Onderhoud met Andries Samuel

Die konkreetheid van verlies

Andries Samuel in gesprek met Louis Esterhuizen

 

 

Andries Samuel
Andries Samuel

Andries Samuel het grootgeword in die Vrystaat waar hy verskeie pryse vir kreatiewe skryfwerk as hoërskoolleerling aan Grey Kollege gewen het. Hy verwerf ‘n BA Argitektuur-graad en ‘n B.Arch nagraads aan die Universiteit van Kaapstad. Tussen grade werk hy in Tel Aviv en New York.Sy werk het verskyn op Litnet en in New Contrast. Benewens sy beroep as argitek werk hy ook deeltyds as skrywer en vertaler. Sy debuutdigbundel, wanpraktyk, het pas by Human & Rousseau verskyn.

 

 

Andries, volgens die biografiese gegewe op Human & Rousseau se webblad is jy ‘n argitek van beroep. Ek neem hierdie gegewe as aanloop tot die onderhoud aangesien ek vermoed dat daar vir jou ‘n besonderse band bestaan tussen jou beroep en hoe jy jou ambag as digter benader? Stem jy saam, of plaas ek die hoeksteen verkeerd?

ek dink my voorneme is om baie min verband te hou tussen my beroep en die manier waarop ek skryf. elke ambag vervul ‘n ander rol vir my en ek pak hulle anders aan. tog is dit nie moontlik om weg te kom van ooreenkomste in ʼn “manier van doen” en intuïtiewe spronge nie. ek laat myself baie meer vryheid toe as digter teenoor die rigiditeit van ‘n professionele bedryf wat binne regtelike raamwerke funksioneer.

Vertel ons ietsie oor die ontstaansgeskiedenis van dié verse? Is dit meestal onlangse verse of dateer van hulle verder terug? Van watter ouderdom af het jy byvoorbeeld besluit dat die hele kwessie van “gedigte maak” vir jou belangrik is?

ek het nie meer (of minder) as enige ander kreatiewe mens probeer skryf as jongeling nie. maar dit was altyd net genoeg om my onseker te laat oor of ek kan en of ek nie kan nie. ek het gedurende 2005 my voete begin soek as digter. ek het op daardie stadium nie geweet waarheen ek op pad is nie – net dat ek moes begin. die manuskrip self is saamgestel uit verse wat meestal geskryf is vanaf die einde van 2005 tot einde 2008, met ‘n paar aanvullings.

Iets wat my verras het met hierdie treffende debuut van jou, is die feit dat jy skryf in die toonaard van ‘n tipe poësie wat die afgelope aantal jare nogal ‘n bedreigde spesie geword het: die hermetiese vers. Getrou aan die aard van die hermetiese vers messel jy egter heelwat leidende kodes in by jou teks. So tipeer jy jou bundel by wyse van subtitel bo aan die inhoudsopgawe as synde “‘n sak vol bedrieglike uitweegsels”. Is hierdie ironies bedoel?

ek glo nie eintlik aan ironie nie. of laat ek dit so stel – ek ervaar gebeure in my lewe nie as ironies nie, en daarom bedoel ek dinge gewoonlik nie as ironies nie. hierdie hele proses is nog steeds vir my baie bedrieglik. ek aanvaar ook dat wat ek meen om oor te dra en dit wat iemand sal lees in my werk net so onderhewig is aan allerhande interference. so ek dink nie dis belangrik wát ‘n simbolies verborge subteks sou beteken nie. dis eerder gevoel wat hier ter sprake is en nie altyd betekenis nie – ‘n stem in jou oor eerder as in jou brein. uiteindelik was die konkrete produk – en hier het my werk as argitek my baie gehelp – die dryfveer en in daardie sin kan dit eintlik ‘n voor die hand liggende produk wees.

Wanpraktyk is myns insiens ‘n besonder raakgekose titel en eweneens ironies gedraad. Enersyds dui dit natuurlik op jou onderskeie ambagte as digter en óók as argitek. Met die lees van jou verse besef ‘n mens egter algaande dat jy dié titel ook wyer interpreteer; dat jy dit inderdaad betrek by die wanpraktyke van die lewe self. Interpreteer ek die titel korrek?

ek probeer natuurlik nie sê dat dit nie moontlik is om ironie hier in te lees nie en ek begryp die titel speel hiermee saam. ek dink my bewustheid van my eie wanpraktyke en potensiële misdrywe is redelik groot. as argitek bly dit rondom konkrete dinge soos versekering, finansiering en vergoeding vir kontrakskending waar niemand skuld mag erken nie. (klink kreatief nè?). maar as ek skryf kan ek soos jy sê die wanpraktyke van my breër lewe aanspreek en sommer daarby insluit my ongeletterdheid en ongeleerdheid in terme van literatuur.

