Danie Marais. Skrywers en moraliteit

Skrywers en moraliteit

Danie Marais

NP Van Wyk Louw

NP Van Wyk Louw

Verlede jaar probeer ek vir Ronelda Kamfer – ‘n jong digter wie se werk ek aangrypend vind – oorreed dat N.P. van Wyk Louw se poësie onontbeerlike leesstof is. Haar antwoord? “Jy weet, Danie, as ek aan daai ou mannetjie en sy houdings dink, kan ek net nie meer lees wat op die bladsy staan nie.” Vir haar as bruin skrywer wat ‘n klomp van die verlede se politiese gif met moedersmelk ingekry het, is dit waarvoor Van Wyk Louw staan ‘n onoorbrugbare hindernis. Uit ‘n huidige perspektief lyk sy “lojale verset” na ‘n hopelose selfveronstkuldigende gebaar; ‘n gerieflike stukkie selfbedrog sodat dié wat hulle met die hogere filosofie en literatuur besig hou, rustig in Clifton kan sit om “universele” dinge oor die menslike toestand neer te pen terwyl medemenslikheid net ander kant die berg tot aan die Limpopo krepeer.

‘n Paar maande voor my en Ronelda se gesprek het ek in ‘n onderhoud vir Beeld met Hunter Kennedy – Fokofpolisiekar se liriekskrywer – ook oor Van Wyk Louw gesels. Die Karre se album Swanesang het so pas verskyn en Hunter het ‘n hele strofe van “Jy was ‘n kind” in die liedjie “Heiden heiland” aangehaal. Hoe voel hy oor Van Wyk Louw se politiese omstrendenheid, wil ek weet. Wat van die Nazi-sentimente wat in Van Wyk Louw se briewewisseling met sy broer W.E.G. Louw aan die lig gekom het?

Hunter antwoord effe bekommerd: “Ek kon nie op hoërskool met Afrikaanse literatuur identifiseer nie, maar hy was my favourite. Met die skryf van die nuwe album het ek met die Bybel, die woordeboek en Van Wyk Louw as verwysings gewerk. Sy woorde word natuurlik in die song in ‘n heeltemal ander konteks gebruik as in die oorspronklike gedig, maar dit het perfek gepas. Nie enige een van ons weet verder iets van hom of sy politieke oortuigings nie.”

Dié twee gesprekke oor Van Wyk Louw som die oeroue spanning tussen die estetiese en die etiese in die literatuur netjies op. Hoe gemaak met goue woorde uit die pen van skrywers wat moreel of polities verdag voorkom? Het die skrywer as denker en potensieel invloedryke stem nie ‘n sosiale verantwoordelikheid om tot ‘n beter, deugsamer samelewing by te dra? Maak die lees van goeie boeke ons nie ook beter mense nie, of is goeie literatuur per slot van sake pure elitistiese verstrooiing – sepies vir diep mense? Kan ‘n mens in ‘n land soos Suid-Afrika wat deur armoede en hope maatskaplike probleme geteister word, skryf waaroor jy wil, of is die skryf van boeke ter ontvlugting of ligte vermaak om viool te speel terwyl Rome brand?

As jy reken die etiek en sy berugte, aangenome boetie die politiek behoort geen sentrale rol te speel in die beoefening of beoordeling van woordkuns nie, staan jy aan die kant van estete soos John Keats en Oscar Wilde. “Beauty is truth, truth beauty” het Keats in sy beroemde “Ode to a Grecian Urn” gedig. “There is no such thing as a moral or an immoral book. Books are well written, or badly written,” het Wilde in die voorwoord tot sy roman The Picture of Dorian Gray verklaar.

Keats en Wilde was galleonsfigure van die 19de-eeuse beweging wat bekend gestaan het as Aestheticism – “kuns om kuns onthalwe” (Art for Art’s sake) was hul slagspreuk. Die nut van kuns is radikaal bevraagteken. “All art is quite useless” het Wilde gesê. Théopile Gautier het dié standpunt mooi ingekleur in die voorwoord tot sy roman Mademoiselle de Maupin: “Nothing is truly beautiful unless it cannot be used for anything; everything that is useful is ugly because it is the expression of some need, and those of man are ignoble and disgusting, like his poor and infirm nature.”

