Daniel Hugo. Hoe vertaal ‘n mens Kaaps?

 

Inleiding tot‘n Adam Small vertalingsgesprek. Dit het deel gevorm van die “Jakes Gerwel Gesprekkereeks” van die jaarlikse Suidoosterfees en het plaasgevind by SASNEV op Donderdag 27 Januarie 10:30 tot 12:30 onder die voorsitterskap van dr. Daniel Hugo. Die ander deelnemers was prof. Ilse Feinauer, Robert Dorsman en Ria Olivier. 

Ek wil hierdie gesprek oor vertaling begin met ‘n stelling wat ek doelbewus ekstreem gaan formuleer: Vertaling het in die eerste en laaste instansie met taalregister te doen. Taalregister dui op die graad van formaliteit van die taalgebruik – met ander woorde of jy te doen het met kanseltaal, akademiese taal, koeranttaal, geselstaal, kroegtaal, kindertaal, ensovoorts. Voordat ‘n mens dus kan vra “Hoe vertaal jy Kaaps?” moet jy eers die vraag beantwoord: “In watter situasies word Kaaps gebruik?” Of kortom: “Wat is die status van Kaaps?”

Adam Small

Adam Small

Hieroor het Adam Small uitgesproke idees gehad. In die voorwoord tot die herdruk van sy opspraakwekkende en invloedryke digbundel Kitaar my kruis (1962) skryf hy in 1973 (HAUM, Kaapstad): “Ek wil net sê, by herhaling (want ek moes dit, na die verskyning van Kitaar my kruis, meermale reeds onder die aandag bring), dat Kaaps nie is wat sekere Engelse mense in Suid-Afrika Capey noem nie, en ook nie wat sekere Afrikaanse mense Gamat-taal noem nie. Kaaps is ‘n taal, ‘n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra: hulle volle lewe ‘met alles wat daarin is’; ‘n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ‘n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ‘n taal.”

Volgens Small is Kaaps dus ‘n volwaardige, selfstandige taal – wat by implikasie duidelik onderskei kan word van gestandardiseerde Afrikaans.

Volgens hom word dit ook in elke lewensfeer gebesig. Hier moet ek ongelukkig van hom verskil, aangesien Kaaps in ‘n redelik beperkte mate geskryf en gepubliseer word. En soos dit met ander sprekers van Afrikaans gaan, sal die meeste transaksies van Kaapse sprekers sekerlik in Engels geskied. Dit doen uiteraard geen afbreuk aan die uitdrukkingsvermoë van die taal nie. Dit kan inderdaad die “volle lewe” uitsê.  

Selfs as ‘n mens Kaaps ‘n dialek noem, doen jy nie afbreuk daaraan as ‘n volwaardige taal nie. Net so min as wat die digter Guido Gezelle se Wes-Vlaams armer of yler as gestandardiseerde Nederlands is, net so min is Kaaps minderwaardig teenoor Afrikaans. Om die waarheid te sê: vir die spreker van ‘n gestandardiseerde taal klink die dialek dikwels kleurvoller en sappiger as sy eie taal. En van “kleurvol” en “sappig” is dit ongelukkig ‘n klein treetjie na “grappig” en “snaaks”.

Al is ‘n dialek soos Kaaps ‘n volwaardige taal, bevat dit tog groot uitdagings vir die vertaler – groter uitdagings as wanneer daar van een standaardtaal in ‘n ander standaardtaal vertaal word. Die rede hiervoor, myns insiens, is dat dit makliker is om die spesifieke register by verskillende standaardtaalvorme vas te stel en in ‘n ooreenkomstige register in die doeltaal weer te gee, as in die geval van ‘n dialek. Ek gee ‘n voorbeeld. As ‘n tienerkarakter in ‘n Afrikaanse boek sy of haar taal deurspek met Engelse woorde, weet die vertaler dadelik dat hy met informele taalgebruik te doen, dit wil sê met sleng of ‘n sosiolek, wat dan op ‘n ekwivalente informele wyse in die doeltaal weergegee moet word. Kaaps bevat ook ‘n groot persentasie Engelse woorde en uitdrukkings, maar dit is – soos Adam Small so nadruklik uitgewys het – nie noodwendig informele of grappige taalgebruik nie. Ongelukkig is daar baie min vertalers wat die presiese register van dialektaalgebruik kan bepaal.

