Onderhoud met Louis Jansen van Vuuren

Temperature van die liefde

Louis Jansen van Vuuren in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Louis Jansen van Vuuren

Louis Jansen van Vuuren

Louis Jansen van Vuuren is twee-en-sestig jaar gelede in Middelburg, in die ou Transvaal gebore. Van vroeg reeds het hy sy belangstelling in skilderkuns laat geld en so skryf hy hom reeds in standerd sewe in by Hoërskool Middelburg se kunsklas. Sy eerste uitstalling vind op 17-jarige ouderdom in die Metodiste-Kerksaal in Middelburg plaas; ‘n uitstalling wat aandag getrek en The Rand Daily Mail en Vaderland laat skryf het oor die jong man met belowende talent.

Na skool het hy hom as kunsstudent ingeskryf by die Universiteit van Stellenbosch. Na sy studies het Louis etlike omswerwinge na die buiteland onderneem en met sy terugkeer na Suid Afrika vir dertien jaar as kunsdosent aan die Universiteit Stellenbosch betrokke gewees alvorens hy ‘n pos as dosent in grafiese ontwerp by die Universiteit van Kaapstad se Michaelis Kunsskool in die Tuine aanvaar het.

Sy lewe neem hierna nuwe wendings en hy aanvaar in 1987 die geleentheid om by die Cité Internationale Des Arts in Parys te gaan werk en te studeer. Die liefdesverhouding met Parys en die Franse verdiep en word die grondslag om ‘n paar jaar later maklik deur immigrasie in ‘n nuwe Franse land te kan stap.

Sy betrokkenheid met die bevordering van die kunste word ‘n nuwe fokus in sy lewe en gedurende 1988 word Louis verkies tot die voorsitter van die Suid Afrikaanse Kunsverening in Kaapstad en ook tot die Raad van Trustees van die SA Nasionale Kunsmuseum. Sy eie kunsloopbaan word, om verskeie redes, effe agtertoe geskuif en gedurende hierdie tyd ontmoet hy Hardy Olivier, wat ‘n groot rol begin speel met die administrasie van Louis se persoonlike kunsloopbaan.

Gedurende die volgende dekade neem hy deel aan bykans sewentig suksesvolle tentoonstellings in Suid-Afrika en in die buiteland. Enkeles hiervan sluit in: Crosscurrents-Contemporary South African Art, by die Barbara Gillman Gallery in Miami VSA, ‘n Groeptentoonstelling getitel Portraits from South Africa by die Axis Gallery in New York en in 1999 die eerste kollaborasies tussen hom, Willie Bester en Zwelethu Methethwa by die AVA Gallery in Kaapstad en ‘n jaar later weer met Zwelethu en Pat Mautloa by dieselfde Kaapse Gallery.

In 1990 word hy verkies tot die Nasionale President van die SA Kunsvereniging en ook tot die aanwinste-komitee van die Departement van Nasionale Opvoeding. Hy word die redakteur van die SA Kunskalender en aanvaar ook ‘n aanstelling as die eerste Vise-Kommissaris vir die 1993 Viennesiese Biënnale waartydens Suid-Afrika weer toetree tot die wêreld-kunsarena na jarelange kulturele afsondering. Hy verrig hiedie taak met groot sukses en met die bystand van goeie vriendin Marilyn Martin (tot onlangse aftrede Direktrise van die SA Nasionale Kunsmuseum). Vele ander aanstellings volg, soos die kuratorskap vir die SA komponent van die uitstalling Il Sud du Monde en Louis gee meer en meer van sy tyd en expertise tot bevordering van die kunste.

Sedert 1999 lewe en werk Louis Jansen van Vuuren voltyds in Frankryk. 

(Uittreksel verwerk uit Anet Pienaar-Vosloo se biografiese skets van Louis Jansen van Vuuren soos dit verskyn op die amptelike webblad by: http://www.louisjansenvanvuuren.com/cat1.php?catID=2)

 

 

Ten eerste, veels geluk met ‘n besonder knap debuut, Louis. Wat ‘n mens oombliklik tref, is die trefsekere afgerondheid van die verse; iets wat ‘n mens laat vermoed dat hierdie nié ‘n onlangse aktiwiteit vir jou is nie. Vertel ons daarom by wyse van inleiding waar die skryf van gedigte vir jou begin het?