 

Invloedryke 19de-eeuse kritici en skrywers soos John Ruskin en die digter Matthew Arnold was egter van mening dat hierdie houding ‘n laakbare vorm van dekadensie is. Biograwe het tot in 2005, toe dié tekeninge in ‘n argief ontdek is, beweer dat Ruskin so toegewyd aan sy kruistog vir morele kuns was dat hy verskeie van sy geliefde kunstenaar J.M.W. Turner se erotiese tekeninge vernietig het. Vir Arnold was die poësie van rebellie teen morele opvattings, die poësie van ‘n rebellie teen die lewe self; om in jou digkuns onverskillig te staan teenoor moraliteit, om onverskillig te staan teenoor die lewe. Arnold het so ver gegaan om sy eie gedig “Empedocles on Etna” vanweë morele oorwegings uit ‘n digbundel weg te laat. Hy het gevoel dié morbiede gedig sou lesers hopeloos en verslae laat voel en dat so ‘n vers nie leersaam sou wees of enige plesier kon verskaf nie.    

En dis nog nie naastenby so ekstreem soos die beroemde Franse skrywer en filosoof Jean-Paul Sartre wat in 1964 in sy boek Les mots (Words) vanweë polities-morele oortuigings die literatuur heeltemal afgesweer het nie. Hy het tot die slotsom gekom dat die literatuur funksioneer as ‘n burgerlike plaasvervanger vir ware betrokkenheid in die wêreld. Sartre het in dieselfde jaar daad by die woord gevoeg en die Nobel-prys vir Letterkunde van die hand gewys.

Harold Bloom

Harold Bloom

En dié vurige debat woed vandag nog voort. Wilde se mees bekende kontemporêre navolger is die Amerikaanse kritikus Harold Bloom. In die eerste hoofstuk van sy monumentale werk The Western Canon verwys hy na “die sublieme Oscar Wilde wat reg was oor alles” en stem entoesiasties saam dat kuns basies nutteloos is. Volgens Bloom is dit hopeloos om die kanon te verdedig in die naam van moraliteit. Die lees van groot literatuur is nie ‘n eties opbouende tydverdryf nie:

“Die Weste se grootste skrywers ondergrawe alle waardes, sowel ons s’n as hul eie. […] As ons die Westerse kanon lees om ons sosiale, politiese en morele waardes te vorm, glo ek vas dat ons monsters van selfsug en uitbuiting sal word. Om in die diens van enige ideologie te lees is, myns insiens, om hoegenaamd nie te lees nie. Die gewin aan estetiese mag help ons om te leer hoe om met onsself te praat en onsself te verduur. Die ware nut van Shakespeare, Cervantes, Homer, Dante, Chaucer of Rabelais is om die groeiende, innerlike ek uit te brei. Deur wyd en diep te lees in die kanon gaan jy nie ‘n beter of ‘n slegter mens word, of ‘n meer bruikbare of skadelike burger nie. Al wat die Westerse kanon jou kan gee, is die vrugbare gebruik van jou eie eensaamheid –  daardie eensaamheid waarvan die uiteindelike vorm die konfrontasie met jou eie sterfklikheid is.”

 

Bloom is uiteraard ‘n rooi doek vir Neo-Marxistiese en feministiese literatuurkritici wêreldwyd. Die bekende Britse Marxistiese kritikus Terry Eagleton stel die teenoorgestelde standpunt in verskeie werke, onder andere in sy Literary Theory: An Introduction. Eagleton glo soos Sartre “die mens is ‘n politiese dier” en beklemtoon dat die “suiwer” studie van literatuur om die estetika daarvan ‘n akademiese mite is. Alle literatuurkritiek is uiteindelik polities, argumenteer hy in die slot van Literary Theory: “‘n Letterkundige teorie is nooit meer ideologies as wanneer dit probeer om die geskiedenis en politiek geheel en al te ignoreer nie. […] By nadere ondersoek kan gesien word hoe letterkundige teorieë verband hou met die spesifieke belange van spesifieke groepe in spesifieke tye.”

