Carina Stander. “Kan ek asblief my gesinnetjie klaarmaak?”
“Kan ek asblief my gesinnetjie klaarmaak?” vra Aden-3,5-jaar-oud bo die gedruis van twaalf kuiermense wat die naweek uit roomysbakke en strandklere en in die Peruaanse hangmatte op ons stoep peul.
“Asblief, dis my beurt,” roep kleinste weer, “kan ek my gesinnetjie (sinnetjie) klaarmaak?”
“Wat wil jy sê, aapstert?” wil ek weet.
“Ek wil sê dat… ek wil sommer sê van daai goeters en anner goeters en so aan en nog.”
‘n Bekkie vol tande. Presies hoe ek voel om ná byna twee jaar my laaste blog op Versindaba te skryf.
Hoekom groet? Doodsimpele besigwees. Laas Donderdag my roman vir die uitgewer gestuur. Vandag ‘n tekenopdrag gevonkpos: die illustrasie vir die Slenterfees (deel van die Woordfees) se plakkaat en wynbottel. Moet nog twaalf kunswerke borrelplastiek, krat en koerier vir ‘n solo by Neethlingshof wat 23 Feb open; volgende week ‘n reisrtikel oor Mpumalanga inhandig met honderd kiekies daarby; ook ‘n artikel van 3000 woorde by ‘n ander tydskrif. Dit alles, alles terwyl Aden slaap, want bedags speel ek steeds voluit met my seuntjiemens. (Op die maat van Mozart hol hy poedelkaal rond en verf met sy voete en handjies en boude. (”Kyk, mama, ek verf my baard! Kyk, my dinosourusse se kasteel raak al hoe hoger en hoger!”) Besonders, hierdie laaste dae saam met my eersteling voordat Ilan oor ‘n paar weke gebore word.
.
Tyd om my gesinnetjie klaar te maak, maar ek is dom met groet.
Dis ‘n paradoks wat ek nie aldag kleinkry nie: waarom, as ek so lief en lojaal soos ‘n labrador kan raak, dwing ek myself om afskeid te neem deur soos ‘n warrelwind te reis en dan te weier om terug te keer na waar ek was? Omdat ek die virgin memory wil bewaar? Omdat die wêreld wyd en wonderlik is en daar so baie, so baie is wat wag? Net so, vermoed ek.
Een van die plekke wat ek met die swaarste hart gegroet het, was die Amasone. Niks kon my voorberei vir daardie oomblik toe ek oor die yspieke van die Andes na die longe van die aarde vlieg nie. Iquitos in Peru met sy half miljoen inwoners kan net per boot of lug bereik word. Dis in 1750 deur dapper Jesuit sendelinge gestig en die glorie en val van die rubberboomindustrie is steeds sigbaar aan ingevoerde teëls en antieke traliewerk. ‘n Ma, ouma en baba jaag soos duiwels deur die woudstad – almal sonder helms op een motorfiets. Die motocarro, ‘n driewiel riksja met ‘n enjin en afdak, se horing blaas en mense skrou en waai asof dit Nuwejaar is. Toe ek ‘n geselsie probeer maak, waarsku die bestuurder: “I talk English only more or less.”
‘n Opelugmark in die Amasone het die vermoë om die slagpale van Malawi na Woolies te laat lyk. Honger? Hoe lykit met skilpadvleis, geskilde apie-arm of gedroogde padda? Hompe vleis word met die panga gemoker terwyl die honde bloed oplek en die moeders borsvoed. I close my eyes and think of England… “Viente-un rais,“ spog ‘n beroepsmous met die een-en-twintig wortels wat gebrou word vir ‘n dop wat mens reinig van alle ongeregtighede. Gooi dit diep agter in die keel en beur moedig verder, verby sluikhandelaars van reptiele tot by die drywende stad . Aasvoëls sirkel bo die ouma wat kaalbolyf bad waar kinders visvang en kastrolle gespoel word in die symste rivier waar toilette bo die water wankel. Dadelik is ek die swerkater in oor die apie met die tou om sy lyf, ‘n luidier sonder boom, die bergleeu se beknopte hok, die anakonda in ‘n modderpoel. As ek kon sou ek die tralies met my tong oopsaag.
Dis nie hoekom ek en Gerrit hier is nie, nie vir dié makgemaakte wildernis nie. Die oerwoud roep en ná ‘n dag in die dolle klein stad, kies ons koers na die oerwoud. Op twee miljoen hektaar is Reserva Nacional Pacaya Samiria een van die grootste en onbekendste bewaringsgebiede van die Amasone. Vir net R320 per dag kry ons ‘n bootrit, parkpermitte, verblyf, etes, drinkwater, alle woud- en wateraktiwiteite en ‘n gids by die toerismeburo. (Toergidse is mos soos varkworsies, van wisselende gehalte, maar onse Carlo verskyn soos ‘n Indiaanse engel.)