Baie dankie. Ek is  vreeslik opgewonde met die verskyning van Tempermes. Om die boekie vir die eerste keer in my hande te hou, was nogal ‘n besonderse oomblik. Ek was van kleins af deur woorde en stories geraak, veral omdat ‘n mens hulle binne jou kon hou as jy nie die spore van jou gedagtes wou sigbaar maak nie. Ek het dikwels spesiale woorde oor en oor  in my kop herhaal en van hulle ‘n soort talisman gemaak wat ek kon gebruik as doepa teen dinge wat my kinderhart bedreig. As kunsstudent  op Stellenbosch het ek reeds woorde in my skilderye en tekeninge saam gebruik. Ek het ook ‘n joernaal gehou waarin my eerste verse opgeskryf is. Ek was verheug dat daar vyf gedigte in Tempermes opgeneem is wat meer as dertig jaar oud is. Ek het hulle weer met ‘n skerper oog bekyk, maar  hulle het so te sê heelhuids oorleef.

Louis, vanuit jou antwoord hierbo blyk dit dat jou kinderjare inderdaad ‘n invloed op jou ontwikkeling as kunstenaar en digter gehad het; vertel ons sommer ietsie meer omtrent jou kinderjare? Waar het jy grootgeword, ens. Was daar byvoorbeeld ook iemand of iets wat ‘n definitiewe rol in jou ontwikkeling gespeel het?

My kinderdae was meestal sorgeloos en gevul met kaalvoet-kaskenades, tog was daar ‘n ernstiger deel wat met my skeppende gees te make gehad het; wat dinge bevraagteken het en nie baie van konformeer gehou het nie. Ek het mense en dinge gierig dopgehou en my waarnemings in stories en prentjies verwerk. Ek het in Middellburg grootgeword en skoolgegaan. My twee kunsonderwysers in die laaste drie jaar van my skoolloopbaan het my geïnspireer en aangemoedig om my eie ding te doen. Partymaal met vreemde resultate, maar dit het nietemin my die waagmoed gegee om te eksperimenteer. Ek het ook ‘n besonder fyn en ondersteunende moeder gehad. Elizabeth kon die mooiste stories vertel en het ook my liefde en passie vir musiek aangevuur. Van my mooiste herinneringe is van ‘n enorme vrugteboord oorlaai met rypwordende vrugte vol insekte en voels.

Jy is uiteraard in die eerste plek bekend as skilder. Vind jy dat jy die skilderkwas en woord met gemak saam bedryf, of gaan jy deur periodes waartydens jy óf net skilder óf net skryf?

Ek dink werklik dat die skilderkwas en die skryfpotlood uit dieselfde houer kom …. Ek het altyd baie meer geskilder, maar sedert ek aan die bundel  begin werk het, skryf ek sonder ophou. Ek kan amper nie dink dat daar ‘n tyd was dat ek nie elke dag geskryf het nie. Ek handhaaf nogal ‘n goeie dissipline in my ateljee en is daagliks  vir ‘n goeie paar uur besig met verf en teken … Miskien so ‘n bietjie skryf tussen in, maar dis veral in die nag wat ek skryf. Die lig word nie afgeskakel voordat ek ‘n bietjie met woorde gevroetel het nie. Soms vloei ‘n gedig in  sy totaliteit in een vurige stroom op die papier uit, ander kere is daar net ‘n paar strofes en woorde wat oorleef . Ek skryf alles eers in potloot, want ek hou van die visualiteit van die handgeskrewe woorde, en ek is verslaaf aan die klank wat die potlood op die papier maak. Dis heerlik om sommer so in die kantlyn ‘n sketsie of twee te maak as die muse daarvoor vra.

Jy woon in bykans idilliese omstandighede in Frankryk. Vind jy dat dié omstandighede inspirerend op jou skryfwerk inwerk? Ek vra dié vraag juis omrede daar nie veel van die gebruiklike “buitestanderskap”-temas in jou verse voorkom nie … (Ook nie die Europese landskap nie. Jou verse bly deurentyd sterk Afrika-gerig, myns insiens.)

