Carina van der Walt. Joke van Leeuwen se rol as stadsdigter van Antwerpen

Joke van Leeuwen 

Stadsdigter van Antwerpen (2008 – 2010)

 

Vir Suid-Afrikaners is die fenomeen stadsdigterskap lewensvreemd. Om dit te verstaan, moet mens eers gaan kyk na hoe ‘n stad ontstaan het en wat die digter van toentertyd se verhouding met die stad was. Alle groot stede in Nederland en België benoem of verkies vanaf ongeveer 2000 stadsdigters, gewoonlik vir periodes van twee jaar. Dit is ‘n ereposisie. Antwerpen in België staan bekend vir sy uitstekende stadsdigters. Joke van Leeuwen (1952) was die vierde stadsdigter op ‘n ry na Bart Moeyaert (2006 – 2007), Ramsey Nasr (2005) en Tom Lanoye (2003- 2004). Tans is Peter Holvoet-Hanssens die stadsdigter van Antwerpen. Van Leeuwen was die enigste vrou in hierdie ry. Sy is binnekort op besoek by Woordfees.

Lees ook die onderhoud wat met haar gevoer is.

 

Joke van Leeuwen

Joke van Leeuwen

 

‘n Stad draai in Europa op ander skarniere as in Afrika. Hierdie skarniere is stokoue oorblyfsels uit die middeeleeue. Toe was die hofhouding van ‘n vors die middelpunt van bestuurlike en ekonomiese aktiwiteite en die kulturele sentrum van die omgewing. Kulturele aktiwiteite het die hofkapel met predikant en musikante, ‘n hofskilder en ‘n hofnar ingesluit. Die hofnar het aan die onderkant van die sosiale leer gestaan, maar kon sê wat hy wou, teen die heersende opvattinge in en sonder dat hy gestraf is. Hy’t die vors vermaak en soms gewaarsku. Engeland het as uitvloeisel hierop eeue later die idee van “poet laureate” ingevoer.

Van Leeuwen stap vandag gemaklik in hierdie rol. Sy is só bekend om haar humor, dat die erns in haar woorde soms verlore gaan. Op Winternachten 2010 het die gehoor by voorbaat al met ‘n grinnig op haar gestaan en wag, want hier kom weer iets! Haar sprankelende woorde kom as’t ware los van hulle gelade betekenis. Maar wie byvoorbeeld net “tielierelarelom” wil hoor, hoor net “tielierelarelom”. As “stadsnar” vermaak sy, maar sy stel ook dinge in die samelewing wat skuur en krap aan die kaak.

Sy lê haar digtersvingers op die seer kolle in die Antwerpse samelewing. Dit sluit lokale rusies oor nuwe aanbouings en nuwe riglyne vir sindelikheid vir vreemdelinge in. Op universeler vlak skryf sy oor die verwaarlosing van asielsoekers (sy noem hulle mense sonder papiere), eensame bejaardes en kindermishandeling. In die sonnet Vader skryf Van Leeuwen oor alzheimer. Die gedig skryf sy na aanleding van die vieringe rondom die vyftigste sterfjaar van Willem Elsschot (1882-1960). Hy was vir Antwerpen wat James Joyce vir Dublin was.

 

Vader

 

Hij was gekamd, gewassen en in leven,

geen tanden meer, maar warm rond zijn karkas,

verbaasde ogen achter brillenglas.

Waar was zijn vrouw, waar was zijn huis gebleven.

 

Stadsdigters moet op kort kennisgewing lykdigte kan skryf. Die dood oorval die mens en dus ook die digter. Verkieslik moet so ‘n gedig oor ‘n bekende van die stad gaan. Van Leeuwen skryf Blijft bij ons by die dood van Wannes Van de Velde – die grootste nie-amptelike stadsdigter wat Antwerpen gehad het. Van Leeuwen is egter eiewys en hou nie altyd by die voorskrifte nie. Sy skryf ‘n lykdig vir ‘n totaal onbekende vrou. Niemand het by haar begrafnis opgedaag nie. Al wat Van Leeuwen weet, is dat sy en die vrou dieselfde voorletter het: JvL. Juis hierdie eerbetoon laat haar uitstyg as digtersikoon.

Die hofhouding van die middeleeue is eintlik die stad van vandag. In stede in die Lae Lande moet mens vandag steeds jouself as nuwe intrekker by die stadsraad gaan inskryf. As jy verhuis, moet jy jouself weer uitskryf  – asof daar nog stadsmure om is. Die bevolkingsadministrasie is anders as in Suid-Afrika, heeltemal gedesentraliseer. Dit skep by die stadsinwoners ‘n baie sterk gevoel van verbondenheid. Eie variasies in taal ontstaan, selfs eie gebruike.

In die middeleeue het rondtrekkende troebadoers met hulle liefdesliedere by hofhoudings aangedoen. Hulle moes vermaak verskaf. Die kombinasie van musiek en digkuns is nie vreemd nie – selfs vandag. Tradisioneel is alle gedigte gesing.  Troebadoers kom rondom 1300 uit die suide van Frankryk. In Duitsland is hulle minnesangers genoem. Die stadsdigter van vandag het  in eerste instansie die taak om die skoonheid van sy stad te besing; om en die hoogtepunte in die stadslewe  te verwoord. Van Leeuwen is nie romanties in haar lofuitinge nie.

Sy skryf by die inwyding van ‘n nuwe stadspark Je bent er.

 

Je bent er  

 

til een scherf uit de stad

maak een laken van gras

neem de zon als plafond

 

gras is nooit ooit alleen

ligt en richt zich weer op

bomen hoeven geen huur

 

In die slotstrofe gebruik sy dieselfde tipe voëlklanke as waarvoor Jan Hanlo bekend is. Vir die Sint Anna-tonnel onder die Schelderivier deur wat bedoel is vir voetgangers en fietsryers, moes Van Leeuwen ‘n lang gedig met twee strofes skryf. Die Elfhonderd meter gedig moes die oewers aanmekaar verbind. Die gebruikers moes al lesende daardeur kon stap. Dis die ander wonderlike ding van Van Leeuwen as stadsdigter. Baie van haar gedigte is op mure van geboue, dakke, banke, sypaadjieteëls, vensters en digitale flitsborde aangebring. Sommige gedigte of reëls was net tydelik, ander pryk permanent. Van Leeuwen is opgelei as grafiese ontwerper. Dit het nog altyd handig te pas gekom in die openbare ruimte, meer nog in haar posisie as stadsdigter. Nie al haar stadgedigte is in die strate sigbaar nie, want Aan een olifantje is geskryf vir die geboorte van ‘n olifantjie in die dierentuin van Antwerpen. Soms is die verering van Antwerpen baie subtiel weggesteek.

 

Hoe is't

Hoe is't - gedichten in 't stad

Die titel van die digbundel wat haar twee jaar stadsdigterskap afsluit, is Hoe is’t? gedichten in’t stad. Die vraag na welstand verraai ‘n Antwerpse dialek. Nog iets in die subtitel maak dit eie aan Antwerpen: in’t – want eintlik moet dit “de stad” wees. Antwerpenare is sjiek mense wat praat van “het stad” asof dit vir hulle “het leven” is. Tydens haar tyd as stadsdigter het Joke van Leeuwen in elke vesel Antwerpenaar geword.  Maar soos ‘n regte troebadoer moes sy na twee jaar weer vertrek.  

Om die gedigte in Hoe is’t? te lees, daarna te luister en te kyk waar dit in Antwerpen uitgebeeld is, klik hier.   

Bookmark and Share

Comments are closed.