Philip de Vos.The King and I

 
My ma het altyd vir my gesê mens praat nooit sleg oor die dooies nie, maar ek was nog altyd van die opinie dat as jy sleg is, is jy sleg. Net omdat jy dood is, maak jou nie skielik goed nie.

 ’n Ander rede is dat die dooies glo nie kan terug antwoord nie.  Ewenwel – dit is seker veel erger om slegte goed oor die lewendes te sê, want dan word dit bloot skinder en die ergste is: hulle kan jou wel terug antwoord. Toe het ek gewonder of ek oor Karel Schoeman mag skryf, want sover ek uit koerantberigte kan aflei, leef hy nog. Maar gelukkig weet ek wel dat hy die een lewende is wat nooit sal terug antwoord nie. Wat hy dink, is egter ‘n ander saak.

My grootste aanspraak na aanleiding van Andy Warhol se uitspraak dat elkeen op aarde geregtig is op fifteen minutes of fame, is dat ek wel kan sê dat ek vir drie jaar langs Karel Schoeman gesit het. Dit was in die jare 1957 – 1959. Die plek; UOVS die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Toe was hy nog Tromp Schoeman en ons het albei Engels en Afrikaans-Nederlands vir ons B.A. hoofvakke gehad.

Sommer in die eerste week op universiteit het die eerstejaars reeds geweet dat Tromp anders was. Tromp was lank en bleek, onaangetas deur die Bloemfonteinse son terwyl ons ander almal kon spog met ons sonbruin lywe, nie dat jy veel daarvan kon sien nie, want ons moes almal klas toe met ‘n baadjie en ‘n das en ordentlike skoene aan daardie boerevoete van ons. Velskoene was heeltemal verbode.

Ek was van die begin af bewus van Tromp se slank delikate hande en die blinkwit hemp wat onder by die baadjiemoue uitgesteek het en wat sy hande nog bleker laat lyk het.

Die res van ons eerstejaars het bangerig rondgeloop, want alhoewel nòg ek nòg Tromp koshuisstudente was, was daar steeds ‘n week of twee van ontgroening waar ons almal met ons groenboekies moes rondloop en die handtekeninge van die Studenteraadslede moes kry en vir almal moes “oom” sê. Tromp het egter botweg geweier om deel van enigiets so studentikoos te wees. En terwyl die res van ons bang-bang rondgeloop het, het Tromp rustig sy gang gegaan en was hy êrens in die skemer biblioteek te kry.

Gedurende lesings het ek om een of ander rede altyd langs Tromp beland. Maar ek was bewus dat die lesings van Gerhard Beukes en Benedictus Kok hom erg verveel het. En van professor Kok gepraat, ek onthou nog goed wat sy laaste woorde aan ons na drie jaar in sy klas was: “In die drie jaar saam met julle het julle my g’n enkele oomblik plesier gegee nie. ‘n Goeie toekoms kan ek julle dus nie toewens nie!”

Hierdie woorde het sekerlik nie vir Tromp van stryk gebring nie. Hy was nooit werklik in die Afrikaanse letterkunde geïnteresseerd nie, en ek onthou nog goed hoe hy langs my gedurende Afrikaans lesings gesit het met ‘n dik oefeningboek langs hom waarin hy besig was met ‘n Engelse roman en ek was elke keer verbaas as ek na die nommer kyk wat bo-aan elke bladsy geskryf is. Dit het toe alreeds ver in die honderde getrek.

En een insident onthou ek nog goed: ons is gevra om ‘n Vondel drama te lees en daaroor ‘n verslag te skryf: Vir weke lank het ek met Jephtha geworstel en beswaarlik verder as bladsy 15 gevorder en toe hoor ek dat Tromp reeds Vondel se versamelde dramas van 25 of wat dwarsdeur gelees het. Toe weet ons almal Tromp is anders as ons.

