Onderhoud met Cas Vos

Sonder die liefde is alles niks

Cas Vos in gesprek met Louis Esterhuizen

Cas Vos

Cas Vos

 

Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.  In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007 en Intieme afwesige in 2009 by Protea Boekhuis; so ook Intimitaly absent, die Engelse weergawe daarvan.

Pas het Duskant die donker / Before it darkens by Protea Boekhuis verskyn.

 

Cas, Duskant die donker is reeds jou vyfde digbundel sedert jou debuut in 1990 met Vuurtong. Verdermeer is dit die tweede wat volledig in die Engelse vertaling (deur Leon de Kock) verskyn. Ervaar jy die afgelope aantal jare as ‘n besonder produktiewe tyd vir jou skrywerskap?

Louis, Intimately Absent, wat ook deur Leon de Kock vertaal/omdig is, is slegs ‘n snit uit Intieme Afwesige. Die gesprek tussen Abélard en Héloïse word daarin verdig. Duskant die donker is van a tot z deur Leon in Engels omdig. Ek was vir 10 jaar in die dekaanstuig by die Universiteit van Pretoria. Elkeen wat in die akademie beland, val soms vas in die sleur van vergaderings, strategiese beplannings, Hoofbestuurvergaderings en die bestuur van die Fakulteit op alle vlakke. Dit tap nogal energie. Ná my aftrede in Junie 2010 kan ek met tyd speel. En dit gee aan my ruimte om te dink en te dig. ‘n Digter moet ook eers dink.

Wat hierdie bundel van voriges onderskei, is die feit dat die Afrikaanse teks saam met die Engelse “omdigtings” verskyn. Vertel ‘n bietjie oor hoe dié simbiose tussen jou as digter en Leon de Kock as “vertaler” gewerk het?

‘n Vertaling/vertaler het altyd die ou dictum “traduttore, traditore” (“vertaler, verraaier”) oor sy kop. Maar in hierdie geval was dit geen bedreiging vir my gedigte nie. In hierdie nuwe bundel lê die Afrikaanse en Engelse gedigte soos bedmaats langs mekaar. Hulle raak selfs aan mekaar, beïnvloed mekaar en verryk mekaar. Ek sou niemand anders as Leon de Kock as my omdigter verkies het nie. Hy is self ‘n uitmuntende digter (vgl. sy Bodyhood), vertaler van faam (Triomf, In stede van die liefde) en uitnemende akademikus.  Hoewel Afrikaans nie sy moedertaal is nie, is hy vlot in Afrikaans. Een uit ‘n honderd keer struikel hy oor ‘n woord. Byvoorbeeld die woord “windklok” het hom laat duisel.  “Wat de donner is ‘n windklok?”  Sy omdigtings het my weer na my gedigte laat kyk en ek het op grond van sy kreatiewe omdigtings van my gedigte gewysig.

Waarom het jy besluit om nou die twee weergawes in een band uit te gee? Intieme afwesige en Intemately absent het immers as twee afsonderlike publikasies verskyn?

Soos reeds gesê, is Intimately Absent net die Abélard-Héloïse omdigting. Die rede hiervoor is omdat dit ‘n unieke liefdesverhaal is wat ook in ons tyd kan afspeel. Die intensiteit, die tragiek en die afstand van die liefde voed en versteur die verhouding. En dan is daar ‘n seun sonder pa en ma. Dis tog so eietyds.

Volgens die uitgewer se reklamestuk het ons hier te make met ‘n “keur” uit jou gedigte wat aangevul is met heelwat nuwe verse. Wie was vir dié keur verantwoordelik en watter kriteria het gegeld?