Die kano dobber langs die piesangboot en ons moet sommer oor die water heen in die “bagasieruim” tussen pluimvee en perde inspring. Die boonste dek het ‘n netjiese ry hangmatte. Dis koeler aan die kante met ‘n salige uitsig oor die rivier. Kinders skoppelmaai en spring tou op die dek. Die dogtertjie langs my se hanspapegaai roep “ola”. ‘n Vrou troetel ‘n mak kinkajoe – goue pelsie, groot bruin oë. Hier en daar slaap iemand op gedroogde piesangblare. Ons wieg onsself aan die slaap in hangmatte. Onder is die magtige Amasonerivier en bo ons ‘n volkome volmaan.
Ligdag sien ons die eerste huise op stelte. Seuntjies vang vis uit ‘n kano. Ontwortelde bome slinger stroom-af. ‘n Dooie anakonda dryf verby. ‘n Aap sit gestrand op ‘n eiland. Eers laat die middag klim ons in oor in ‘n tien meter lange uitgeholde boomstomp met ‘n palmblaardak en buiteboordmotor wat die klanknabootsende naam peke peke verdien. Die Marañon- en Samiriarivier se bruin en swart water ontmoet sonder om te meng. Donderweer dreig op die horison. Honderde swart cushuri (kuifreiers) keer terug na hulle neste. Visse vlieg met borsvinne deur die lug. ‘n Pienk rivierdolfyn boog deur die water. Dit word die Woud van Spieëls genoem.
Hier is geen hotel in die Reserva nie, sodat mens by die ribereños (riviermense) moet tuisgaan. Ons is die enigste besoekers en die Cocamas-Cocamilla stam neem ons op ‘n toer deur hulle driestraatdorpie. Hier word rys gestamp, visnet gevleg, naaldwerk gedoen. Seuns speel sokker, meisies tel mango’s op. Die vroue voer ons stapelkos: gebraaide meelpiesang, gedroogde paiche en yuccu (broodwortel) word met yerba luisa (’n suurlemoengras-drankie) afgesluk. Ons bad in die louwarm rivier en slaap op dun matrasse onder muskietnette in die tambo cocoma. ‘n Palmdakhuis sonder deure. Dit stormreën naglank.
Voor son-op op die slankboot. Deur die mistigheid neem dit stadig vorm aan:purperwinde. Wurgvye. Stekelrige palms. ‘n Perdebynes van houtpulp hang in ‘n tuit van twee meter uit die takke. Vleespienk dolfyne sug en blaas en spuit hier al om die kano. Doer bo in die takke roer die luidier teen twee meter per uur! Die skarlaken-en-groen papegaai is so lank soos ‘n man se arm. Haar suster, die blou-en-geel papegaai, vlieg met die son op haar bors.
Carlo kap ‘n pad met die panga deur die hangende wortels van die mangroves. Dis hier waar die manos (ape) en anakonda woon, waarsku hy en roei al dieper die vázea (vloedbos) in. Nou is ons in ‘n versteekte moeras. Waterlelies. Spinnekoppe en sprinkane hop in en uit die kano en ‘n rooi naaldekoker rus op my groottoon. ‘n Gespikkelde paddatjie spring op Gerrit se rug. Hierdie prinslike paddas is van die mooiste en dodelikste dierasies op aarde: ‘n tienduisendste van ‘n gram paddagif is genoeg om ‘n man te vermoor. ‘n Kaaiman val net aan om haar eiers te beskerm en ‘n piranha byt as jy bloei, maar party spesies is vegetaries. ‘n Elektriese paling skok teen 1000 volt en kan jou tydelik verlam sodat jy verdrink, maar hulle dwaal meestal op die bodem. Candiru is ‘n skraal pestilensie met ‘n voorliefde vir warm urine. Hy spring glo in jou urinale opening en karnuffel die tere vlees. Aanvalle is skaars, maar daar’s min genade vir diegene wat skelm water afslaan in die water! Vampiervlermuise maak soms ‘n klein flap in jou vel waaruit hulle bloed lek. Jaguars is naglewend en skaam, maar goggas sal jy oral teëkom. Elke jaar word nuwe spesies by die reeds bekende 20miljoen van die Amasone gevoeg.
Toe ons die dag se velvuilgoed in die rivier afspoel, swem die dolfyne nader. Ons kampeer aan die oewer van een van Pacaya Samiria se 85 mere. Die “tent” bestaan uit muskietnette met ‘n blou seil bo-oor gespan. Paddas fluit en breek winde op. Gerrit tel ‘n kaaimanskedel naby die kampplek op. Glo ‘n tydjie terug deur ‘n anakonda verwurg.
Die volgende dag vat Carlo ons op ‘n woudstap. Bosbefoeterd skud hy ‘n palm-maaier in sy hand en lek lippe af. Hier het ‘n tapir die takke gebreek, wys hy. Bloedrooi palmietwortels word gebruik vir vloere en bamboes vir fluite. Dors? Karplaks! kap hy ‘n ranker met die panga sodat ons skoon water uit die hol stam kan drink.
