Amanda Lourens. Die hekwagter van hekwagters

Media24 het miskien nie besef watter verreikende debat hulle besluit om een nasionale boekeredakteur aan te stel, sou ontketen nie.  Naas ons verontwaardiging oor hierdie besluit, is dit miskien nodig om op teoretiese vlak weer te gaan kyk na terme soos herskrywing, kanonisering en die institusionalisering van die literatuur ten einde ons gedagtes te verfyn (en ons argumente dalk ook bietjie teoretiese slaankrag te gee). Die rimpeleffek van hierdie gesprek is dan sekerlik ook veel groter as wat aanvanklik vermoed is toe Breyten Breytenbach die gesprek geopen het, en ek hoop nie dat ons hierdie geleentheid sal laat verbygaan om op deurtastende wyse na te dink oor die stand van die Afrikaanse literêre sisteem nie.

André Lefevere het resensies reeds in 1992 in sy seminale werk Translation, rewriting and the manipulation of literary fame beskryf as “the lifeline that more and more tenuously links ‘high’ literature to the non-professional reader”.  Dat hierdie stelling steeds waar is, blyk uit baie van die kommentare wat op Versindaba verskyn het.   Wat ook waar is, is dat talle nieprofessionele lesers juis resensies in harde kopie as enigste verbindingsaar met die subsisteem van “ernstige” literatuur ervaar, soos byvoorbeeld Louis en Marlise uitgewys het.  Ek dink egter dat ons nie te veel meer hieroor hoef te sê nie – ek glo dat feitlik almal saamstem dat resensies in koerante nodig is, alhoewel die moontlikhede van die internet beslis verder verken moet word.

Vir my is Lefevere se begrip herskrywing (“rewriting”) ’n belangrike een om die aard en belang van resensies mee te begryp. Herskrywing word deur hom omskryf as die verskynsel dat die nieprofessionele leser toenemend literatuur nié lees soos dit oorspronklik deur die outeur geskryf is nie, maar soos dit deur byvoorbeeld kritici herskryf is.    Vir Lefevere (1992:2) is herskrywing (en dus die praktyk van resensering) – naas faktore soos mag, ideologie en manipulasie –  ‘n magtige kanoniseringinstrument.  Herskrywers – onder wie kritici, vertalers, literatuurhistorici, en die samestellers van bloemlesings – skep via hulle produkte ‘n bepaalde beeld van ‘n outeur, ‘n teks, ‘n periode, ‘n genre, of selfs ‘n ganse literatuur.  Alhoewel hierdie beelde naas die realiteit bestaan, het hierdie kunsmatige beelde dikwels ‘n veel groter trefwydte as die Ware Jakob.  Dit beteken in die praktyk dat wanneer nieprofessionele lesers daarop aanspraak maak dat hulle ‘n bepaalde teks gelees het, dit dikwels eerder beteken dat hulle ‘n sekere beeld of ‘n konstruk daarvan geïnternaliseer het – met ander woorde, ek het resensent X se beeld van teks Y geïnternaliseer.  ’n Mens hoef maar slegs met ware lesers te gesels om die krag van hierdie beelde te besef.  (Selfs ten opsigte van ’n handboek soos Teksredaksie het ek onlangs ’n potensiële koper hoor opmerk dat “die resensie in Die Burger dan nou foute daarin uitgewys het”, en vandaar haar huiwering om die boek aan te koop.  Die foute was gewoon enkele proefleesfoute in “’n lywige publikasie van 543 bladsye, maar hierdie stelling dui volgens my op die mag van ’n resensie.)

Lefevere (1992:5) beweer dan tereg dat die invloed van sulke beelde enorm is.  ’n Belangrike aspek van sy uiteensetting is sy siening dat rigiede samelewings dikwels deur oorheersende (en eensydige) beelde gekenmerk word, en dit weer saamhang met ideologiese propaganda en onderdrukking.  (Hy noem die voorbeeld van Nazi-Duitsland waar sekere skrywers eensydig opgehemel en ander afgetakel is as deel van ’n georkestreerde poging om die volk se literatuursienings te “herprogrammeer”.)  Nietemin noem hy dat sulke “herskepte” beelde ook in vryer samelewings voorkom, slegs met dié verskil dat daar veel meer konstrukte is om van te kies.  En hierin vind ek die sleutel: Dit is ’n gegewe dat resensente beelde van werke gaan skep.  Dit gebeur in alle literêre sisteme.  Ons, synde in ’n vrye samelewing (mag ek so hoop)  moet egter wel ’n keuse hê wat betref watter beeld(e) ons wil internaliseer, indien hoegenaamd.  Miskien wil ons eklekties werk, en uit elke herskrywing slegs die “goeie” behou, soos deur ons individuele literatuursiening bepaal word.  Sonder ’n veelheid van beelde is daar egter die gevaar van eensydige programmering en uiteindelik word die persoonlike literatuursienings van enkele resensente tot model of norm verhef, met vanselfsprekende onrusbarende gevolge. 