Hierdie bundel verteenwoordig ‘n “keur” uit my werk. Dit is ook aangevul met nuwe verse. Marthinus Beukes, letterkundige van UJ, was behulpsaam met die “keuring”. Die keuring het onder andere op die resepsie van gedigte gerus. Gedigte is na my mening nooit voltooid of afgehandel nie. Daarom kan dit later gewysig word. Dit was veral in die Antieke tekste die geval. Voorbeelde hiervan is die wingerdliedere in Jes 5 en 27. Ek het somminge gedigte drasties verander, hopelik in belang van die gedig.

Vertel ook sommer ietsie meer oor die nuwe gedigte wat in die bundel opgeneem is?

In die Hebreeuse poësie is inclusio ‘n opvallende en veel voorkomende poëtiese strategie. Ek het ‘n

omvangryke gedig oor die Skepping geskryf en eindig met die einde van alle dinge – die dood. ‘n

Gedig oor Juanita van Arequipa kan genoem word.  Die slotstrofe lui:

 

In haar tydlose mantel van ys

buig sy bibberend

‘n fetus wat wag

Vir die opstanding van die vlees.

 

In her timeless mantle of ice,

bent, she shivers,

a foetus that waits,

awaits for the resurrection of the flesh.

 

 Tussendeur is daar ook nuwe gedigte. Die opvallende is dat die vorige gedigte nou ‘n ander en nuwe lêplek en stem kry.

‘n Enorme waardetoevoeging tot dié bundel is Johann de Lange se indrukwekkende inleiding. Hiervolgens, in die openingsparagraaf, word jou digkuns soos volg getipeer: “Daar is niks nuuts onder die son nie, en tóg soek die digter nuwe verbande, knoop gesprekke aan met ander tye, ander tekste, ander kunsvorme. Die gedig is palimpses waar ander wêrelde immer deurskemer, waar niks afgeslote en finaal is nie.” Wat is jou persoonlike siening aangaande dié knap formulering van Johann de Lange?

Ek oordeel self dat Johann de Lange se inleiding onoortreflik is. Hy het daarin geslaag om die hartklop van my poësie te hoor en te laat hoor. Dit is inderdaad wat ek probeer doen: om die Antieke wêreld te ontgin en dit eietyds vir die leser te maak. Dit doen ek ook met musiek, skilderkuns, beedlhoukuns, ens. Dit alles vind ‘n neerslag in ons tyd. Dit is soos water wat uit die bergstroom vloei tot in die vlakte waar ons dit kan drink.

Ook lees ons in De Lange se inleiding: “(Van Cas Vos) se debuut met Vuurtong deur na sy mees onlangse Intieme afwesige val sy elegiese aanslag op en skryf hy ook verse waarin die vleeslike van die liefde gevier word, die hooglied van die lyf.” Waarom is die liefde vir jou so ‘n oorheersende tema?

Die liefde is eintlik alles. Sonder die liefde is alles niks. Waar die liefde ontbreek, is daar fragmente, brokke, skerwe, verdriet, pyn en  skande. Ek wil Paulus nasê: daar is drie dinge: geloof, hoop en liefde, maar die grootste hiervan is die liefde. Groot dele van veral die Ou Testament is louter en sprankelende poësie. Ek noem net: groot dele van Job, Jeremia, al die Psalms en natuurlik Hooglied. Hooglied besing die liefde van die lyf. In die Afrikaanse vertaling gaan baie van die erotiese bedoeling van die gedigte egter verlore.

Nog ‘n uiters belangrike opmerking van De Lange is waar hy na die religieuse aspekte van jou digkuns verwys: “Hoewel hy met sy verse aansluit by ‘n ryk en geskakeerde tradisie van religieuse poësie in Afrikaans, is die religieuse net ‘n faset van sy poësie sodat hy nie sonder meer ‘n religieuse digter genoem kan word nie.” Vertel ons wat jou persoonlike siening hieromtrent is?

Hieroor het ek en Izak de Villiers baie gepraat. Natuurlik put ek uit die religieuse tradisies, maar munt dit anders, eietyds en ironies, soos byvoorbeeld die gedig Die Here is nie my herder nie.

