Marlies Taljard. Rooshoek se poësiekerk 3

Hoewel gebrandskilderde glasvensters redelik algemeen voorkom en die gewone mens dus algemeen daaraan blootgestel is, is dit nie so maklik om dié tipe kuns te interpreteer nie, aangesien dit so kompleks is en die leek dikwels nie die simboliek wat gebruik word, verstaan nie. Ek plaas vandag nog ‘n venster van die Rooshoek kerk, naamlik “Die Antwoord” van Elisabeth Eybers met enkele notas oor moontlike interpretasiemoontlikhede. Elke mens wat so ‘n venster sien, sal dit uiteraard op sy/haar eie wyse interpreteer, veral omdat die spel met kleure en lig (wat verskil van uur tot uur) geneig is om op die emosies van kykers in te speel – dit is inderdaad bedoel om presies dit te doen!

 

Die Antwoord

Die Antwoord

Die Antwoord – Elisabeth Eybers

Of ek jou liefhet? … Hoe vra jy, wanneer

my oë van die antwoord vol is, weer

dieselfde vraag so twyfelloos en teer?

 

Toe Christus met die derde haangekraai

sy blik vol stil verwyt na Petrus draai,

wie kon die later vraag en antwoord raai?

 

Drie maal het hy gevra … Daar was alleen

die één gebroke antwoord oor vir een

wat in die nag oor eie verraad moes ween.

 

Wanneer ek elke roekelose eed

van ewig trou en liefde reeds vergeet

het, sal ek nog soos Petrus sê: Jy weet.

 

Hierdie venster is deur Mariana du Toit gemaak. In die onderste deel van die venster word twee sittende figure uitgebeeld, wat waarskynlik Jesus en Petrus is. ‘n Vuur is ook deel van dié prentjie. Hieruit kan ons aflei dat die toneel by die See van Tiberias, soos ons dit in die Johannes-evangelie vind (Joh. 21:1-19), uitgebeeld word. By dié geleentheid vra Jesus driemaal vir Petrus of hy hom liefhet, en gee hom dan die opdrag om sy skape te laat wei – dus die Blye Boodskap te verkondig. Die rooi vlamme van die vuur wat tussen hulle brand, kan op velerlei wyses simbolies vertolk word. Dit kan byvoorbeeld, as vertolking van die emosies wat in die gedig na vore kom, sonde en berou simboliseer. Verder is rooi ook die kleur van pyn en lyding – verwysend na Jesus se lyding en dood, waarna die gedig implisiet verwys. Die vlam word dikwels geassosieer met spiritualiteit en die Heilige Gees, soos dit tydens die Pinkster na Jesus se opstanding gesien kon word. In dié opsig beeld die vlam dan die spirituele dimensie van die betrokke gedig uit. Verwysend na vriendskap en lojaliteit, verwys die vlam waarskynlik na die menslike verhoudingsproblematiek wat aanleiding gee tot die Bybelse verwysing – die trou van die spreker teenoor die aangesprokene.

Die visse wat direk bokant die twee figure uitgebeeld word, verwys op die konkrete vlak na die gegewe van Johannes 21. Jesus se dissipels het naamlik teruggekom van hulle nagtelike visvangs. Jesus, wat op die oewer van die see gestaan het, het gevra hoe dit gegaan het en die manne het gesê hulle het niks gevang nie. Jesus het hulle toe aangeraai om nogmaals die net uit te gooi, waarna hulle ‘n volle net visse uitgetrek het. Intussen het hy ‘n vuur gamaak en ‘n vis daarop gebraai. Toe hulle met hul vangs aan land kom, het hy hulle uitgenooi om nog visse op die vuur te gooi en te kom eet. Na hierdie verhaal verwys die visse wat op die venster uitgebeeld word dus op konkrete vlak. Dié toneel word ook deur die gedig gesuggereer deur onder andere die woorde “Drie maal het hy gevra …” ‘n Verdere simboliese betekenis van die vis gaan egter die inhoud van die gedig te bowe, en dit is naamlik die vis as simbool van die vroeë Christelike kerk. Hierdie simboliese betekenis van die vis kom ter sprake direk na die gesprek waaroor die gedig handel, naamlik Jesus se opdrag aan Petrus om die Evangelie te verkondig. In hierdie opsig verruim die kunswerk wat op die loodglasvenster uitgebeeld word, dus die betekenis van die gedig deur die uiteinde van dié gesprek te suggereer.

Die boonste derde van die venster word in beslag geneem deur ‘n wit duif op ‘n blou agtergrond. Benewens emosies van blydskap en kalmte wat deur die kleur blou gesimboliseer word, beteken om “blou” te wees egter ook om dronk te wees – iets waarvan die mense die apostels beskuldig het toe hulle op Pinksterdag met die Heilige Gees (vandaar die duif-simbool) vervul is. Die duif dui op die spirituele rol wat Petrus sedert dié gesprek met sy Meester in die wêreld moes vervul. Ook hierdie gegewe word nie eksplisiet in die gedig vermeld nie, maar kennis van die Bybelse verhaal waarop die gedig gegrond is, behoort op sigself dié verruimende betekenis wat deur die visuele kunswerk uitgebeeld word, by die leser van die gedig te aktiveer.

Wanneer die gedigte na aanleiding waarvan die visuele kunswerke gemaak is en die konkrete kunswerke naas mekaar geplaas word, blyk dus dat betekenisverruiming nie slegs by die “tweede” kunswerk gesien kan word nie, maar dat die twee kunswerke mekaar oor en weer bekommentarieër en verruim. Interpretasie van die “oorspronklike” kunswerk (wat op sy beurt geïnspireer is deur ‘n ander teks of deur ander tekste!) is ‘n kenmerk van die visuele kunswerk wat die gedig interpreteer. Op sy beurt interpreteer die gedig weer die teks waarop dit gebaseer is en … Into the labyrinth!!

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.