Leon Retief. Stede in die winter

 

Die Kanadese spot dat hulle land vier seisoene het: amper winter, winter, nog steeds winter en padherstelwerk. Ons is tans so tussen winter en nog steeds winter maar ek moet byvoeg dat hierdie seisoen tot dusver darem baie gematig is in vergelyking met die vorige winters wat ons hier ondervind het. Die laagste temperatuur in Moose Jaw hierdie jaar was -44°C, in vergelyking met -54°C in Januarie 2008 en meeste van die tyd het temperature so tussen -10°C en -25°C gefluktueer, wat eintlik heel draaglik is vir hierdie geweste. Natuurlik waag mens dit steeds nie buite sonder ‘n parka, serp, dik handskoene en balaklawa nie en selfs dan word dit, wel, baie koud om te gaan stap, iets wat my vrou Lesli en ek graag doen, want eienaardig genoeg hou ons van die winter. Die enigste irritasie is dat die koue mens se neus laat loop en jou snot laat vries as jy nie gereeld jou neus afvee nie.

Winters in die prêrie het sy eie bekoring – ‘n strak, skoon wit landskap wat kilometers weerskante van die pad strek, so rein asof daar geen kwaad in die wêreld is nie, met net die gitswart kaal boomstamme en -takke wat kontrasteer met die wit skerpte van die sneeu. Hier en daar sien mens plaaswerwe half begrawe deur ‘n meter of meer sneeu, verlate want die gesin het die Kanadese winter in Arizona of Florida gaan deurbring – daar is niks wat hulle wintermaande op ‘n prêrie plaas kan doen nie en dus gaan hou hulle maar vakansie. Die meeste bome in die prêrie is bladwisselend, maar baie opstalle is omring deur Jack Pines (Pinus banksiana) wat nie bladwisselend is nie en wintermaande swaar dra aan die sentimeters sneeu op elke tak.

Jack Pine in Crescent Park, Moose Jaw

Jack Pine in Crescent Park, Moose Jaw

Wanneer die son uit ‘n wolklose lug skyn, soos wat dikwels die geval is, smokkel dit met jou kop – sou jy uit jou kar klim om die toneel te bewonder vind jy meteens uit dat, sonskyn of te not, dit steeds -25°C buite jou kar se verwarmde kajuit is.

In Moose Jaw self is die winter ongelukkig nie so skoon soos buite die dorp nie. Karre moet die strate gebruik en omdat die stadjie nie genoeg sneeuploeë het om elke straat daagliks skoon te skraap nie, word sand na elke sneeuval op die nuwe sneeu gestrooi. Dit help tot ‘n mate om traksie te verbeter, maar na slegs ‘n paar uur verander die strate na ‘n bruin, glibberige pappery en selfs ek, wat daarvan hou om te alle tye my kar spiekeries blink te hou, het al moed opgegee – mens kan net eenvoudig nie ‘n kar in die wintermaande skoon hou nie.

‘n "skoon" kar in die winter ;-)

‘n "skoon" kar in die winter 😉

Om op sypaadjies te loop of ‘n straat oor te steek word ‘n waagstuk – die sneeu word platgetrap tot ‘n spieëlgladde oppervlak en mens moet baie, baie versigtig loop om nie te val nie. Elke nou en dan sien ek ‘n pasiënt wat iets gebreek het nadat hulle op die ys gegly en geval het. Meestal is dit ‘n bejaarde tannie met ‘n heup of polsgewrig fraktuur, maar selfs tieners val soms en breek ‘n elmboog of ‘n skouer (gelukkig darem selde ‘n heup – hulle het nog die ouderdom aan hulle kant). ‘n Mens leer gou die “newfie shuffle” aan (genoem na Newfoundland waar dit nog meer sneeu as hier): jy loop met sulke kort pikkewyntreetjies, sit nooit jou hande in jou sakke nie en kyk die heeltyd na waar jy jou voete volgende gaan sit. Ten spyte hiervan val mens tog en soos ek hier sit, troetel ek ‘n seer skouer, elmboog en polsgewrig na ‘n onlangse harde kennismaking met die sypaadjie.

Die meganisme van so ‘n val op die ys is nogal interessant: Dit wil vir my voorkom asof die meeste valle sywaarts is. ‘n Mens se voet gly net onbeheerbaar na binne en dan val jy sydelings. Jy steek dan refleksief jou arm uit met die gevolglike mooi (vir my) akroniem FOOSH (Fall On OutStretched Hand), wat jou polsgewrig beseer, waarna die gladde ys jou arm lateraal laat gly sodat jy ewe hard op jou elmboog te lande kom. Dit veroorsaak ‘n harde impak op jou skouer wat meteens die hele gewig van jou bolyf moet ontvang met gevolglike skade aan die skouer se rotatorkraag. So hier sit ek met drie pynlike gewrigte, alhoewel die skade aan my trots waarskynlik erger is.