Ek woon in ‘n stukkie droom in Frankryk en die omgewing  beïnvloed my wel deurdat dit heel subtiel in van my skilderye en verse voorkom. In die gedig””Mammoetboom” verwys ek  na die derde Napoleon se tyd wat aandui dat die boom in my tuin uit die Napoleon III periode dateer. In “die jagter se dogter ” kan die argitektoniese verwysings en die wintersneeu op ‘n Europese landskap dui, maar iets vreemds gebeur tog tekemale met die verse. Al sou die oorsprong en inspirasie uit Franse bodem kom, transformeer die vers homself deur die woord en beeldkeuse uiteindelik in iets Afrika-gerig. Miskien is dit so omdat ek dikwels beelde uit my kinderdae oproep. My kleurgebruik en bewustheid vir  nuanse het in Frankryk verskerp en kan duidelik in die kunswerke bespeur word. Tans skryf ek aan ‘n reeks verse waarvan een afdeling aan my lewe in Frankryk gewy is. Maar word steeds getemper deur  ‘n Afrika-gerigtheid.

Maar kom ons fokus nou op jou bundel “Tempermes”. Ten eerste – wat beteken dié titel vir jou? Met watter woorde, hoe bring jy dit in verband met die verse wat in die bundel opgeneem word?

Tempermes is vir my die  instrument (paletmes) waarmee die skilder sy kleure op die palet meng en  dan op die doek aanbring, maar dit kan ook ‘n instrument word wat lae verf weer afkrap. Dit wat verbloem word, weer ontbloot. Ek hou van die temper gedeelte van die titel wat na die tempering van ‘n lewe verwys, en ek hou van  die skerpheid van die mes wat kan skraap en sny en onthul. Die verse in die bundel word deur die verskillende aksies van die  tempermes daargestel.

Die bekendstelling van hierdie bundel het volgens die inligtingstuk op NB Uitgewers webblad saamgeval met ‘n gelyknamige uitstalling; trouens hulle haal jou vanuit die brosjure aan waar jy sê dat die wisselwerking tussen teks en beeld jou nog altyd gefassineer het. Brei ‘n bietjie uit op dié stelling? 

Die tentoonstelling se onder-titel is “Herinnering en Begeerte” en die bundel kom van dieselfde emosionele plek … Dinge wat onthou word en dinge wat verbeel en begeer word. Teks en beeld het nog altyd vir my ‘n besonderse  fassinasie …. Dink aan die eerste merke wat op die rotswande in die grotte van Lascaux en Altamira gemaak is, die pragtige  prentjieskrif-hiërogliewe van ou Egipte, die lettertipes van die Arabies, Sjinese en Hebreeuse skrif, die ou Griekse en Romeinse alfabet,  die geïllumineerde manuskripte soos Les Tres Riches Heurs du Duc de Berry  uit die Middeleeue en beeldgedigte van Guilaume Apollinaire. Van die skilderye op hierdie tentoonstelling is werklik visuele verwerkings van die gedigte waarvan ‘n reeks getiteld, “‘n Duisend woorde“, letterlik bestaan uit ‘n doek waarop daar ‘n duisend woorde  met verf geskryf is.

Jou bundel, wat sonder onderafdelings aaneen loop, fokus besonder skerp op die liefde as sentrale tema. Watter fasette van die liefde het vir jou voorop gestaan tydens dié verse wat jy dan onder andere ook aan jou “beminde” opgedra het?

Die maak van die bundel was vir my  soos ‘n onafwendbare binnereis. ‘n Terugtog wat gemaak moes word waartydens ek dikwels moes stilhou en kyk na dinge wat vergete of verskuild was. Dit het my weer in aanraking gebring met die emosie van kindwees. Vol hoop en vrees. Daar was ook die onbevange tyd van die jong man, vol drif en drang. En dan die somtyds nostalgiese terugblik van die ouer man. Die liefde is inderdaad die sentrale tema van die bundel en raak uiteenlopende fasette daarvan aan. Die liefde vir ‘n moeder, ‘n broer, die jong bruid en die geboorte van ‘n kind. Die verse weerspieël ook verskillende fases van die liefde, die eerste beminde, die huwelik, die einde van ‘n verhouding en die smagting en begeerte van onvervulde liefde. Mitologiese ikone word ook ingespan om sekere hoeke van die liefde te weerspieël. Ek wou ook verskillende ‘ temperature’ van die liefde uitbeeld, van koel en broos tot kwaai en koorsig.

Met die flapteks word jou gedigte deur Riana Scheepers as “weelderig en barok” beskryf. Is jy gemaklik met dié tipering?

