Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Saamgestel deur Fanie Olivier. Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria. ISBN 978-0-7981-5182-5. Prys: R195,00. 253 bladsye. Sagteband.

 

By terugskoue maak die dekade-en-‘n-half tussen ongeveer 1985 en om-en-by 2000 die indruk van ‘n bestekopmakingstyd in die Afrikaanse poësie.

Omslag

Omslag

Daar was byvoorbeeld ‘n hoogbloei in die publikasie van bloemlesings, wat uitgemond het in die samestelling van Groot verseboek 2000. ‘n Mooi klompie tematiese versversamelings – oor religie, kos en drank, musiek, kind-wees, ekologiese bewustheid, die erotiek, die vroulike perspektief, ensovoorts – het ook in hierdie era die lig gesien. Die eerste (1987) en derde (2001) uitgawes van Fanie Olivier se keur uit die Afrikaanse liefdespoësie baken dit as ‘t ware van begin tot einde af.

Toe, rondom die eeuwending, het die uitgee van sulke bloemlesings, soos amper ook van solobundels, tot stilstand geknars. Sedertdien was groei en groeistimulasie egter ‘n belangrike kenmerk van die Afrikaanse poësieveld. Die profilering van (dikwels nuwe) digterskappe in die Nuwe stemme en Versindaba-reekse is ‘n opvallende uiting hiervan.

In 2008 het ‘n sterk uitgebreide uitgawe van Groot verseboek verskyn, en nou, laat verlede jaar, die vierde uitgawe van Olivier se liefdesvers-keuse, met 85 gedigte meer as voorheen. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte is die enigste van daardie tematiese versamelings van weleer wat bly voortleef het, maar verteenwoordig saam met Groot verseboek 2008 tog iets van ‘n heropname van ‘voorraad’.

En die stand van sake is ‘n riem onder die hart. Sonder om onnodig ydel te wees: Die liefde bloei in Afrikaans! Dis plein pakkend en roerend om deur Olivier se samestelling te lees.

Tematiese bloemlesings is kenmerkend nogal behoudend en bevestigend met betrekking tot die kanon. Olivier se samestelling is oorwegend ‘n voorbeeld hiervan. Die “mooiste” word gekies – en nié noodwendig die grondverskuiwende of uitdagende nie. En nie verniet nie: Sulke bloemlesings word meestal saamgestel vir ‘n wyer as die goed ingeligte kopersmark. Gehalte en gewildheid is die twee kante van die glansmunt hier.

Vanaf die bundelmotto (die twee slotreëls van Boerneef se alombekende “die berggans het ‘n veer laat val”) tot die laaste bladsy toe is Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte dus deurspek van ‘klassieke’, partymaal getoonsette verse in Afrikaans, of van gedigte wat onderweg lyk om daardie status te verwerf.

Kort na die verskyning van die eerste uitgawe het kritici al gewag gemaak van die “veiligheid” van Olivier se gedigkeuses. “[J]a,” erken hy aldus in die jongste woord vooraf, “ek het gedigte wat swaar in die erotiek lê, destyds bewustelik weggelaat en hulle het daarom en daardeur ‘n wonderlike tuiste gekry in Johann de Lange en Antjie Krog se bloemlesing Die dye trek die dye aan.”

Gelukkig kon hy “die versoeking” hierdie keer “nie heeltemal weerstaan […] nie”, en kan ‘n mens strofes soos die volgende van Breyten Breytenbach te lese kry:

 

as my peester ooit die magiese

voering van jou kont sou vergeet

die diepberg en die knobbeltjie kittelaar

en die polsende grootmaak van jou tong –

mag dit dan verdor soos ‘n dooie vyeloot

mag dit stom word soos ‘n mondnar sonder tong

mag dit per ongeluk deur ‘n hond

ingesluk en uitgekak word op die strand

 

en indien my hart ooit die aanraak

van jou hande sou vergeet

sou verraai die golwing van jou hare

die ontvanklike oopgaan van jou dye nie onthou –

mag die skerpregter se mes dit deurboor

mag dit versmoor in die rooivloed van bloed

mag dit deur die eeue woed van pyn

want dan het ek jou hart nooit geken nie

 

en ek het vir wind en sotword gelewe

ja, ook dan sal die dood te genadig vir my wees[.]

 

(Slotstrofes van “die eed”, uit die windvanger, 2007 – ‘n gedig en bron wat nie in die kopieregerkenningslys agterin die bloemlesing vermeld word nie.)

 

Olivier stof dus nie maar net die vertroude Afrikaanse minneversskat af met hierdie uitgawe nie. Ek het genoem dat sowat 85 gedigte toegevoeg is tot die 2001-keur. 17 digters se name verskyn nou ook die eerste keer in die erkenningslys.

En die gedigte is hierdie keer volgens ‘n heeltemal ander beginsel gerangskik as in die vorige uitgawes: chronologies volgens eerste publikasiedatums in plaas van alfabeties volgens die digtersvanne. Dít bring myns insiens ‘n (gesonde) relativering van die kwalifisering “mooiste” teweeg. Olivier noem in die bloemlesinginleiding dat resensente voorheen “‘n verduideliking van die arrogante titel van die versameling” gevra het. Ek reken hulle het in minstens een opsig tereg hierop aangedring: Tematiese bloemlesings is tipies hede-gerig – ook wat in die verlede geskryf is, word in die lig van vandag se poësieopvattings beoordeel. Die alfabetiese plasing volgens outeursname van voorheen het die tydgebondenheid van style en literêre smake probeer ignoreer.

