Marcelle Olivier. Krieketspelers op die dak, en ander brokkies

Nuus uit Indië: Krieketspelers op die dak, en ander brokkies

'n Bietjie kleur

Daar is ‘n groep van sewe Sikh-mans wat krieket speel op ‘n half-voltooide dak wat ek vanuit my studeerkamer-venster kan sien. Die veldwerkers staan gebukkend in ‘n halfsirkel omtrent 5m weg van die kolwer wat met oorbodige swierigheid die bal grondlangs, so tussendeur almal se bene, muur toe probeer stuur. Die bouler drink iets uit ‘n bottel en doen ‘n jubellende dansie na elke bal. ‘n Groot aap sit op die satellietskottel van die woonstelblok hier oorkant my en staar terwyl hy bietjie krap, ook besig om die kort lopies te tel en dalk, soos ek, te wonder wat gaan van die spel word as iemand per ongeluk ‘n ses slaan. Drie parkietgroen parkiete swaai op die telefoondraad wat vier verdiepings op tussen Blok B 10-18 en Blok B 19-30 hang. Ek kan honde en autoriksjas hoor blaf. Dis ‘n gewone rookmistige geel namiddag in Delhi.

My selfoon lui. ‘Hallo, Marcelle wat praat,’ antwoord ek in Engels.

‘Hallo?’ skree iemand. Dis normaal dat mense hier oor die telefoon skree.

‘Hallo?’ sê ek. ‘Kan ek help?’

‘Hallo?’ Dan iets onverstaanbaars. ‘Hallo?’

‘Met wie wil jy praat?’ Wie weet, dalk is dit die man van die bank, dus vra ek maar eers.

‘Hallo? Harish!’ Dié keer is daar bietjie meer geskreeuery in Hindi, en noodgedwonge stop ek die spreker halfpad deur ‘n sin.

‘Jammer, hier is geen Harish hier nie.’

‘Harish!’

‘Nié Harish nie. Dis nie meer sy nommer nie.’

Stilte, vir ‘n oomblik.

‘Hallo? Harish?’

Ek sug en sit die telefoon neer. Ek is so moeg van Harish.

Hallo! Harish? Ek wag vi' jou oppie treinspoor in Kolkata... (c) Rajarshi Chowdhury

Hallo! Harish? Ek wag vi' jou oppie treinspoor in Kolkata... (c) Rajarshi Chowdhury

Alhoewel jy deesdae kan betaal om jou telefoonnommer te behou, was dit tot baie onlangs permanent gekoppel aan jou selfoondiens en moes jy ‘n nuwe een kry as jy van een verskaffer na ‘n ander wou verander. Daarom Harish, wat natuurlik vergeet het om sy kontakte te laat weet dat hy ‘n nuwe nommer het. Daar is ander probleme met die telekommunikasie-industrie in Indië. Selfoon- en internetkonneksies is power, en jy kan op enige plek, enige tyd, jou sein verloor. Dit is wel ongoddelik goedkoop om binnelands te bel en SMS’e te stuur, maar Krishna behoed jou as jy enige normale, behulpsame kliëntediens in ruil vir jou lojaliteit benodig. Om ‘n boodskap vir iemand te los verg ‘n tog deur ‘n nommerdruk-doolhof wat jou meer tyd neem as ‘n SMS, en dit is totaal en al onmoontlik om nié gemorspos op jou selfoon te ontvang nie: Nee, ek stel nie belang in ‘n bona fide diploma in aptekerswese van ‘n top Amerikaanse universiteit vir slegs ‘n $100 registrasiefooi nie; nee dankie, maar ek dink nie ek gaan in ‘n nuwe Ayurvedic-medisyne vir natuurlike gewigsverlies belê nie, en nee, ek wil glad nie ‘n bouperseel in Gurgaon koop nie.

En dan was daar die 2G-spektrumvendusie skandaal. Die voormalige minister van telekommunikasie, Andimuthu Raja, het die reëls, wel, sal ons sê ‘effe verontagsaam’, en wetende spektrum-lisensies aan sekere individue en maatskappye vir ‘n appel en ‘n ei verkoop (as vir uie was sou dit dalk nog iets werd gewees het; die swak oeste vanjaar was ‘n ekonomiese ramp vir die armer klasse), en sodoende die land meer as Rs1.76 lakh crore (‘n lakh is honderd duisend, ‘n crore tien miljoen, dus sowat R250bn in ons geld) gekos. Wat blykbaar nogal baie is. Sover dit my aangaan is die grootste issue natuurlik Harish, maar ek is bereid om te aanvaar dat andere nie dieselfde mag voel nie. Die korrupsie-ding is dalk bietjie meer universeel-belangrik.