In aansluiting hierby moet ons onthou dat herskrywings gewoonlik onder die invloed van sekere ideologiese en/of poëtologiese strominge geproduseer word.  Dikwels verabsoluteer  ‘n ideologie of poëtika homself, en gee voor dat die beeld wat aangebied word, die enigste geldige een is.  In sommige gevalle word werke afgeskiet wat teenstrydig is met die betrokke resensent se opvatting van wat literatuur moet wees.  Dus is verskeidenheid noodsaaklik om ’n korreksie te verskaf op menslike eensydigheid of oordeelsfoute, of bloot ’n ongelukkige huwelik van resensent en teks.

Herskrywing kan dus ‘n stempel van goedkeuring op sekere tekste afdruk en hulle “goedkeur” as kandidate vir kanonisering, terwyl ander tekste summier na ’n eerste swak resensie hulle aanspraak op kanonstatus mag verloor.  Van Alphen en Meijer (1991:8) wys in hierdie verband op die mag van aanvanklike herskrywings (m.a.w. die eerste resensie), maar wys ook op die gevare wat selfs in pluraliteit kan skuil, omdat resensente soms bloot ander resensente se resepsies navolg: “… een positieve of negatieve waardering van een boek wordt gewoonlijk door de meest zelfverzekerde recensent in gang gezet om daarop door de collega’s volgzaam bezegeld te worden”.  Hier skemer die rol van die boekeredakteur (en liefs meer as een per sisteem) deur:  Die redakteur behoort resensente te kies wat die akademiese integriteit sal hê om die gegewe teks billik te behandel, sonder om hulle persoonlike “veiligheid” in die sisteem te wil bewerkstellig deur ’n meer invloedryke eerste resensent na te praat. 

Literêre institusionalisering kan omskryf word as dié proses van handelinge wat uitgevoer word deur die literêre institusie, met die literêre teks as objek.  Deur die proses van institusionalisering word sommige tekste gekanoniseer  en ander nie.  Institusionalisering is nié ‘n sinoniem vir kanonisering nie, en dui eerder daarop dat die teks die proses onderweg na kanonisering of dan niekanonisering betree het.  Dit is uiteraard met die hoop op kanonisering dat skrywers hulle werke laat uitgee, en elke uitgewer hoop eweneens op ’n publikasie wat veilig in die kanon van ’n bepaalde literatuur te ruste sal kom, of liewer, sal voortleef. 

’n Nuwe teks beland nie op ’n misterieuse wyse binne die kanon nie, maar is onderworpe aan ’n reeks  prosesse wat uiteindelik op kanonisering kan uitloop.  Daar is egter normaalweg ’n bepaalde volgorde van gebeure wat die teks moet deurloop, wat deur Fokkema (1985/6:4) as volg weergegee word: 

i.              Nuwe tekste word gepubliseer, en die redaksie van die dag- en/of weekbladpers selekteer watter teks(te) geresenseer sal word en deur watter resensent(e);

ii.             die dag- en weekbladpers verskaf die eerste resensies;

iii.            bespreking in die wetenskaplike pers (akademiese tydskrifte) volg en bied verdere regverdiging vir uiteindelike opname in die kanon en

iv.            opname in skool- en universiteitsillabusse en in bloemlesings is ‘n verdere stap in die rigting van kanonisering.

(Fokkema se 1985/6-model neem resensies in elektroniese formaat uiteraard nie in ag nie, maar ons kan veronderstel dat hulle naas resensies in die dag- en weekbladpers, en volgens dieselfde beginsel, sal funksioneer.)

Die implikasie van hierdie reeks gebeure wat moet afspeel alvorens ’n teks deel van ’n kanon word, is dat resensering deur die dag- en/of weekbladpers ’n eerste hekkie voorstel (met die resensent as hekwagter) wat die teks moet “oorkom” ten einde die verdere institusionele prosesse in die rigting van kanonisering te kan meemaak.  Indien daar slegs een besluitnemer is wat tekste vir resensering (en resensente) kies, is die kans kleiner dat ’n bepaalde teks – veral dalk van ’n minder bekende skrywer of digter – hoegenaamd in aanmerking sal kom vir resensering.  Indien nie, is die arme teks gestuit in sy poging om deel van die kanon te word. Indien die resensie wel die lig sien, sal beweging in die rigting van die kanon afhang van die betrokke resensent se resepsie van die teks.  Soos reeds genoem (en soos prof. Hennie van Coller ook in sy bespreking genoem het) kan ’n eerste resensie ’n besondere sterk beïnvloedende rol uitoefen.  Sou daar slegs een (eerste) resensie in die Afrikaanse dagbladpers verskyn, is die kans groot dat dit die persepsie is wat gaan vassteek, al sou daar ook ander resensies via ander media verskyn.

