Peter Holvoet-Hanssen se digtersbal

Peter Holvoet-Hanssen

Peter Holvoet-Hanssen

Dit wil my voorkom as Nuuswekker se fokus hierdie week ferm op die Lae Lande gerig gaan bly. Maar, nou ja. In die aanloop tot hul Nasionale Gedichtendag later vandeesmaand en die verhoogde poësie-aktiwiteite daarrondom, is dit seker te verstane …

Nietemin, in nog ‘n verwikkeling het Antwerpen se stadsdigter, Peter Holvoet-Hanssen, die ongewone stap geneem om ‘n ‘Stadsdichtersbal’ te reël wat verlede Saterdagaand in die stadsaal van Antwerpen plaasgevind het. Hieroor het dié bruisende seerower des lettere die volgende te sê gehad: “Poëziepilaarbijters zullen dit bal heiligschennis vinden, maar het is feest. Ik laat het vinyl uit mijn verleden ruisen als de zee, er komt een draaiorgel en Eddy et les Vedettes nodigen ten dans. Mijn doel is duidelijk: ook mensen die normaal slechts voor de Vogeltjesdans rechtspringen op Iggy Pop te laten dansen.” Volgens Holvoet-Hanssen verteenwoordig hierdie inisiatief ook ‘een psychologisch keerpunt’: “Het is het officiële afscheid van een jaar waarin ik fysiek alomtegenwoordig was. In mijn tweede jaar als stadsdichter verdwijn ik achter de gedichten. Want ik zie dat mijn voordracht te veel de aandacht trekt en afleidt van de poëzie zelf.”

Nou ja, toe. Volgens die berig by De Papieren Man het Peter hom enkele maande gelede weens ernstige longontsteking in ‘n gesondheidskrisis bevind; derhalwe is ons verheug dat hy in dié mate herstel het dat hy weer in staat is om sy werksaamhede as stadsdigter met sy kenmerkende entoesiasme te kan hervat.

As huldeblyk plaas ek vanoggend onder aan ‘n gedig van Peter soos dit deur Charl-Pierre Naudé in Afrikaans vertaal is.

***

Sedert gister het daar heelwat nuwe blogs bygekom. Andries Bezuidenhout demonstreer weereens sy veelsydigheid met ‘n lekkerleesblog oor Arcade Fire, Marius Crous skryf na aanleiding van ‘n boek deur Harold Bloom oor digters se laaste gedigte; Desmond Painter besin weer oor liefde en ander outydse dinge, terwyl Frances Lubbe dit ten slotte het oor die tsunami genaamd Kindle wat besig is om Europa se uitgewersbedryf te tref.

Sommer ‘n hele boeksak vol heerlike leesplesier. Hê pret daarmee.

Mooi bly.

LE

 

Maanfees

 

Dit was die maan die volmaan

die letters het mosbedekte woorde gevorm

en ‘n takkeweelde het die aandag vasgegryp

die woorde het sinne verwek die nag oop op ‘n kier

die sig was goed besonder goed dus was die uile heel doenig

ek stap deur die bos en byt in die yskoue lug

en waai met my arms die sterre opsy

al wandelend deur die netwerk van bome met maanlig behang

van die allerfynste gehalte sy ‘n allermooiste wandeling

dit moes tog na ‘n oopte lei

en ja ‘n oop kring met daarbo die maan wat die water opwellend liefkoos

en in die middel rustig maar wel ‘n knewel

sy eie krag plesierig genietend in vurige omhelsing

‘n piesang ‘n uitmuntende eksemplaar

nie te groen en nie te ryp nie in die maanlig selfversekerd

dus loop ek na hierdie komma wat in die bos daar lê

en slaan my tande in die boonste die keurigste stuk

van my gele vriend wat het my besiel en hy

ruik wel na piesang maar dis tog te verwagte

en ná die piesangsmaak pyl skielik in die hartjie van winter

braambos framboos op my af al glimmend van die dou

wat ‘n sinnefees ‘n bloubosbessie kon ook nie wag nie

spat sommer oop die spanning was volmaak die nag

u sal merk ek raak skoon liries wat nie my gewoonte is nie

ek so bekend om my nugter gestroopte styl

geprys om my nugter gestroopte styl

wat selfs betaal word om innemend te swyg aan tafel

sit nou met ‘n soetsappige blerrie piesanggedig

inderdaad geen maskerade was dit

‘n maanverligte bos sê ek daar was spore

sigbaar van verse wat nog nooit geskryf is nie

en so stralend gereed is

en wag net om geëet te word.      

 

© Peter Holvoet-Hanssen (Vertaal deur Charl-Pierre Naudé)

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.