Ek maak koffie, sien dat die kolwers op die dak omgeruil het, en loer weer na die koerant op die lessenaar. Delhi en sy buurstaat, Haryana, is betrokke in ‘n hittige gesprek oor wie verantwoordelik is vir die besoedeling van die Yamunarivier wat deur die ooste van die stad loop. Ek gebruik die woord ‘rivier’, maar dit is eintlik ‘n oop drein wat die riool dra van duisende onwettige woonstelblokke in digbeboude buurte op die rivierwalle. Daar is soos gewoonlik ‘n paar foto’s van vermiste kinders (gelukkig lees ek The Hindu; in die Times of India is daar ook elke dag foto’s van onbekende lyke in verskeie state van ontbinding vir wie die polisie identifikasie soek), en ‘n storie oor ‘n jong meisie wat blykbaar as menslike opoffering vir ‘n kinderlose egpaar vermoor is.

Op soek na iets bruikbaars in die besoedelde Yamunarivier

Op soek na iets bruikbaars in die besoedelde Yamunarivier

Ek blaai om, opsoek na ietsie ligter. Sigbaarheid op die aanloopbaan by Indira Gandhi Internasionale Lughawe was vir sewe ure gisteroggend minder as 100m as gevolg van lugbesoedeling. Wel, dis nou nie asof mens juis nódig het om die aanloopbaan te sien as jy ‘n vliegtuig land nie, is dit? Of dat mens longe nódig het om asem te haal nie? Verder: die nuwe metro-link tussen die lughawe en die stad, wat op 3 Oktober 2010 al in aksie moes wees om Statebondspele-toeskouers te karwei, is uiteindelik in die finale toetsfase: ‘As perfeksie nodig is, sal daar vertragings wees’, sê die Minister van Delhi, Sheila Dikshit. Hmm, perfeksie? In Delhi? Ek wonder of Tannie Sheila regtig hier woon…

Daar is ‘n artikel oor die Surajkund Mela wat op die oomblik aan die gang is, waar ek ook bietjie gaan rondsnuffel het. Mela is die woord wat gebruik word vir enige byeenkoms waar verkopers saam kom om handewerk uit te stal. Dit kan ‘n groot of klein affêre wees, met kosstalletjies of daarsonder, vol juweliersware, klere of meubels, van goeie kwaliteit of so swak dat selfs die apies neusoptrek en weier om iets te steel. Die Sarajkundfees, wat elke Februarie gehou word, bring tesame kunshandewerk van al 28 state van Indië, asook van Nepal, Tibet, Sri Lanka, en vanjaar selfs Afghanistan en Uzbekistan. Volgens die artikel is die groot verkoper hierdie jaar blykbaar die Pochampally-weefwerk, afkomstig van Andra Pradesh met sy pragtige ou hoofstad Hyderabad (tot en met 1948 ‘n onafhanklike Islamitiese staat): ‘n ingewikkelde weefstyl genaamd ikat, waar elke garing individueel deur ‘n tie-dye proses gekleur word. Ek stap op en af tussen die stalletjies, koop ‘n romp of twee, ‘n paar lappe, ‘n tafelbeker en glase gemaak van geel keramiek, en ‘n turkoois ring uit Nepal, en kyk vir ‘n rukkie na ‘n helder opgetofte eunug-danstroep. Die dansers aanvaar Rs10-, Rs100- en selfs Rs500-note in hulle monde, van mense wat foto’s saam met hulle wil neem.

Girl standing in a veranda wearing a Pochampalli sari, deur Hermann Linde

Girl standing in a veranda wearing a Pochampalli sari, deur die Duitse skilder Hermann Linde

Eunugs vervul ‘n interessante niche in Indië. Hulle is Hijras, ‘n derde geslagsgroep wat verskillende mense van ‘n verskeidenheid dubbelsinnige seksualiteite insluit. Baie eunugs kies self om as deel van dié gemeenskap te leef, maar baie word as kinders ontvoer, gekastreer en dan op straat geforseer as bedelaars of uitverhuur om geld te verdien. Mense nooi Hijras na troues toe om geluk te bring, en eunugs word by geleentheid baie betaal om goeie seënwense uit te deel. Maar daar is terselfdertyd ‘n vrees dat Hijras kan vervloek, en dus wydverspreide diskriminasie teenoor hierdie gemeenskap: hulle word gereeld verbaal en fisies aangerand. Die koerant vertel dat die Delhi munisipaliteit laasjaar uiteindelik ingestem het om ‘n pensioen van Rs1000 per maand (ongeveer R160) uit te betaal vir eunugs wat geregistreer is, maar dat daar bitter min kans is dat hulle ooit die geld gaan sien omdat daar blykbaar nie ‘genoeg’ rupees daarvoor in die staatskoffers is nie. Leë beloftes aan onderdrukte kastes, 4×4’s vir die Tannie Sheila’s en Oom Raja’s van die wêreld. Die korrupsie hier is soveel erger as in Suid-Afrika; die afstand tussen ryk en arm soveel wyer.

