Andries Bezuidenhout. Wat jy verloor as gemeenskappe verhuis

Piketberg gesien vanaf die pas Piket Bo-berg toe

Piketberg laat my altyd aan David Kramer se lied “ʼn Man stap” dink. Dit kom van sy plaat Kliphard af. Ek weet die lied gaan nie oor Piketberg nie, maar toe ek David Kramer ʼn slag daaroor uitvra, het hy gesê hy het elemente van verskillende dorpe in die liriek saamgevoeg, onder andere Worcester, waar hy grootgeword het. Dit gaan oor ʼn Suid-Afrikaner wat uit Kanada terugkeer om sy geboortedorp te besoek:

ʼn Man stap deur die strate
Jy kan sien hy’s van die stad
Hy dra ʼn donkerbril en Calvin Klein
Sy baard is kort en glad
Hy dink: Hoekom is ek terug
Vir wat is ek op soek?
Was hier nie ʼn klein kafeetjie nie?
Net hier op die hoek

Waar is die Scala Bioskoop
Het hulle dit gesloop?
Die sinagoge was in die gebou
Waar jy nou meubels koop
Die Jode het almal weggetrek
Die ou mense is dood
En laaities sit nou sonder werk
Hul voete in die sloot

Dis spesifiek die deel oor die sinagoge en die Jode wat weggetrek het, wat my aan Piketberg laat dink en soms ook Calvinia. Piketberg se naam was aanvanklik Piquetberg, ʼn verwringing van die Franse woord vir troepe wat ʼn wagpos beman. In 1792 is ʼn militêre pos hier begin om boere van Europese afkoms teen aanvalle van die Gonjemans, soos die oorspronklike bewoners genoem is, te beskerm. Deesdae is daar ʼn baie eksklusiewe vakansiedorpie genaamd Gonnemanskraal regs langs Jacobsbaai op die Weskus. Ons het ook ʼn plaas met hierdie naam teëgekom, maar as Goedemanskraal.

Piketberg se kanonne is ook gebruik om die boere van die aankoms van skepe in Kaapstad se hawe te verwittig. Hulle het hul waens dan vol produkte gelaai om met die skepe handel te dryf. Later is die kanonne afgevuur met spesiale geleenthede, soos Koningin Victoria se verjaarsdag en die aankoms van die eerste telefoonlyn op die dorp. Piketberg is formeel as dorp in 1836 gestig, toe Sir Benjamin D’urban grond vir die oprig van ʼn kerk toegeken het. Die huidige kerkgebou is tussen 1880 en 1882 gebou in ʼn neo-Gotiese styl. Vandag lyk die kerk so:

NG Kerk Piketbeg, vooraansig

NG Kerk Piketberg, detail

NG Kerk Piketberg, historiese gegewens

Toe ons die dorp die eerste keer besoek het, het ons ook ʼn draai by die begraafplaas gemaak. Daar is baie Joodse vanne op van die grafstene. Klaarblyklik was daar eens ʼn sterk Joodse gemeenskap, meestal van Litouse afkoms. Baie het hulself uit armoede opgehef deur goedere as smouse van opstal na opstal te verkoop. Die ou sinagoge is darem nie ʼn meubelwinkel nie, maar dien as die plaaslike museum:

Piketberg se Museum, voorheen die dorp se sinagoge

Sinagoge vanuit 'n ander hoek

Uitsig op vallei met koringlande

Ons het Piketberg nou al ʼn paar keer besoek. Dis beslis nie ʼn dorp wat agteruitboer nie. Tewens, verskeie van die geboue in die dorp waarvan ons hou, blyk gerestoureer te word. ʼn Voorbeeld is ʼn ou art deco motorhawe wat in onbruik verval het, wat iemand nou in kantore omskep het. ʼn Victoriaanse gebou langs die kerk is ook ingerig as ʼn gastehuis en daar is ʼn nuwe kunsgalery. En as jy hier aankondig dat jy nou “Hoofkantoor” toe gaan, verwys jy beslis nie na ʼn werklike kantoor nie, maar die hotel se kroeg.

Piketberg se kanon is die laaste keer in die 1960s afgevuur, toe ʼn misplaaste skoot die skool se vensters in ligte laaie gelaat het. Die loop is terstond met sement toegemessel en die kanon staan blykbaar nou in die skool om deur besoekers besigtig te word.

Die kwessie van Piketberg se Joodse gemeenskap laat my baie keer wonder. Piketberg is ook nie ʼn uitsondering nie. In Calvinia is die ou sinagoge ook nou ʼn museum:

Calvinia se museum, voorheen die sinagoge

Vele Suid-Afrikaanse dorp is deesdae armer sonder die Joodse gemeenskappe wat eens daar gewoon het. In baie gevalle was Jode, as meer onlangse emigrante uit Europa, die kern van sulke dorpe se kulturele lewens – toneelstukke is opgevoer, die dorp se kinders kon leer klavier speel en note lees, familieverbintenisse het mense in voeling gehou met gebeure in die wêreldletterkunde. Onthou, Calvinia is die dorp waar die gemeente C. Louis Leipoldt se pa, hul predikant, versoek het om nie sy viool te speel nie, omdat hy volgens hulle duiwelse musiek daarop gemaak het. Hy het die instrument weggebêre en het eers weer op sy sterfbed daarna gevra. Hy is met die viool in sy hand oorlede. Een van die redes waarom die Joodse gemeenskap Calvinia verlaat het, was toe die skool Engels as parallelle voertaal afgeskaf het om klasse uitsluitlik in Afrikaans aan te bied.

Van die aanvanklike Gonjemans en die Joodse gemeenskappe bly daar in sommige gevalle slegs name oor. Op sekere dorpe sal dit mettertyd seker die geval met Afrikaners ook wees. Ek hoop die kerkgeboue word nie meubelwinkels nie, maar darem museums wat getuig van ʼn vroeër beskawing, al was dit soms ʼn onverbiddelike, ongenaakbare kultuur. Miskien kry die nageslag van die Gonjemans selfs eendag hul grond terug.

ʼn Tragikomiese deel van David Kramer se liriek is die vrou agter die toonbank in die Pandora Koffiekroeg wat steeds dink haar naam is “Missies”. Die lied se refrein gaan só:

Wat maak ek in die dorpie?
Hier kan ek nie bly nie
Ek bly in Toronto
Maar Toronto’s nie vir my nie
Die somers is bedompig
Die winters is te koud
Jou hele lewe hardloop jy
En eendag is jy oud

Die nageslag van Piketberg se Jode het in 2004 ʼn olyfboom geplant om hul geskiedenis op die dorp te gedenk.

Erkennings:

Uittreksels uit “ʼn Man stap” kom van David Kramer se album Kliphard (Blikmusiek, 1999). Van die inligting oor Piketberg se geskiedenis kom uit ʼn brosjure Discover the Bergriver Region, wat deur die Bergrivier Munisipaliteit uitgegee is. Die storie oor C. Louis Leipoldt se pa kom uit John Kannemeyer se biografie van die digter.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Wat jy verloor as gemeenskappe verhuis”

  1. Andries Bezuidenhout :