Peter Snyders

Peter Snyders

Daar is vertalers wat dit maar al te goed besef en daarom nie eens ‘n poging aanwend om ‘n egte vertaling van literêre dialektekste te maak nie. Hulle oplossing is dan om slegs die betekenisinhoud in ‘n neutrale standaardregister weer te gee, langs of onder die oorspronklike teks. Dit is wat die Vlaamse vertaler Jan Deloof byvoorbeeld gedoen het met ‘n keuse van Kaapse gedigte uit Peter Snyders se oeuvre, wat in 1996 verskyn het onder die tweetalige titel Verzachtende omstandigheden. Versagtende omstandighede. (Point 36, Germaine Droogenbroodt, Altea, Spanje) In sy “Woord vooraf” sê hy dat Snyders se taalgebruik ‘n wesenlike kenmerk van sy gedigte is. (Terloops dié uitspraak geld vir alle poësie: die unieke taalgebruik is altyd die wesenlike kenmerk daarvan.) Deloof gaan voort: “Dat is de reden waarom de originele gedichten in deze publikatie vergezeld gaan van Nederlandse transcripties, die enkel en alleen de bedoeling hebben het origineel beter toeganklik te maken. De lezer gelieve de transcripties niet als vertalingen te beschouwen, want voor mij is vertalen uit het Afrikaans zoiets als Gezelle omzetten in standaard-Nederlands.”

Ek gee graag ‘n voorbeeld van Deloof se werkwyse na aanleiding van Peter Snyders se gedig “Of hoe?” Snyders se gedig klink só:

 

                   Moetie rai gammattaal gebrykie;

                   dit issie mooi nie:

                   dit dieghreid die coloured mense –

                   of hoe?  

 

                   wat traai djy

                             om ‘n coloured culture te create?

                   of dink djy is snaaks om soe te skryf?

                   of hoe?

 

                   Traai om ôs lieweste op te lig;

                   ôs praat mossie soe nie …?

                   of hoe?

 

En hier is Jan Deloof se “transkripsie”:

 

                   Of niet soms?

 

                   Schrijf toch niet dat koeterwaals (= gebrabbel);

                   dat is niet mooi:

                   het haalt de kleurlingen omlaag –

                   of niet soms?

 

                   Wat probeer je toch

                             een kleurlingcultuur te creëren?

                   of denk je dat je grappig bent

                             door zo te schrijven?

                   of wat?

 

                   Probeer liever ons te verheffen;

                   we praten immers niet op die manier …?

                   of wel soms?

 

Hierdie “transkripsie” is natuurlik nie naastenby so treffend, so sappig, so kleurvol as die oorspronklike nie. Deloof het sy beperkings as vertaler besef en hierdie uitweg gekies. Maar dit lewer ‘n bloedlose produk op wat skaars as ‘n gedig deur die doeltaalleser beskou sal word – selfs al bied hy sy Nederlandse weergawe in dieselfde versvorm as Snyders aan.

Jan Deloof

Jan Deloof

Dit is interessant dat Deloof in die aangehaalde passasie uit sy voorwoord Peter Snyders se Kaaps en standaard-Afrikaans oor dieselfde kam skeer, as hy sê: “… voor mij is vertalen uit het Afrikaans zoiets als Gezelle omzetten in standaard-Nederlands.” Daarmee bedoel hy waarskynlik dat alle soorte Afrikaans eintlik vir die Nederlandstalige leser verstaanbaar is, op enkele vreemde woorde en uitdrukkings na. Dit is natuurlik nie waar nie, en veral nie ten opsigte van die register nie. En in elk geval verwag die lesers van vertaalde poësie ‘n vertaling uit die brontaal wat op sy eie bene as ‘n gedig in die doeltaal kan staan. Met sy vertalings van die gedigte van Antjie Krog, Wilma Stockenström en Gert Vlok Nel het Robert Dorsman reeds oor en oor bewys dat dit baie goed moontlik is tussen Afrikaans en Nederlands.

Robert Dorsman

Robert Dorsman

Van Robert Dorsman gepraat. In die bloemlesing O wye en droewe land. Honderd-en-een gedichten in het Afrikaans wat hy saam met Adriaan van Dis saamgestel het (Meulenhoff, Amsterdam, 1998) staan die transkripsies van die gedigte heel beskeie in klein druk onderaan elke bladsy. Dorsman noem hierdie transkripsies in sy nawoord ‘n “basisvertaling”. Hy weerspreek daarin ook by implikasie Jan Deloof se veronderstelling dat Afrikaans vir Nederlanders in ‘n groot mate verstaanbaar is, met die volgende uitspraak: “Te vaak gebeurt het dat Nederlanders het spoor bijster raken wanneer ze in aanraking komen met het Afrikaans, een taal die op Afrikaanse bodem geworden is tot wat zij is en steeds minder op het Nederlands lijkt.” In dié bloemlesing staan daar ook gedigte in Kaapse Afrikaans – van Peter Blum, Adam Small en Peter Snyders. Dorsman noem Kaaps “Afrikaans op zijn smeuïgst”, dit wil sê Afrikaans op sy soepelste, op sy sappigste.

