Lize Viljoen. Wegkomkans na Cambodia

Steenstandbeelde op 'n brug in Angkor Watt

Steenstandbeelde op

Gedurende hierdie afgelope Januarie het Suid Koreane gebibber in rekord koue, en kon jy mense hoor vertel dat dit die koudste winter in menseheugenis was. Temperature was vir weke rondom minus twaalf, minus vyftien grade. Mens kon nie ‘n neus uitsteek uit die huis sonder om eers gepantser te raak in musse, serpe en handskoene nie. Ek het dit een dag sonder handskoene uit die huis gewaag en koue brand opgedoen. Teen hierdie agtergrond is ek en Amber tydens die Chinese Nuwejaar vir ‘n kort vyfdag toer na Cambodia.

Seoul het deesdae, net soos Hong Kong, ‘n trein wat vanaf die middestad tot by die lughawe gaan in 43 minute. Vergelyk dit met die lughawe bus wat ‘n uur en ‘n half vat, en jy kan sien watter vervoermiddel wen loshande. Om nie te noem nie die trein kos ‘n goeie sestien rand goedkoper!

Die aankoms in Cambodia was alreeds eksoties genoeg. Om nie te noem nie, die temperature was ver bo vriespunt! Gelukkig was ons voorbereid om ‘n visa te koop met ‘n foto om in te handig. By ‘n lang toonbank met drie stop plekke, Een, om die ingevulde vorm met paspoort in te dien, twee, om die paspoort op te tel met visa ingeplak, en drie, om vir die visa te betaal. n Ry Kambodiaanse mans in uniform het die paspoorte van een hand na die ander aangegee en elkeen het sy deel bygedra in amptelikheid. Dit was die lot van die hele vlug wat saam met ons geland het, met die gevolg dat mens sommer met die intrap identifiseer met ‘n groep mense, en so het dit vir my gevoel was dit die hele tyd in Cambodia. Groepe mense wat op verskeie maniere reis, vliegtuig, boot, bus, tuk tuk en na dieselfde besienswaardighede gaan kyk. Die “killing fields” in Pnom Penh. Museum S21, Angkor Watt se murasies en die see.

Met my eerste ontwaking in Pnom Penh het ek ‘n tipe rustigheid ervaar soos wat ek laas op my oupa en ouma se plaas ervaar het. Daar was iets bekend in die lug. Nou, as jy nog nooit in Seoul, Suid Korea, of enige plek in Suid Korea was nie, dan sal jy nie kan verstaan die geweldige tempo waarteen hierdie volkie beweeg nie. Alhoewel, met ‘n massa mense van vyftig miljoen, in ‘n spasie so groot soos Natal (ek dink, sal dit nog beter moet navors) is dit een van die dig bevolkste plekke in die wereld, met ‘n mal statistiek van oor die driehonderd mense per vierkante meter. Waar pas hulle al die mense dan in, vra jy natuurlik. Korea lyk soos ‘n land vol sementberge, met in hierdie berge spelonke uitgebou met ondervloerse verhitting en gas vir waterverwarming en natuurlik elektrisiteit en lopende water. Dis besig en beknop en die tempo is maar vinnig. Cambodia aan die ander kant, voel meer soos die Oos Kaap. Baie mense, maar die mense is nie oorhaastig op pad iewers heen nie, hulle beweeg, maar die spoed is nie die belangrikste ding nie.

Die boustyl in Cambodia is koloniaal Frans, en die geboue is hoogstens vyf verdiepings. Dit is ook besig om te verander, met Suid Koreaanse maatskappye druk besig om van hulle sementberge daar ook te bou. Steeds, Pnomh Penh is wat mense ‘n “low-rise” stad noem, met iets wat my baie aan Afrika laat dink het.

Dalk was dit die blou lug, wat op helder dae so helder was, my fotos lyk gephoto-shop! Ook die gevoel van sjarmante vervallendheid gekoppel met die oud-koloniale geboue met hul mooi fasades, was nou wel nie ‘n eksakte fotokopie nie, maar iets was dieselfde as by die huis.  Anders kon dit dalk die mense op straat gewees het, wat hulle lewens daar uitleef, buite op tuk tuks, of fietse, of bromponies, met gesigte wat ten spyte van hul armoede altyd gereed was met ‘n glimlag.

Siem Reap kan bereik word per bus of boot, maar die Lonely Planet waarsku teen die boot, wat 35 dollar kos teen die bus wat twaalf dollar kos. Die Amerikaanse Dollar word aanvaar as betaalmiddel en dit is nie nodig of winsgewend om geld om te ruil vir die riel nie. Verder is pryse ongelooflik goedkoop. By Angkor Watt het die koffie een dollar per koppie gekos, sterk swart met kondensmelk, en ontbytkos, omelet iets soos twee dollar.

Die algemene gebruik is om die sonsopkoms by Angkor Watt te tref, saam met honderde ander toeriste wat daar is vir dieselfde rede. Dit verg vroeg opstaan, en met ‘n toek toek wat ons vir twintig dollar vir die hele dag kon huur, uit te ry uit die stad, nog in die donker. Die ingangskaartjies kos twintig dollar en dan is die onverwagte foto wat geneem word, die een waarmee mens heeldag rondloop om jou kaartjie oral te wys. As iemand wat hier lees wil raat vat, sit make-up aan voor jy daar opdaag! Of doen jou hare!

Die ervaring om rond te stap in die groot herboude murasies van Angkor Watt is onbeskryflik. Die bewustheid van die skares toeriste bring ook ‘n dimense van sy eie, en het my weereens laat besef hoe ons samelewing omvorm het in ‘n verbruikers samelewing. Saam met honderde mense kon ek die gevoel van Angkor Watt verbruik, ek kon die fotos neem, dieselfde plekke sien wat “almal” moet sien en die uitdaging vir my was om ‘n hoek te vind wat nuut is, wat niemand se foto so lyk nie.

Voor ek afsluit, die rit af na die see was per oornagbus, met plat beddens waarop mens kan le, en ‘n klein kassie vir jou skoene, en ‘n streepkombers, skoon. In die nag moes ek buite langs die bus pie, want ek was bang vir landmyne. Oral sien mens mense wat arms of bene of albei verloor het met aftrap van landmyne. Ek moes so diep aan die slaap geraak het net voor ons aankoms in Sinhahoukville, na ek grotendeels wakker was in die nag, dat ek nie die aankondiging gehoor het nie. Tog, my brein het die Kambodiaanse aankondiging vertaal in ‘n droom wat dieselfde was as Shanghai Air se aankondiging: “Ladies and Gentlemen, we will be landing immediately.”

Uitsig

Uitsig

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Lize Viljoen. Wegkomkans na Cambodia”

  1. Marianne Peacock :

    Dankie vir die nuus oor Suid-Korea en Kambodja. Dis vir my erg om te hoor dat dit nou so wemel van toeriste in Kambodja. Ek was meer as tien jaar gelede daar as alleentoeris met my vriendelike jong gids, Rasmy Wut. Ek kon alleen dwaal in Pnom Penh en by die tempels van Angkor. Min toeriste in September en nog nie veel luukse hotelle in Seam Reap nie. Baie jammer om te lees van die sementhompe wat die Koreane bou. Ai tog!