Onderhoud met Daniel Hugo

Onder die appelboom

Daniel Hugo in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Daniel Hugo

Daniel Hugo

Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ‘n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium.

Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK is hy nou redakteur by Protea Boekhuis. Daniel Hugo is getroud met Carina Diedericks-Hugo, bekroonde skrywer van kinder- en jeugboeke. 

 

 

Daniel, hierdie is reeds die derde Nederlandstalige digter wie se verse jy in Afrikaans vertaal. Vroeër was daar Herman de Coninck, Gerrit Komrij en nou ook Rutger Kopland. Is dit moontlik om te sê presies wat jou aantrek na dié drie digters se digwerk?

Die gedigte van Herman de Coninck spreek tot my vanweë hulle intieme spreektalige toonaard, verbluffende vergelykings en gevatte woordspel. (Die laasgenoemde eienskap stel natuurlik groot uitdagings aan die vertaler.) Sy verse oor die liefde en die dood is van die aangrypendste wat ek ken. Sy ontspanne gebruik van die sonnetvorm vind ek daarby besonder sjarmant.

Die uitdaging van Gerrit Komrij se poësie lê in die klassieke vormvastheid daarvan. Sy gedigte rym altyd volgens ‘n vaste patroon en die versreëls het altyd dieselfde aantal lettergrepe. Verder is dit ook nie maklik om die gedrae, ironiese toon in Afrikaans weer te gee nie. Die hele sfeer van sy verse is dekadent-Europees en dit kos heelwat moeite om hulle deur die kulturele doeaneposte na Suid-Afrika te laat emigreer.

Rutger Kopland se gedigte gee ‘n soort mistieke ervaring van die werklikheid weer in gedigte wat die eenvoudigste taal denkbaar gebruik. Hy skryf ook graag digterlike besinnings van die mens se belewing van tyd. Kopland op sy beste kan die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes huiwerend maar suiwer verwoord. Afrikaans is ‘n minder vloeiende en konkreter taal as Nederlands, met die gevolg dat heelwat Kopland gedigte eintlik onvertaalbaar bly.

Ten spyte daarvan dat Kopland allerweë beskou word as een van die vernaamste digters in Nederland, is hy vreemd genoeg nie baie bekend in Suid-Afrika nie. Waar het jy die eerste keer met sy digkuns te make gekry?

Rutger Kopland

Rutger Kopland

Toe ek in die tagtigerjare ‘n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat was, is Kopland se bundel Het orgeltje van yesterday (1968) deur oud-kollega Charles Malan daar voorgeskryf. Maar Kopland is inderdaad ‘n onbekende digter in Suid-Afrika. Ongelukkig geld dit vir die meeste belangrike digters wat ná die Nederlandse Vyftigers gedebuteer het. By die meeste universiteite was Lucebert (1924-1994) tot nie so lank gelede nie die jongste Nederlandse digter in die leerplan. Gelukkig het die vertaalopdrag van Protea Boekhuis my gedwing om weer deeglik kennis te neem van Kopland.

Hoe het jy hierdie vertaalprojek in teenstelling tot jou voriges ervaar? Het jy pertinente uitdagings by die Kopland-verse teëgekom wat byvoorbeeld nie by Komrij óf De Coninck teenwoordig was nie?

By De Coninck is dit nooit werklik moeilik om die betekenisinhoud van die gedig te snap nie. Komrij se verse is meer dikwels duister as De Coninck s’n, maar die grillige spronge wat Komrij se poëtiese verbeelding maak, is altyd boeiend. Kopland se “duisterheid” lê in die vae, huiwerige, dikwels abstrakte stelwyse. Tipies van Kopland se denkwyse is die volgende reëls uit sy gedigreeks “Een lege plek om te blijven”: “… Geef mij / maar een vraag en geen antwoord.” In die gedig “Wat is poëzie” probeer hy formuleer wat die digkuns nou eintlik is. Ten slotte relativeer hy sy poging met die woorde: “is dit een antwoord vraag ik.” Vir Kopland bestaan daar nie vaste sekerhede nie. Sy bewussyn is ‘n waterryke, mistige landskap waarin ‘n mens maklik verdwaal en ten slotte verdwyn.

Wat die leser oombliklik opval van hierdie keur, is hoe verteenwoordigend jou keuse van gedigte is; ‘n keuse wat Kopland se loopbaan van Onder het vee (1966) tot met Toen ik dit zag (2008) betrek. Watter faktore het jou in die keuse van verse vir hierdie keur beïnvloed?

Die belangrikste oorweging by die vertaling van ‘n gedig is doodgewoon die vertaalbaarheid daarvan. Dit beteken dat die oorspronklike vers nie te veel negatiewe stelwyses moet bevat nie – die lomp, dubbele negatief in Afrikaans gee ‘n vertaler baie gou ‘n sintaktiese hoofpyn. Verder moet die kullturele verwysingsraamwerk nie té Europees of obskuur wees nie – ‘n vertaalde gedig met verklarende aantekeninge of voetnote is ‘n onding. As dit dus nie moontlik is om ‘n Afrikaanse teks te skep wat as ‘n selfstandige gedig op sy eie pote kan staan nie, moet die vertaler dit maar gewonne gee. As daar genoeg vertaalbare verse is wat tegelyk ‘n verteenwoordigende beeld van ‘n digter se werk gee, is dit onverdiende genade. Ek het oneindige simpatie met vertalers wat die opdrag kry om ‘n digter se oeuvre integraal te vertaal.

Het jy ‘n persoonlike gunsteling onder dié keuse wat jy gemaak het? Verduidelik sommer ook hoekom juis dié vers tot jou spreek in die mate wat dit doen?