Dat Adam Small – en daarom ook die ander Kaapse digters – veel gemakliker in Engels vertaal kan word, blyk uit Carrol Lasker se weergawes van Small se “What abou’ de lô?” en “Second Coming” in The Penguin Book of Southern African Verse (1989) saamgestel deur Stephen Gray. Maar sy worstel ook met die register en met die gepaardgaande betekenisassosiasies van sekere woorde in die oorspronklike gedigte. “What abou’ the lô” gaan oor ‘n wit meisie en ‘n bruin man wat op mekaar verlief geraak het en daarmee die destydse ontugwet oortree het. Die openingsreëls klink in Kaaps só: “Diana was ‘n wit nôi / Martin was ‘n bryn boy”. Lasker vertaal dit as: “Diana was a white girl / Martin was a black boy”. Met “girl” gaan die hele konnotasie van baasskap, of dan nôiskap, verlore – en daarmee saam die ideologiese skok wat bewerkstellig word deur die rymwoorde “nôi” en “boy”. Wat in die gedig rym, het nie in die werklikheid van die apartheidstyd gerym nie. Verder vertaal sy “bryn boy” met “black boy” wat ‘n bewuste ideologiese keuse impliseer. 

Selfs al is die vertaling van poësie altyd ‘n haglike onderneming, wag ons nog steeds op die begenadigde vertalers wat Adam Small, Peter Snyders en ander Kaapse digters oortuigend en registergetrou gaan vertaal.

 

(c) Daniel Hugo

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Daniel Hugo. Hoe vertaal ‘n mens Kaaps?”

  1. Johann de Lange :

    Daniel, in ‘n sekere sin is die probleme wat die vertaler van Adam Small se verse gaan teenkom baie dieselfde as wanneer hy slêng & woordspel probeer vertaal. Kaaps is meer kompleks omdat die taalspel veel meer uitgebreid in ingeweef deel van die boodskap is as by slêng. Ek sou die probleme van ‘n Small vertaling eerder vergelyk met dié van Boerneef vertaal. Daar is groter ooreenkomste met die ontginning van bepaalde registers & ook ‘n groter gewaarwording van verlies wat enige vertaling by hierdie twee digters meebring.

  2. Daniel Hugo :

    Inderdaad, Johann!

  3. Jan Deloof :

    Geachte Heer Hugo,

    Uw inleiding bij de samenkomst over Adam Small heeft me vanmorgen bereikt en ik was meteen klaar wakker. Ik begrijp dat uw tekst wat provocerend moest zijn om dergelijke bijeenkomst op gang te krijgen, maar u gaat toch hier en daar wat al te kort door de bocht.

    U zegt: “ons wag nog steeds op die begenadigde vertalers wat Adam Small, Peter Snyders en ander Kaapse digters oortuigend en registergetrou gaan vertaal.” Wat mij betreft: u zal kunnen wachten tot u een ons weegt, dergelijke vertalingen zijn niet mogelijk. Er is maar één situatie waarin het Kaaps voorkomt en de taal waarin de mensen in die situatie zich uitdrukken kan niet worden overgeplaatst naar een andere plaats. Probeer je dat toch, dan krijg je onvermijdelijk ongewenste connotaties met andere situaties die, hoe gelijkend ook, toch altijd wezenlijk anders zijn. Lang geleden heb ik eens geprobeerd een ‘Kaaps’ sonnet van Peter Blum om te zetten in het Nederlands (Vlaamse versie) en vond er toen niet beter op dan ook het onderwerp naar Vlaanderen te verplaatsen. Terecht had Peter Blum daar heel wat kritische opmerkingen bij. Ik stuur u een tekst daarover mee. Misschien zal hij u ook buiten de vertaalkwestie enigszins kunnen boeien.