Geelgeverfde eunug-danser by die Sarajkund kunshandewerkfees

Geelgeverfde eunug-danser by Surajkund se kunshandewerkfees

My foon tril weer. Nee, dankie, ek wil onder geen omstandighede inskryf om ‘n weeklikse horoskoop teen Rs45 p/w te ontvang nie. Delete message? Yes! Yes! Yes! Dalk moet ek maar nog ‘n ‘unsubscribe’ SMS vir Vodafone stuur; soos hulle sê: 84th time lucky? Ek kyk op en vind dat die parkiete en die aap op die satellietskottel verdwyn het, maar is net betyds om te sien hoe ‘n krieketbal oor die muur van die dakstoep bons. Al sewe mans hardloop kant toe en leun oor om af te skreeu na die dhobi op die hoek wat besig is om klere met ‘n koolstrykyster te stryk en die vrugte-wallah wat met sy waentjie vol druiwe, appels en enorme groen guavas straatop stap. Die dhobi skree iets terug en twee klein seuntjies materialiseer van agter die baksteentafel; hulle begin naarstiglik in die onwelriekende hopies blare en plastiek en uitskeidings rond te krap. Na ‘n minuut of twee verloor die Sikhs belangstelling in die soektog vir hulle bal, trek ‘n paar stoele nader en bring bierbottels te voorskyn. Hulle sit daar tot lánk na sonsondergang.

Partykeer sien ek ‘n ou man geklee in oranje en wit op dieselfde stukkie dak bid; een keer per dag vee hy die dakvloer skoon, stadig, rug effens krom. Menige kere hang ‘n jong meisie met blinkswart hare wasgoed uit sodat die stof dit kan droog en soms kom sit ‘n roofvoël op die watertenk.

Maar ek twyfel of hulle ooit die dak gaan klaar bou.

*

I Dream It Is Afternoon When I Return to Delhi

deur Agha Shahid Ali

.

At Purana Qila I am alone, waiting

for the bus to Daryaganj. I see it coming,

but my hands are empty.

“Jump on, jump on,” someone shouts,

“I’ve saved this change for you

for years. Look!”

A hand opens, full of silver rupees.

“Jump on, jump on.” The voice doesn’t stop.

There’s no one I know. A policeman,

handcuffs silver in his hands,

asks for my ticket.

.

I jump off the running bus,

sweat pouring from my hair.

I run past the Doll Museum, past

headlines on the Times of India

building, PRISONERS BLINDED IN A BIHAR

JAIL, HARIJAN VILLAGES BURNED BY LANDLORDS.

Panting, I stop in Daryaganj,

outside Golcha Cinema.

.

Sunil is there, lighting

a cigarette, smiling. I say,

“It must be ten years, you haven’t changed,

it was your voice on the bus!”

He says, “The film is about to begin,

I’ve bought an extra ticket for you,”

and we rush inside:

.

Anarkali is being led away,

her earrings lying on the marble floor.

Any moment she’ll be buried alive.

“But this is the end,” I turn

toward Sunil. He is nowhere.

The usher taps my shoulder, says

my ticket is ten years old.

.

Once again my hands are empty.

I am waiting, alone, at Purana Qila.

Bus after empty bus is not stopping.

Suddenly, beggar women with children

are everywhere, offering

me money, weeping for me.

Sonsondergang, Delhi

Sonsondergang, Delhi

* marcelle olivier spandeer tans ‘n bietjie kreatiewe dink- en skryftyd in Indië. New Delhi, die hoofstad, vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Marcelle Olivier. Krieketspelers op die dak, en ander brokkies”

  1. Marianne Peacock :

    Na drie besoeke aan Indë as toeris, (maar nie in ‘n groep nie) wens ek ek kon brokkies van daardie fassinerende, uitgestrekte subkontinent so werklik en van naby soos jy ervaar, Marcelle.