Dat beide kante van hierdie oeroue debat ‘n punt het, is duidelik. Margaret Atwood verwoord haar ambivalensie teenoor al twee uiterstes mooi in Negotiating with the Dead: A Writer on Writing: “Sê nou jy draai af van die smalle weg van Kuns om Kuns Onthalwe en kies ‘n ander pad – die een met die rigtingwyser wat lees: ‘Sosiale Betrokkenheid’. Eindig jy dan in ‘n paneelbespreking en is daardie paneelbespreking dalk in die hel? Maar sê nou jy draai jou rug op Sosiale Betrokkenheid, hekel jy dan nie uiteindelik maar net woord-doilies vir die ornate leunstoele in die Paleis van Kuns nie?”

Binne ‘n Suid-Afrikaanse konteks, met sy onlangse geskiedenis van grootskaalse politiese onderdrukking, bly die rol van die skrywer en die literatuur ‘n omstrede mynveld. Die amptelike, politieke sensuur is sedert 1994 iets van die verlede, maar dat vele boeke en daarmee saam hul skrywers nog op grond van politiese of morele oorwegings beoordeel, en soms veroordeel word, is duidelik.

Anton Kannemeyer en Conrad Botes se stripboek GIF is ook in die nuwe Suid-Afrika as obseen verbied. André P. Brink was vanjaar onder skoot oor ‘n badtoneel in Ander Lewens wat sommige lesers gevoel het seksuele begeerte teenoor ‘n klein dogtertjie uitgebeeld het. Een blogger het selfs op ‘n verskoning teenoor alle gemolesteerde kinders aangedring. J.M. Coetzee se Booker-wenner Disgrace, wat deur die ANC-regering en verskeie kritici as rassisties bestempel is, is egter die bekendste onlangse voorbeeld van hierdie soort moralistiese oordeel. Soortgelyke besware is geopper teen Eben Venter se apokaliptiese roman Horrelpoot, wat Joseph Conrad se Heart of Darkness nuut verbeel binne ‘n duister Suid-Afrikaanse toekoms van korrupsie en algehele verval. Conrad se eie roman is ook vroeër deur die Nigeriaanse skrywer Chinua Achebe in ‘n politiese lesing as ‘n rassistiese boek afgemaak wat wesenlik tot die stereotipering van swart mense en “donker Afrika” bygedra het.

Maar moenie dink dit is net wit skrywers wat oor die kole van moralistiese of politiese lesings gehaal word nie. By die 2008 Time of the Writer-fees in Durban is Kopano Matlwa, die 22-jarige skrywer van Coconut gepeper met aggressiewe vrae oor haar menings ten opsigte van taal en identiteit. Matlwa se debuutroman handel oor swart en jonk wees in ‘n hoofsaaklik wit skool en gemeenskap, en een ondervraer wou selfs weet of sy haar kinders in ‘n wit skool sal sit, noudat sy weet watter pyn dit veroorsaak om van jou kulturele wortels vervreem te word.

Ek het min tyd vir kritici wat van kuns propaganda vir die goeie saak, of ‘n reëlboek vir betaamlike gedrag wil maak; en net so min vir lesers wat die optrede en uitlatings van feilbare menslike karakters in boeke wil toedig aan die skrywers van daardie boeke. Dat Disgrace ‘n ontstellende roman is wat ‘n angswekkende blik op post-Apartheid Suid-Afrika werp, is duidelik. Aan David Lurie, die hoofkarakter, kon ek ook nie vat kry nie, maar om Lurie gelyk te stel aan Coetzee is gewoon onaanvaarbare leesmaniere. En hoe moet Eben Venter wit vrees vir Afrika en ‘n katastrofale toekoms verken en tegelyk daarop let om polities korrek te wees. Kan vrees ooit anders as bevooroordeeld wees? Angs berus tog per definisie op die veronderstelling dat iemand of iets met jou kwade bedoelings het – kan wit vrees vir Afrika dan op iets anders as rassistiese vooroordele berus? Is die romansier veronderstel om gereeld voetnotas aan te bring waarin hy telkens sê: Onthou hierdie is ‘n roman, ‘n gefiksionaliseerde dinkeksperiment – ek is ‘n goeie mens wat x en y belei, maar wil tog graag probeer om die ander kant van die saak te ondersoek? Moet Matlwa om verskoning vra vir die kulturele verwarring wat sy verwoord het?

