Ligloop

Ligloop. Deur Tom Gouws. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-5239-6. Prys: R145. 91 bladsye. Sagteband.

 

Ligloop

Ligloop

Met hierdie vierde bundel van hom in 20 jaar versterk Tom Gouws sy aansien as Afrikaanse digter van die Christelike, selfs Christelik-mistieke lewens- en werklikheidservaring. Dié belewing is sterk intellektueel getint, en literêr bewus – en herinner vandaar in bepaalde opsigte, soos al deur heelparty kritici uitgewys is, aan dié van ‘n T.T. Cloete in Afrikaans.

Enersyds word byvoorbeeld die lewenseenvoud van ‘n figuur soos Moeder Theresa gehuldig, in ‘n gedig met ‘n ondertitel wat die mistieke strewes van die 13de-eeuse Vlaamse digteres Hadewijch betrek. (Deurgaans in die bundel ignoreer Gouws die konvensies van hooflettergebruik, behalwe wanneer aangehaal word, of wanneer na God en sý Naam verwys word.)

 

moeder theresa gee boedel oor

Der minnen ic doch mi selven al liet

Hadewijch

 

moeder theresa se boedel is eenvoudig:

twee dunwit sari’s van ongebleikte linne

en ‘n moeë bybel. maar onsigbaar binne

die gerinneweerde tent skuil die minne

verterend onbenullig godgevallig[.]     

 

Aan die ander kant kom ‘n hele paar gedigte van ‘n nogals verstandelik beredenerende aard voor, selfs voorsien van voetnotas en/of ander byskrifvorme. Vergelyk:

 

2. oënskoulik onbenullige detail

Lion: A primitive or bestial side of the Ego personality: its Shadow

     – Tom Chetwynd: A dictionary of symbols

 

vir eeue al sit onze lieven [sic] meisje met haar rooi hoed

op ‘n deftige stoel met leeukoppe as puntversiering.

vir eeue al bedink die kritici die ongewone gloed

wat uit elke leeukop flonker, hul ongewone ligging.*

die oënskoulik onbenullige detail laat hul nie vermoed 

hoe alles in die klein skildery ‘n sleutel tot verklaring

bied van dit wat geheimsinnig sluimer in die binnebloed.

die oorgesiene onbenullige is die genetiese tatoeëring

wat die ongesiene skadudieptes van alle tekste voed.

 

*”The most remarkable adjustments Vermeer made in this painting occurs with the lion-head finials …  The finials … face the viewer, whereas if they belonged to the girl’s chair, they should face her. While some scholars have argued that the position of finials creates reason to doubt the attribution to the painting, these modifications of reality are consistent with those found in Vermeer’s other paintings.” (A K. Wheelock & B. Broos: Johannes Vermeer, p. 162)

 

(Na my wete moet “onze lieven meisje” eintlik, vanweë die onsydige verkleiningsvorm, as “ons lieve meisje” geskryf word.)

Die intellektuele beheersing in die weergee van dikwels wesenlik ekstatiese belewenisse word al vergestalt in die sametrekking van ‘n verskeidenheid betekenisassosiasies in die – nou al kenmerkende – eenwoord-titelkeuse van Gouws. Die Bybels-simboliese verbinding tussen lig en God word in die eerste plek betrek. Dit gaan oor die geloofsweg wat op die spoor van Hom, die Lig van hierdie wêreld, bewandel wil/moet word; maar ook oor die versigtige, liefs skaars gehegte  “ligloop” deur die ondermaanse, wat net maar ‘n “tydelike verblyf” is, ‘n verganklike een, soos veral in die tweede afdeling van die bundel uitgebeeld word. “[T]entatief” is dan ook die titel van dié afdeling – met die woorddeel “tent” daarin wat, eweneens in Bybelse terme, as simboliserende motief van die kortstondigheid van die aardse bestaan uitgebou word.    

Lig, ligvoets, ligloop, ligspoor, ensovoorts is variasies van die titelmotief wat dwarsdeur die bundel voorkom en, soos gesê, simboliserend funksioneer. Vanweë die allesoorheersende en onverhulde Christelik-religieuse lewens- en wêreldbeskouing daarin, maak die bundel reeds ‘n hegte eenheidsindruk; die motiewedrade wat dwarsdeur loop, ook van die motiewe wat hierna ter sprake kom, versterk dié indruk.

Ewentwil, dié simboliserende werking het tot gevolg dat ‘ligloop’-uitdrukkings wat andersins, op realistiese vlak, gesog kon aandoen, tog in die betekenissamehang van enkelgedigte en van die bundelgeheel geloofwaardig word. Vergelyk die volgende voorbeeld uit die afdeling “kroniek van elia in afrika”, waar Afrikaans ‘n profeterol aan hom toegedig kry:

 

elia leer ligloop in afrika

 

die local elia vleg khoi en germaans

tot die knarsvars tongval van ‘n nuwe taal.

profeties is dié saad oor diep waters spartaans

vervoer in biesiewiegies, kontinentaal

verplaas, geplant in die wieging van ou ossewaens. 

in die land van kus het die fetus diep asemgehaal

en uit die donker baarmoer ligvoets gedans.

soos die gees van elia vloei, ontvou die verhaal   

van God se skeppingsdroom vir afrikaans.