En een dag het professor Gardner gedurende ‘n Engelse lesing aan ons in Tromp se afwesigheid gesê dat hy selfs by Oxford nie so ‘n briljante brein teegekom het nie. Dit het my ego glad nie goed gedoen nie. Miskien sou dit veel beter gewees het as iemand soos Ena Murray langs my in die klas gesit het.

Na 1959 het ek nie weer van Tromp gehoor nie – tot iewers in die middel sestigs. Ek het begin onderwys gee; terselfdertyd het ek sanglesse begin neem en het vir die eerste keer in Bloemfontein op die verhoog verskyn. Tromp was in Pretoria; daarna in Ierland in ’n monnikeklooster en toe skielik weer terug in Bloemfontein as bibliotekaris.

Hoe ons weer kennis gemaak het, weet ek nie, kindsheid het nog nie heeltemal by my ingetree waar die verlede helderder as vanmiddag se middagete is nie.

Ek kan egter vaagweg onthou hoe ek saam met Tromp vir Bertie van Rensburg en haar vriendin Babs Boer gaan kuier het en hoe ek nog dié aand foto’s geneem het.

 Dan kan ek ook onthou hoe Tromp in die gehoor was toe ek die rol van Camille in Lehar se Vrolike Weduwee vertolk het. ‘n Soort vriendskap seker, maar nòg ek nòg Tromp het ooit vir mekaar tuis kom besoek. Dit was ‘n kwessie van hom met die motor kom oplaai en dan later daardie aand weer kom aflaai.

Toe, begin 1967 verbreek ek my bande met Bloemfontein en gaan woon ek in die Kaap waar ek steeds onderwys gee en op vryskutbasis in operas optree.

Toe gebeur dit dat ek terloops weer kennis maak met Tromp. Dit was 1971 gedurende my heel eerste besoek aan Europa. Ek het op die Dam-plein in Amsterdam tussen die hippies gesit toe Tromp onverwags daar verbystap, Tromp wat intussen bekend geword het as Karel Schoeman en reeds in 1970 die eerste keer met die Hertzogprys bekroon is.

Dit was die begin van ‘n briewevriendskap waarin Karel my elke keer gekontak het tydens sy Suid-Afrikaanse besoeke.

 

Maar dan keer op keer terwyl ek vir hom in Kaapstad rondkarwei, het hy vir my vir my gesê: “Onthou, ons is alleenlik vriende omdat jy ‘n motorkar het, en ek nie.” En om een of ander rede, het dit nie eens bevraagteken nie.

In 1973 neem ek een van die grootste besluite in my lewe. Dit was die begin van vyf jaar as vryskut operasanger – ‘n wonderlike tydperk waarin ek skielik my talente ontdek as sanger, met my eerste uitstalling as fotograaf asook my eerste boek – ‘n half outobiografiese novelle oor my kinderjare in Bloemfontein en as gevolg van my vriendskap met Karel noem ek dié boek dan ook Karel van Krieketstraat.

 

Met my optredes as vryskutsanger beland ek toe weer dikwels in my geboortedorp Bloemfontein waar ek in operas met my karakterrolle optree en terselfdertyd tydens my besoeke by my ouers tuisgaan.

Karel het destyds by die plaaslike biblioteek gewerk en het sonder aarseling vir my gesê: “Hier is die voordeursleutel van my woonstel. Ek besef dat daar g’n privaatheid is as jy by jou ouers bly nie. Gebruik dié sleutel net wanneer jy wil.”

Maar, ten spyte van sy aanbod het ek nooit hiervan gebruik gemaak of selfs die binnekant van sy woonstel gesien nie.

Hy was ook destyds besig met navorsing vir sy boek Bloemfontein – die ontstaan van ‘n stad, wat later in 1980 gepubliseer is, en omdat ek hier grootgeword het, het ek telkens gedink aan mense met wie hy ‘n onderhoud kon hê.