Maar ek deel ook Atwood se ambivalensie – die idee dat een van my eie gedigte oor my intieme middelklas-seerplekkies net ‘n woord-doilie vir die wêreldvreemde Paleis van die Kuns is, pla my. As jy rondom jou kyk in Suid-Afrika lyk niemand so blind en sinies soos die hopeloos bevoorregte wit vrou wat Tatamkula Afrika in sy gedig “The Squaring” beskryf nie: “… this woman, here, now, / toying with her glass’s thin stem, so tired of a story still not told …”

Carlos Fuentes

Carlos Fuentes

Toe ek dus ‘n paar jaar gelede die geleentheid kry om met Carlos Fuentes ‘n onderhoud te voer, kon ek nie wag om hom te vra of hy aan iets soos ‘n skrywersverantwoordlikheid glo nie. Fuentes, wat as Mexiko se grootste lewende skrywer gereken word, was in Johannesburg om die Nadine Gordimer-gedenklesing waar te neem. Hy is bekend vir sy politieke uitgesprokenheid, veral sy vurige kritiek op die imperialisme van die Verenigte State. En Mexiko is boonop ‘n land wat met soortgelyke post-koloniale probleme as Suid-Afrika worstel.

Fuentes antwoord egter sonder ‘n sweempie van huiwering: “Die skrywer se enigste verpligting is teenoor die taal en die verbeelding. Wanneer ‘n skrywer sy sout werd is, verander hy die kopermunte van gewone woorde in goud. Die krag en waarde van ‘n skrywer se werk lê alleen in die gehalte van die taalgebruik en die oorspronklikheid van die skrywer se verbeelding.”

Of ‘n skrywer polities betrokke wil raak, is volgens Fuentes ‘n persoonlike keuse en hy beklemtoon dat skrywers hulle dikwels polities misgis. Hy noem die voorbeelde van Jorge Luis Borges wat die Chileense diktator Pinochet ondersteun het, en Pablo Neruda wat lank Stalinistiese oortuigings gehuldig het.  “Tog,” sê hy, “hulle bly ongetwyfeld groot skrywers.”

Sy antwoord het my dadelik beter laat voel oor my Van Wyk Louw-bewondering. En eintlik sê Fuentes tog iets wat ons almal weet – dat ‘n slag met woorde nie net die onbevlektes en regverdiges beskore kan wees nie.

Daar is ‘n treffende passasie in Vladimir Nabokov se meesterstuk Pale Fire waarin die hoofkarakter, dr. Charles Kinbote, kommentaar lewer op die epiese onvoltooide gedig van sy vermoorde buurman John Shade. Die reël in Shade se gedig lui: “Just behind (one oozy footstep) Frost”. Hiermee gee Shade te kenne dat die kritici hom altyd met Robert Frost vergelyk het, maar hy Frost nooit kon oortref nie. Kinbote se dodelike kommentaar lui: “With all his excellent gifts, John Shade could never make his snowflakes settle that way.”  

En elke boekliefhebber en enigeen wat al self probeer het om kreatief te skryf, moet Kinbote gelyk gee. Die toets van die woordkunstenaar se vermoë lê nie in sy deugsaamheid nie, maar in die manier wat hy sneeuvlokkies tot ruste kan laat kom. En het Van Wyk Louw nie geweet net hoe om die sonlig op herfsblare in die Boland te laat val nie? Die Poolse digter en Nobelpryswenner Wislawa Szymborska het juis daarom gesê dat die biografieë van digters haar hoegenaamd nie interesseer nie, want waar poësie vandaan kom, kan niks of niemand en beslis geen lewensverhaal verklaar nie.