 

‘n Volgende motiewekompleks wat in vergelykbare mate simboliserend funksioneer, is die een rondom die weef-gegewe, wat veral in afdelings I (“delftse doek”) en II  (“tentatief”) prominent is. Dit sluit variasies soos doek, tekstiel, kantkloswerk en tent in, en is óók meerduidig soos die bundeltitelmotief, en meermale daarmee vervleg – veral opvallend só in afdeling IV, “jerusalemgangers revisted”. Dié motief wys heen na byvoorbeeld die God-openbarende skeppingsamehang én na hoe iets soortgelyks in kunswerke nagestreef word. Luidens die alleenstaande openingsgedig van die bundel:

 

he wishes for the cloths of heaven

 na yeats

 

sou dit my gegee kon wees om iets te weef

sou ek ‘n lap van lig uit brokaat en skemergrou

‘n droomfilterdoek in skakerings silwerwit weef

syspieëlings bespat met mistieke middernagblou

 

ek sou my lap van lig kom neerlê voor jou voete

maar ek het weinig meer as woorde om te knoop

die hemele lê ‘n verbeelde doek voor jou voete –

trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop[.]

 

“[T]ekstiel met siel verweef” klink ‘n paar keer soos ‘n refrein in dié bundel met sy sterk bewustheid van (profeties-) digterlike geroepenheid op – maar ook die woord “onvertaalbaar”, om die onvolkome haalbaarheid van sodanige strewe deur die mens te beklemtoon. Kwalik meer as “vae verfvermoedens en versfrakture” – dít is waartoe die kunstenaar blykens die gedig “1. blik op delft” in staat is.

En hier en daar in die bundel het dit my tóg voorgekom of die simboliekdrade, die beeldeenheid in bepaalde gedigte, ‘n bietjie rafelrig is. Vergelyk:

 

ek voel U soos ‘n leeu knaag aan my beendere

terwyl ek soetjies rym aan die bitter van my siel.

uit niks neurie ek sag oorwinningsliedere

en sien hoe U my driedraads indans tot tekstiel.

(“lied van hiskia”)

 

Of:

 

my woorde hang ‘n harige sak oor die son wat bloei,

‘n diep skadu van vrese en vermoedens, ‘n eklips

oor eden. maar almal min my as ‘n vlam wat skroei

as ek paradyse plant in die vrugbare turf van apokalips.

(“ek is mietjie gouws, profetes”)

 

Bygesê: ‘n Volgende opvallende deurlopendheid in die bundel is die benutting van (skyn-)paradokse, meermaal in die vorm van opsetlike teenstellings  en (soms gepaardgaande) betekenismeerduidighede. Boonop val sulke sterk stylfigure soms saam met bykans aforisties geformuleerde insigte. Enkele voorbeelde ter illustrasie: “niks is groter as die klein aardbol van die brein / waaraan God se eindelose uitspansel ontvou” (p. 20); “die realiteit word gespeel op verbeelde fluite” (p. 23); “hoe swaar is die gewig van lig” (p. 34); “God se genade bly onvoltooi / totdat jy die allerlaaste olie uitgooi” (p. 68).

Die goddelike en wonderbaarlike word aldus, op oënskynlik teenstrydige trant, geopenbaar in die menslike en alledaagse.

Nog opmerkings oor die hegte eenheid van die bundelopset: Die reekskarakter van heelparty van die gedigte – veral dié in afdelings I (met veral die lewe en werk van Jan Vermeer as intertekste), III (oor vergestaltings van die “elia in afrika”-figuur) en IV (oor die historiese “Jerusalemgangers”, die trekkers na “die herwonne Paradys” in Afrika, waaraan ook Antjie Krog voorheen ‘n reeks gedigte gewy het) – is ‘n verdere bindingsmanifestasie. So ook die ideolektiese kenmerke van die bundel, wat al tipies van Gouws se digkuns geword het. 

Wat laasgenoemde betref: Die digter maak sterk staat op klankspel (waaronder verwikkelde eindrympatrone uitstaan), op woordspel (waaronder dubbelsinnigheid wat betref letterlike en figuurlike betekenisse), op die kunstige benutting van vaster vorme en op intertekstuele verwysings, toespelings en siterings om sy poëtiese effekte te bewerkstellig.

Streng vormgewing op veral die klank- en versifikasievlakke is dus as ‘t ware ‘oppervlak’-manifestasies van die streng binding wat ook op die betekenissamehangsvlakke, soos hierbo bespreek, neerslag vind.    