As motto tot jou bundel gebruik jy ‘n aangrypende aanhaling uit Anne Michaels se roman Fugitive pieces: “… there’s a moment when love makes us believe in death for the first time. You recognize the one whose loss, even contemplated, you’ll carry forever, like a sleeping child. All grief, anyone’s grief … is the weight of a sleeping child.” Hoe bring jy dié motto in verband met die gedigte in jou bundel?

al twee motto’s gaan vir my om die konkreetheid van verlies, soos ‘n gewig. maar die een is weemoedig en amper uitsigloos, terwyl die tweede van barend toerien aanspraak maak op ‘n vreemde sin van hernuwing. daar is ook gewoonlik wanpraktyk betrokke by verlies – of hoe jy omgaan met verlies, of hoekom jy iets verloor.

Die bundel bestaan uit drie afdelings as voorbeelde van die “sak vol bedrieglike uitweegsels” (aldus die uiteensetting by die inhoudsopgawe). Waar elke afdeling gewoon as wanpraktyk 1, 2 of 3 betitel is, word hulle ook met ‘n subtitel verbind: “stukke van my sleep met haar mee” (wanpraktyk 1), “wellustige en ingewikkelde geheime” (wanpraktyk 2) en “in vreemde hoeke teen mekaar” (wanpraktyk 3). Vertel ons ietsie meer oor die dinamiese fokus waarvolgens jy elke afdeling gekonstrueer het?

ek het nog altyd gehou van konseptuele benaderings tot projekte. toe ons in eerste jaar op argitektuur skool begin leer van ontwerp met konsepte was ek amper in die hemel. dis nie altyd moontlik nie, maar ek kon sien hier is ‘n kans en ek het iets begin weef wat aanvanklik temaloos was tot iets wat sterk gefokus kon word. die eerste deel gaan oor die vervreemding wat ek as pa van my dogter moes deurmaak. die tweede deel is oor pogings om sin in my wêreld te ontsyfer. die laaste deel is oor die lompheid en malheid van weer vorentoe getrek word.

Ek wil graag terugkom na my aanvanklike vraag na jou beroep as argitek; iets wat vir my direk verband hou met die aanslag van jou verse. ‘n Argitek se ingesteldheid het my nog altyd gefassineer: enersyds – amper per definisie – ‘n hoogs kreatiewe persoon, maar andersyds iemand wie se ambag gesetel is in die uiters praktiese wêreld van konstruksie en berekening. En dié teenstelling vind ek dikwels in jou verse terug; die gemak waarmee jy van volslae en heerlike liriese passasies beweeg na ‘n harde, konkrete waarneming. Was hierdie ‘n berekende beginsel met die saamstel van die bundel, of is dit iets wat spontaan só tot stand gekom het?

ek sou sê dis absoluut spontaan. ek moet weereens noem dat ek myself geweldige vryhede toelaat met skryf. die ander groot verskil is dat ek nie ‘n letterkundige opleiding het nie – ek weet behoorlik nie wat ek doen nie en dit kontrasteer met die berekendheid van my werk as argitek. ek weeg elke baksteen en bout en skaduwee, terwyl ek baie minder dink voor ek skryf. die onmiddellikheid van hoe dit klink en hoe dit proe – dis meer sintuiglik as wat dit gaan oor wat ek probeer sê.

Vervolgens ‘n vraag oor werkswyse. Vir die hermetiese digter is taalontginning natuurlik van kardinale belang. Ongewone woordplasings of -orde, sintaktiese afwykings en -variante word byvoorbeeld deurgaans as “kodes” geplaas. Maar – op watter stadium vind dié kodifisering plaas? Is die eerste weergawes van jou verse (dalk) meer konvensioneel, met die “verdigting” wat dan eers met die latere bewerking gestalte vind, of is dit alles één proses vir jou?

dis meestal een proses. die struktuur word meestal reg in die begin duidelik, asook die taal. in terme van werkswyse, het meeste van hierdie gedigte ‘n engelse ekwivalent. ek het na ‘n paar jaar se skryf die behoefte ontwikkel om gehoor te word. ek het baie by open-mic sessies gaan lees by hugh hodge se off-the-wall. ek het vir die onthalwe van terugvoer baie in engels gelees daar en so het ‘n oor en weer vertaling baie gedigte beïnvloed. op hierdie manier dink ek het vroeë “kodifiserings” eerder behoue gebly en die klank en ritmiese ontwikkeling van elke gedig was meer belangrik vir my.