Die woorde “weelderig en barok” roep vir my ‘n rits positiewe beelde van oorvloed, oordaad en beweeglikheid op. Ek vind die oorvloedige vrag vol detail en diepte ‘n opwindende ruimte waarin die  verse kan beweeg, veral wanneer die weelde en drif met ‘n  getemperde en getroopte emosie takseer word.

En hiermee kan ek volledig akkoord gaan; eweneens vind ek dié tipering nommerpas. Iets wat ‘n mens egter in die besonder tref by die lees van hierdie gedigte, is die oorweldigende visualiteit daarvan; eweneens is daar die aandag aan fyn waarneming en detail – veral wanneer kleur ter sprake kom. In hierdie opsig verskil jou verse nogals van die meeste ander gedigte wat tans in Afrikaans verskyn. Is hierdie ingesteldheid vir jou iets bewusteliks of is dit gewoon ‘n natuurlike voortskryf vanuit jou belewenis as kunsskilder?

Skryf soos jy skilder en skilder soos jy skryf, het Riana Scheepers op ‘n keer vir my gesê. Dit was ‘n “Open Sesame-oomblik” vir my. Die vryvloei tussen die twee skeppingsbronne is  vir my merkwaardig; dis ‘n tipe  kreatiewe simbiose. Die twee hits mekaar in my bewussyn tot uitdagende hoogtes aan. Wanneer ek ‘n aangrypende toneel of beeld ervaar, meng ek die kleure op my verbeelding se palet, maar nou skryf ek dit ook neer in ‘n  wilwordende bundel/boek. My sketsboek is nou ook skryfboek.

Nog ‘n verrassende kenmerk van jou gedigte is die bykans “ouwêreldse” gevoel daarvan; jy gebruik dikwels ongewone (klassieke) woorde, tesame met ouer – ietwat formele – digvorme  soos die sestina en aubade (aldus Riana Scheepers se flapteks).  Persoonlik is dit vir my veral die hooglied-ingesteldheid wat die toon van dié verse kenmerk. Vanwaar hierdie voorkeur aan klassieke ingesteldheid? Lees jy byvoorbeeld dikwels klassieke tekste? Is die Bybelse gerigtheid hier van pertinente belang?

Soos kleur en pigment bekoor, betower woorde my. Nie net vir die klank en betekenis van ‘n woord nie, maar ook vir die visuele teenwoordigheid en oorsprong van die woord. Ek soek en herontdek woorde wat ek as kind gehoor en gelees het. Vandaar kom sekerlik my verknogtheid aan woordeboeke. As skilder hou die kunsgeskiedenis soveel lesse en inspirasie in. Een van my gunsteling geskrifte is Il libro dellárte, ‘n veertiende-eeuse teksboek vir skilders en beeldhouers deur Cennino Cennini. Baie van die basiese skilderresepte is vandag nog relevant en bruikbaar in ‘n kontemporêre konteks. Vir dieselfde rede lees ek graag klassieke tekse en kyk ek met verwondering na ou digvorme. Die Franse het ‘n ryk en interessante spektrum digvorme soos die Cinquain wat uit die  Middeleeue dateer, die liriese Rondeau uit die dertiende eeu, die  hoogs gestruktureerde Villanelle en die komplekse, maar skouspelagtige, Sestina. Laasgenoemde was so gesog onder die minnesangers dat dit spoedig deur die ganse Europa versprei het en in Italië meesterlik aangewend is deur Dante en Petrach. Hulle kry immer nuwe lewe deurdat digters en ook liriekskrywers die formaat weer gebruik. Die Bybelse gerigtheid is van belang, veral omdat ek ‘n belangrike deel van my verwysingsveld daaruit put. Selfs op die kunshistoriese vlak is en bly die Bybelse verwysings ryk en hartsverheffend.