Een aand dink ek daaraan dat hy met die Butlers moet gaan gesels. Grace,my eerste sangonderwysers en haar drie oujongnooi susters het toe reeds al jare hier gewoon.

Dit was vroegaand toe ek by sy woonstel aankom om met hom te gesels. Ek het die voordeurklokkie gelui, voetstappe daar binnekant gehoor en toe ‘n skielike skaduwee agter die loergaatjie. Die deur het egter gesluit en onoopgemaak gebly.

Die volgende oggend het ek na die biblioteek toe gegaan. Karel was agter die toonbank. Ek het ‘n boek kom teruggee en met g’n woord van sy kant nie, het hy na my gekyk ongeïnteresseerd asof hy my nooit ooit geken het nie.

En dit was presies wat gebeur het. En ek kon dit nie verstaan nie.

Later, terug in Kaapstad het ek van verskeie mense gehoor met presies dieselfde ondervinding as ek: Leon Rousseau, Dot Serfontein, Wilma Stockenström. Een middag het ek selfs ‘n onverwagte telefoonoproep van die fotograaf Paul Alberts gehad: “Ek het vir weke lank saam met Karel deur die Vrystaat getoer. Hy is selfs die peetpa van een van my kinders. En nou – dít!”

Ja, met Paul het dit soos met al die ander ook gebeur: op die ou end word ‘n rooi streep deur jou naam getrek. Redes hoef daar nie te wees nie.

Vir jare daarna, en nou nog, het ek soms ‘n droom waarin ek en Karel weer vriende is. En in my droom vra ek altyd: “Waarom was daar nog al die jare hierdie verspottigheid?” Maar ek kan nie onthou of daar selfs in die droom ‘n antwoord kom nie.

In die vroeg-tagtigs het Karel Kaapstad toe getrek om die waarheid te sê – hy het oorkant die straat gewoon ek in Oakshof in Uniestraat en hy in Palmhof oorkant.

Een middag het ek en my vriend Peter gaan stap en besluit om vir my vriend Nico Smit te gaan kuier. Nico vir wie ek reeds sedert 1953 geken het toe ons beide in Standerd Sewe was.

Nadat ons die voordeurklokkie gedruk het, het ons besef dat al die vensters toe was en dat daar niemand tuis was nie. Langs een van die stoeppilare was daar ‘n skielike geluid en kry ons ‘n duif met ‘n beseerde vlerk. Toe Peter die duif optel om te sien wat verkeerd is, hoor ons die hek oopgaan en vir die eerste keer in jare sien ek weer vir Karel.

En sy enigste vraag: “Is die mense tuis?”

En myne: “Nee, ons het net nou hier aangekom en hierdie beseerde duif gekry.”

“Wel, dis julle probleem!” en hy draai sonder enige woorde om en stap weg.

Ek dink nie ek was nog ooit in my lewe werklik ‘n nare mens nie en die enigste wraakgedagtes het maar gewoonlik op ‘n stukkie papier beland.

Ek moes tog destyds alreeds besef het dat hy bedoel het ons is vriende net omdat ek ‘n motorkar het en hy nie. En op my eie simpel manier wou ek wraak neem. ‘n Mes in die rug sou veels te erg wees. Al waartoe ek in staat was, was ‘n effense raps oor die vingers.

By Clarkes se Boekwinkel in Langstraat het ek ‘n 1930 boekie Etiquette for Gentlemen raakgeloop. Prys 25 sent. Sonder om die prys uit te vee het ek my boodskappie voor in geskryf: Ek dink jy het hierdie boekie nodig – Philip.

Natuurlik het ek nooit ‘n antwoord verwag nie. ‘n 25 sent boekie is seker g’n antwoord werd nie.

En toe – ‘n paar jaar later.

Dit was in Blooms se Apteek oorkant die straat.

Ek het nog by die toonbank gewag om te betaal, toe ek skielik ‘n bekende stem agter my hoor. En toe ek opkyk sien ek vir Karel vir die heel laaste keer in my lewe in lewende lywe en soos dit iemand betaam wat goed grootgemaak is, groet ek hom. Nie met die hand nie, maar met ‘n ordentlike knik van die kop.