Maar miskien is die interessanter vraag hoekom die vasstelling dat groot skrywers foute maak en hul soms polities en eties lelik misgis, ons so ontstel? Hoekom wil ons die feit dat Joseph Conrad nie deur sekere vooroordele kon sien nie in ‘n tydsgewrig toe die oorgrote meerderheid van denkende, opgevoede Europeërs hoegenaamd geen wenkbrou gelig het oor die kolonialistiese plundering van Afrika nie, teen hom hou? Is dit regverdig om die vader van die moderne Engelse digkuns, William Wordsworth, uit curricula in Amerikaanse universiteite te werk, soos dit tans gebeur, omdat hy later in sy lewe die ideale van die Franse Rewolusie verwerp het? Eintlik vreemd dat ons nog graag die antieke Griekse filosowe aanhaal terwyl nie een van hulle blykbaar enige gewetensbesware teen slawerny gehad het nie.

My vermoede is dat ons ongenaakbare oordeel oor sommige skrywers van gister en vandag ‘n vorm van pisgiese selfverdediging is. Wanneer ons gekonfronteer word met die politiese of morele dwaling van figure  soos Van Wyk Louw, Neruda of Borges is dit ontstellend. Dit sou amper ‘n troos wees as hulle verwerplike, bose gestaltes was wat ons ten sterkste kan veroordeel, want anders moet ons met die besef leef dat selfs die vindingrykste, intelligentste mense groteske foute maak. En dan moet ons ook aanvaar dat toekomstige generasies moontlik ons saam met ons grootste skrywers as kortsigtige, dalk selfs krimineel nalatige mense gaan sien wat vleis geëet het, olie-oorloë gevoer het en die ekologie verrinneweer het. As ons aanvaar dat die groot geeste ook maar mense is, moet ons vrede maak daarmee dat groot kunstenaars soms ook rassiste, meelopers en by tye onaangename karakters met ‘n gemene streep kan wees – die naamvader van die sadisme, markies De Sade, was beslis nie onnosel nie. Dit dwing ons om te aanvaar dat intelligensie en talent nes die menslike hand vir enigiets gebruik kan word, soos die filosoof Richard Rorty sê.

En as ons dit aanvaar, moet ons toegee dat die aspirasies van die Verligting wat tot die Franse Revolusie, die demokrasie en uiteindelik menseregte aanleiding gegee het, beskaam het; moet ons besef die geloof dat wetenskaplike en morele vooruitgang saam besig is om die toekoms in te marsjeer, wensdenkery is. Shakespeare het die hoop van Die Verligting opgesom, toe hy geskryf het: “There is no darkness only ignorance.” Maar wanneer ons dink aan De Sade, moet ons besef dat daar ook duister, boosheid en ongeneeslike menslike blindheid is; moet ons saamstem met Van Wyk Louw se “Ballade vir die  Bose”: “Wanneer jy wil vlug / uit die stad wat brand / dan vlug ek saam / soos ‘n vrou aan jou hand.”

Die letterkunde sê nie vir ons hoe om te leef, of wat reg en verkeerd is nie, maar wys ons, veral in die roman, hoe gebonde aan konteks, tyd en plek elke waarheid, manier van doen, of morele beginsel is. Dit waarsku ons juis teen die vlugvoetige verkleurmannetjie van menslike dwaasheid. Volgens Milan Kundera het Gustave Flaubert, die 19de-eeuse skrywer van Madame Bovary, in ‘n eeu wat so trots op sy wetenskaplike prestasies was die dwaasheid ontdek: “Natuurlike het mense ook voor Flaubert geweet dat dwaasheid bestaan, maar hulle het dit anders verstaan: Dis gesien as ‘n blote afwesigheid van kennis, ‘n defek wat opvoeding kon regstel… Flaubert wys ons egter dat dwaasheid nie wyk voor wetenskap, tegnologie, moderniteit of vooruitgang nie – inteendeel, dit ontwikkel saam met vooruitgang.” (In: The Art of the Novel)

Die letterkunde stapel nie soos die natuurwetenskap bakstene op die toring van kennis nie – dit lei egter dikwels tot begrip, en begrip kan berusting bring, maar ook die teësinnige aanvaarding van onversoenbare teenstrydighede en ambivalensie. Dit is die letterkunde wat ons voortdurend waarsku om nie te oordeel voor ons verstaan het nie, want boeke plaas ons ook in die skoene van diegene vir wie ons vrees, haat en veragting koester.

