uitsluitlik toe te skryf aan die ‘fitness’ van die werke. Eerder as ‘survival of the fittest’ sou ek gewoon maar praat van ‘survival of the survivors’. Some don’t make it, en soms vir totaal arbitrere, toevallige redes. Dis wreed, maar waar. Mens kan jouself nie paai met die gedagte dat die goeies op die ou end tog maar gaan wen nie.

  41. Danie Marais :

    Wysneus, my proktologiese benadering stel my in staat om met oortuiging te verklaar dat antieke Athene ook maar bo blink en onder stink was. Die anus is, helaas, net so deel van die mens as sy kop.

    Maar ek het niks spesifieks teen die antieke Grieke nie. Hunter S. Thompson sê die volgende oor sy vriend, die Mexikaanse advokaat Dr. Gonzo: “There he goes. One of God’s own prototypes. A high-powered mutant of some kind never even considered for mass production. Too weird to live, and too rare to die.”

    Ek voel nogal dikwels dieselfde oor Die Mens. Die massaproduksie van ons spesie was ‘n ramp – ‘n fassinerende een met ‘n rits indrukwekkende byprodukte, maar nietemin ‘n ramp van globale proporsies.

    Soos die Duitse digter Gottfried Benn dit gestel het: “Die Krone der Schöpfung, das Schwein, der Mensch.” (Die kroon van die skepping, die vark, die mens.)