Altesame maak dit myns insiens duidelik dat die intellektuele, visioenêre element oorheers in Gouws se digkuns, eerder as ‘n sintuiglike of emosionele ingesteldheid. Gevolglik maak ‘n gedig soos die volgende, waarin op kennelik behaaglik bedoelde wyse talle skakerings van blou opgenoem word,  nie ‘n konkreet voorstellende of sintuiglik evokatiewe indruk nie, maar werk die opnoeming eerder abstraherend en verintellektualiserend.

 

die dag is blou soos delft

     n.a.v. vermeer se studie in blou: “Vrou met ‘n waterbeker”

 

     “blue is not a colour; it is depth”

 

ek probeer my verbeelding uitpak in ‘n kleurpalet,

maar als reik uit na dimensies in skakerings blou:

baftablou akwamarynblou dempblou persblou

rooiblou staalblou opaalblou saksiesblou swartblou

fletsblou bontblou groenblou skimmelblou bergblou

marineblou berlynsblou bleekblou saffierblou

turkooisblou pruisiesblou blouselblou kobaltblou

poublou hiasintblou asuurblou waterblou delftblou.

 

hemelsblou is die letters van my ganse kleurlose alfabet.

 

Sommige verse (soos “elia en die baälprofete”, “elia en die voortrekkermonument”, “elia en die ou boereplaas” en “visioen van thomas op patmos”) se polemiserende en satiriese trekke sluit myns insiens hierby aan; dit is eweneens tekenend van die digter se sterk beskoulike standpuntinnames.

Die kunstig-strenge vormgewing, waarvan die verskeidenheid eindrympatrone ‘n alte opvallende duiding is, en die verweefdheid van die bundelgeheel, roep assosiatiewe waardes soos samehang, vastigheid, selfs sekerheid en noodwendigheid op. Dis goed te versoen met, eintlik ‘n verstegniese vergestalting van, die bepaalde lewens- en werklikheidsbeskouing wat uit die bundel spreek. Die digter – net soos Jan Vermeer as skilder, én die Woordtranskribeerders en kantklossers in die voorgeslagte van die spreker in die gedig “oorsprong” – is “een van God se kundige kurators // van voorsienigheid” (“skildery van briefskrywende vrou en kamenier”). 

Daar steek ‘n ambagtelike “verrukking” in die belewing van “hoe die gedig kant en klaar tril”, van hoe “tekstiel met siel / ineenknoop” (“1. die kantklosser”, ‘n gedig met die onderskrif: “‘n kanto as selfportret”). Laasgenoemde, twaalfreëlige gedig, met sy presies-hoekige tipografie en traprymskema, is een van die opvallendste gedigte in die bundel in hierdie verband. Trouens, sestien bladsye later word dit herhaal, dié keer met byvoeging van ‘n apartstaande, paarrymende eindkoeplet om die gedig ‘n Engelse sonnet te maak wat tipografies (in die lettertipe en -grootte op die bundelbladspieël) ‘n presiese, “verbeelde vierkant” vorm – soos die (nuwe) slotwoorde dit juis wil hê.

 

die kantklosser II

     vir johanni

 

tot ek daar myself raakloop in ‘n onverwagse spieël:

vooroorgebuig intens toegespits op inslag en skering

van my vingers, wat ritmies lig woorde klos tot kant

die gare word haspelend melodies naatloos gekantel

 

tot tapytjies teks. strooi uit ‘n verbeelde spinnewiel

word ligtende nuttelose goudspinsels vol huiwering

ononthoubare herinnering van die ou streek brabant

intiem ingeweef tot fibreuse grein. als word bladstil

 

totdat die garings begin ligloop, tot tekstiel met siel

ineengeknoop. verf loop soos lewe uit die stuwings

van ‘n kussing, word ‘n lewende keper in my hand,

voel hoe met verrukking die gedig kant en klaar tril

 

totdat hierdie koeplet eiesinnig uitspruit uit my hand

sodat my sonnet kan gaan lê in ‘n verbeelde vierkant.

 

Besonder vernuftig.  Sódanig (kon ek nie verhelp om plek-plek te vrees nie) dat die noodwendigheid daarvan vir die bepaalde digterlike kommunikasie-effekte selfs verbygestreef word. “[E]iesinnig” is miskien ‘n gepaste woord om die rol van die vakman hier te beskryf. Die afwerking van die boodskapvorm dreig om meer aandag te trek as die ‘boodskap’ self. Die ‘kunsmatigheid’ van die kunswerk staan voorop, sodat ook die egtheidsindruk van die beskoulike fasette van die bundel daaronder begin ly.

‘n Ballade soos “elia en die baälprofete”, met stafrym in die driereëlige strofes, ontaard na my gevoel in rymelary.

Of alle lesers dié bedenkinge sal hê, daarvan is ek nie seker nie. En selfs al sou my vrese gegrond wees, die gewig daarvan is nie genoeg om die skaal teen die voortreflikhede van Ligloop te swaai nie. Daar is baie in die bundel wat boei en beïndruk, wat tot nadenke en nalees noop, wat poëtiese genoeë doen.

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Bookmark and Share

Comments are closed.