    Toen ik het destijds in verband met Peter Snyders over transcripties had in plaats van vertalingen heb ik om de voormelde reden helemaal niet geprobeerd te voldoen aan de wensen van lezers die een vertaling verwachten “wat op sy eie bene as ‘n gedig in die doeltaal kan staan”. En dat in de inleiding ook verklaard. Het gaat mijns inziens niet om het bepalen van “die presiese register van dialektaalgebruik’ maar om de onmogelijkheid een bepaald dialect of specifiek taalgebruik over te plaatsen naar een ander dialect of specifiek taalgebruik. Met een voorbeeld : hoe kun je nu een volksmens die afgeeft op de menselijke verhoudingen aan de Kaap een taal laten spreken die hem dadelijk ontmaskert als een ‘ketje’ van Brussel dat zijn Brabants dialect doorspekt met kreupel Frans? Wat blijft er dan over van de Kapenaar?

    Aan de andere kant geef ik grif toe dat de zaken anders zijn verlopen dan ik vroeger heb gehoopt. Ik heb betrekkelijk veel over de Zuid-Afrikaanse literatuur geschreven om de Nederlandstaligen ertoe aan te zetten zelf boeken in het Afrikaans te gaan lezen. Dat is mislukt. De twee talen zijn zo verwant dat een heel kleine inspanning volstaat om de andere taal onder de knie te krijgen, maar de lezers zijn blijkbaar toch te lui om die kleine inspanning te doen. Het weze zo. En bovendien zijn het Nederlands en het Afrikaans echt wel verder uit elkaar aan het groeien. Zelf lees ik geen vertalingen uit het Afrikaans in het Nederlands, laat staan dat ik nog zulke vertalingen zou maken.

    Ik was anders wel dolgraag bij de discussie aanwezig geweest, maar ja, de leeftijd en de afstand, nietwaar … Alles van die beste!

  4. Evgeny Artemov :

    As dit moeilik vir ‘n vertaler is om ‘n spesifieke register in ‘n brontaal of -dialek vas te stel, is die vertaler ontuis in die brontaal/brondialek.
    As dit moeilik vir ‘n vertaler is om die brontaal se register in ‘n ooreenkomstige register in die doeltaal weer te gee, beheers die vertaler heeltemal nie die doeltaal nie. Selfs sy moedertaal.

    Dis “óf-óf”. Of al twee, soos die geval dikwels is. Dit is so eenvoudig. En as ek ‘beheers’ sê, bedoel ek nie ‘goed beheers’ (teenoor ‘sleg beheers’) nie. In vertaling, as ‘n mens dit in alle erns opneem, kan ‘n mens nie ‘n bietjie (of min of meer) tuis wees nie. ‘Beheers’ bestaan net in die binêre kode, en dit geld ook vir ‘n mens se moedertaal.

    Of hoe?

    (Jammer as ek soos ‘n byl klink, maar my beginner-Afrikaans laat my dit kort maak. 🙂
    Dis eintlik waarmee ek elke jaar my vertalingslesse aan die Moskouse Linguistiese Staatsuniversiteit begin doseer.)

    2. “Kaaps is ‘n taal.” Hè? … Déjà vu! 🙂 Kaaps, meen ek, moet dalk sy Genootskap van Regte Kaapsers gekry, misken in die Paarl (waar anders? ;), en dalk twee taalbewegings ondervind, met al die relevante uitslag, om die erkenning te bereik… Kortom, dit moet die hele pad gestap het — net soos Afrikaans tevore, Nederlands meer tevore, en selfs Duits.

    Tot dan toe, stem ek saam met Daniel: Kaaps is nog ‘n sosioregionale dialek.

  5. Johann de Lange :

    Evgeny

    En as volwaardige dialek skep dit unieke probleme vir die vertaler wat in die ‘dialekte’ van die doeltaal ‘n eweknie probeer kry. Wanneer jy binne taalfamilies bly, is dit makliker, maar sodra jy daarbuite beweeg, raak dit moeiliker. Sou jy saamstem?

  6. Evgeny Artemov :

    Wel, dit kan dalk wees, of dit kan dalk nie. In elke geval hang dit van twee verskeie — alhoewel gedeeltelik saamvallende — klompies voorwaardes en omstandighede af. En sommige daarvan (bv. taalfamielieskap) kan wel enige kant werk. Weereens, hang daarvan af.
    En of die dialek volwaardig is of nie, maak nie saak nie, meen ek.

  7. Johann de Lange :

    Mens moet ‘n onderskeid maak tussen ‘n volwaardige dialek & sleng.

  8. Evgeny Artemov :

    Ja. Mens moet onderskei maak tussen die soet en die blou. 🙂