En sy manier van terugstaar was kouer as daardie middag in die Bloemfontein-biblioteek.

Die Etiketboekie het dus defintitief nie gewerk nie.

Die CNA was reg langsaan Blooms se Apteek en dit was nie eens nodig om lank te dink oor ‘n volgende stap nie. Al wat dit my sou kos was om ‘n enkele poskaart te koop.

Natuurlik het ek teen dié tyd geweet dat Karel altyd in winkels aandring om in Afrikaans bedien te word.

In my beste Engels dus, net om hom ‘n bietjie kwater te maak het ek die oop poskaart gepos sodat enigiemand dit vooraf kon lees.

 

Mr. Tromp Schoeman

c/o South African Library

Queen Victoria Street

Gardens

Cape Town

8005.

 

En dan ‘n enkele sinnetjie:

“I must apologise for greeting you this morning in Blooms Chemist. I afterwards realized that it was merely a reflex reaction.”

Sincerely,

Philip de Vos

 

Het ek ooit ‘n antwoord gekry? Natuurlik nie.

Maar later kom ek ook wel tot die besef dat ek deur my eie dade miskien net so eksentriek soos Karel geword het.

En tog. ‘n Paar jaar daarna in die middel tagtigs het een van die periodes van terugkerende depressie my weereens getref. En soos die vorige kere het ek besef dat ek dringend mediese hulp nodig het.

Ek het self my tassie gepak en was op pad na die Leeuwendal-kliniek om my daar vir ‘n paar dae in te bespreek. Toevallig op pad daarheen, by Blooms se Apteek loop ek klein Madeleine, Madeleine van Biljon se dogter raak en vertel ek haar waarheen ek oppad was.

‘n Paar dae daarna kry ek ‘n briefie in die pos. Dit is een van daardie briewe wat ek nooit weggegooi het nie en steeds êrens in ‘n boks lê om weer eendag ontdek te word en herlees te word.

In die brief noem hy dat Madeleine hom van my depressie vertel het, dat hy dit ten volle verstaan en dat hy aan my dink.

En onderaan geskryf is die naam

TROMP.

En dit is hoe ek hom graag wil onthou – oor daardie jare toe ons min of meer vriende was of dalk beter gestel: toe ons vir drie jaar langs mekaar gedurende die Engelse en Afrikaans-Nederlandse klasse gesit het en ek alreeds besef het: Tromp is anders as ons.

  

 

 

Kopiereg © 2011 Philip de Vos (Privaatversameling)

Geen foto’s mag sonder verlof van die digter gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopieëring of enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of verspreiding nie.

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Philip de Vos.The King and I”

  1. Marina :

    Verstommende insig. Gek daarna. xxx

  2. Pierre van Wyngaard :

    Hoe onverklaarbaar is die menslike psige nie! ‘n Roerende vertelling, Philip. Dankie dat jy dit gedeel het.

  3. Danie Garner :

    Dankie!

  4. Lona Gericke :

    Vreeslik geniet soos altyd. So dankbaar dat jy met dit alles nog Philip die gawe man gebly het.

  5. zanne stapelberg :

    Liewe Philip, ek het hierdie skrywe van jou so geniet. Dankie dat jy hierdie greep uit jou lewe met ons gedeel het. X zanne

  6. Anton Stoltz :

    Die Skepper het darem interessante mense op ons pad gebring. Dankie vir die mooie herrinneringe aan al die bekende plekke, “buurman”.

  7. Braam Muller :

    Baie lekker gelees – so goed geskryf. Nou het ek ook insig.

  8. Daniel Hugo :

    Anton – Ons kan darem seker nie Karel Schoeman se onbeskoftheid, waarvan ek ook ‘n slagoffer was, op die Skepper blameer nie!