En dan is die literatuur tog alles behalwe nutteloos, soos Wilde en Bloom beweer. Ek dink Bloom weerspreek homself, want as die literatuur ons help, soos hy sê, om ons self (en ander) te verduur, is dit tog van onskatbare waarde. Ná die akteur River Phoenix se selfmoord het sy vriend Ethan Hawke gesê dis jammer dat River nie meer van die klassieke boeke gelees het nie: “Because then he would’ve known his weirdness is not unique.”

So gesien, is die waarde van die literatuur en die waarde van vriendskap baie dieselfde. Dit is die literatuur wat jou laat weet dat jy nooit so alleen was soos jy gedink het nie – êrens in ‘n ander plek en tyd was daar iemand wat die lewe en die Geskiedenis nes jy deurly het.

In haar essay “Believing in Literature” het die Amerikaanse skrywer Dorothy Allison dit só gestel: “Daar is ‘n plek waar ons altyd alleen met ons sterflikheid is, waar ons eenvoudig iets groter as onsself moet hê om aan vas te hou – God of die geskiedenis of politiek of literatuur of ‘n geloof in die helende krag van die liefde, of selfs regverdige woede. Soms dink ek hulle is almal dieselfde: ‘n rede om te glo, ‘n manier om die wêreld aan die strot te gryp en vol te hou dat daar meer aan hierdie lewe is as wat ons ons ooit kon verbeel.”

Ronelda Kamfer en Van Wyk Louw gaan dalk nooit vriende word nie, maar ‘n sleutel pas nie op elke slot nie. En Ronelda se leeslys wat in Boeke-Insig #3 verskyn het, wys dat Allison ‘n waarheid beet het. Van die einste Dorothy Allison se roman Bastard out of Carolina sê Ronelda: “Die boek het my hart gebreek, maar ook heelgemaak. Respek.” En eendag binnekort gaan ‘n vertwyfelde iemand Noudat slapende honde, Ronelda se debuutbundel, optel en daardie persoon gaan besef moedverloor se vlakte is nie noodwendig die einde van die pad nie. Daardie leser gaan dalk net opstaan, die wêreld aan die keel gryp en weer probeer.

 

Wat sê die skrywers?

Vier gerekende skrywers het twee vrae oor die kwessie van letterkunde en moraliteit beantwoord.

Ek het vier gerekende skrywers die volgende twee vrae oor die kwessie van skryfwerk en moraliteit gevra:

1. Ezra Pound het gesê: “Fundamental accuracy of statement is the one sole morality of writing.” Stem jy saam? Hoekom?

2. Sou jou antwoord 20 jaar gelede onder die ou bedeling dieselfde gewees het?

 

André P. Brink, bekroonde skrywer en samesteller van die Groot Verseboek

1. Ek het probleme met Pound se “fundamental accuracy of statement”. Dit sou miskien vir verslaggewing kon geld, maar tog skaars vir fiksie. Ek verwerp “politieke,korrektheid” en moralistiese eise wat van buite aangelê word. Maar dat daar ‘n fundamentele morele dimensie in die literatuur geleë is, glo ek baie sterk. Nie “moraliteit” wat wissel volgens landstreek of politieke mode nie, maar ‘n intrinsieke aanvaarding van verantwoordelikheid ten opsigte van wat mens skryf. As Pound in plaas van “accuracy” gesê het “truth”, sou ek dit gunstiger kon oorweeg. Mits mens dan weer Pilatus se ou vraag kon beantwoord: Wat ís “waarheid”?!

2. En aan só ‘n instelling sou politieke dienstigheid geen duik kon maak nie. Daarom sou ek, hoop ek, 20 jaar gelede dieselfde geantwoord het.

