Andries Bezuidenhout. Die gapings tussen kiekies maak my bang

Lucas Maree het ʼn wonderlike, donker stem gehad. Vandag onthou ek hom egter vir sy lirieke. Met sy eerste plaat (toe het mense nog plate gemaak), Kiekies, was Lucas sy tyd ver vooruit. “A turn of phrase,” sê mens in Engels. Hy’t ʼn talent daarvoor gehad. Dink maar aan die lied “Kiekies in my plakboek”, waarin hy sing van iemand wat deur sy fotoalbum blaai. Hierdie foto’s is “verwysings, my lewensinventaris, die ensiklopedie van my bestaan.” Daar is ook “patrone wat herhaal, in die kom en gaan en wegbly van gesigte”:

Ek verdwaal deesdae so dikwels
in die blaaie van my boek,
soek die sleutels van my hart onder die stof.
In my pelgrimstog na gister
blaai my wisselstroomgemoed
deur die ou, bekende name in my boek.

Ek skryf nou uit my kop uit, sonder om die plaat se omslag te raadpleeg – so verskoon asb. foute. Ek het dit destyds nog op viniel geluister. Ek hou veral van “wisselstroomgemoed” en die lied se treffende einde:

Daar’s net een probleem met kiekies
en die gom van plakdriehoekies,
want die gapings tussen kiekies maak my bang.

“Wiegeliedjie” is ook nogal treffend, die tema van alkoholisme en die oorerflikheid daarvan. Dis donker, amper melodramaties – weer ʼn treffende einde:

Pappa slaap en Mamma luister
na die weerklank op die vleuels van tyd,
want in Baba skuil ʼn vader
met ʼn bottel in sy stuurkajuit.

As ʼn mens nou ʼn plakboek moes maak van goeie Afrikaanse lirieke, sou Lucas Maree ʼn paar bladsye volmaak, neffens mense soos sy goeie vriende Koos du Plessis (wat hom lank, lank gelede oortuig het dat dit moontlik is om lirieke in Afrikaans te skryf) en Coenie de Villiers.

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die gapings tussen kiekies maak my bang”

  1. Andries jy beter vasklou aan daardie vinielplaat, ek het hom ongelukkig nooit gekry nie.

    Lucas het ook in een van sy liedjies gesê “en ek word al hoe banger vir die groter dieper slaap”, maar uit liedjies soos Die verlore stukkie lei ek darem af dat hy op die ou end geen vrees meer sou hê vir die gaping anderkant die kiekies nie.

    (Met self ‘n “elektriese” agtergrond is ek ook mal oor daardie wisselstroomgemoed!)

  2. Desmond Painter :

    Ja hy het regtig ‘n paar classics geskryf. Onthou ook sy bydrae tot Anton Goosen en kie se Winde van Verandering album. Hom het ek op viniel.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Chris! My draaitafel is deesdae so wispelturig dat dit na ‘n rak in ‘n hangkas verban is. So die Kiekies-plaat is ook iewers in ‘n boks verpak. Desmond, ‘n stukkie letterkundige trivia: Karlien van Niekerk, wat ook ‘n lid van die Kommissie van Ondersoek was, is Dolf van Niekerk se dogter, as ek dit nie mis het nie.

  4. Andries ek is besig om jou bundel so met verdrag te lees. Nadat ek ‘n hele paar dae nie daarby uitgekom het nie, tel ek hom netnou weer op en lees (weer) die gedig op bl. 68, en toe, bl. 69, DIE BETEKENIS VAN DIE LEWE (met verskoning aan Lucas Maree)! En Sunnyside is veilig in sy hel. Mooi man. Ek het Saterdag self ‘n huldeblykie probeer skryf en wonder net in die jare wat kom, hoeveel verwysings na Lucas ons nog in ons poësieskat sal sien.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Chris, ek dink daai een oor Sunnyside kom van “Miljoen” af. Ek hou ook van die een van die ou wat in Bloedstraat dans. ‘n Vriend van Lucas, Francois (“Morg”) Jacobs, het ‘n baie mooi een oor Arcadia geskryf. Ek dink nie dis ooit opgeneem nie, helaas. Dit gaan oor al die mense wat opgestyg het om in woonstelle te gaan woon. Soms mis ek die woonstelblok in Sunnyside waar ek jare gelede gewoon het – Meidoringhof. Ek mis ook Hatfield toe daar nog studentekommunes met staalplafonne en houtvloere was. Al die plekke waar ek gewoon het, is nou platgeslaan vir afgryslike kantoorgeboue wat enige plek in Texas ook sou kon staan. Ek mis die tyd toe ek Vrydagoggende die Vrye Weekblad op die sypaadjie kon lees (by die kafee op die hoek van Duncan en Lynwood), met 500ml melk en ‘n chicken pie vir geselskap. Geen selfoon wat kan lui nie. Jy’s weg, in jou koerant.

  6. Francois Breytenbach Blom :

    Ek besit gelukkig ook ‘n kopie van die oorspronklike viniel plaat. Die titelsnit is een van die heel beste Afrikaanse musiekopnames ooit.

  7. Andries Bezuidenhout :

    Wat van ‘n Kobus! cover daarvan?!

  8. Francois Breytenbach Blom :

    He he ja, ek dink heel dikwels daaraan maar kom nooit daarby uit nie. Die snit ‘Die Swart’ op die Kobus! debuut is baie Maree-agtig dink ek. Hy sou dit mooi gesing het!

  9. Andries Bezuidenhout :

    Ek skat hy’t ook die vocal range gehad om ‘n parmantige weergawe van “Gee raat” te kon doen.