Nog ’n aspek waaraan aandag geskenk kan word, is die standaardiserende of rigtinggewende rol wat koerantresensies vervul, soos ook reeds in die debat genoem is.  Alhoewel ons “gewone” lesers se resensies op webtuistes moet verwelkom as deel van ’n groter wordende gesprek oor die Afrikaanse literatuur, durf ons nie toelaat dat kundige stemme verskraal word nie.  Hier is die boekeredakteur (of redakteur van ’n resensiewebwerf) se funksie as hekwagter van hekwagters sentraal: Hy of sy moet sorg dat resensies wetenskaplik verantwoord is en bekwame leesleiding aan die leserspubliek verskaf.  Daarbenewens sal die bekwame redakteur ook besef dat resensies daarbenewens ten doel het om nieprofessionele lesers aan literêre terme bloot te stel en so hulle arsenaal van leesstrategieë te verbreed.  (Die argument van “onverstaanbare” resensies oortuig my ook nie heeltemal nie.  Is dit nie bloot ’n simptoom van ’n groter probleem in die samelewing nie, naamlik ’n teësinnigheid om ons te laat uitdaag nie?) 

Dat die sogenaamde ernstige literatuur internasionaal en in Suid-Afrika in ‘n voortdurende stryd om selfbehoud gewikkel is, kan kwalik ontken word.  Ook is resensies sekerlik nie die gewildste bydraes in koerante nie.  Dít is egter nie juis nuus vir diegene wat die werking en samestelling van literêre sisteme begryp nie – ontspannings- en verstrooiingsliteratuur was histories en sal waarskynlik die literatuurvorme met die grootste aanhang en verspreiding bly.  Soos ballet en klassieke musiek, het en sal ernstige literatuur nooit die ondersteuning van die massas geniet nie.  (Natuurlik beteken dit nie dat liefhebbers van die literatuur nie mag streef om hierdie “bedryf” uit te bou nie, maar dis waarskynlik ’n gegewe dat ons nie dieselfde sukses as sê maar populêre Afrikaanse sangers gaan hê nie.)  Dit is egter hier waar die basiese denkfout intree: Omdat hierdie kunsvorme deur ’n minderheid geniet en ondersteun word, verdien dit nie aandag nie; moet die “mindere” posisie daarvan deur ’n skamele begroting gereflekteer word.  Hierdie denkfout het tot gevolg dat die inhoud van koerante en tydskrifte afgeskaal word tot die oppervlakkige, die sensasionele en die suikerlagie – die “afdomming” en “laagste gemene deler” waarna Gerrit verwys het.  Ernstige literatuur is en bly noodsaaklik om die menslike kondisie te probeer begryp; om deur te dring tot die waaroms; om menslikheid uit verskeie hoeke te bekyk en verdere gesprek te stimuleer.  Ons sal natuurlik moet sensitief bly vir die media en moontlikhede in die hede en toekoms, maar om nou reeds wat die dagpers betref boedel oor te gee, is ’n selfdestruktiewe daad van instemming tot verskraling.

 

Bronne:

Fokkema, D.W. 1985/6. De canon als kritisch en didactisch instrument: een  historische analyse.  Spectator 15(1):5-15.

 Lefevere, A. 1992. Translation, rewriting & the manipulation of Literary Fame. Londen: Routledge. 

Van Alphen, E. & Meijer, M. 1991. De canon onder vuur. Nederlands Literatuur tegendraads gelezen.  Amsterdam: Van Gennep. 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Amanda Lourens. Die hekwagter van hekwagters”

  1. Breyten Breytenbach :

    Skitterende uiteensetting! Sien, dis hoekom sulke ‘gesprekke’ wat die nut van ‘n veelvoud van fasette in lesing en bespreking aanstip so wyd en toeganklik moontlik bekend gemaak moet word – insluitende op boekeblaaie gedruk op vermoorde bome.

  2. Joan Hambidge :

    Hierdie bydrae van Amanda Lourens is uiters belangrik, omdat die resepsie of ontvangs van ‘n boek ‘n impak het op navorsing. En ons weet hoe maklik ‘n skrywer uit die kanon kan “verdwyn” of tussen bewegings kan deurval. ‘n Resensie is dus ‘n eerste taksering, maar daar moet altyd meer as een verskyn, sodat die leser nie ‘n verkeerde indruk kry op grond van een uitspraak nie wat alte maklik as die Wet van Mede en Perse in ‘n geskiedskrywing herhaal kan word.
    Ek weet die beginsel van “herskrywing” is waar, maar die regstellende aksie van meer as een resensie in die dagbladpers juis om soiets teen te werk, is van kardinale belang.
    Hierdie besluit het ten minste ‘n debat oor die belangrikheid van dagbladresensies op verskillende gebiede uitgewys. En my teenstand is veral as dosent en navorser.