Ek stap elke oggend die sowat 400 meter werk toe en dikwels sien ek die spore wat takbokkies (en af en toe ‘n coyote) die vorige nag in die sneeu gemaak het. Hierdie diere kom wandel dikwels snags in die dorp rond en selfs bedags sien mens van tyd tot tyd ‘n takbok wat ewe ongeërg deur Moose Jaw se downtown drentel.

In die prêrie is die ses maande-lange winter nie net ‘n seisoen nie, maar ‘n leefwyse.

Verlede jaar Januarie was ons in Ottawa waar ek ‘n kongres bygewoon het en toe ‘n paar dae langer gebly het om die stad beter te verken. Die Kanadese weet hoe om ‘n kongres te organiseer, anders as die Amerikaners of Suid-Afrikaners: Daar is voldoende geleentheid om die stad te eksploreer en as jy nog ‘n paar dae verlof kan byvoeg, dan kry mens genoeg tyd om rond te loop en te snuffel en die vibes van die stad te ervaar.

Die Rideau-kanaal vloei deur die middestad en in die somer is dit ‘n gewilde bymekaarkomplek vir kanovaarders. Gedurende die wintermaande vries dit solied, dik genoeg om ‘n sedanmotor te dra, en is dit weer vol skaatsers wat dit elke dag gebruik, nie net vir ontspanning nie maar ook as ‘n manier om by die werk te kom – dis niks snaaks om iemand soggens met ‘n aktetas in die hand werk toe te sien skaats nie.

Rideau-kanaal op ‘n Saterdagmiddag. Ignoreer die datum, die koue het ons kamera se kalender heeltemal deurmekaargekrap.

Rideau-kanaal op ‘n Saterdagmiddag. Ignoreer die datum, die koue het ons kamera se kalender heeltemal deurmekaargekrap.

Met die dat Ottawa die Kanadese hoofstad is, word die middestad natuurlik spiksplinterskoon gehou en is daar nie ‘n enkele vlokkie sneeu te bespeur binne ure na ‘n sneeuval nie. Nogtans is die sypaadjies so koud dat honde steweltjies moet dra – en Phillip, na jou pragtige inskrywings oor jou honde is hierdie foto spesiaal vir jou.

Hond in Ottawa

Hond in Ottawa

Ek het per e-pos met Glen Sorestad van Saskatoon bevriend geraak. Hy het onlangs twee gedigte oor die winter aan my gestuur. Beide is nog “works in progress” en sal beslis veranderinge ondergaan voordat hulle gepubliseer word, maar met sy toestemming plaas ek dit op Versindaba.

Just Another Winter Storm

A friend tells me this Monday morning

she has been snowbound in her home

since Saturday. As I write this poem

she could be gazing out her window,

as the snow pack rises foot by foot

in a cloistered valley somewhere

tucked deep into the Rocky Mountains;

or perhaps in Corner Brook, Newfoundland,

where winter and heavy snow are synonyms.

She lives in neither of these locations,

nor in Orillia, Antigonish, nor Rimouski;

neither Inuvik, Churchill, nor Prince Albert,

places for whom the season’s snows are

a regular annoyance but an expectation.

No, my friend has been winter-marooned

this weekend at her home in Greenville –

a name that bespeaks warmth and sun –

in South Carolina. She probably does not believe

such a thing has actually happened, nor do I.

Just one storm with arctic breath has swept

away my images of the South: how can

one even begin to conceive of magnolias

and cypresses laden with snow? Or Southerners

shut behind their windows, their baleful stares

at the unaccustomed white, this cold affront.

 

Winter Window

Snow overnight. Fresh rabbit tracks

in early light. Buildings rise from dawn

like sleepers from their blankets.

Wind wakens, shifts its shoulders,

stretches itself and goes to work,

sandpapering shadows on new drifts.

A tuxedoed Magpie flaps by, silent –

going or coming? Hard to say.

The cold air opens for its passage.

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Leon Retief. Stede in die winter”

  1. Desmond Painter :

    Ek hou baie van ‘this cold affront’, waarmee die eerste gedig eindig.

  2. Agnes van Schoor :

    Dankie. Leon – jy laat ‘n mens die winter saam met jou beleef/deurleef…

  3. Amanda Lourens :

    Dankie Leon, lekker om te hoor en sien hoe dit elders in die wereld lyk. Dink jy dat so ‘n oorwegend winterse klimaat ‘n mens se “mindset” beinvloed – dat jy anders leef en dink as ons in sonnige SA? Of is mense maar mense, ongeag die weer?

  4. Leon Retief :

    Nee wat Amanda, mense is maar mense. Die Kanadese kla weliswaar meer oor die weer as die Engelse!