Twee uitmuntende verse is “Stillewe“, wat oor Sylvia Plath handel, en “Vincent” wat weer oor Van Gogh handel. Waarom het juis dié twee ikoniese figure jou geïnspireer tot ‘n gedig oor elkeen; albei was immers selfdoders terwyl jou gedigte oor hulle myns insiens juis die viering van die (sintuiglike) lewe is …

Plath en Van Gogh weerkaats aspekte van menswees wat my aangryp en roer. In die vers “Stillewe”  beleef ek haar woedend, verslae en desperaat na die verraad van die beminde. Met “Vincent”  sien ek hom  met werklike en verbeelde pigment ongemaklik soek na die plek van rus en aanvaarding. Menslike emosies waarmee gïdentifiseer kan word, waarmee ‘n mens empatie en begrip voor het. Dit is die passie waarmee beide geleef het, wat my begeester. Wanneer ‘n kreatiewe persoon my aantrek, boei of verlok, probeer ek alles wat hy of sy gedoen het, te sien of te lees; ook om na alles te kyk wat ander mense oor hulle kwytraak. Vir die skryf van “Vincent” het  ek saam met drie goeie vriende weer in sy spore gaan loop buite St. Remy. Die vers het stuk vir stuk tydens dié staptog in my losgekom. 

Ten slotte ‘n meer persoonlike vraag: jy is ook bekend as ‘n uithalerkok. Net so vind ek heelwat spore van musiek in jou gedigte; iets wat ‘n mens laat vermoed dat musiek eweneens vir jou baie meer as ‘n toevalligheid is. Daarom – vertel ons ‘n bietjie van jou ander tydverdrywe? Is daar byvoorbeeld bepaalde voorkeure wanneer dit by lees of musiek kom? En ander stokperdjies? Tuinmaak, miskien?

Kos is ook ‘n passie … die maak daarvan, die kyk daarna en dan die eet daarvan. Nie baie goed vir die ouer lyf en middellyn nie, maar die plesier van kos oorskadu die soms gewigtige nadele. Musiek speel ‘n belangrike rol in my lewe. As ek byvoorbeeld van ‘n stem of komponis hou, sal ek uit my pad gaan om alle opnames in die hande te probeer kry. Beide klassieke en kontemporêre musiek voed my. Ek luister byvoorbeeld oor en oor na ‘n bepaalde opname terwyl ek met ‘n skildery besig is. Die musiek word soos ‘n ondersteundende mantra wat die skeppingsdaad gefokus hou. Ek hou ook baie van die sopraanstem, soos Flemming, Netrebko en Dessay. Dan is daar natuurlik Callas, wat alles met een nasale blaf kon stilmaak of alles kon verteer met ‘n nootskone melodie.

Ek is ook lief vir tuinmaak en kan nogal verlore raak tussen my gunstelinge in die beddings, die irisse, ridderspore, soetemalings en die ou franse koolrose. Ek het drie vyebome wat ek teen die winterkiltes en ys moet verdedig. Hulle word in termale aan die einde van die herfs toegebind sodat daar groen en persblou vrugte sal wees.

Dankie vir die geleentheid tot ‘n gesprek, Louis. En mag hierdie publikasie vir jou een uitgerekte vreugde wees; ongetwyfeld is dit ‘n belangrike bydrae tot ons digkuns. Ek besef dat dit ‘n moeilike versoek is, maar wil jy nie een van jou gunsteling eie verse hieronder plaas vir die lesers nie?

Baie dankie vir die geleentheid om so lekker te kon gesels, die volgende gedig is vandag my gunsteling:

 

Selim die Voortreflike

 

Hy kom rokend uit die badkuip op:

gesalfde Kalief van Bagdadstad,

arms, bors en lende

glim met olie van die muskushert.

In sy donker omphalos ster ‘n goue druppel

amber, bergamot en wit jasmyn.

 

Van Kreta het sy gekom

met ‘n helse see-eskader:

maste van goud en seder,

bleek prinses in kurkuma-geel gewade.

Sy vou haar wimpers smagtend toe,

lig die stene-sluier van haar gesig af weg.

 

              ***

 

Met opgehewe letselhande

hou ek na jou toe uit

‘n oopgevoude muskusroos-

my doepa teen die breek van val.

 

© Louis Jansen van Vuuren (Uit: Tempermes, 2010: Queillerie Uitgewers)

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Louis Jansen van Vuuren”

  1. Joan Hambidge :

    Dit is ‘n lieflike bundel vol ruige verse en ‘n ongetemperde verbeelding. Vol begeertes en gefnuikte begeertes.

    Hangkas

    op geskaafde en gedweilde
    dennehoutplanke
    langs ‘n hangkas
    wat pleit om klere
    staan twee pare skoene
    met sole wat slyt

    agtergeblewe
    gespes
    soos jou beloftes
    gebreek

    Soms oordadig (juis dit is die skoonheid); ander kere ingehoue.