 

E.K.M. Dido, die skrywer van onder meer ‘n Stringetjie blou krale

1. Ja, ek stem saam met Pound. Weergawe in werke moet fundamenteel akkuraat wees om geloofwaardig te wees. Ek het groot respek vir die leser. Daarom die naslaanwerk; die ondersoek van gekose onderwerpe; of die aanklop by kundiges – als op soeke na die waarheid. Na my mening sal ‘n leeskultuur in gemeenskappe vlam vat en brandende bly as ek as skrywer so veel moontlik doen om so na as moontlik aan die waarheid te bly.

2. Sou my antwoord 20 jaar gelede dieselfde wees? Beslis! Politieke veranderinge leen homself net meer toe aan skryfmateriaal. Maar ‘n paar dinge bly tog konstant omdat politiek sy vingers in elke pastei het. Een daarvan is maatskaplike kwessies. Dit was, word, en sal altyd deur politiek beïnvloed word.

 

Rustum Kozain, bekroonde digter

1. Sonder die hele teks is ek nie seker wat Pound bedoel nie. Hy bedoel sekerlik nie ‘n letterlike “accuracy of statement” nie, en dus praat hy nie oor waarneembare feite nie. Is dit nie Pound wat ook die estetiese as ‘n morele verpligting in literatuur voorstel nie?

Wat bedoel hy? Dat, byvoorbeeld, emosionele akkuraatheid die enigste morele verpligting in literatuur is? Is Pound dus meer geïnteresseerd in die waarheids-eise waaraan kreatiewe skryfwerk moet voldoen, buite die matriks van feite. Maar hoe – en wie – meet hoe naby aan die waarheid selfs jou eie skryfwerk lê. Dis ‘n knoesterige vraag, en ek is heel bereid om dit in my mond rond te rol sonder om te besluit of ek saamstem of nie.

2. Ja, beslis, maar ek voel hierdie is ‘n strikvraag. My eie kennismaking met hierdie vrae in the laat 1980’s, was by wyse van ‘n Kelwyn Sole-essay, “Culture, politics and the black writer” (1983) waarin hy die eise van ‘n outentieke “swart literatuur” deurslagtig ontrafel het, te wete die stelling en eis dat slegs swart skrywers oor swart ervarings kon (en mag) skryf, en dat slegs swart kritici werklik die literatuur kon verstaan en kritiseer. Dit klink vir my na ‘n wysiging van Pound se stelling: ‘n “accuracy of statement” kan nie bestaan nie, anders sou mens die eise van verskillende soort authenticities moes aanvaar. So miskien stem ek nie saam met Pound nie.

 

Saartjie Botha, bekroonde dramaturg

1. Die teks wat deur kreatiewe skryfwerk ontstaan, is ‘n subjektiewe dokument en ‘n enorme verheldering van ‘n afgebakende gebied van die skrywer se keuse. Ek glo die eerste morele verpligting van die skrywer lê nie teenoor die sogenaamde werklikheid nie, maar teenoor die outentiekheid van sy skepping. Daar behoort ‘n onvrede tussen die skrywer en die werklikheid wat hy/sy beskryf, te heers. Skrywers moenie, kan nie, agente vir ‘n saak wees wanneer hulle waarlik kreatief skryf nie. Pound maak ‘n aanvegbare stelling, maar ek stem saam dat die skrywer nie ‘n plig teenoor die samelewing of moraliteit in sy skrywershoedanigheid het nie. Sy/haar burgerlike pligte is egter dieselfde as enigiemand anders s’n.

2. Ek was 20 jaar gelede in standerd 8 en toe wou ek ‘n dokter word, maar ek was bekommerd oor die manier waarop dit my handskrif sou verwring. Ek hoop egter dat my antwoord dieselfde sou wees.

 

(Hierdie artikel het ook in Boeke-Insig in 2008  verskyn, waarvan die aanlyn-argief nie meer bestaan nie. -Red.)