 

Die Here is nie my herder nie

 

Die Here is nie my herder nie,

ek kom alles kort.

Hy lei my na leegtes,

laat my bloedsweet,

bring my na ‘n woestyn

sonder manna se genade

op die deinende duine.

Hy lei my op omweë

om sy verlore eer te soek.

Ek kruip deur donker dieptes,

my hart skommel bang;

u het u hand teruggetrek,

ek kyk vas teen u rug.

U laat my aan ‘n kruis hang

terwyl my vyande koggel.

U ontvang my soos ‘n rower,

ek is oorlaai met skuld.

Al slaan u stilte my stom,

sal ek na U bly roep,

ek, u weggooilam

 

Cas, jou digkuns is inderdaad ‘n unieke teenwoordigheid binne ons digkuns. Maar – is daar dalk ‘n bepaalde digter wat jy sou uitsonder as iemand wat jou in die besonder inspireer ten opsigte van jou eie verse?

Ek sou ‘n lang lys kan opstel. Van Van Wyk Louw af tot eietydse Afrikaanse digters. Ek lees baie. Verlede jaar is die 25ste sterfjaar van Philip Larkin herdenk. Ek het sy Collected Poems met waardering van voor tot agter gelees, en herlees. Dan is daar Robert Pinsky, John Heath-Stubbs, Seamus Heaney, Steven Wallace, George Seferis, Mahmoud Darwish  en natuurlik Anne Carson. Carson bekoor my omdat sy in die klassieke gewortel is en uit die Griekse aarde put.  

Soos dit hierbo blyk, is jy inderdaad ‘n belese digter wat op hoogte is met ‘n verskeidenheid digkunste wêreldwyd. Hoe vergelyk ons digkuns tans vir jou met die situasie van tien jaar gelede, byvoorbeeld?

Ons kan saam met die wêreld dig. Daar is die uitmuntende vertalings van Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Wilma Stockenström se werke. In tien jaar het baie gebeur. Die samelewing het oopgeskuif. Ons sien en ervaar nog steeds gruwels, maar ons sien dit ten minste. Daar het soveel nuwe woordtonge en -harte bygekom. Dit is amper asof die hemelsluise oopgegaan het. Daar word skaamteloos en uitdagend en eietyds gedig. Want die wêreld is ons woning. Daar is nog steeds die beiteltjie, maar ook die hamer en die fokken lugdrukboor. En om te dig is “like a rich man entering heaven Through the ear of a raindrop” (Heaney). En onthou tog:  “Better one poem than ten thousand sermons … because there are times when silence is a poem” (John Fowles).  

Ek het waardering vir al die jongkoppe, maar die oues het ook nog skop!

Dankie vir die geleentheid tot ‘n gesprek, Cas. Wil jy nie asseblief by wyse van groet ‘n gunstelingvers van jou uit Duskant die donker / Before it darkens hieronder plaas nie?

Dankie Louis, vir die geleentheid en die ruimte wat jy vir my skep.

 

My hand ritsel

 

As die skemer deur ruite val,

ritsel my hand op leë papier,

fluit ‘n trein in die nag se oor.

Sterre dryf soos bote op water

en skadu’s skuif in voor die maan.

 

As my hand ritsel op papier,

kom daar in die skemeruur

‘n gedig uit swartland se drome.

Ek soek tussen die fragmente

na die omtrek van jou gesig,

my oë dwaal oor die are

wat op jou sagte hande vertak.

 

Ek merk hierdie gedig op papier,

lig soos asem in die nag se mond.

‘n Gedig met horte en stote,

my hand is stomp en dom

van groen poësie se vlekke

en woordlyne bly ontspoor.

 

My hand skryf op papier

in die vervalle skemeruur

voor my woorde droog ritsel.

 

(c) Cas Vos (Uit: Duskant die donker / Before it darkens, 2011: Protea Boekhuis)

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.