Ek het meer as een gunsteling, maar die ongelooflike eenvoud van “Die roeier” uit Kopland se debuutbundel bly my steeds by. Met die grootste gemak en sonder enige sensasie beskryf hy sy eie dood in die slotstrofe:

 

                        Vanaand trek die mis oor die weiveld

                        asof die aarde oopgaan en

                        die grondwater oor sy walle stroom

 

                        perde en koeie begin dobber en

                        soos in ‘n moeras uit die oertyd

                        dryf ten slotte nog net koppe

                        en rûe verby

 

                        uit die bome aan die oorkant

                        raak iets los wat vir my lyk na

                        ‘n roeier wat oorsteek om my te kom haal.

 

Die gebrek aan leestekens en die opvallende enjambemente (twee keer) ná die voegwoord “en” stel die vloeiende beweging van die mis en die water visueel op die bladspieël voor. Die byna terloopse verwysing na die mitologiese veerman Charon wat die skimme van die dooies oor die Styx-rivier na die doderyk neem, is met een woord magistraal.

Dit is interessant dat Kopland in sy jongste digbundel wat meer as veertig jaar ná sy debuut verskyn het, weer oor dieselfde onderwerp ‘n gedig geskryf het. Myns insiens vertoon dit egter nie die sublieme subtiliteit van die vroeë vers nie.

 

                        Roeiboot

 

                        Waarom hou ek aan kyk

                        na hierdie poskaart – ‘n roeiboot

 

                        wat lê op die rimpelende spieël

                        van ‘n skemer hemel

                        geanker met ‘n dun tou

                        aan iets in die diepte

 

                        dit is ‘n foto maar jy sien hoe

                        die boot skommel en

                        ruk aan sy anker

 

                        so moes dit altyd gewees het

                        ‘n boot wat wag op sy roeier

 

                        daar is al beweer dat ons eendag

                        gehaal en oorgeroei sal word

                        na ‘n verre oewer

 

                        daarom

 

Met elke teks wat in ‘n bepaalde taal vertaal word, glo ‘n mens dat dié vertaling die bestaande letterkunde sal verruim. En welke mate glo jy sal hierdie Kopland-vertalings ons eie digkuns verryk? Met ander woorde – watter aanklank behoort die Afrikaanssprekende poësieliefhebber by hierdie gedigte te vind?

Daar is in Afrikaans geen digter wat werklik met Kopland vergelyk kan word nie. Ek weet wel, Louis, dat jou bundel Wat die water onthou deur Kopland beïnvloed is. En dit was al rede genoeg om dié Nederlandse digter te vertaal! Maar alle grappies op ‘n stokkie. Met jou bundel het Kopland byna ongemerk ‘n deel van die Afrikaanse literêre sisteem geword. Die vertaling van sy verse gee hom nou ‘n prominenter staanplek in die geledere van ons poësie. Hopelik sal Kopland in die toekoms nie net Afrikaanse digters ten goede bly beïnvloed nie, maar sal hy ook die Afrikaanse lesers met sy unieke kyk op die wêreld verryk en verruim. Hy beskryf ‘n vloeibare, gedempte wêreld wat opvallend kontrasteer met die harde, droë wêreld van die Afrikaanse digkuns – as ek nou só grof mag veralgemeen.

‘n Laaste, ietwat moedswillige, vraag. Ek en jy het al dikwels (goediglik) verskil oor die belangrikheid van “emosie” in ‘n vers. Nou het jy heengegaan en júís die digter wat ek as die meester van emosie-hantering in ‘n vers beskou, vertaal. Beteken dit dat jy gelyk gee, of volstaan jy daarmee dat die emosionele lading van ‘n vers irrelevant is?

Ek wantrou digters wat beweer dat jy emosioneel ontroer moet wees voordat jy ‘n gedig kan skryf. Ek ontken darem nie dat ‘n gedig die leser kan ontroer nie. Maar daardie ontroering kan deur suiwer rasionele middele bewerkstellig word. Lees maar J.C. Steyn se gedig “Spooroorwegramp by Henley-on-klip”. Dit is ‘n gedig wat in ‘n groot mate uit taalspel opgebou is, waarmee die digter juis die emosie probeer bekamp. In ‘n gedig moet die warm trane van die gemoed stol tot koel pêrels van van die rede – as daar dan nou werklik oor trane geskryf moet word!

Naskrif: Ek sien ek het by die eerste vraag hierbo van Herman de Coninck se “aangrypende” gedigte oor die liefde en dood gepraat. Eintlik behoort ek die woord “oortuigende” te gebruik het!

Daniel, dankie vir die geleentheid om oor hierdie wonderlike toevoeging tot ons digkuns te kon gesels. Veels geluk daarmee; ‘n kragtoer, inderdaad. Maar plaas sommer as leesprikkel nog een van jou gunstelingverse uit Onder die appelboom hieronder?

                       

Die stem van ‘n tjello

 

Waaraan die klank van ‘n tjello laat dink

 

die tjellis Widlund vertel my dat daar

in hierdie instrument iets woon – ‘n stem

‘n baie ou stem waarna jy soek

as jy speel en wat jy herken

as jy dit vind

 

dalk is dit die rede waarom ek moet dink

aan die oudste klanke wat ek ken, soos

dié van neurie, sing, kreun en huil

 

en ook aan die kleure van ‘n woud in die herfs

asof jy die heimwee hoor van die tjello

na sy herkoms

 

 

© Rutger Kopland (Uit: Onder die appelboom, 2010: Protea Boekhuis)

Vertaling deur Daniel Hugo

 

Omslag

Omslag

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.