Hoe dieper ons die woud in stap, hoe wreder raak die muskiete. Elke keer as mens jou rubberstewel neersit, styg ‘n swart wolk uit die blare op. Die klein peste het boggerol ontsag vir Tabard. “Stops insects bugging people” is ‘n muskietmite. Dit lyk kompleet of die pokke my tref: ek is gebyt in my gesig, tussen my vingers, agter my ore en op my stuitjie. My boude het lelik afgetjop. Muskiete tros om my neus en vlieg in my mond. Ek voel nie meer soos ‘n begeesterde reisiger nie. Ek voel hoe ek stadig mal word. Toe die roep ‘n trop brul-ape vanaf die oorkantste oewer weergalm, fluister Carlo dat manos die donderstorm roep. En wragtag, hier kom die malreën. Gitswart wolke. Een grootse gebliksem. My matras dryf. Ons lê halflyf op ons rugsakke. Takke breek. Gerrit se niere pyn. Ek is gaar gesteek. En ek verjaar.
Ligdag op die kano bid ek vir ‘n verjaarsdagpresent: om ‘n reuse vlinder te sien. My woorde is nog warm in die lug toe ‘n swaelstertvlinder oor die meer vlieg - groot soos twee hande en blouselblou. ‘n Swerm krulnek reiers vlieg ‘n volle uur voor ons uit. Die waterlelie se blare is so reusagtig dat ‘n klein kind daarop kan dryf. ‘n Trop goudgeel eekhoring-apies hop in die takke toe ons deur die terra firme (grondwoud) met sy kalbasbome, wilde gemmer, rooi sampioene, orgideë en harige tarantulas stap. Weermagmiere en ‘n bende blaarsnyer-miere marsjeer met blomhappies na ‘n boom. (Een toeris het glo net ‘n rek gekry waar hy sy onderbroek gelos hê - onder het die blaarsnyer-miere met rooi vlaggies tussen die knypers nes toe gestap!)
Ja-nee, wat ‘n lekker dag vir visvang, sê Carol en stop ons elkeen ‘n bamboesstok in die hand. Die ding het net ‘n lyn en hoek, g’n gewig of dobbertjie nie. Hy leer ons hoe om die visse nader lok deur die klank van vallende vrugte na te boots. Binne oomblikke vang ons elkeen ‘n paña roja, rooi piranha! Heelwat vissermanne vermis ‘n vinger of toon, omdat die klein monsters graag ‘n happie vat as mens die hoek uit hulle tandjies haak. Ek is maar skrikkerig om eentonig deur die lewe te gaan… Aandete is sappige piranhatjies, goudmakriel, yucca en ivoorkleurige repies palmhart.
Die laaste oggend skrik ek wakker van ‘n voël wat roep met die reën in haar keel. Vlamstert en tuitnes. “Oropendula,” sê Carlo die naam soos musiek. “Oropendula,” druppelroep ‘n woud van honderd vlerke.
Ek is dom met groet.








Dankie vir jou wonderlike vertellings, Carina. Sterkte met al die nuwe dinge van die nuwe jaar. Jy was een van my gunstelinge op hierdie gehalte blad.
Ivan, duisend dankies vir jou woorde van waardering! As jy lus is om te loer na nuwe die doenighede: http://www.carinastander.com
In die volgende 6 maande gaan ek die spul inksketse op my webwerf sit wat deel uitmaak van my solo-uitstalling, “Lost & Found” wat 28 Aug by Lanzerac in Stellenbosch open. Dit sal ‘n visuele uitbeelding wees van ‘n reeks ongepubliseerde verse en sal tot 30 Okt aanhou. Jy’s welkom!
Carina, baie dankie vir al jou wonderlike blogs. Tot die laaste een toe! Dit was ‘n hartseerslag om jou as ‘user’ van ons webblad te verwyder. Maar ek hoop dat jy later gaan terugkeer sodra jy dink dat jy weer tyd genoeg sal vind om verslag te doen van alles wat jy ervaar en geniet. Ek het veral die vertellinge oor jou kind baie geniet, en natuurlik die reisbelewenisse. Mag dit goed gaan met jou vir die dinge wat nou wag…
Dankie vir jou opmerkings by die Fotobeeld!
Groete
marlise, dat jy en Louis hierdie ruimte vir digters en diesulkes skep, is en bly ‘n feestelikheid vir die sinne - in elke sin van die woord. merci, merci.
Ai Carina, hartlike dankie vir jou skrywes, tyd het stilgestaan terwyl ek jou vertellinge gelees het, alle sintuie ingespan in ervaring. Alles wat mooi is vir jou en gesin, mag geheime steeds alledaagse kennis vir jou word. En asb, deel dit steeds met ons gewone ouens… ek sal gaan lees op jou webblad.
Liefs
Martie J v Rensburg
Martie J v Rensburg, ‘n laataandverrassing, jou kommentaar. Baie dankie vir die waardering.