Die nuwe rangskikking vee nie die bepaling “die mooiste” uit nie; dit laat ‘n mens ‘skoonheid’ ewewigtiger in die lig van periodekodes sien. En laat ‘n mens des te meer respek kry vir wat mooi bly oor prosodiese en stilistiese eragrense heen – soos vir die volgende strofes uit A.G. Visser se “Rosa Rosarum”:

 

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose

Duist’re geheime vertrou aan die nag;

Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.

Drome en liefde die lang somerdag.

 

[…]

 

Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,

Open die lotus haar heilige kelk,

Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –

As sy in glorie van songloed verwelk.

 

[…]

 

Kom as dit skitter van dou-diamante,

Rosa Rosarum, in my Paradys,

Dat ek my blomme, my bome, my plante,

Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

 

Onvermydelik, vanuit so ‘n literêr-historiese hoek gesien, begin ‘n mens dan wonder oor die ‘verteenwoordigendheid’ van die keuse. Nie omdat ‘n mens krities wíl wees nie; gewoon uit entoesiastiese meelewing. (Olivier nooi ‘n mens juis, en tereg ietwat tong-in-die-kies, in sy inleiding uit om hom te “vermaan”, waar nodig; om hom te “laat weet […] wat ek misgekyk het”.)

Ek noem ‘n paar vrae en gedagtes wat, al lesende, in hierdie verband by my opgekom het.

Kon daar nie ‘n skeutjie volkspoësie toegevoeg gewees het nie – byvoorbeeld uit die volkskwatryneskat wat Pieter W. Grobbelaar in Die rooilappieskombers (1997) versamel het, en waarvan talle met vryery en die liefde te doen het? Die gerf wat hier geoes is van vóór Dertig, lyk hoeka skraal.

Van die Dertigers gepraat: Verdien Uys Krige om so totaal afwesig te wees hier? Haal sy “Swaels bo die kamp”, uit Hart sonder hawe van 1949, nie dalk die paal nie?

Pirow Bekker is nog ‘n naam wat opvallend ontbreek. Die liefdesvers-afdelings in sy ‘ouderdomsbundels’ Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008) het mý egter ontroer.

Toe ek die keuse uit Ina Rousseau se oeuvre betrag, het ek dadelik die onthou-vers “Jan” uit ‘n Onbekende jaartal (1995) gemis:

 

Terwyl sy vir haar gesin ‘n broodjie

van water en witmeel maak,

dink sy weer aan ‘n man met die naam

Jan. Hoe hy eens op ‘n tyd ‘n baadjie

gedra het van bruin riffelferweel

en die woord dadelik

stukkend gebreek het tot drie enkelklanke

een dodelike stormdonker dag. So: daa de lik –

en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik

is onskadelik. Sy plaas die pan

in die oond en gaan na die hoofslaapkamer.

Baie stadig kam sy haar hare

terwyl sy deur die raam

na die sonsondergang staar.

So baie herinneringe,

so baie herinneringe deur so baie jare

van haar bestaan,

aan ‘n man met die naam

 

Jan – [.]

 

Lina Spies se “Groet in pers” het my na Van Wyk Louw se “Groet in bruin” laat soek – en toe ek deur Tristia (1962) blaai, kom ek vier bladsye vroeër op die onvergeetlike liefdesverlatenheid-vers “Sy sal nooit kom nie” af, wat ek óók in die bloemlesing sou wou sien:

 

Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.

Moenie wag. Moet niks verwag nie.

Leer die verwagting af. Leer die wág af.

Leer áf om te luister. Leer af.

 

Die genot wat Danie Marais my met sy vlerksleeppoësie in die eerste afdeling van Al is die maan ‘n misverstand (2009 ) besorg het, sou, indien ek in Olivier se skoene was, hom ‘n tweede gedig in die bloemlesing laat verdien het. En ek sou iets uit Johannes Prins se Een hart (2009) ingesluit het; en ek sou …

Publikasieruimte is nie onbeperk nie, ook nie goedkoop nie, soos Olivier en sy uitgewer seker selfs beter weet as ek. (Waarskynlik vandaar die slapband-baadjie wat hierdie uitgawe dra; die tweede druk van die vorige het al dusdanig in die boekwinkels verskyn.) En keuses kan nooit sonder persoonlike voorkeure uitgeoefen word nie.

Ten spyte van kommersiële beperkings het die samesteller en sy uitgewer kon regkry om kennelike liefdeswerk te verrig.

Daarom: Duim gelig vir hulle!

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte”

  1. Daniel Hugo :

    Bernard, net ‘n klein regstelling. Uys Krige se gedig is gerig aan sy dogter Eulalia – nie aan sy vrou of ‘n minnares nie.

  2. Bernard Odendaal :

    Janee, dit sal nie werk nie. Haastige hond …