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Danie Marais. Skrywers en moraliteit”

  1. Daniel Hugo :

    Danie – Dis ‘n boeiende stuk skryfwerk, maar jou voorstelling van N.P. van Wyk Louw is darem besonder eensydig. Hy was beslis nie sy lewe lank ‘n aanhanger van die Duitse Nasionaaal-Sosialisme nie. Hy het aan die einde van sy lewe met Verwoerd gebots. Die ergste dekades van Apartheid het eers na sy dood (in 1970) kop uitgesteek. Ons weet dus nie wat sy uiteindelike oordeel oor Afrikaner-nasionalisme sou wees nie. J.C. Steyn se biografie toon ‘n denkende, kritiese mens wat voortdurend by ‘n aktuele gesprek met sy tydgenote betrokke was.

  2. Joan Hambidge :

    Skrywers is verkleurmannetjies. Hulle vertolk verskillende rolle. Die Bloom van hier, is nie Bloom van kan daar nie. Wie sou ooit kon voorsien dat Brink as ‘n vegter teen sensuur en bourgeois waardes in die openbaar sou bely dat hy Sewende laan kyk? En daarop verskyn?
    Ek gaan met Daniel Hugo akkoord: Van Wyk Louw het verander. ‘n Mens kan nie hom probeer kelder aan sy onbesonne jeug nie. Dit bring ons terug by die geval Paul de Man.

  3. Johann de Lange :

    Dit is nuus vir my dat River Phoenix selfmoord gepleeg het. Absolute bog. Hy is dood aan ‘n oordosis van heroïen & kokaïen waarmee hy hom in ‘n baie emosionele gemoedstoestand misreken het.

  4. Desmond Painter :

    Die een se feitefout (as dit ‘n feitefout is: daar was al baie debat oor Phoenix se dood, en sommige mense wat oor selfmoord skryf hou vol dat selfmoord, soos moord, nie intensioneel hoef te wees om (self-)moord te wees nie) is dikwels die ander een se ‘absolute bog’ — en dieselfde geld maar VWL: die een (soos JC Steyn) se politieke held is die ander een (soos Ronelda Kamfer) se politieke boef.

    Wie is reg? ‘n Mens hoef hom nie te probeer kelder nie, maar deur bloot te s^e hy het verander, of (vreemder argument!) dat hy dalk na sy dood nog SOU verander — of om komplekse kwessies van maatskaplike posisies en ‘subjektiwiteite’ (wat dikwels histories en hardnekkig met ras en klas verstrengel is) te reduseer tot die vertolking van rolle, is nie voldoende argumente nie.

    ‘n Mens moet tog begryp waarom VWL as Groot Figuur hierdie soort reaksie by iemand soos Ronelda Kamfer sou ontlok. Reg of verkeerd. Rasioneel of irrasioneel. VWL was ‘n massiewe digter, maar as politieke denker word hy in elk geval dikwels onnodig oorskat — om te s^e “soos van Wyk Louw ges^e het” is blykbaar in sommige kringe al amper genoeg om ‘n argument te wen! Dit is asof ‘n mens, wat politieke idees en metafore betref, niks meer nodig het as om selfvoldaan “oop gesprek” en “lojale verset” en “voortbestaan in geregtigheid” te prewel nie…

    En kritiek op sy politieke denke, soos Gerrit Olivier se uitstekende studie van sy essays (kan nie die titel en jaartal nou onthou nie), word dikwels met venyn afgeskiet — Steyn, en ek dink ook Kannemeyer, het min tyd gehad vir Olivier se studie. JC Steyn se biografie oor Louw is monumentaal in baie opsigte, maar dit is, soos Pieter Duvenhage destyds in ‘n uitstekende essay aangetoon het, self ook dikwels problematies nasionalisties in siening.

    VWL het goeie essays geskryf, maar hoe goed was hy regtig as filosoof? Hy het nie juis op datum gebly met wat in die laaste 25 jaar of so van sy lewe in die filosofie gebeur het nie.

  5. Desmond Painter :

    In die 2de paragraaf (‘dat hy dalk na sy dood nog SOU verander’) bedoel ek: dat hy dalk nog meer sou verander, of anders sou dink, indien hy nie op daardie stadium dood is nie. Waarskynlik sou hy, maar dit is irrelevant vir ‘n beoordeling van sy politieke denke. Ander sou mens niemand se idees kon kritiseer nie: miskien sou hulle anders gedink het as hule langer geleef het.