Onder die appelboom

Onder die appelboom. ‘n Keur uit die gedigte van Rutger Kopland. Vertaal en ingelei deur Daniel Hugo. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-404-8. Prys: R140. 103 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Die lees van Onder die appelboom het weer die spyt by my laat opwel oor ‘n mens eintlik so min vertaalde poësie in Afrikaans gepubliseer sien.

Omslag

Omslag

In die afgelope dekade was daar sporadies enkele bundels en bloemlesings met sulke vertalings op die rakke te kry. Dit, tesame met André P. Brink se insluiting van ‘n klompie vertaalwerk in die 2000- en 2008-uitgawes van Groot verseboek, wou lyk na ‘n belofteryke prikkeling in dié rigting – ‘n verblydende ontwikkeling parallel aan die groei in gepubliseerde oorspronklike Afrikaanse digwerk sedert die millenniumwending.

Maar, helaas: Die vertaalde keur uit die Vlaming Herman de Coninck se werk, byeengebring in Die lenige liefde uit 2009, was die laaste roering in dié harmansdrupstroompie in ons digkunslandskap.

Dit kan maar net wees omdat die meeste Afrikaanse poësielesers hul sente twee-, driemaal omdraai, en dan liefs anderpad kyk, as dit by vertaalwerk kom.

Met Onder die appelboom wys Daniel Hugo en Protea Boekhuis wéér – hulle was ook die vertaler-en-uitgewer-kombinasie van Die lenige liefde – wat sulke lesers ontbeer.

In die kort inleiding tot die keur verduidelik Hugo dat Kopland (skrywersnaam van Rutger H. van den Hoofdakker) se digstyl gekenmerk word deur “die eenvoudigste taalgebruik denkbaar”. Hieraan voeg Kopland dinamiese nuanserings toe deur, onder meer, “ongewone enjambemente wat versreëls dikwels op lidwoorde, voegwoorde en voornaamwoorde laat eindig”. Sodoende druk hy sy “mistieke ervaring van die werklikheid” uit, verwoord hy “[huiwerend maar suiwer] die ylste natuurindrukke, die vlugtigste gevoelens en gedagtes”. Hy skryf ook graag “digterlike besinnings oor die mens se belewenis van die tyd”.

Dit alles geskied met skeute milde humor en ironie, wat die sentiment help beheers.

Want, blykens die keur in Onder die appelboom, is Kopland hoofsaaklik ‘n digter van die (onverwagte, selfs onverdiende) geluk, van die onvermydelikheid van die toevallige, vervlugtigende skoonheid – en wat derhalwe kwalik deur die kuns vasgegryp kan word. Die poskaart-motief is nie verniet so ‘n opvallende een in dié gedigte nie. Vergelyk die slotdeel van “Voorskrifte vir die skryf van ‘n poskaart en ‘n voorbeeld”:

 

IV

 

Skryf dus byvoorbeeld: Hier, Augustus, Geliefdes, hier

is ‘n poskaart, sien julle daardie pleintjie, die hond

wat in die son slaap, die ou man in die skadu,

 

hoe toevallig is dit, hierdie pleintjie, die son en die

skadu, die hond en die man, ek lê en slaap in

myself, ek sit al sittend in myself, ek is alles,

 

ek weet ‘n mens lees dit nogal dikwels, jy kan geluk

nie ontvlug nie, dit haal jou in, waar jy ook al gaan,

so is dit, maar ekself weet van niks nie, julle X.

 

‘n Innemende, geheimnisvolle eenvoud – dus net ‘n oënskynlike eenvoud – lok ‘n mens al dieper die bundel in. En die goedige, ontwapende spotdrywery met ‘diepsinnigheid’ by mense, ook by digters, geniet ‘n mens in hierdie konteks terdeë (“Oneindig baie probleme”; “Diep gesprekke”).

Vandaar dat die uitgewer in die bekendstellingsbrief die verwagting uitspreek dat Onder die appelboom “baie gewild onder Afrikaanse lesers” gaan wees.

Ek hoop van harte so. Dié verse – deur ‘n man wat al veertig jaar lank ‘n “stille krag” in die Nederlandse poësie is (Hugo in die inleiding) – is deurgaans bekoorlik; verdíén om druk gelees te word.     

Soos in vorige publikasies van sy versvertalings uit Nederlands laat Hugo telkens die oorspronklike gedigte langs die vertaalde weergawes verskyn. Die vergelyking tussen die Nederlandse en Afrikaanse weergawes word hierdeur ‘n verdere boeiende speurtog vir die geïnteresseerde leser.

‘n Mens beleef via die omsetting iets van die sekure sorg van die digter om nét die regte, klinkklare segging te vind vir die misterie-in-die-gewone wat hy wou evokeer. Jy bemerk ‘n leesteken of ‘n enjambement, ‘n woordkeuse of ‘n sinswending wat deur die vertaler ‘n aks verskuif word tussen bron- en doelteks, en jy skuif dit in jou geestesoog terug en ontdek: Dis dieselfde ongrypbaarheid waaroor dit gaan – en dis eintlik om ‘t ewe, eintlik ewe lieflik, hoe die digter en die vertaler dit wil sê. Die Afrikaans en die Nederlands word ‘n bevallige, aan mekaar diep verbonde tweeling.

Let maar op hoe, in die volgende reëls uit die titelgedig, die in Afrikaans al ouderwets klinkende “langes” (vir “langs”) op funksionele wyse iets van die ouer liefdespaar se ervaringswêreld oproep, en sodoende iets toevoeg aan die oorspronklike Nederlands – terwyl die dubbelsinnige moontlikhede van die Nederlandse “zacht” nie in die Afrikaanse omsetting sit nie. Oor-en-weer gelees is al daardie konnotasies egter teenwoordig.

 

gelukkig kwam er iemand naast mijzitten, om precies te zijn jijwas het die naast mij kwam

onder die appelboom, zeldzaam

zacht en dichtbij

voor onze leeftijd.

gelukkig kom iemand langs mysit, om presies te wees jyis dit hier langes my

onder die appelboom, buitengewoon

mild en naby

vir ons leeftyd.

 

“Mild en naby” is hoe ook die twee susterstale by mekaar sit, hier en in die hele bundel.

Bookmark and Share

Comments are closed.