Nog ‘n vreemde gewaarwording tydens die lees van jou verse is hoe dikwels bepaalde assosiasies by die leser gewek word terwyl daar geen sweempie van ‘n teken daarvan in die bepaalde vers voorkom nie. Jou gedigte is byvoorbeeld hoegenaamd nie Bybels of “godsdienstig” nie; tog het Bybelse passasies en gegewe konstant in my binne-oor bly naklink terwyl ek jou gedigte gelees het … Is die Bybel inderdaad ‘n belangrike subteks of verbeel ek my dinge? Neem byvoorbeeld die volgende reëls by wyse van illustrasie:

 

nou net jy, geliefde

jy is waarheen ek mik

my eerste vrede, op my eie gekry

ek het uitgegaan om te soek

nie net sommer ingeval

jy het na my toe gekom

so seker as wat ek na jou geroep het

(“Hulde 3”, p.65)

 

ja dit is inderdaad so. ek dink ek kon nog grootword met godsdiens wat sy plek ken, by wyse van spreke. deesdae is daar baie meer druk om kant te kies en uit te leef. ek het hierdie stem in my binne-oor wat mens net bybels kan noem. die uitklink van hierdie stem het niks te doen met gelowigheid nie maar eerder met die rol wat die klank van argetipes speel. dis nie vreemd vir my nie maar ek aanvaar dit klink maklik outyds.

‘n Laaste vraag, Andries. Lees jy dikwels poësie, en indien wel – watter? Is e.e. cummings byvoorbeeld vir jou ‘n belangrike voorbeelddigter? En plaaslik? Gilbert Gibson, dalk? TT Cloete?

ja ek lees poësie, maar om die waarheid te sê kom ek meeste poësie tee as luisteraar by vertonings en voorlesings. daar is goeie digters in die kaap wat mens net hier raakloop. dis baie lekker om dit van iemand se tong af te kry eerder as uit ‘n boek. ek ontgin ook net so baie uit goeie lirieke. ek sou sê david kramer en nick cave beteken vir my net so baie soos anne michaels en johann de lange.

Ten slotte, baie dankie vir dié geleentheid om met jou oor hierdie besonder knap debuut van jou te kon gesels, Andries. Ek glo dat vele lesers, soos ook ek, gróót plesier gaan hê aan hierdie indrukwekkende ‘wanpraktyk’ van jou.

Wil jy nie asseblief by wyse van groet vir die lesers ‘n persoonlike gunsteling van      jou uit die bundel hier onder plaas nie?

hierdie stuk haal ek aan uit ‘n langer, meer gewaagde vers (all god’s children took their toll). die leser sal self moet gaan soek vir hierdie konteks in die bundel – maar dis eintlik ‘n sleutel tot die groter projek van verlies en wanpraktyk:

 

een oggend vroeg

of miskien nie vroeg genoeg nie

aangesien die toevallige pa

die skoolbus misgis

in die onbeplande ekstra minute

wat ‘n skoolkind se hare vat om te borsel

 

in die ontoevallige sisteme

van die moderne heilige land

is die skool binne loopafstand

en kan voetslaan nog vir baie tel

 

ons vergeet ‘n handjie vol sakgeld

vir die klas se vrydagtombolatafel

“net tien sjekels mag ons vat”

die swart ogies blits

die vlegsel skiet in spriete los

 

ek grawe dan in my beursie

tussen die vreemde note

van ben gurion

om daar te kry

alle tyd verby

drie gewone sikkels silwer

 

 

(c) Andries Samuel (Uit: wanpraktyk, 2011: Human & Rousseau)

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Onderhoud met Andries Samuel”

  1. John Bruwer :

    Het die man nog nooit daarvan gehoor dat ‘n sin met ‘n hoofletter begin nie, of probeer hy net modieus wees. Wel dis pretensieus. En hoekom het julle hom nie gevra watse invloed sy ma op hom gehad het nie.

  2. Louis :

    John, die antwoord is eenvoudig omrede ek g’n spoor van sy ma in sy gedigte kon vind nie. Myns insiens dus nie ter sake nie. Hierdie is ‘n volwaardige en oortuigende debuut wat op sy eie meriete beoordeel behoort te word. Ten opsigte van stilistiese voorkeure (soos die gebruik van kleinletters of die ampersand) is dit ‘n persoonlike keuse en ons aanvaar dit so.

  3. John Bruwer :

    Okay dankie, ek verstaan.